
Iewers in die middel-’90’s het ’n cute meisiekind ons TV-skerms getref met ’n liedjie “Krappies en krefies”. Dit was ’n kinderliedjie, maar onderliggend vertel dit ’n storie wat herinner aan Romeo and Juliette; of, erger nog, dalk sou dit kon kommentaar lewer op skeptiese mense wat steeds geskop het teen die nuwe Suid-Afrika. Niemand sou egter op daardie stadium gedroom het daarvan om dié oulike dogtertjie, wat as Nádine opgetree het, te koppel aan enige iets anders as ’n soet Afrikaanse kind wat kinderliedjies sing nie.
Teen 1999 het haar stem al baie ontwikkel, en in die plek van die cutie was daar ’n jong vrou op die rand van ’n grootmenslewe. Sy het in daardie jaar haar album You & I uitgereik, met ’n interessante keuse van popmusiek oor ’n jongmens wat die liefde en die lewe begin ontdek.
Die Afrikaanse liedjies op daardie album was veilig. Soos dit hoort. Die Engelse liedjies was ook heel aanvaarbaar vir ’n konserwatiewe gehoor. Afrikaanse meisies was mos nie veronderstel om warmbloedige gevoelens te wys nie. Maar luister ’n bietjie weer na die Engelse liedjies op daardie album. Nádine se stem sak laer op talle van hulle; soos dit dikwels gebeur wanneer Afrikaanse meisies in Engels sing. Selfs waar sy in 1999 die tydlose, redelik veilige “Itsy bitsy teenie weenie yellow polka dot bikini” sing, is daar aanduidings van ’n ryker, dieper stem.
Die Duitse vertolkings op die album was indrukwekkend.
Ek het nie tred gehou met Nádine se musiek nie. ’n TV besit ek nie, dus het ek nooit Musiek Roulette gesien nie.
Vroeg in 2025 vertel ’n vriend, wat self ’n baie goeie musikant is, dat Nádine in die Baai sou kom optree en dat Johan Heystek die musiekverwerkings vir haar gedoen het; ook dat Heystek haar sou begelei. Tot my eie skaamte moet ek erken dat ek besluit het om te gaan weens Heystek se naam, nie soseer oor ek Nádine wou hoor nie.
En wragtie, daar blaas haar optrede my vooroordele heeltemal uit my harsings uit. Ek is nou ’n fên.
Heystek se musikale intervensie het sonder twyfel veel te doen met die aand se sukses. Hy het elke stuk verwerk vir Nádine se stem en sy begeleiding was uitsonderlik goed.
Maar Nádine se stem: Mense, dit was ’n openbaring.
Sy kon saggies fluister en haar stembande ooptrek, soos toe sy “Purple rain” opgevoer het soos ek dit nog nie gehoor het nie. Sy kon diep delf en liggies flirt. Saam met die cute Afrikaanse treffers was daar ook donkerder musiek. Monique Hellenberg het in trane uitgebars toe Nádine Sting se “Fields of gold” sing. Hellenberg is ’n dosent in kontemporêre sang aan die Nelson Mandela Universiteit en het self al op verskeie kontinente gesing. Sy het saamgestem dat die Nádine wat ons op die verhoog gehoor het, baie, baie beter was as wat sy verwag het. (Haar ouers was terloops groot kykers van Musiek Roulette.)
’n Deel van die aand se sukses was die tegniese span van die Impetus-teater. Die klank was uitsonderlik. Ek is vreeslik fyngevoelig oor vrot klank, maar Vrydagaand kon ek elke noot hoor soos dit moes. Die beligting was ook uitstekend. In my jong dae het ek soms ligte gedoen vir vertonings, so ek weet hoeveel werk ingegaan het daarin. Ook die verhoog was slim voorberei. Dit was ’n donker verhoog met ’n tapyt, ’n rusbank, Heystek se klavier en ’n stoel. Verder was daar orals sambrele. Die beligting het gemaak dat elke lied se klank ook visueel voorgestel is. Tydens haar keiharde vertolking van “Purple rain” is rook agter Nádine ingeblaas. Die ligte (’n slim kombinasie van rooi en blou, het Izak de Nerd opgelet) het ’n malende kleurespel agter haar in die rook gemaak.
Impetus, wat eintlik as ’n kerk gebou is, maar moeite doen om meer as ’n leë dop te wees wat net Sondae gebruik word, moet sonder twyfel een van die beste teaters in die Baai wees.
Ná die tyd het ek Hellenberg ’n bietjie ingevra, want sy verstaan veel meer van die tegniese goed as ek. Hoe moet ek die vertoning verduidelik? wou ek by haar weet. Haar tong-in-die-kies opmerkings was: “It was a mishmash!”
En, ja, dit was, maar juis ’n goeie een. Veilige Afrikaanse treffers, soos “Skildery”, is gemeng met verwerkings van Prince, Madonna, Tom Jones, Sting en Cindy Lauper. Heystek het Nádine gehelp om hierdie groot verskeidenheid te verpak in ’n musikale warrelwind wat nie net genotvol was nie, maar ook aan die gehoor gewys het hoe goed haar stem ontwikkel het.
Al het sy donkerder temas aangeraak, was dit nie ’n swaar vertoning nie. Haar interaksie met die baie Afrikaanse gehoor was boonop voorspelbaar en veilig. Anders as dit wat sy gesê het, was haar sang en die keuse musiek egter nie voorspelbaar nie. Juis nie; dít het die aand so besonder genotvol gemaak.
Nádine moet nou al in haar veertigs wees. Die dogtertjie het ’n vrou geword.
Sal ek weer gaan luister as Nádine iewers optree? Beslis. Veral as ek sien dat sy met iemand soos Johan Heystek saamwerk.
Lees ook:
Mandela Bay Arts Festival: ’n resensie van Jou ma se ... platespeler
Amy Winehouse: The diva and her demons at the Mandela Bay Arts Festival: a review

