Kleinboet Staphorst antwoord Cicero

  • 1

Die verskyning van my artikel “‘Iets hieroor het ons ongemaklik gestem’: die verband tussen ‘ontlaering’ en die kolonialeske in onlangse Afrikaanse taal- en letterkundige diskoerse” in LitNet Akademies het dusver hewige en uiteenlopende reaksie ontlok. Die verwysing daarna deur Crito in hulle mees onlangse rubriek, die replieke deur Alwyn Roux en Cicero, en daarby die vele boodskappe wat ek van kollegas en vriende, vanuit Suid-Afrika tot Nederland, van studente tot afgetredenes, van akademici tot skrywers ontvang het, getuig hiervan. ’n Artikel moet selfstandig kan staan, en die kritiek wat daarop volg, moet daarnaas gelees word. Die “volledigheid” van die rekord of die artikel se argument word nie noodwendig aangevul of verfyn deur die terugskrywery wat moontlik tussen artikelskrywer en kritici kan ontstaan nie. So is dit ook met my artikel.

Daar is nietemin prikkelende, hoewel hoogs aanvegbare en telkens inlegkundige, interpretasies van my artikel in die replieke van beide Roux en Cicero, en op hierdie interpretasies is ek bereid om te reageer. Terselfdertyd tree ek nie in gesprek met skimme nie. Gevolglik sal ek nie dit wat ek sou identifiseer as moontlik belangrike punte van kritiek wat amper uitsluitlik deur Cicero geopper is, aanspreek alvorens hulle nie hul identiteit onthul nie. Behalwe op een punt. En dit is Cicero se sentrale aantyging wat, indien korrek, die artikel in sy geheel as onpubliseerbaar en (soos hulle blyk om aan te dryf) strafbaar sou laat. Indien die aantyging seëvier, is die kleiner punte van kritiek van aansienlik minder belang, siende dat die artikel vervolgens teruggetrek sou moes word – en daarby moontlik my akademiese loopbaan tot ’n einde sou kon bring. Ek tref dus ’n onderskeid tussen diskwalifiserende kritiek, wat Cicero aanroer, en kwalitatiewe kritiek, wat deur beide Cicero en Roux geopper is; slegs eersgenoemde is in hierdie skrywe ter sprake.

Dié diskwalifiserende kritiek is die aantyging van onetiese navorsingspraktyk. ’n Daad, soos Cicero dit ook stel, wat tot ’n aanklag van wangedrag teenoor my by universiteitsowerhede kan lei. Uit die staanspoor nooi ek vir Cicero uit, indien hulle dit nie reeds gedoen het nie, om so ’n klag aanhangig te maak. Daardeur sal die aantyging nie bloot as ongegrond bewys word nie, maar sal Cicero se identiteit terselfdertyd verklap moet word. Ek probeer om deur middel van hierdie skrywe vir Cicero die verleentheid te spaar om vir Nelson Mandela Universiteit en die Universiteit van Oxford te kontak om ’n ongegronde klag te lê.

Indien Cicero egter nie deur my betoog oortuig is nie, nooi ek hulle uit om die volgende skakels te besoek:

Volgens Cicero sou “[e]nige van die persone wat [ek] betrek, [...] net sowel ’n formele klag by NMU kon indien oor onetiese navorsingspraktyke”. Inderdaad, maar dit staan Cicero (indien Cicero nie ’n lid van die groepering is nie) – asook enige iemand anders – vry om ’n aanklag in te dien. Só ’n klag hoef nie bloot deur ’n betrokkene of veronderstelde slagoffer van die navorsing aanhangig gemaak te word nie. Ek stel verder voor dat vóór Cicero die klag indien, hulle die volledige artikel vertaal. Die kans dat daar ’n Afrikaanssprekende by Nelson Mandela Universiteit se navorsingskantoor werk, is net ’n bietjie beter as by Oxford.

Die veronderstelde onetiese navorsingspraktyk wat Cicero identifiseer, is begrond in die volgende redenasie: “(1) semiprofessionele en sosiale uitinge [word] gebruik om tot ’n gevolgtrekking van iemand se professionele onbekwaamheid te kom, en dit boonop sonder enige bewyse daarvan in hulle professionele werksaamhede; (2) [die artikel is] nie beperk tot die diskursiewe nie, maar van daardie persoon [is] ’n navorsingsubjek [ge]maak sonder enige inspraak of geleentheid vir korreksie; en (3) geen aanduiding [is ge]gee dat hierdie studie wat met mense as navorsingsubjekte gemoeid is, aan die nodige etiese klaringsprosesse onderwerp was nie.” Die tweede en derde punte kan saam hanteer word, alvorens die eerste punt weerlê word.

Aangaande “navorsingsubjekte”: Het ek die groepering aan mediese toetsing of ’n sosiologiese eksperiment onderwerp, of gegewens vanuit ’n sensitiewe databasis onttrek in my studie, sou Cicero gelyk gehad het. In my artikel is die bespreking alleenlik op tekste, uitings en werksaamhede wat gepubliseer is en in die publieke sfeer sirkuleer toegespits; weliswaar nie alles is ewekniebeoordeelde navorsingsuitsette nie, maar dit bly gepubliseerde tekste en nie private uitings nie.

Cicero verwys na ’n Universiteit van Cambridge-riglyn; ek verwys na die volgende, wat ook deur Cambridge gepubliseer is: “Some studies that do not require ethical review include those involving information freely available in the public domain (eg published biographies, newspaper accounts)” (https://www.bio.cam.ac.uk/psyres/approval). In ’n antwoord op Joan Hambidge se kommentaar onderaan Cicero se skrywe word na die Stolp-debat by die Universiteit Stellenbosch verwys. Die US se beleidsraamwerk sonder die volgende uit: “Research is considered exempt from ethics review, if the project relies exclusively on [...] accessing and using information that is deemed public domain” (https://www.sun.ac.za/english/research-innovation/Research-Development/Documents/Human%20Research%20Ethics%20(Humanities)/Stellenbosch%20University%20REC%20SBE%20SOP_2020_V1.6.pdf). Verder word die volgende ook as klaringvry uitgesonder: “the observation of people in public spaces and natural environments provided the following criteria are met: 1) the researcher does not interact directly with these individuals or groups, 2) the researcher does not stage any intervention, 3) individuals or groups being observed in these public spaces do not have a reasonable expectation of privacy, and, 4) the dissemination of findings will not identify these individuals or groups.” Dit is op hierdie punt dat die grootste verskil tussen mý studie en dié van Stolp uitgeken kan word: Waar Stolp ’n waarnemer van haar kollegas se gedrag was, en daarby die waargenome individue identifiseer het, neem ek niemand waar nie. My studie is slegs met die betrokke individue se gepubliseerde, sirkulerende, en gratis bekombare uitings en werksaamhede gemoeid.

Wat verder van belang is, is die posisie van die betrokkenes. Lede van die groepering het self besluit om ’n webtuiste vir die Ontlaering-projek te skep, openbare verslae en meningsartikels daaroor te publiseer, opnames van die laaste kongres op YouTube te plaas, en Sitkamer op kommersiële ruimtes te laai. Hulle het hulself op verskeie punte en deur verskeie keuses tot openbare figure omvorm – iets wat ook in my artikel benadruk word wanneer ek oor die ontwikkeling van die diskoers besin. Die bestudering van openbare figure se openbare werksaamhede vereis nie etiese klaring nie, vanweë hul posisie in die maatskappy.

Vandaar is Francis Galloway (1990) se baanbrekende studie van Breyten Breytenbach as openbare figuur, Hein Willemse (2017) se insiggewende bespreking van Adam Small se blik op NP Van Wyk Louw, en Louise Viljoen (2019) se bekroonde artikel oor Antjie Krog se postuur as kulturele bemiddelaar ook nie, volgens alle beskikbare bewyse, aan etiese klaring onderwerp nie. Maar die “navorsingsubjekte” in daardie studies is skrywers, kan daar geargumenteer word, en nie akademici nie. Ek verwys dan nogmaals na Nndanduleni Mudzanani (1990) se MA-verhandeling, “Die verhouding tussen literêre teorie en kritiek in die Afrikaanse literêre sisteem binne die sg ‘Nuwe Paradigma’, aan die hand van gekose figure: Marianne de Jong, Joan Hambidge en Gerrit Olivier”, waarvan dit ook nie blyk dat hulle etiese klaring moes ondergaan nie. Hiermee plaas ek beslis nie die Ontlaering-Sitkamer-groepering in Breytenbach, Small en Krog se kraal nie, ook nie as De Jong, Hambidge, en Olivier se literêr-wetenskaplike eweknieë nie, maar hulle is wel openbare figure.

Al word daar aanvaar dat die artikel nie met “navorsingsubjekte” in die natuurwetenskaplike en/of sosiaalwetenskaplike sin gemoeid is nie, is daar steeds die kwessie van “sosiale media” in die breë waarna Cicero verwys, asook die veronderstelde status van uitings as “sosiaal” en/of “semiprofessioneel” in die besonder. Hierdie kwessies word deur Cicero op twee plekke aangeroer: eerstens in die opnoem van “sosiale media” in verhouding tot die veronderstelde bronne waarmee die artikel omgaan (“Aanlyn ruimtes soos Versindaba, LitNet (uitgesluit LitNet Akademies, wat ’n akademiese joernaal is) en sosiale media”), en tweedens in die uiteensetting van die artikel se veronderstelde onetiese gronde (“(1) semiprofessionele en sosiale uitinge [word] gebruik om tot ’n gevolgtrekking van iemand se professionele onbekwaamheid te kom, en dit boonop sonder enige bewyse daarvan in sy of haar professionele werksaamhede”).

Hierdeur blyk Cicero die indruk te probeer skep dat ek van plasings op die Ontlaering-Sitkamer-groeperingslede se sosialemediaplatforms gebruik gemaak het. Dis onwaar. Ek lys die kernbronne wat deur die loop van die artikel ter sprake kom:

  1. Die Ontlaering-projek se oproepe vir referate (op hulle webtuiste), uitsette (in akademiese joernale) en beeldopnames op YouTube.
  2. Die Sitkamer-podsending wat op verskeie kanale, insluitend Spotify, ’n kommersiële platform, gelaai is.
  3. Inskrywings op LitNet en Versindaba.
  4. Stilet en Tydskrif vir Letterkunde se ooptoegangjoernaalblaaie.

Wat Ontlaering, Stilet en Tydskrif vir Letterkunde betref, is die groepering se verbintenis met die akademie ’n gegewe; dit verteenwoordig akademiese aangeleenthede en publikasies. Aangaande Sitkamer – wat Cicero klaarblyklik as slegs ’n sosiale en by implikasie private ruimte wil tipeer ten opsigte van die geldigheid van die gebruik daarvan in my bespreking – kan die volgende uitgesonder word: In die loodsepisode van die podsendingreeks stel elkeen van die gespreksgenote hulself bekend met verwysing na hulle professionele posisies by verskeie instansies, insluitend universiteite. Ek haal enkele voorbeelde aan: “Ek is Janien Linde; ek woon in Potchefstroom en ek is deel van die vakgroep Afrikaans-Nederlands op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit”; “My naam is Earl Basson; ek woon in Kaapstad en ek doseer by die Kaapse Skiereiland-Universiteit van Tegnologie”; “Ek is Alwyn Roux; ek woon in Pretoria en ek is verbonde aan die Universiteit van Suid-Afrika”; ens.

Verder is die podsending deur die Internasionale Vereniging vir Afrikaans (IVA) – ’n akademiese vakvereniging – ondersteun. Ek haal die IVA-webwerf aan: “Die IVA is ’n wêreldwye vereniging van Afrikaans dosente en studente wat sonder winsbejag optree. Enige Afrikaanse [sic] dosent of student kan by die IVA aansluit.” In die inleidende opmerkings wat elke episode vergesel, word daar wel duidelik gemaak dat die opinies wat deur gespreksgenote gedeel word, nie noodwendig die Afrikaanse Taalraad (onder wie se beskerming die IVA tot stand gebring is) of enige ander instansie verteenwoordig nie. Dit is natuurlik ’n algemene vrywaring wat in byvoorbeeld geskrewe publikasies voorkom. Terselfdertyd bly die gespreksgenote verbind aan hulle onderskeie professionele identiteite – en soos aangehaal, het hulle dit self verklaar en benadruk.

Hier kan vlugtig na Roux se repliek verwys word, spesifiek sy opnoem van die konteks van die COVID-19-pandemie. Terwyl die pandemie ongetwyfeld ’n ommekeer in ons alledaagse bestaan tot gevolg gehad het, was die keuse van hoe om op daardie ommekeer te reageer ’n individuele een. Die totstandkoming van Sitkamer byvoorbeeld is in die konteks van die pandemie onderneem, maar die besluit om ’n podsending te maak wat op ’n kommersiële platform gelaai is, om die IVA te betrek, en vir die gespreksgenote om in hulle professionele hoedanighede as, onder meer, akademici aan die podsending deel te neem bly hulle s’n.

Ek gee egter toe dat my artikel op hierdie punt moontlik onduidelik was. Ek het Sitkamer as ’n informele gespreksruimte tipeer, wat die idee kan skep dat dit slegs ’n sosiale aangeleentheid verteenwoordig. Sitkamer moet egter eerder as ’n formeel ondersteunde, akademies begronde en gepubliseerde gespreksforum beskryf word. Die kernlede het dit onteenseglik aan hulle professionele identiteite en die projek aan ’n akademiese vakvereniging verbind. Ek bedank Cicero en sy/haar mistastings op hierdie punt wat my die geleentheid bied om die grense van die diskoers onder ontleding te verfyn, maar wat nie die wesentlike aard van die ontleding verander nie.

Wat LitNet en Versindaba betref, hou die twee inskrywings (van Burger en Coetzee) op LitNet direk met die Ontlaering-kongresse verband, en hulle het in hulle hoedanighede as akademici geskryf. Die ander (van Roux) op Versindaba open soos volg: “Bestaan daar ’n geskiedenis van literatuurwetenskap in Afrikaans? Tans is ek besig met die opstel van ’n kurrikulum vir ’n voorgraadse kursus in literatuurwetenskap in Afrikaans [...], ’n studieveld wat sover ek weet totaal ontbreek in die bestudering van Afrikaanse letterkunde” (my beklemtoning). Versindaba is nie ’n privaat blog nie, maar ’n gevestigde, aanlyn ruimte waar sowel kreatiewe as literêr-wetenskaplike artikels gepubliseer word. Om Yves T’Sjoen (in T’Sjoen en Taljard 2023) aan te haal: “Versindaba biedt de poëzie in het Afrikaans een digitaal platform, maar tracht evenzeer het literaire debat aan te wakkeren [...] Op het gebied van de poëziekritiek speelt Versindaba een belangrijke rol [...] Versindaba is een openbaar forum [...]” Roux se plasing blyk nie ’n formele artikel te wees nie, maar dit is wel in ’n gerekende ruimte in die Afrikaanse letterkunde geplaas, hou direk met sy akademiese werksaamhede verband, en is dus allermins ’n sosiale, private, of “terloopse” skrywe.

Drie laaste punte voor ek voorlopig afsluit. Een. Cicero gebruik die woorde korrup, nepotisme en wanbestuur wanneer hulle oor my bespreking van Burger vis-à-vis Tydskrif vir Letterkunde praat. Ek het nie een maal daardie woorde gebruik nie, en ek verwerp dit onomwonde in verhouding tot my ontleding. Dit is ernstige aanklagte, en woorde wat in ons land veral met geweldige emosie belaai is vanweë die sosiale uitdagings wat ons in die gesig staar, veral teen die agtergrond van die rol wat korrupsie, nepotisme en wanbestuur in die dwarsboming van pogings tot positiewe verandering en opheffing speel. Daar is geen suggestie van só ’n aanklag in my bespreking nie.

Inteendeel. Ek haal aan: “Hier moet genoem word dat resensieblaaie in die algemeen deur die netwerk van die betrokke resensieredakteur gedryf word, en daarby binne die perke van die blad self vorm aanneem – maar wanneer die Ontlaering-Sitkamer-groepering se posisie en visie ten opsigte van “laer”-formasies en geïmpliseerde eksklusiewe netwerke in ag geneem word, moet hulle teen ’n hoër standaard gemeet word.” In my bespreking erken ek dat die keuse van resensente tradisioneel deur die resensieredakteur se netwerk uiting vind, maar dat Burger, teen die agtergrond van die Ontlaering-Sitkamer-diskoers, teen ’n hoër standaard gemeet moet word.

Twee. Cicero probeer argumenteer dat ek ’n oordeel oor die “professionele bekwaamheid” van die Ontlaering-Sitkamer-groepering vel. Dit is onwaar. In die inleidende deel van die artikel waar ek die diskoers en groepering kontekstualiseer, baken ek die onderwerp van die ontleding soos volg af: “Op hierdie oomblik moet daar ook duidelik uitgelig word dat die kritiek wat hier uitgespreek word nie op die betrokke akademici se werk buite die Ontlaering-Sitkamer-groepering – tensy uitdruklik genoem – van toepassing is nie. Die baanbrekende werk oor die metamodernisme deur Linde (2018), die innoverende skep van Kaapse Afrikaanse klasmateriaal deur Basson (2022a), en die diepgaande uitbouing van die lang navorsingstradisie oor die oeuvre van Breyten Breytenbach deur Roux (2022) is byvoorbeeld nie slegs van goeie navorsing nie, maar kan tot nuwe intellektuele weivelde lei. Die klem is daarom alleenlik op die diskoers wat deur Ontlaering-Sitkamer verteenwoordig word, asook enkele uitlatings wat daarby aanskakel.” Ek volstaan by hierdie stelling.

Drie. Cicero blyk onder andere my artikel as wegspringplek vir ’n debat oor etiek en navorsingspraktyk te posisioneer. Ek keer terug na ’n kwessie wat indirek deur die loop van die artikel, asook direk in die punte wat in hierdie skrywe ter sprake kom, aangespreek word, naamlik postuur en agentskap. Hieroor hoef daar weinig debat gevoer te word: Ons as navorsers het agentskap eerstens en laastens oor ons navorsingsfokus, maar daarby het ons ook agentskap oor hoe ons besluit om in en met die breër maatskappy om te gaan. Ons kan kies om ons postuur tot die universiteitsannale te verbind, of om ’n meer openbare, betrokke intellektualisme te beoefen. Natuurlik is daar sekere gevalle waar ’n postuur op ’n individu afgedwing word. ’n Voorbeeld is ’n kenner op die gebied van ’n nuwe aansteeklike siekte wat hom of haar as gevolg van nood en belangstelling in die kollig bevind. Wat taal- en letterkunde betref, is daar egter amper nooit so ’n konteks nie. Benewens ’n krisis in die onderwys, wat in ieder geval eerder deur opvoedkundiges aangespreek sal word, weet ek nie van ’n publieke konteks waar taal- en letterkundige kennis en hul kenniswerkers noodsaaklik is nie. Openbare “bekendheid” in die taal- en letterkunde in die besonder en geesteswetenskappe in die breë is vandaar grootliks selfaangedrewe – wat nie impliseer dat dit van nul en gener waarde is, of dat dit inherent verkeerd is nie. Kundige, nederige, en deurdagte openbare intellektuele arbeid kan ongekende waarde tot maatskaplike debat toevoeg. Maar wat van kardinale belang is, is die erkenning dat albei die genoemde posture – die afsydige akademikus en die openbare intellektueel – sekere unieke voordele, asook sekere bepaalde nadele, inhou. (On)gelukkig kan ons nie kies watter voordele en watter nadele ons graag sou wou hê ons moet toekom nie. Dít word deur die postuur bepaal.

Soos in die inleiding vermeld, tree ek graag verder met Cicero se skrywe in ’n opvolgstuk in gesprek, mits Cicero hom-/haarself ontmasker. Die gebruik van ’n skuilnaam vind ek onbehaaglik – en nie bloot omrede ek gekritiseer word nie. Was dit die geval dat Cicero slegs met my artikel in gesprek tree, sou ek steeds nie anonimiteit goedpraat nie, maar ek sou ’n sekere begrip daarvoor gehad het. Cicero kritiseer egter nie net vir my nie: Azille Coetzee, Alwyn Roux, Stefan van Zyl en Helize van Vuuren word onregverdig oor die kole gehaal – en hulle het geen kans om hulself in die aangesig van dié wat hulle kritiseer te verdedig nie. Maar wat die gevaarlikste gevolg van dié skuilnaamgebruik is, is die wantroue wat dit tussen betrokkenes kweek. In die geval van my artikel weet iedere leser wat my siening is en kan hulle dus sonder ’n gefluister in die duister ’n oordeel oor my artikel, die diskoerse wat ek ontleed, asook oor my as persoon vel – soos Cicero ook in sy/haar skrywe doen deur vir my as “nydig”, “hooghartig”, “selfingenome”, ens ens ens te beskryf. Maak nie saak hóé verkeerd ek dalk mag dink daardie oordeel is nie, dit bly Cicero se volste reg om dit te vel (mits mens natuurlik ook besef dat die uiting van oordele moontlike regsimplikasies kan hê).

Deur Cicero se skrywe, hierteenoor, word die oorsprong van die kritiek na ’n gesiglose ander verplaas – met enige persoon, of groep persone, wat die plek van daardie ander kan vervul, afhangend van die betrokke leser se verbeelding en beleefde ervaring. Ek hoor reeds verskeie teorieë wat sirkuleer, en ek dink aan die moontlike skade wat dit aan daardie persone se reputasies kan aanrig indien dit nie hulle is nie. Wie wil van ’n anonieme skryfsel, van lafhartigheid dus, en daarby van ’n onbegrip van die eenvoudigste navorsingsbeginsels verdink word? Ons kan niks van Cicero se veronderstelde persoonlike gegewens (“banneling”, “ontakademie”, “manlik”) vertrou nie. Cicero gebruik immers ’n skuilnaam, so hoe kan enige iets anders vertrou word? En nou word daardie gegewens – wat weer eens te betwyfel is – wel ingespan om individue as Cicero uit te ken.

Ek respekteer anonimiteit slegs in die aangesig van dreigende persoonlike en/of liggaamlike gevaar. Ek, Kleinboet Staphorst met ’n gimnasiummaagdliggaam wat hom in ’n enkelkamer in Museumweg in Oxford bevind, hou geen gevaar vir Cicero in nie (benewens, miskien, ’n gekneuste ego).

Bibliografie

Galloway, F. 1990. Breyten Breytenbach as openbare figuur. Pretoria: HAUM-Literêr.

Mudzanani, NB. 1990. Die verhouding tussen literêre teorie en kritiek in die Afrikaanse literêre sisteem binne die sg “Nuwe Paradigma”, aan die hand van gekose figure: Marianne de Jong, Joan Hambidge en Gerrit Olivier. MA-verhandeling, Rhodes-Universiteit.

T’Sjoen, Y en M Taljard. 2023. Tweespraak van Yves T’Sjoen en Marlies Taljard: Versindaba, webwerf over en voor Afrikaanse poëzie. Voertaal, 15 Mei. https://voertaal.nu/tweespraak-van-yves-tsjoen-en-marlies-taljard-versindaba-webwerf-over-en-voor-afrikaanse-poezie (13 November 2023 geraadpleeg).

Viljoen, L. 2019. Antjie Krog as kulturele bemiddelaar: aspekte van haar skrywerspostuur in die Lae Lande. LitNet Akademies, 16(2):47–78.

Willemse, H. 2017. NP Van Wyk Louw deur die oë van Adam Small. LitNet Akademies, 14(3):166–89.

Lees ook:

"Iets hieroor het ons ongemaklik gestem": die verband tussen "ontlaering" en die kolonialeske in onlangse Afrikaanse taal- en letterkundige diskoerse

’n Repliek op Luan Staphorst se mistastings oor Samespraak

’n Ope brief aan Luan Staphorst

Maak Staphorst hom skuldig aan ’n mate van die jolige jargoneske?

Tweespraak van Yves T’Sjoen en Marlies Taljard: Versindaba, webwerf over en voor Afrikaanse poëzie

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top