KKNK 2026-kronieke: Ek was, soos Koos, ook daar

  • 0

Dit was, soos al die kere tevore wanneer ek vir werk of vir plesier, gekuier of nugter, en gekys of alleenlopend, die fees bygewoon het, ook hierdie jaar ’n aangename ervaring om by die KKNK op Oudtshoorn te wees. Die 30ste jaar dat dit aangebied is – en ek was daar, kan ek nou vertel, soos by heel veel voriges sedert my debuut as KKNK-feesganger in 1997, behalwe die paar jaar toe ek in Johannesburg gewerk en gewoon het (in twee tydvakke opgedeel: circa middel-2000’s en 2016–2022). 

Hierdie keer kon ek ook (as ’n feesveteraan) iemand spesiaals vir die eerste keer aan die fees bekendstel, en tussen haar rondwys en vertonings bywoon was ek bevoorreg om op versoek van Eben Pienaar van Jonathan Ball-uitgewers twee onderhoude met skrywers van niefiksieboeke te kon voer: Jeff Wicks, skrywer van The Shadow State, oor die fluitjieblaser Babita Deokaran, en Pauli van Wyk, medeskrywer van Malema oor hom en sy korrupte geldmaters.

Die kos by Karoopot is gewoonlik genotvol en genoeg; die kunsuitstallings neem my gedagtes altyd terug na die vroegste feesdae met die Weskus-kunstenaar Jan Visser (was dit hy?) en sy naakstudies. Op straat loop jy plaaslike kennisse raak, en oraloor, soos voor en ná vertonings, word jy aan jou stem (van die radio) en jou gesig (van die TV) herken. Soms word jy vir Ivor Price aangesien; ander kere (nou ja) lyk jy vir sommige soos Echbert Boezak. Net jammer die vergelykings met Springbokskrumskakels Ricky Januarie en Bolla Conradie is afwesig op die bekendheidsparade by die fees ...

Die afgelope handvol jare ook ’n verwysing na my postmedia rol: “En hoe gaan dit deesdae met Kaapse Forum?” vra die mense, afkomstig uit alle windrigtings van die land. Dit was immers ten tye van die 2022-fees dat Rapport daaroor berig het, of die nuus handuit laat ruk het, met ’n opspraakwekkende voorbladhoofopskrif (want “omstrede” word so oorgebruik en “sensasioneel” trap selfs onbedoeld op tone), wat vir die land vertel het dat bruin mense nou ’n eie AfriForum sou kry. Toe nou nie heeltemal dieselfde ding nie, maar naby genoeg daaraan wat kernbesigheid aanbetref, naamlik die bevordering van selftrots en ’n selfdoen-ingesteldheid in bruin gemeenskappe – en welkome, gratis bemarking in die hoofstroommedia daarby.

Dit lei my na die twee produksies wat ek eenvoudig hierdie keer móés sien: Vinette Ebrahim en Christo Davids se “regstellende” verwerking (in terme van taal en toon) van Athol Fugard se (tydlose) Boesman en Lena (oor die manifestering van trauma by ’n gebroke, mishandelde bruin vrou en die geweld van haar vernederde en onderdrukte man, as ek dit reg interpreteer); en dan Stephanie Baartman se uitsonderlike eenmens- outobiografiese sang-en-vertel-vertoning Hoort (oor die hartseer en trots in haar gemengde Xhosa- en Khoi-bloedlyn).

Hiernaas haas ek my gewoonlik na die Netwerk24- en ander diskoersgesprekke, wat soggens begin voordat jy ontbyt by jou verblyf behoorlik kon geniet, maar dit bly vir my verpligte bywoning. Wat wel pla, is dat die gedrukte program nie altyd die finale sprekerslys bevat nie (of dalk een naam en “onder andere” wat aandui dat ander sal aansluit). Maar die feesganger moet beplan – en daarom is dit goed dat jy jou opsies kan opweeg op grond van die onderwerp én die paneel, wat jy dan soms eers op die fees self sal uitvind deur die program by die deur van die gesprekslokaal of in die dag se uitgawe van die feeskoerant, Krit.

Die bedoeling is nie om krities te wees nie, want ek beskou myself as ’n vriend van die fees. Dis slegs maar om opmerkings of waarnemings te deel – en as ek eerlik moet wees, is dit eers ná die lees van Koos Kombuis se (versigtig verwoorde) stuk op LitNet oor die 2026-fees dat ek gemaklik gevoel het om ook my eie gewaarwordinge neer te pen. Mens leer uit jou foute.

Die “afgetrede popster”, wat by vanjaar se fees opgetree het, stel ’n paar (kritiese) vrae: “Hoe lank gaan die borge nog bereid wees om so ’n fees te dra as die mense nie opdaag om die kuns te support nie?” is een daarvan. Die vraag is geskoei op sy eie optelsom dat daar min mense by die fees was. Wat, wil dié popsterbroer van my ook weet, hou die toekoms vir ’n fees soos hierdie in – en ook ander Afrikaanse en Suid-Afrikaanse feeste? Geen (eksplisiete) antwoord van sy eie op die vrae nie. Ek vermoed die feesbestuur en direksie sou teen hierdie tyd al van sy vrae kennis geneem het en heel moontlik reeds antwoorde daarop geformuleer het.

Nog voordat ek Koos se artikel gelees het, het ek egter al begin dink aan ’n kwessie wat hy in een van sy ander vrae opper: “Hoe nou vorentoe?” Dít is vir my die vernaamste vraag. My gedagtes daaroor is nie deel van ’n agternabeskouing nie, maar eintlik is dit rondloopgedagtes wat gedurende die fees reeds posgevat het: Het die feesprogram nie te vol geraak nie? het ek my afgevra. Wat my spesifiek hieroor laat wonder het, was die frustrerende ervaring dat produksies – weliswaar van verskillende genres – in dieselfde tydgleuf om feesgangers se tyd en geld meeding.

Natuurlik (of vermoedelik) is dit die resultaat van groei oor die jare, dié dat meer en meer produksies of aktiwiteite tot die program toegevoeg word. Maar dit pla tog elke keer, spesifiek as ’n mens nie kan bekostig om vir die hele fees te bly nie, soos ek hierdie keer, en jou tyd dus beperk is.

Die duplisering van produksies by Afrikaanse feeste moet ook weer onder die loep kom. Weer eens was die bedoeling aan die begin goed: Dit was om te verseker dat verskeie feeste (danksy die goeie werk en begroting van NATi) dieselfde produksie teen verminderde produksiekoste kan aanbied. Maar kan ons nog bekostig om dieselfde produksie by minstens drie Afrikaanse feeste in een provinsie aan te bied? Sou die verdeling daarvan nie help om die programdruk te verlig sodat daar eerder minder items en meer beweegruimte vir die feesganger kan wees wanneer besluit moet word wat om te kyk (en wat jy alles kan bekostig om te gaan kyk of te ondersteun en te ervaar) nie?

Die feesjaar is nou reeds aan die gang, maar niks verhoed ons om solank aan die gesels te raak oor dié en Koos Kombuis se vrae ter voorbereiding van volgende jaar se planne nie. Uiteindelik moet ’n balans gevind word tussen die oorlewing van kunstenaars, tegniese personeel en ander betrokkenes by die feeste, én, daarmee saam, die bestedingsvermoë van landsburgers en taalgenote wat die kunste liefhet, maar wat gewurg word deur die finansiële krisis in ons huishoudelike Straat van Hormoes.

Lees ook:

Was dit die laaste KKNK-fees ooit?

Die KKNK se kuns, en meer, in my truspieëltjie

Die klein oomblikke wat die KKNK nog 30 jaar gaan laat gedy

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top