
...
Kinderboeke se grootste mededingers om kinders se aandag is rekenaarspeletjies, video’s, sosiale media, virtuele realiteit en natuurlik KI.
...
Bennie Boekwurm! Vir dié van ons wat in die laat 1980’s en die 1990’s grootgeword het, is dié beskeie karakter nogal belangrik. Hoekom? Want hy het die wêrelde van boeke en moderne tegnologie oorbrug.
Wanneer ons oor kinderboeke en jeugliteratuur praat, kan ons nie anders as om ook gesprekke rondom wat kinders lees te hê nie. Daar ontstaan natuurlik ’n hele rits vrae: Wat behoort kinders te lees? Wat is gepas? Wat is opvoedkundig? Tog het die wêreld waarin kinders leef, radikaal verander – en kinderboeke moes noodgedwonge aanpas. In hierdie artikel sal ons vlugtig kyk na die geskiedenis van kinderboeke, hul oorspronklike doel, en hoe enkele boeke, soos Onderwêreld (2008), Offers vir die vlieë (2019), Breinlabirint (2025), Die ontwaking van winter-trilogie (2023-2024) en Quinn se jaar van kwik (2024), reageer op hedendaagse uitdagings. Die konteks van hierdie uitdagings en waarom boeke steeds so belangrik is vir jong lesers, sal ook bespreek word.
Geskiedenis van kinderboeke
Kinderboeke soos ons dit vandag ken, is ’n betreklik jong genre. Tot in die 17de eeu was daar feitlik geen boeke spesifiek vir kinders geproduseer nie. Hulle het dieselfde tekste as volwassenes gelees en dit was hoofsaaklik religieuse of morele werke, soos die Bybel.
Die eerste boek wat spesifiek vir kinders gepubliseer is, was Johann Amos Comenius se Orbis sensualium pictus (1658). Dit is spesifiek vir kinders se opvoeding geskryf en geïllustreer, en nie bedoel vir vermaak nie – anders as die hedendaagse verwagtinge van illustrasies en prente in kinderboeke (Pẽna 2023).
Die waterskeiding het in die 18de eeu gekom toe uitgewers begin besef het dat kinders ook vir plesier lees. John Newbery se A little pretty pocket-book (1744) het opvoeding en vermaak gekombineer. Dit was die ontstaan van ’n mark vir kinderboeke. Die idee van kinderboeke as ’n kommersiële onderneming het begin posvat.
Aanvanklik het kinderboeke ’n duidelike opvoedkundige en morele funksie gehad. Stories is vertel om goeie gedrag te modelleer en lewenslesse oor te dra. Sprokies en Bybelstories is aangepas om kinders gehoorsaamheid, eerlikheid en godvresendheid te leer.
In die 19de eeu het boeke soos Alice’s adventures in Wonderland en The adventures of Tom Sawyer met fantasie en avontuur begin speel. Kinders het toe begin om nie net gierige studente te wees nie, maar ook avonturiers. Daarmee word hulle aktiewe deelnemers aan hulle eie verhale.
Die geskiedenis van Afrikaanse kinderboeke is eintlik nog ’n kleuter in vergelyking met die Europese herkoms van kinderboeke, in ag genome dat Afrikaans in 2025 sy 100ste amptelike bestaansjaar vier. Natuurlik was vroeë variëteite van Afrikaans alreeds jare voor 1925 in gebruik, en dit is interessant om te kyk na wat daar vir kinders van so ’n jong taal beskikbaar was.
Die eerste teks vir kinders het in 1861 op Genadendal verskyn: “Maandbladje voor kinderen”, wat as byvoegsel tot die tydskrif De Bode versprei is (Van der Walt 2005:14).
Die eerste volle kinderboek is deur CP Hoogenhout in 1873 geskryf: Die geskiedenis van Josef voor Afrikaanse kinders en huissouwens in hulle eige taal geskrywe deur een vriend. Die boek is onder die skuilnaam Klaas Waarzegger gepubliseer (Van der Walt 2005:15). Hierdie boek was sterk didakties en sluit aan by die ideale van die Genootskap van Regte Afrikaners (1875), waarvan Hoogenhout deel was. Hoogenhout het klaarblyklik die boek op versoek van Arnoldus Pannevis geskryf, ’n groot figuur binne die taalstryd (Van der Walt 2005:14) en deel van wat vandag gesien word as die Eerste Afrikaanse Taalbeweging.
Die vroeë pogings om Afrikaanse kinderliteratuur op ’n groter skaal te bevorder het eers na vore getree met die amptelike erkenning van Afrikaans in 1925. Daarna is aktiewe pogings aangewend om boeke, bundels en tekste vir kinders in Afrikaans te publiseer (Van der Walt 2005:16–7). Die taalstryd was steeds prioriteit en dus was kinder- en jeugboeke in die begin maar weinig. Hierdie vroeë kinder- en jeugboeke was hoofsaaklik godsdienstig en patrioties van aard. Dit was meestal eenvoudige prenteboeke, versies, rympies en volksverhale. Tot ongeveer 1940 het die meeste literatuur hierdie tipe patroon gevolg, met ook ’n bykomende nasionalisme vanaf 1948 tot 1980. Die politieke atmosfeer het bygedra tot die nasionalistiese ideologieë in dié tekste. Vanaf die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) het daar ’n drang onder Afrikaanssprekendes ontstaan om hulle taal, ideologieë en kultuur te vestig en te beskerm. Dit is om hierdie rede dat die periode 1940–1980 gelei het tot produktiwiteit in die publikasie van kindertekste en die ideologiese aard daarvan.
Die Tweede Taalbeweging, wat ongeveer in 1903 ontstaan het tydens die stigting van die Zuid-Afrikaansche Taalbond, lewer nie veel tekste op nie, maar sommige publikasies laat wel ’n blywende indruk op die literatuur. Na Uniewording (1910) ontwikkel daar ’n behoefte om leesboeke vir skooldoeleindes te skryf en te publiseer. In 1922 was daar ongeveer 25 boeke vir Afrikaanse kinders, meestal uit Nederlands of Duits vertaal. Dit was die begin van voorgeskrewe tekste soos dit vandag deur skole gebruik word.
In die 1920’s beywer CJ Langenhoven hom vir moedertaalonderrig vir Afrikaanse kinders en begin hy self met die skryf van jeugliteratuur: Loeloeraai (1923) en Brolloks en Bittergal (1925). Afgesien van die patriotiese en morele aard van sy boeke was Loeloeraai die eerste ware wetenskapfiksie in Afrikaans en besonders gewild. C Louis Leipoldt het ook bygedra met sprokiesagtige verhale vir kinders, ook met ’n meer opvoedkundige inslag. Daar was ook EG Grosskopf se Partrys-hulle wat die tipiese skool- en avontuurverhaaltradisie in Afrikaans begin het, ’n noemenswaardige voorloper vir baie reekse, soos Trompie, Saartjie, Maasdorp, Reënboogrant, Nova en vele ander wat avontuur en skoolomgewing as temas het.
Uitgewers soos JL van Schaik en die Afrikaanse Pers Boekhandel (vandag deel van Caxton & CTP) het hulself met die publikasie van Afrikaanse tekste gevestig.
’n Belangrike invloed vanaf 1920 was die vertaling van klassieke Europese kinderboeke soos Gulliver by die reuse en die sprokies van die Grimm-broers en Hans Christian Andersen.
Die periode van 1930 tot 1940 was ongelukkig gekenmerk deur boeke van swak gehalte vir kinders, weens die gehalte van die taalversorging. ’n Uitsondering is Mikro (CH Kühn) se Die ruiter in die nag (1936).
Die Tweede Wêreldoorlog het vanselfsprekend ’n beduidende impak gehad op die uitgee van jeugboeke sowel as volwasseneboeke in hierdie tydperk as gevolg van drukkersperse wat ingespan is vir oorlogsdoeleindes en die skaarste aan papier.
Na 1948 was daar ’n bloeitydperk van Afrikaanse letterkunde, grootliks weens die verandering in die politieke atmosfeer. So ook tekste vir kinders. Met ’n pro-Afrikaanse Nasionale Party aan bewind het die prioriteit van gehalteboeke meer aandag gekry. Die mag en rol van die perswese het ’n beduidende rol gespeel in die vervaardiging en verspreiding van Afrikaanse kinderboeke.
In die vyftigerjare is die instelling van pryse en toekennings vir spesifiek kinder- en jeugliteratuur tot stand gebring. Die vertaling van die beste kinderboeke uit ander dele van die wêreld het ook skerp toegeneem.
Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas verskyn in 1955 met groot sukses en word ’n geliefde boek onder die jeug. Verhale soos Huppel verjaar deur WO Kühn, die Jakkals en Wolf-stories (as pragtige weergawes deur Wendy Maartens verwerk en wat as radio-uitsendings op Spotify beskikbaar is) het bygedra tot hoërkwaliteit- Afrikaanse kinderverhale.
Weer het die veranderende politieke atmosfeer die aard van jeugboeke beïnvloed vanaf 1970. Destyds was die gevoel dat jeugboeke nie genoeg kommentaar lewer op die politieke en morele toestand in apartheid-Suid-Afrika nie. Tog was daar boeke soos Matoli (1978) deur Etienne van Heerden wat kommentaar gelewer het op rasseverhoudings.
Dan was daar Vlerkdans (1992), My kat word herfs (1986) en Droomwa (1990) deur Barrie Hough en Aliens en engele (1996) deur Leon de Villiers (Van der Walt 2005:27) wat nie noodwendig rassekommentaar gelewer het nie, maar wel sosiale kommentaar. In die meeste van hierdie boeke is taboe onderwerpe soos seks en Vigs aangespreek.
Die patriotiese, nasionalistiese en morele aard van Afrikaanse kinderliteratuur het sedert die 1990’s bepalend verander. In byvoorbeeld ! Sit oom Paul (1995) deur Johan de Waal word ’n nuwe perspektief op die verlede aan tieners voorgelê. Dit dui op ’n verandering van inhoud wat in ’n mate saamhang met die klimaat van die samelewing.
Vanaf 2000 het die Suid-Afrikaanse konteks selfs verder verander deur tegnologie en die metropolitaanse konteks. Die grootste invloed sedertdien was en is steeds die internet, met telekommunikasie daaraan gekoppel – tot waar ons vandag met kunsmatige intelligensie worstel.
Kinder- en jeugliteratuur van 1990 tot 2025
Die tydperk sedert die 1990’s word gekenmerk deur ’n digitale en sosiale revolusie – die internet. Kinders word vandag groot in ’n wêreld van konstante verbinding met die internet, selfone, sosiale media soos TikTok, en dies meer. Hulle word voortdurend blootgestel aan fopnuus, kuberboelies en sosiale druk, nie net deur hulle vriende en portuurgroep nie, maar ook deur die druk om soos beroemdes op sosiale media te wees. Hierdie veranderinge het die aanpassing van temas in kinderboeke genoodsaak om meer relevant, intiem en veelsydig te wees.
Kinderboeke het aangepas om nie net ’n opvoedkundige aktiwiteit te wees nie, maar ook om vir kinders ’n veilige spasie te bied om moeilike en ongemaklike vrae te verken. Lees is nie meer net vir vermaak of opvoeding nie – dis vir oorlewing, verwerking en identiteitsvorming.
Boeke soos Onderwêreld (Fanie Viljoen) verken morele dubbelsinnigheid en sielkundige spanning. Dit is nie eenvoudige “goed teenoor kwaad”-verhale nie. Dit is komplekse vertellings waarin karakters worstel met skuld, vrees, keuses en gevolge. Voeg ook hierby Viljoen se Die dag toe die draak kom, beskikbaar vir meisies en seuns, wat die tema van kindermolestering op ’n verteerbare manier aanbied.
Lees kinders enigsins nog vandag?
Kinders lees steeds, maar met ’n verskuiwing in hul verwagtinge en behoeftes. Hulle beleef die gevolge van klimaatsverandering, ervaar pandemies, geestesgesondheidsprobleme, sosiale onregte en persoonlike uitdagings. En dit blyk dat as hierdie soort stories nie in boeke weerspieël word en kinders en tieners dit nie raaksien in boeke nie, hulle uitgesluit voel.
Boeke soos Offers vir die vlieë, wat die LAPA-jeugromankompetisie (2019), ATKV-kinderboektoekenning (graad 8–10) (2021) en die Scheepersprys vir jeuglektuur (2022) verower het, wys hoe verlies, rou, aanpassing en identiteit eerlik en realisties uitgebeeld kan word. In Breinlabirint deur Francois Bloemhof word geheue, identiteit, persepsie en vertelling verken op ’n manier wat tieners se leesvermoë en breine uitdaag. Hier word lees ’n aktiewe proses waartydens lesers self moet dink, intriges moet ontrafel en selfs moet besluit oor hoe hulle die verhaal gaan lees.
In Zelda Bezuidenhout se Quinn se jaar van kwik (2024) kry ons ’n verhaal wat fokus op geweld teenoor vroue, die sosiale media se rol in die oorlewing van afbrekende tradisies by gevestigde welaf skole, asook selfontdekking. Dit is temas waarmee baie tieners kan identifiseer en beslis mee worstel.
Temas in hedendaagse kinder- en jeugboeke
Algemene en betekenisvolle temas in kinder- en jeugboeke sedert 2000 sluit in:
- Identiteit en selfontdekking, veral wat seksuele oriëntering betref. Boeke soos Toe ons nog oneindig was deur Zelda Bezuidenhout en Vyf sekondes voor Vrydag deur Ihette Senekal is belangrike boeke wat waarskynlik die tema van identiteit en selfontdekking op dieselfde manier ontgin en aanbied as wat Barrie Hough temas van verlies en Vigs hanteer het.
- Verlies en trauma is ook temas wat ’n geruime tyd in tiener- en jeugfiksie aanwesig is. Daar is boeke soos ’n Potvol winter deur Maretha Maartens, Droomwa deur Barrie Hough en Aliens en engele deur Leon de Villiers. Die geheim met die hantering van verlies en trauma is dat dit op so ’n manier aangebied word dat die leser self die afleidings en konneksies tussen die karakter se ervaring en hul eie ervaring moet maak. Skrywers moenie preek nie. Volwassenes hou nie daarvan nie – waarom sou kinders dit dan geniet om voorgesê te word en voor gepreek te word?
- Sosiale druk, boelies en uitsluiting. Hierdie tema kom tot ’n meerdere of mindere mate in amper elke kinder- of jeugboek voor. Dit is ervarings wat universeel is. Die konteks het wel dalk verander, maar almal ervaar dit die een of ander tyd in hul lewe.
- Boeke spreek juis afknouery, neurodiversiteit, seksuele identiteit, gesinsdinamika en maatskaplike kwessies op ’n verteerbare wyse aan. Christien Neser se Absoluut Einstein en Amper Einstein gee ’n interessante en realistiese blik op die lewe van ’n gesin met ’n outistiese kind en gestremde ouer, maar ook ’n neurotipiese seun en ’n superma wat self worstel met al die struikelblokke in haar lewe. Hierdie tipe boeke help kinders, en moontlik volwassenes, voel dat hulle nie alleen is nie.
- Ons moet ook nie die toename in jeugromans met klimaatsverandering en verskeie natuurrampe wat daarmee verband hou, miskyk nie, soos Leon de Villiers se Die groot koelte.
- Laastens is daar sedert die klassieke Sherlock Holmes verskeie spanning-, riller- en raaiselverhale vir veral tieners. Onthou iemand nog die Griller-reeks – die vertaling van die Goosebumps-reeks? Hier kan ons by uitstek vir De Wet Hugo met sy Grilgrypers- en Kies-jou-avontuur-boeke noem.
- Boeke met sterk elemente van raaisels en spanning, soos Bloemhof se Breinlabirint, daag kinders intellektueel uit én bied ’n soortgelyke adrenalien-rush. Dit bied die perfekte brug tussen “leer” en “geniet”.
Maar wat van al die tegnologie waaraan vandag se kinders so verknog is?
Die impak van tegnologie en media
Kinderboeke se grootste mededingers om kinders se aandag is rekenaarspeletjies, video’s, sosiale media, virtuele realiteit en natuurlik KI. Dit het beslis ’n beduidende invloed op die aard van kinder- en jeugboeke gehad.
Tegnologie se invloed op kinders se aandag is slegs een van ’n verskeidenheid redes. Dit het moontlik gelei tot ’n beweging na korter hoofstukke en dat aksies ’n vinniger pas volhou. Dit beïnvloed steeds nie die lengte van boeke nie, maar wel dat daar meer hoofstukke is. Dit skep die gevoel dat jong lesers ’n “regte” boek met hoofstukke lees, maar nie oorweldig word deur die “dikte” nie.
Dit het ook gelei tot ’n toename in die vernuwende gebruik van visuele elemente, soos illustrasies en die formatering van teks. Sommige boeke gebruik byvoorbeeld ’n dagboekformaat of formateer die teks sodat dit soos aanlyn platforms lyk. Hierdie elemente kan beslis in baie van Jaco Jacobs, Fanie Viljoen, Cecelia Steyn en ook ander tiener- en jeugboekskrywers se boeke gevind word. Nog ’n belangrike element is die verskuiwing van die dialoog van karakters van Standaardafrikaans na ’n meer hedendaagse spreektaal. Karakters praat al hoe meer soos hul werklik sou klink.
Hierdie aanpassings is nodig om kinders se aandag te behou en ’n gevoel van relevansie te skep.
Is daar dan nog kinders wat lees?
Ten spyte van die kompetisie van elektroniese platforms vir tieners se aandag is daar steeds kinders wat geborgenheid in boeke kan vind. Daar is belangrike bydraes wat lees kan maak tot ’n kind se emosionele en kognitiewe ontwikkeling. Dit is nou buiten om vir leer- of skooldoeleindes te lees.
...
Lees kinders nog? Wat ons eintlik moet vra, is: Lees ons as volwassenes nog en wys ons vir kinders dat dit lekker is om te lees?
...
Lees vir plesier bied kinders die geleentheid om hulle in die karakters se lewens en leefwêrelde in te leef. Die ervarings wat die karakters meemaak, kan kinders op ’n verteerbare manier help om hul eie ervarings te verwerk. Dit is nie ongewoon om ’n verbeeldingswêreld in ’n boek te skep wat eintlik gegrond is op die werklike lewe nie. Dink so ’n bietjie: Is die towerwêreld van Harry Potter waar towenaars en hekse meerderwaardig geag word as die “moggels” wat nie towerkragte het nie, werklik anders as die rassekwessies in die hedendaagse samelewing? Of wat van die feit dat Harry se ouers oorlede is en hy as ’n weeskind by sy familie woon? Toegegee, hulle behandel hom uiters sleg.
Laastens bied veral fantasieboeke aan kinders ’n plek van ontvlugting. Dit is ’n plek waar hulle moontlik veilig voel, en selfs realistiese boeke bied hul die kans om vir ’n oomblik weg te breek van die onmiddellike werklikheid.
Die reputasie van lees as ’n plesieraktiwiteit
Onderwysers, ouers en enige volwassenes wat kontak het met kinders, speel ’n belangrike rol om kinders bloot te stel aan boeke wat by hulle belangstellings aanklank vind, asook boeke wat hulle blootstel aan interessante ervarings deur ’n karakter.
Belangriker nog is dat ons as volwassenes, ook onderwysers en oumas en oupas, moet wys dat ons lees en dat dit lekker is. Ons moet vir kinders rolmodelle wees.
Dit bring ons terug na die vraag wat baie volwassenes vra: Lees kinders nog? Wat ons eintlik moet vra, is: Lees ons as volwassenes nog en wys ons vir kinders dat dit lekker is om te lees?
Ons moet ophou vra: “Wat mag kinders lees?” en eerder vra: “Wat moet hulle lees?” Ons moenie meer net kla oor “leer lees” nie; ons moet kinders motiveer om te lees.
Boeke is steeds een van die effektiefste middele om kinders te help om hul plek in die groot wye wêreld daar buite te vind.
Kinder- en jeugboeke het ingrypend verander. Vandag se kinders leef in ’n komplekse wêreld en verdien literatuur wat dit weerspieël. Boeke soos Onderwêreld, Offers vir die vlieë, Breinlabirint en Quinn se jaar van kwik bied nie net vermaak nie, maar ook sin, troos en insig.
Bibliografie
Pẽna, M. 2023. The first children’s picture book might be this one. Library of Congress online blog. https://blogs.loc.gov/loc/2023/11/the-first-childrens-picture-book-might-be-this-one (1 Junie 2025 geraadpleeg).
Theron, AS. 2014. Daar’s ’n apie voor my ma se agterdeur. Ongepubliseerde BHons-navorsingsopstel. Universiteit van Kaapstad.
Van der Walt, T. 2005. Afrikaanse kinder- en jeugprosa. In Wybenga en Snyman (reds) 2005.
Wybenga, G en M Snyman (reds). 2005. Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: ’n gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek. Pretoria: LAPA.
Kyk en lees ook:
Liam Lang: Kode bruin! Die goorste week ooit!-kinderboekreeks: ’n jonglesersindruk
Cliffordene Norton: Cliff-hanger: Ek skryf nie om bruin te wees nie – ek skryf vir my karakters
Veronique Jephtas and Bianca Flanders: Seeing myself in places other than the mirror
Anke Theron: Goue lint my storie begint: Die unieke aard van kinder- en jeugboeke
Anke Theron: Goue lint, my storie begint-rubriek: die waarde van illustrasies in kinderboeke
Anke Theron: Goue lint, my storie begint: Die impak van tegnologie op kinders en boeke
Anke Theron: Goue lint, my storie begint: Watter boeke koop ek vir my gretige of sukkelende kinderlesers?
Anke Theron: Volwassenes moet lees sodat kinders stories kan vind
Freek Robinson en Jaco Jacobs: Die pad na lesers se harte loop deur hul lagspiere
Izak de Vries: Tippie, die klein grys olifantjie wat kinders help lees
Jaco Jacobs: Jy’s seker nie ernstig nie
Magdel Vorster: Kinderboeke: Van dansdrome na dansers – na rolmodelle

