
Skets: Mohamed Hassan, Pixabay
...
Want solank daar literatuur is wat méér wil sê as wat dit sê, sal daar mense nodig wees om daardie betekenis oor te dra.
...
Kunsmatige intelligensie (KI) is besig om letterkunde te betree met dieselfde stil maar onkeerbare vasberadenheid waarmee dit reeds onderwys, joernalistiek en kuns verander het. Waar vertalers vroeër ure lank oor ’n enkele sin geworstel het, lewer ’n KI-model binne sekondes ’n eerste weergawe. Vir sommige klink dit na bevryding; vir ander na ’n kreatiewe ramp.
Daar is ’n nuwe vertaler in die vertrek en die vraag is nie meer óf KI in literêre vertaling gebruik gaan word nie, maar hóé en watter prys die menslike vertaler en die skrywer se stem daarvoor gaan betaal.

Skets: https://www.deepvellum.org/
By Johns Hopkins-Universiteit in die VSA lei Jeanne-Marie Jackson, direkteur van die Alexander Grass Humanities Institute (AGHI), ’n nuwe vennootskap met Deep Vellum Publishing. Hierdie inisiatief steun doelbewus op menslike vertalers.
“Vertaling is die enjinkamer van wêreldletterkunde en nie net die eindproduk nie,” sê Jackson. “Dit beteken bloedsweet, harde werk en menslike moeite. Dit is wat ons vir ons studente wil inskerp.”
Sy beskryf vertaling as ’n vorm van handwerk: ’n aktiewe daad van interpretasie en kultuuroordrag wat nie deur algoritmes vervang kan word nie. Hoewel sy soms Google Translate (GT) gebruik “om die terrein vinnig te verken”, hersien sy elke sin met ’n fynkam en waarsku dat ons moet sorg dat die “tande van daardie kam nie mettertyd uitval nie” as gevolg van gemak of luiheid.
“Alhoewel ek nie namens enigiemand by Deep Vellum kan praat nie, kan ek namens myself sê dat ek KI as ’n nuttige ‘aanvangsinstrument’ beskou, wat met sorg en oorleg gebruik moet word.”
Vir Jackson is vertaling ’n gesprek tussen mense, nie tussen mens en masjien nie. Haar benadering versinnebeeld die nuwe spanning tussen doeltreffendheid en outentisiteit wat die vertaalwêreld wêreldwyd ervaar.

https://www.litnet.co.za/author/daniel-hugo/
Vir die bekroonde Afrikaanse vertaler Daniel Hugo is daar ook geen twyfel oor waar hy staan nie. “’n Masjien verstaan nie die subtiele betekenisnuanses van ’n literêre teks nie,” sê hy. “Vertaling verg ’n oor vir styl, register en woordspeling, iets waarvoor KI waarskynlik toondoof is.”
Hugo sien wel die moontlikheid in van samewerking tussen mens en masjien, maar waarsku dat dit die vertaler kan reduseer tot ’n teksredigeerder sonder kreatiewe seggenskap. Hy het self nog glad nie van KI gebruik gemaak in sy vertaalwerk nie.
“Woordspeling is een van die grootste vertaaluitdagings vir ’n vertaler van vlees en bloed, daarom sekerlik ook vir ons algoritme-mater.
“Dan hoef die vertaler ook nie die brontaal te ken waaruit vertaal word nie. In so ’n geval was dit algemene praktyk om ’n gepubliseerde vertaling in ’n tussentaal – soos Engels – te gebruik. Die masjien kan nou ’n teks direk uit enige taal in die doeltaal oorskakel. Ek sal my bly verset teen sowel vertalings uit ’n tussentaal as masjienoorsettings,” sê hy.
In sy gedig “Tot lof van die vertaler” uit die bundel Kategismus (Turksvy, 2025) steek hy tong-in-die-kies die draak met hierdie “globale poliglot” wat alles deur Engels laat gaan: “[...] vir die amateurvertaler ’n kreoolse triomf / waarvoor selfs Google – globale poliglot – haar skaam.”
’n Onlangse studie oor ChatGPT se vertaling van poësie toon dat dit semantiese akkuraatheid redelik handhaaf, maar bevestig Hugo se standpunt dat die emosionele “resonansie” verlore raak. Ritme, humor, ironie, dialek en woordspel bly vir masjiene glibberige terrein.
Die werklikheid is egter dat groot taalmodelle soos ChatGPT en DeepL al 70 tot 80 persent van ’n roman se inhoud redelik akkuraat weergee, mits dit gaan oor standaardprosa sonder poëtiese of kulturele kompleksiteit. KI werk goed met die letterlike betekenis van woorde, maar sukkel met die bedoelde nuanses en konnotasies.

https://www.litnet.co.za/author/burgert-a-senekal-2-2-2-2-2-2/
Burgert Senekal, navorsingsgenoot in digitale geesteswetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) en ’n kenner van die etiese gebruik van KI in vertalings, sê KI, veral GT, is reeds uitstekend, en word elke paar maande aansienlik beter.
Op die vraag hoe bekommerd vertalers van literêre werke moet wees dat KI hulle werk gaan oorneem, sê Burgert: “Baie bekommerd, en ook glad nie.”
Hy sê daar is ’n persepsie dat GT-vertalings swak is, wat terug dateer na GT se eerste pogings. Mense sukkel om hierdie persepsie te wysig. Daar bestaan ’n houding dat “geen masjien kan doen wat ’n mens doen nie”.
Volgens Burgert kan hy egter nie ’n situasie voorsien dat KI sonder menslike toesig ’n literêre werk sal vertaal en dat ’n uitgewer dit so sal uitgee nie, in elk geval nie binnekort nie.
Wat die toekoms betref, glo hy dat 100% van alle gepubliseerde letterkundige vertalings oor ’n paar jaar KI-gesteun sal wees, met klein veranderinge wat deur ’n mens aangebring word. “Dit sal immers dom wees om nie ’n rekenaar te gebruik vir iets wat hy uitstekend kan doen nie, veral as dit tyd spaar vir die mens.”
“GT is boonop gratis en gee toegang tot 249 tale, en tale wat nie deur GT gedek word nie (soos Oud-Noors), kan vertaal word deur groottaalmodelle soos Gemini en ander.”
Poësie is volgens hom die literêre genre wat tans die moeilikste vir KI is om te vertaal. Dit is waarskynlik omdat rym en ritme belangriker is in poësie, sê hy, maar KI is ook reeds goed daarmee om dit in ag te neem.
As voorbeeld wys hy op die Oud-Noorse vers “Hávamál” wat omstreeks 1270 in die Codex Regius neergeskryf is.
Die oorspronklike Oud-Noors, gevolg deur ’n Engelse vertaling deur ’n mens en dan Afrikaanse vertalings direk uit Oud-Noors deur middel van KI.
Dit lyk so in die oorspronklike Oud-Noors:
Hávamál 76
Deyr fé, deyja frændr,
deyr sjálfr it sama;
en orðstírr deyr aldregi
hveim er sér góðan getr.
Engelse vertaling (mens, Edward Pettit, 2023):
Cattle die, kinsmen die,
one dies oneself the same;
but reputation never dies
for whoever gets himself a good one.
Afrikaanse vertaling, direk uit Oud-Noors (Google Gemini):
Vee sterf, familielede sterf,
jy sterf self ook;
maar die goeie naam sterf nimmer
vir hom wat hom ’n goeie een verwerf.
Copilot vertaal dit soos volg direk uit Oud-Noors in Afrikaans:
Die vee sterf, die vriende sterf,
jy self moet ook vergaan;
maar roem en eer vergaan nooit
vir hom wat ’n goeie naam behaal.
In die praktyk word daar reeds ’n toenemende aantal vertalings as hibriede prosesse gedoen: KI skep ’n ruwe konsep, waarna ’n menslike vertaler dit redigeer, afrond en kultureel “vertaal”. Hierdie sogenaamde post-editing bespaar tyd en geld. Dit verg egter nuwe vaardighede en verander die beroep se aard fundamenteel.
Burgert is positief oor die gebruik van KI vir literêre vertalings, omdat dit wêrelde kan help oopmaak, maar wil tog sien dat ’n mens ook daarna kyk. “Ek wil altyd menslike toesig hê. Mense maak ook foute, maar kan ten minste verantwoordelikheid neem vir foute.”
Met die tegnologie kom daar ook nuwe morele vrae. KI-modelle word opgelei om groot hoeveelhede bestaande vertalings, dikwels sonder toestemming van die oorspronklike vertalers of uitgewers, te vertaal. Dit skep regs- en etiese grysareas, soos wie besit die intellektuele eiendom van ’n KI-vertaling? Is dit die oorspronklike skrywer, die algoritme of die mens wat dit finaal redigeer?
Dit bly ’n goeie vraag wie die eienaar van die vertaling is wanneer die vertaling KI-geskep is, maar deur ’n mens goedgekeur is, sê Burgert.
Uitgewers wêreldwyd begin intussen reeds met deursigtigheidsbeleid om aan te dui wanneer KI in enige stadium van die vertaalproses gebruik is. Maar daar is nog geen internasionale standaard nie.

https://www.litnet.co.za/author/nicol-stassen/
By Protea Boekhuis, een van Suid-Afrika se toonaangewende uitgewerye vir letterkundige vertalings, berus die keuse van watter boeke vertaal word op gehalte, nie op gemak of spoed nie. Volgens die uitvoerende hoof, Nicol Stassen, kies hulle boeke “wat van ’n besondere letterkundige kwaliteit is en Afrikaans sal verryk, hetsy deur die temas of deur die stilistiese meriete daarvan”. Die uiteindelike sukses van ’n vertaling hang egter sterk af van die vertaler self, sê hy. “Elke vertaler het sy unieke styl. Dit sal moeilik wees vir KI om dit na te boots, tensy dit eendag so gevorderd is dat jy dit kan vra om ’n boek in die styl van ’n spesifieke vertaler te vertaal.”
Tot dusver gebruik Protea se vertalers nog nie KI-hulpmiddels soos DeepL of ChatGPT nie, al is dit nie ’n doelbewuste besluit om dit te vermy nie. “Hulle sal in die toekoms die keuse moet uitoefen om KI te gebruik,” sê Stassen. Hy wys daarop dat hulpmiddels wat eens as bedreigings gesien is – soos Wikipedia, GT en speltoetsers – intussen gevestigde instrumente geword het in die vertaalproses. Die sleutel, meen hy, lê in aanpassing: “KI moet as ’n baie intelligente, maar onervare hulpmiddel by vertaling beskou word. Vertalers en uitgewers sal moet leer hoe om dit kundig te gebruik, of om uitgerangeer te word deur meer kundige gebruikers.”
Vir Stassen is KI gelyktydig ’n bedreiging én ’n geleentheid. “Dit kan beslis nuttig gebruik word as dit oordeelkundig aangewend word,” sê hy. “Maar KI is gebaseer op dit wat reeds gepubliseer is. In die meeste van ons letterkundige vertalings kom uitdrukkings en subtiele woordspelings voor wat nooit voorheen in gepubliseerde vorm verskyn het nie – iets wat slegs deur ’n kundige vertaler vasgevang kan word.” Hy gebruik die gewilde Franse strokiesreeks Asterix as voorbeeld: “Dis byvoorbeeld onmoontlik om Asterix in Afrikaans te vertaal deur KI, juis oor die subtiele woordspelings en verwysings na kontemporêre liedjies of kulturele kontekste.”
Wat deursigtigheid betref, is Stassen onwrikbaar: “Daar sal altyd presies aangedui moet word op watter wyse KI by ’n vertaling ingespan is. As dit verswyg word, is dit beslis growwe oneerlikheid.”
Die gebruik van bestaande vertalings om KI-stelsels op te lei, roep ook ernstige vrae oor kopiereg en eienaarskap op. Stassen wys daarop dat die menings daaroor verdeel is: “Skrywers en vertalers wat nie van KI gebruik maak nie, is byna 100% gekant teen die gebruik van hulle werk om KI op te lei. Maar slegs omtrent die helfte van diegene wat self met KI werk, is daarteen gekant.” Hoewel wetgewing in die meeste lande reeds die onregmatige gebruik van letterkundige werke reguleer, is dit nog nie duidelik hoe dit op KI-opleiding toegepas word nie. “Al hoe meer lande is besig om wetgewing te formuleer om die onregmatige gebruik van bestaande tekste vir KI-opleiding te reguleer,” sê hy.
Uiteindelik glo Stassen nie dat KI ooit die siel van literêre vertaling volkome sal kan vervang nie. “Ek dink nie dis moontlik om literêre vertalings te doen deur slegs op KI te vertrou nie,” sê hy. “Vertalers en uitgewers sal nuwe tegnologie moet omarm en ’n sinvolle balans moet vind – moontlik deur eers ’n voorlopige vertaling deur KI te laat doen wat dan deur ’n kundige menslike vertaler nagegaan word. Dit kan produktiwiteit verhoog sonder om gehalte op te offer.” Hy glo ook KI kan nuttig wees om menslike vertalings te kontroleer, of selfs as hulpmiddel vir redakteurs en proeflesers.
“Die uitdaging,” sê Stassen, “is om die balans tussen spoed en siel te vind.”
Soos Stassen uitwys, sal die vertaalwêreld dus waarskynlik in die jare wat kom, met nuwe vaardighede én nuwe vrae moet leer leef.
In Suid-Afrika is die potensiaal van KI groot, maar die struikelblokke net so. Afrikaans is soos baie ander plaaslike tale vir KI nog ’n “lae-hulpbrontaal”, met te min geskrewe en beskryfde data vir betroubare outomatiese vertalings.

Eksperimente soos Silwerwit in die soontoe (2023), ’n bundel KI-gegenereerde Afrikaanse poësie, toon wat moontlik is, maar ook wat verlore gaan. Die verse is grammatikaal korrek, selfs ritmies, maar dikwels emosioneel plat. KI “vertaal” die struktuur van die taal, maar nie sy klank, kultuur of gevoel nie.
Soos Jeanne-Marie Jackson opmerk, is KI redelik bruikbaar vir Afrikaans, matig vir Shona en feitlik nutteloos vir Fante, wat wys hoe ongelyk die digitale speelveld nog is. Dit hang steeds sterk af van die taal waarin daar gewerk word.
Kenners voorspel dat teen 2030 tussen 20% en 40% van alle nuwe vertalings KI-eerste weergawes sal wees, met mense wat dit daarna redigeer en afrond. Vertalers word dus minder skrywers en meer kuratore van betekenis.
...
KI kan sinne bou, maar dit verstaan nie stilte nie.
...
Hierdie ontwikkeling bring onsekerheid, maar ook moontlikhede. KI kan literatuur toeganklik maak in tale wat andersins nooit vertaal sou word nie. Dit kan ook jong vertalers help leer deur vinnige konsepte te lewer wat as oefening gebruik word. Tog bly die vraag: Teen watter koste aan gehalte, eerlikheid en kultuur?
KI kan sinne bou, maar dit verstaan nie stilte nie. Dit kan metafore oordra, maar nie melancholie nie. Vertaling bly ’n daad van empatie – van luister, voel en kies.
Soos Hugo dit in sy gedig “Tot lof van die vertaler” uitdruk, mag GT dalk die wêreld se globale poliglot wees, maar dit bly steeds ’n menslike kuns om ’n ander mens se gedagtes in jou eie hart te hoor, ’n “kreoolse triomf” wat ’n masjien nog lank nie kan doen nie en waarvoor selfs Google steeds die knie moet buig.
Die toekoms van vertaling lê dus waarskynlik nie in masjiene wat mense vervang nie, maar in mense wat leer om met groter wysheid van die masjiene gebruik te maak. Want solank daar literatuur is wat méér wil sê as wat dit sê, sal daar mense nodig wees om daardie betekenis oor te dra.
Lees ook:
’n Ondersoek na die gebruik van vertaalmetodes deur Afrikaanstaalverwerwingstudente
LitNet Akademies: Vertaling as oortekening - Amanda Lourens gee haar mening
Die eerste KI-gedig in Afrikaans: "Silwerwit in die soontoe"
SteedsDink met LitNet Akademies: Inge Engelbrecht oor haar akademiese navorsing
Die vertaler ontbind, verklaar en bewaar ’n ruimte tussen tale

