Kennis is mag! Basiese onderwys vir volwassenes as teenvoeter vir geweld teen vroue en kinders

  • 0

Suid-Afrikaners leef in ’n gewelddadige samelewing. Baie mense leef daagliks in gewelddadige huishoudings. Is daar oplossings?

Estelle Kruger gesels met Danie Kloppers en Geesje van den Berg oor hulle artikel: Basiese onderwys vir volwassenes as teenvoeter vir geweld teen vroue en kinders.

Hier deel die navorsers ook ’n praktiese lesplan.


 

Wat is julle betrokkenheid en agtergrond in die onderwysberoep op skoolvlak?

Onderwys is my passie en is deel van wie en wat ek is. Ek was vir 12 jaar ’n onderwyser en sedertdien is ek betrokke by onderwyseropleiding (19 jaar). (GvdB)

Ek het al vir leerders van gr 4–12 klasgegee en is tans ’n onderwyser by Koster Intermediate School. Ek was vantevore ook ’n fasiliteerder by ’n Basiese Onderwys vir Volwassenes- (BOV-) sentrum. (DK)

Wat is die agtergrond van die studie, maw hoe het julle belangstelling in die probleem van geweld teen vroue en kinders ontstaan?

Vir my het dit uit ’n mengelmoes van gebeure ontstaan, soos die Modimolle- en Springsmonsterhofsake en die konstante stroom van nuusberigte waarin vroue en kinders die slagoffers is; my en my goeie gade Annette se betrokkenheid by gemeenskapsondersteuningsprojekte vir kinders; en die leergierigheid van ouer dames in BOV wat tyd maak vir leer ten spyte daarvan dat hulle self moet werk en huiswerk doen terwyl hulle mans dikwels werkloos rondhang. (DK)

Hoe het julle bewus geword daarvan dat basiese onderwys vir volwassenes ’n teenvoeter vir genoemde geweld kan wees?

BOV bereik tans letterlik duisende volwassenes in Suid-Afrika deur projekte soos Kha Ri Gude en volwassene-onderrigsentra. As BOV-fasiliteerder, en veral namate ek meer nagelees het oor die Brasiliaanse pedagoog Paulo Freire se benadering tot onderrig, het ek besef dat dit ’n metode kan wees om ekonomiese en sosiale hindernisse die hoof te bied. (DK)

Hoe het dit gebeur dat julle besluit het om geweld teen mans uit te sluit uit hierdie studie? Is daar wel ander studies waarvan julle bewus is waar BOV hiervoor gebruik word?

Die uitsluiting van mans was ’n praktiese besluit om die omvang van die navorsing te beperk. Daarby bevestig die persdekking die afgelope tyd oor voorvalle van geweld teen vroue en kinders dat dit ’n ernstige maatskaplike probleem is. Dit beteken natuurlik nie dat ons enigsins geweld teen mans as ’n maatskaplike probleem ontken nie, en ons is ook daarvan bewus dat vroue en kinders dikwels geweldenaars is. Ek is nie bewus van enige studie waar BOV spesifiek in die stryd teen geweld teen manlike slagoffers gebruik word nie, maar dit was natuurlik ook nie die fokus van die navorsing vir hierdie artikel was nie. (DK)

Julle verwys daarna dat geweld teen vroue en kinders ’n tema is wat dikwels in outobiografieë en literêre tekste voorkom. Sou dit beteken dat dit gepaste tekste kan wees om in BOV te gebruik en gesprek te fasiliteer?

Dit is geen geheim dat ons onsself in ’n toenemend gewelddadige samelewing bevind nie. Taal is altyd by geweld betrokke: nie net om geweld aan te vuur nie, maar ook om dit aan te spreek en te bekamp. Taal en teks het dus mag. Om hierdie rede kan literêre tekste beslis die vermoë hê om te lei tot gesprekke om geweld aan te spreek. Kinders en vroue is soms so vasgevang in die bose spiraal van geweld dat hulle nie daaroor kan of wil praat nie. Hoe meer bewustheid daar gekweek word, hoe meer gesprekke kan gevoer word, en hoe makliker word dit om diepgewortelde probleme wat met geweld verband hou, aan te spreek. Soos jy noem, en soos wat dit ook in ons artikel na vore gekom het, gaan dit hier oor taal, stilte, en veral oor gesprekvoering. (GvdB) 

Ja, beslis. Om terug te keer na Freire. Hy het van sogenaamde kultuursirkels gebruik gemaak waarbinne BOV-leerders temas uit hulle ervaringsveld bespreek het en dit as basis vir verdere leer gebruik. Tekste en selfs dele uit tekste kan dus gebruik word om as vertrekpunt vir Teengeweld-onderwys (TGO) te dien. (DK)

Kan literêre tekste in taalvakke op skool hiervoor gebruik word? En kan die skryf van stories/gedigte/dramas hieroor dalk ’n emosionele uitlaatklep as katarsis wees?

Gesprekke oor geweld soos wat dit in die vorige punt aangespreek is, sou ideaal opgevolg kon word met die skep van eie tekste1 (gedigte, stories en dramas) in die taalklas. In ons studie word na verskeie literêre tekste verwys met geweld teen vroue en kinders as tema, wat verder aansluiting kan vind by die skryf van eie tekste. Sulke tekste is uiters belangrik om slagoffers te help om enersyds te besef dat hulle nie alleen is nie, en andersyds dat hulle oor hulle eie unieke omstandighede kan nadink en daaraan uiting kan gee deur dit te verwoord. Tekste wat so geskryf word, is egter nie net sinvol vir slagoffers nie, maar het ook die belangrike funksie om bewustheid van die probleem by alle leerders (ook geweldenaars) te kweek. (GvdB)

Om kennis te hê van ’n onderwerp beteken nie noodwendig dat dit geïnternaliseer word nie. Hoe maak julle in BOV seker dat hierdie kennis nie net ’n aparte kompartement in die leerders se kennisstelsel is nie, maar dat daar wysheid, waardes, deernis en empatie ontwikkel wat tot transformasie kan lei?

Die enigste manier waarop die onderwerp deel van leerders se kennis, hulle ingesteldheid en uiteindelik hulle menswees kan word, is deur middel van voldoende blootstelling: om nie net bewustheid te kweek nie, maar om daaroor te besin, te praat en te skryf.  In hierdie opsig maak ons doelgerigte voorstelle in die artikel vir hoe die onderwerp deel van die BOV-leerplan kan uitmaak. (GvdB) 

Een van die belangrike verskille tussen BOV-leerders en skoolleerders is dat BOV-leerders meer lewenservaring op die kerfstok het en moontlik reeds slagoffers van geweld was of ken. Dit beteken dat hulle – anders as sê nou maar die meeste van my graad 9’s, wat in abstrakte terme van geweld leer maar moontlik nog nie daarmee te doen gekry het nie – TGO by hulle bestaande kennis kan voeg of inkorporeer. (DK)

Julle noem dat vrouens soms aktiewe medewerkers kan wees omdat hulle hoop dat hulle sosio-ekonomiese omstandighede kan verbeter (deur byvoorbeeld by mensehandel betrokke te raak). Is dit dalk ook waar van prostitusie, waar vrouens as seksuele voorwerpe behandel word en dus verontmenslik word?

Prostitusie is ’n uiters komplekse onderwerp en gaan grotendeels oor ontmensliking (jou term), ja. (GvdB)

Ek wil my nie waag op ’n terrein waarvan ek nie genoeg weet nie. Dat vroue en kinders egter dikwels blote seksuele voorwerpe word, is ’n feit wat nie ontken kan word nie. ’n Maatskaplike probleem wat hierby aansluit, is die sogenaamde “blesser”-kultuur, waar jong meisies – klaarblyklik met hulle instemming – as speelgoed aangehou word. (DK)

Is vrouens ook onwetend aandadig aan gewelddadigheid in die opvoeding van hulle seuns as hulle dit agv ’n gebrek aan kennis dit nalaat om hul seuns se selfbeeld te bou? Verduidelik asseblief hoe julle dit sien.

Die hele samelewing, en nie net vrouens nie, is aandadig aan gewelddadigheid, omdat ons nie genoeg oor die onderwerp, en die oorsake en gevolge daarvan, praat nie. Dit vra dus vir die aanspreek (en veroordeling) van geweld in opvoeding en onderrrig op alle moontlike vlakke. (GvdB)

Die vraag klink na die – waarskynlik apokriewe – verhaal van die jong man wat vir moord ter dood veroordeel is en tydens sy afskeidsoen sy ma se tong afgebyt het omdat sy dit nooit gebruik het om hom te berispe nie. Sommiges sou waarskynlik die stelling selfs as ’n bewustelike skuldverplasingsmeganisme beskou, of as nog ’n voorbeeld van die “hapless victim”-beeld van mans waarna ons in die artikel verwys het. Die stelling is in teorie seker waar, omdat “aandadig” so ’n wye begrip is. Maar dan weer: menswees is tog juis “ubuntu” – “ek is omdat ons is” – en die uitdrukking lui nie verniet  “’n hele dorp is nodig om ’n kind groot te maak” nie. Waar ma’s dus tekortskiet, moet die gemeenskap help om selfbeeld te bou. (DK)

Hoe kan privaatheid en respek in lewensoriënteringsklasse gefasiliteer word sodat leerders nie onwetend slagoffers word van boelies deur hulle persoonlike menings te gee nie? Is dit nie beter en veiliger in hierdie situasies om liewer stil te bly nie?

Geweld behoort van vroeg af as onderwerp deel van die kurrikulum te wees. Op hierdie wyse kan daar meegehelp word dat gesprekke hieroor makliker kan plaasvind en dat slagoffers (en geweldenaars) met iemand wat hulle vertrou, sal kan praat. Stilswye is nie die antwoord nie en bied ook nie oplossings nie. (GvdB)

Omdat stilswye nie ’n antwoord is nie, moet persoonlike menings hanteer word in ’n omgewing van wedersydse respek en vertroue. Prakties kan openlike gesprekvoering in BOV – en sekerlik ook in gewone skole – ondersteun word deur byvoorbeeld kleingroepbesprekings waar ’n segsman (of -vrou) aan die klas terugvoer gee. (DK).

Is dit moontlik dat ’n mens deur die aanbied van TGO in isolasie – dws as aparte vak – eintlik subtiel geweldpleger(s) en/of slagoffer(s) teiken? Verduidelik asseblief.

TGO behoort deel van die kurrikulum te wees en by skoolvakke, of vakke in BOV, ingesluit te word. TGO kan nie in isolasie aangebied word nie. (GvdB)

TGO kan nie ’n blote vak wees nie – dit moet deel van enige onderrigsentrum se kultuur en geleefde leerplan wees. Op die vraag oor die spesifieke teikening van rolspelers herinner ek my aan ’n deelnemer aan die navorsing se opmerking dat beide slagoffers en geweldplegers juis saam in een groep moet wees om van mekaar te leer. (DK)

Julle noem berading as ’n moontlike wyse om geweld te bekamp. Tog is dit bekend dat mans in die patriargale samelewing nie eintlik soek na sulke soort hulp nie, want dit sou erkenning van swakheid of magteloosheid impliseer. Of is dit ’n veralgemening?

TGO kan hier ’n belangrike rol speel om beide mans en vroue te begelei om te verstaan dat berading nie beteken dat jy ’n sissie is nie. TGO kan egter ook self ’n vorm van informele berading wees as beide slagoffers en geweldplegers in die onderrigsituasie – wat by BOV baie meer die karakter van ’n dialoog as ’n lesing vertoon – gelei word om, volgens Freire se opvattinge, kritiese bewus te word van die posisies van die onderdrukker en onderdrukte en daarop te reageer. (DK)

Het julle praktiese idees hoe hindernisse in die stryd teen geweld teengewerk kan word wat julle vir lesers op LitNet kan laai?

As deel van die navorsing wat die basis van hierdie artikel vorm, het ek in bylaag F2 van my MEd-verhandeling ’n TGO-lesplan vir BOV-vlak 1 en 2-leerders voorgestel. (DK)

Klik hier vir die lesplan.

Wat het julle elkeen persoonlik geleer in hierdie navorsing oor ’n baie komplekse aangeleentheid en die publikasie van julle artikel?

Geweld teen kinders en vroue, is, soos jy ook noem, ’n uiters komplekse en sensitiewe onderwerp. Geweldenaars sowel as die slagoffers van geweld het hulp nodig om die onderwerp nie net aan te spreek nie, maar ook mee te help in die bekamping daarvan. (GvdB)

Vir my was een van die belangrikste aspekte die mate waarin die empiriese navorsing wat op die reaksie van “gewone mense” gegrond was en die vakliteratuur mekaar ondersteun het. Aan die ander kant wonder ek steeds waarom TGO, gegewe die erns en universele afkeuring van geweld, tot op hede nog nié formeel deel van BOV is nie. Miskien is die antwoord daarin geleë dat geen tyd so gepas soos nou is om daarmee te begin nie, veral gegewe die donker aanhaling waarmee die artikel afsluit: “If South Africa does not break this [geweld teen vroue en kinders] or fix it, it will destroy our nation.” (DK)

1 Wanneer daar na “tekste” verwys word, word in die konteks van hierdie gesprek gepraat van kreatiewe skryftekste (gedigte, drama, dialoog, stories).

2 Praktiese idees word in ’n afsonderlike dokument op LitNet gelaai.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top