Titel: Kanniedood
Skrywer: Joha van Dyk
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798183802
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Daar is geen ander uitweg nie, bloedskuld moet afbetaal word. Die einde daarvan is hopelik in sig wanneer die laaste drie lede van die Branderjaers binne maande 18 word. Maar dan verskyn ’n karakter uit die verlede weer op die toneel – Ben Palmer aka Kanniedood se pa, Check Palmer. Is dit die begin van nog meer drama vir die Jaers? Check Palmer is immers aan die stuur van Breekwater se bende, die Urchins. En die Branderjaers is juis vasgevang in die net van die Rotte.
Kanniedood, die derde boek in die Branderjaer-sage, is Ben Palmer en sy suster, Kalla, se storie. Hierdie keer fokus die verhaal nie spesifiek net op een van die Jaers se lewe nie, maar ook op die bloedskuld wat die Jaers besig is om af te betaal. Lesers word teruggeneem na die verlede en leer hierdie keer die presiese oorsaak van die bloedskuld. (In die vorige twee boeke is daar net telkens daarna verwys.)
Die verskyning van Check Palmer het verrykende gevolge vir verskillende karakters in hierdie verhaal. Die verlede haal jou altyd in, daarvan kan jy seker wees.
In Kanniedood fokus die skrywer veral op bendes en kry die leser ’n goeie idee hoe gevaarlik dit werklik is wanneer bendes in gebiede bedrywig is. Soos die verhaal ontvou, trek die knop op my maag al hoe stywer, want die gevaar raak al hoe groter. Kan daar ooit ’n goeie uitkoms uit hierdie benarde bendeverwante situasie wees? En sal al die Jaers en hul vriende veilig wees, of sal van hulle aan die kortste ent trek?
Hierdie verhaal raak nie net bendes en bendegeweld aan nie, maar ook boeliegedrag, brandstigting, klasseverskille en vriendskap ten spyte van klasseverskille (Stormbaai vs Breekwater), asook moord.
Aanhalings uit die boek wat nogal ’n hartsnaar gepluk het: “Hulle het aanhou opstaan teen wat onregverdig was en baklei vir waarin hulle glo, vir die tipe lewe wat hulle wou gehad het” (bl 347). Sjoe, hoeveel mense bevind hulle nie in sulke situasies nie. En ook: “Daar gaan altyd mense wees wat nie hou van wie jy is nie, veral as jy nie soos hulle is nie. Hulle gaan eendag nie saak maak nie” (bl 376).
Wat my opgeval het met die lees van die verhaal, is die goeie kennis wat Joha van Dyk het oor bendes en hoe hulle te werk gaan. Dit is duidelik dat sy deeglike navorsing gedoen het oor die komplekse wêreld van Suid-Afrikaanse bendes en hul kultuur. Die verhaal weerspieël die realiteit waarmee Suid-Afrikaners daagliks gekonfronteer word.
Aan die begin van die verhaal het ek Kalla se aksent nogal steurend gevind, maar soos ek verder met die verhaal gevorder het, het dit duidelik geword dat dit afbreek sou doen aan die verhaal indien die aksent nie teenwoordig was nie.
Kanniedood kan alleenstaande gelees word, maar ek sou aanbeveel dat lesers die hele sage in volgorde lees. Dit sal goeie insig gee in die storielyn en so sal die lesers ook die Branderjaers en ander karakters leer ken soos hulle ontwikkel.
Lees ook:
Kanniedood, kopieregwetgewing en stories: ’n onderhoud met Joha van Dyk