
Titel: Kaiings deur
Skrywer: Daniël Louw
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781067234706
Om waarheid deur die lens van uitgebraaide varkvet te benader klink vermaaklik en selfs buitensporig. Maar dit is baie duidelik dat Daniël J Louw presies weet wat hy gedoen het. In Kaiings van wysheid word ’n eeue oue Afrikaanse spreekwoord die raamwerk van ’n teologiese en antropologiese ondersoek wat met verbasende diepte en eerlikheid die menslike neiging tot selfbedrog ontbloot.
Die boek is in drie bewegings gestruktureer: ”Kierang” (die kullery en dwaasheid van ontkenning), “Karring” (die wroegende proses van skulderkenning) en ”Kaiings” (die gelouterde wysheid wat vry maak). Hierdie struktuur bring die argument na vore dat wysheid altyd deur pyn afgedwing word, en dat die proses nie afgekorte weë ken nie.
Louw begin by die etimologie van die woord self – “waarskynlik uit Nederlands ‘kaaien’ (1836–1838), dialektiese meervoud van ‘kaan’ wat ‘vlesige oorblyfsel van ’n stukkie uitgebraaide vet’ beteken” (bl 15). Hierdie konkrete, tasbare oorsprong, gewortel in plaasgemeenskappe en gedeelde vleiskulture, gee die boek ’n smaak wat baie godsdienstige geskrifte ontbreek.
Die sentrale spreekwoord, “As jy met spek skiet (lieg) gaan kaiings uitbraai” (16), is versiering en ’n argument oor die aard van waarheid. Dit is ’n proses wat homself uiteindelik afdwing, ondanks weerstand. Uit hierdie vertrekpunt lei Louw sy leser na Pilatus se beroemde vraag (“Quid est veritas?”), waaroor Friedrich Nietzsche geskryf het dat dit “die braafste stelling in alle letterkundige geskrifte” is (16). Louw aanvaar nóg Pilatus se gelatenheid nóg Nietzsche se bewondering as finale woord; vir hom is waarheid “gelouterde wysheid wat sin aan die lewe gee” (17), ’n proses van uitbraai eerder as ’n vaste definisie.
Die hoofstuk oor Adam en Eva is een van die boek se sterk punte. Louw lees die Eden-narratief as ’n antropologie van begeerte: “Adam en Eva is twee gulsbekke met oë groter as hul maag!” (25). Die Hebreeuse chamad, ’n obsessiewe, dringende drang om te gryp, word die sleutelwoord. Die imago Dei vervaag toe die aanspraak op mag die wil tot grensrespek verswelg, en in dié beskrywing herken ’n mens die moderne mens se eie verhouding met status en onmiddellike bevrediging. Die gevolge van kierang is verreikend. Dit besoedel nie net die individu nie, maar ook die gemeenskap, die kerk en politiek.
Louw se behandeling van die hart se “kriptiese kelderverdieping van geheime” (29) is fenomenaal. Die hart word behandel as ’n ruimte waar goed en kwaad gelyktydig broei. ’n Plek van dubbelhartigheid wat die kierang moontlik maak en die karring noodsaaklik maak. In hoofstuk 11 word die vrugtelose aard van hierdie dubbelhartigheid skerp verwoord: “Krisis skei koring van kaf. Dit skei sagmoedigheid van vrypostigheid” (61). En uiteindelik word, in die hoofstuk oor sagmoedigheid, die slotsom van die hele beweging saamgevat: “sagmoedigheid die ware kaiing” (96) – die residu van ’n proses wat jou gebuig het sonder om jou te breek.
Louw se styl is eklekties en soms wispelturig. Hebreeuse woordontledings, Bybelse narratief, Suid-Afrikaanse plaasstories en verwysings na kontemporêre politiek staan saam op dieselfde bladsy. Maar juis die weiering om teologie in ’n gesteriliseerde akademiese ruimte te hou, is wat Kaiings van wysheid sy tande gee. Die boek argumenteer eerlik en demonstreer eerlikheid. Louw skryf soos iemand wat die karring self deurgegaan het, en die resultaat is ’n stem wat gesag dra. In ’n tyd waarin die openbare gesprek, kerklik sowel as polities, oorheers word deur kierang wat homself as oortuiging vermom, is Louw se bedoeling dat die kaiings uiteindelik uitbraai – geen vroeë troos nie. Dit is ’n waarskuwing, en ’n diagnose.
Lees ook:
Daar is méér: ’n gesprek tussen Estelle Kruger en Daniël J Louw

