Daar is méér: ’n gesprek tussen Estelle Kruger en Daniël J Louw

  • 3

Skildery deur Daniël Louw: Die skeppende en bemagtigende, be-sielende vinger van God, en die brose, uitgestrekte, weerlose vinger van die mens

Daar is méér
Daniël J Louw

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781776172283

Estelle:

Welkom, Daniël, in ons virtuele kletskamer. Die meeste mense ken jou as pastorale berader en as teoloog, en ook as dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch, maar nie noodwendig as metafisiese kenner nie. Wat sou jy sê is die kern van die boek?

Lui die kerkklok: Daar is ’n kraak in alles maar dit is hoe die lig deurbreek

Daniël:

Dit gaan oor die soeke na sin en heling binne die wete van sterflikheid. Wat word bedoel met verwondering binne verwonding?

Die volgende waarheid het soos ’n refrein in my kop gemaal toe ek begin skryf het: Daar is ’n kraak in alles maar dit is hoe die lig in jou deurbreek (Leonard Cohen).

Ring the bells that still can ring
Forget your perfect offering
There is a crack, a crack in everything
That’s how the light gets in.

John Steinbeck, in sy boek East of Eden (1974), bied die beste opsomming oor waarom dit in die boek gaan:

I am certain underneath their topmost layers of frailty, men want to be good and most to be loved. Indeed, most of our vices are attempted shortcuts to love. When a man comes to die, no matter what his talents and influence and genius, if he dies unloved, his life must be a failure to him and his dying a cold horror... We have only one story. All novels, all poetry, are built on the never-ending contest in ourselves of good and evil. And it occurs to me that evil must constantly re-spawn, while good, while virtue, is immortal. Vice has always anew young face, while virtue is venerable as nothing else in the world (bl 392–93).

’n Meta-kyk op gebeurlikhede: Daar is inderdaad méér!

Estelle:

Wat het jou gestimuleer om al hierdie inligting in jou boek oor die metaversum te versamel?

Daniël:

Toe Facebook se handelsnaam in “metaversum” verander, het ek skielik besef: Hier is ’n gaping om weer die konsep van metafisika en transendensie te herontgin vir ’n verstaan van Christelike spiritualiteit binne die konteks van digitalisering en dit wat bekend staan as kunsmatige intelligensie.

Estelle:

Hoe bring jy die teologie uit by die metaversum – is God nog van toepassing/betekenis in die digitale era?

Daniël:

Beide teologie en die metaversum worstel met die meta-vraag: hoe om transendensie te konseptualiseer binne die menslike ervaringsveld van elke dag. Hoe gee jy gestalte aan dit wat jy nie sien nie, maar jou elke dag inspireer om sinvol te leef? Is daar ook nie tog méér as dit wat die sintuie kan sien, voel en empiries kan waarneem nie?

As Elon Musk die heelal met SpaceX beset en Mars wil koloniseer om die bedreigde menslike spesie van uitwissing te red, is daar nog plek vir God? Veral vir daardie weerlose God wat Paulus as die “swakheid van God” beskryf?

Maar wat van weerlose sterflike mense? Of moet hulle maar alleen in SpaceX sterf, of êrens op Musk se Oasis Mars?

Die metaversum het my uitgedaag om Christelike spiritualiteit en die tradisionele verstaan van God as ’n almagtige Atlasfiguur wat alles gemaak het, ook alles kan doen en die oorsaaklike faktor agter alle gebeurlikhede in die lewe is, krities te herbesoek. Hoe kan teologiese denke loskom van die byna fatalistiese patroon van oorsaak-gevolg-denke? Wat van die Platoniese stof-gees-dualisme? Is dit werklik die taak van Christelike teologisering om steeds met ’n deïstiese en teïstiese godsbegrip antwoorde (rasionele verklarings) te probeer bied vir mense wat skepties geraak het oor die sin van religiositeit en kerke se vertolking van geloof en transendensie?

’n Eksistensiële hermeneutiek: Was Jona in die vis se maag of andersom?

Estelle:

Wat is die verskil tussen jou boek en bestaande boeke wat handel oor ’n eksistensiële bewussyn?

Daniël:

Eksistensiële denke as ’n filosofiese stelsel ontgin faktore wat die manier hoe ons elke dag leef en reageer, beïnvloed.

Die boek wil ’n eksistensiële hermeneutiek vir die lees van Bybelverhale en die interpretasie van Christelike spiritualiteit ontwikkel. Byvoorbeeld, ek vra nie of daar regtig ’n Jona in die vis se maag was al dan nie, maar wat vertel die verhaal oor myself en wat ervaar ek eksistensieel as ek Jona se gebed in die vis se maag begin bid. Die spiritualiteit van sin, die wysheid van insig, duik op as die Jonaverhaal my worsteling met ongehoorsaamheid en onbetroubaarheid oopvlek. Só lyk ek. Veral wanneer Petrus se verraad gebruik word om die verraad en leuen wat ek leef, te verwoord.

’n Eksistensiële lees ontmasker my worsteling met die lewe. Dit word ’n tweede, parallelle narratief op my eie lewensstorie. Dit lewer kommentaar op die stryd tussen goed en kwaad. Dit motiveer my om spirituele en teologiese taal te gee aan dit wat ek daagliks ervaar.

Die verskillende verhale in die Bybel met wisselende godsbeelde laat my besef daar is nie ’n regte, ware godsbeeld nie. Daar is net toepaslike godsbeelde. Daarom tree God op soos ’n kryger as dit gaan om die stryd om Israel se posisie tussen ander militêre moondhede te vestig.

Die boek wil wegkom van tradisionele dogmatiese formuleringe wat grens aan positivistiese definisies oor God, wat in elk geval meer klink na formules vanuit die Griekse mitologie en die Romeinse keiserkultus as na die Exodus-tradisie van ’n migrerende God.

Só byvoorbeeld het God se misterie vir my verdamp toe ek in die dogmatiekklas gevra het: Professor, verduidelik die misterie van die Drie-eenheid? Sy kille, logiese antwoord: Maar, mnr Louw, as 1x1x1=1 wiskundig waar is, dan kan drie “gode” tog ook één wees! Triniteit is so eenvoudig soos dit!

Die ontwerp van ’n Colgate-tandeborsel: Beeldskoon!

Estelle:

Tot watter mate is die metaversum ’n voorbeeld van skoonheid?

Daniël:

Skoonheid is nie die teenpool van lelik nie. Dit word ook nie in die eerste plek beskryf deur morele kategorieë van reg en verkeerd nie. Skoonheid is wanneer iets beantwoord aan sy/haar ontwerp en funksiebestemming. Byvoorbeeld: ’n Tandeborsel is ontwerp om jou tande mee te borsel en nie om jou hare te kam nie. Die tandeborsel is “mooi” wanneer jy jou tande daarmee skoonmaak. Dit is lelik as jy jou hare daarmee probeer kam.

Die metaversum kyk digitaal-onsigbare ruimtes van die uitspansel binne en ontdek op verbeeldingryke wyse alternatiewe. Op hierdie wyse het die metaversum opnuut kom sê dat die ontdekking van die meerdimensionaliteit van die totale uitspansel die mens terugbring na verwondering. Die metaversum optimaliseer die menslike bestaan; dit open oneindige reekse van kommunikasienetwerke teen verbysterende spoed.

Dit beteken nie dat die metaversum net positief te waardeer is nie. Vanselfsprekend kan dit natuurlik ook angswekkende, utopiese beelde skep en oproep. Die metaversum onderstreep egter opnuut die feit dat, in kontras en paradoksaal, die friksie van teenpole nuwe perspektiewe vir sinvolle lewe kan ontsluit. ’n Paradoks werk soos ’n periskoop. Dit help jou om rondom die blindekol van sinloosheid en wanhoop te kyk en met verwondering na ander opsies te soek.

Die sielloosheid van kunsmatige intelligensie

Han (2012:6) verwys na digitale illusies en utopiese verwagtinge wat die internet skep: Die Messianisme van vervlegte netwerking (Messianismus der Vernetzung) (Han 2013:65). Die belangrike punt in Han se analise van die sogenaamde deursigtigheid van die internet is dat die kuberruimte nie rekening hou met die partikuliere dinamika van die menslike gees en hoe elke individu eiesoortig reageer op lyding, rousmart en onomkeerbare en onverwagte verliese en krisisse nie (Menschliche Geist als Schmerzgeburt) (Han 2013:12).

Die kunsmatigheid van aanlyn gesigte skep die spirituele patologie van ’n soort van soulful pornography (Han 2013:8–9).

Estelle:

Hoe kan ’n mens “mooi” lewe en menswaardigheid bevorder? Wat word bedoel met ’n “besielde lewe” wat lewensvervulling bied?

Daniël:

Barmhartigheid, omgee, medelye en mededeelsame naasteliefde maak die lewe “mooi”. Offervaardige liefde en deernisvolle omgee skep ruimte vir kwalitatiewe vorme van menswaardigheid.

Estelle:

Dink jy baie mense sukkel met die soeke na lewensvervulling?

Aan watter soort pyn, verliese is mense in welvaartkultuur blootgestel?

Spirituele patologie: Apateïsme

Daniël:

Spirituele pyn ontstaan in die vakuum van apateïsme. Dit verskerp teleurstellingspyn en die knaende vrees/angs vir verwerping.

Ek verwys in die boek na apateïsme; na ’n soort van onverskilligheid en onsensitiwiteit wat gebruik word in ’n welvaartkultuur om jou af te grens van die nood van ander. Materiële selfgenoegsaamheid en emosionele selfsatisfaksie lei maklik tot die inflasie van medelye en omgee.

Volgens die navorsing van Norenzayan (in Lawton 2014:33) ontwikkel daar toenemend binne die welvaartkultuur van ontwikkelde lande ’n nuwe vorm van “irreligiositeit”, naamlik apateïsme. Daar word selfs nie meer gepraat van bloot die kultuur van globale postmodernisme nie. Binne ’n kultuur van geslyte omgee (inflasie van medelye), word bloot verwys na x-moderniteit.

With apatheism is meant: This is not so much doubting or being sceptical, but more about not caring. Apatheists simply do not think about religion. In apatheism you just by-pass religion within a nonchalant ‘cool’ attitude of carelessness (Louw 2016).

Sonder omgee en medelye dreig die lewe om die hel van selfsugtige selfaktualisering en apatiese selfgenoegsaamheid te raak.

Ek verwys graag na sosiologiese analises:

The apathetic mode of a neutralizing blasé attitude. The danger here is that human beings are treated as functionaries in the industry of money-making – insubstantial entities (Bauman en Donskis 2013:42).

They appear to the blasé person in an evenly flat and grey tone; no one object deserves preference over another (George Simmel in Bauman en Donskis 2013:42).

That what the sociologist and philosopher Zygmunt Bauman (2013) calls: “Moral blindness and the indifference of apathy in liquid modernity.”

Estelle:

Jy verwys dikwels in die boek na die feit dat Christelike spiritualiteit mense moet help om anders oor die werklikheid, en veral oor God, te moet nadink. Wat bedoel jy as jy sê dat daar paradigmas en idees oor God is wat lei tot ’n soort van spirituele vergiftiging en selfs geloofsverstopping?

Daniël:

Paradigmas is patrone van denke waardeur bepaalde idees gekonsepsualiseer word. Die idees bevat indrukke, lewensbeskouings en geloofsoortuigings wat bepalend raak vir gedrag en besluitneming.

Binne die Christelike tradisie is daar heelwat gevestigde formules en dogmatiese definisies wat die wese van God probeer definieer. Dikwels as gevolg van vertalings wat veel meer Griekse ideologieë en imperialistiese kategorieë oor die almag van God vertroetel het (die hoedanigheid/aard van God en eienskappe van God) as wat dit nagedink het oor hoe God jeens ons is (die hoedoenigheid/manier van God). So byvoorbeeld is Semitiese/Hebreeuse konsepte soos El shaddai met pantokrator vertaal om God soos ’n almagtige Atlasfiguur voor te stel.

Estelle:

Verduidelik asseblief vir ons wat “spirituele patologie” is.

Daniël:

Spirituele patologie skakel met verwerpingsangs en die soeke na erkenning (acknowledgement, affirmation). Mense soek intimiteit. ’n Verlies aan ’n sense of belongingness lei tot die spirituele patologie van menslike miskenning. Jy voel gestroop van jou menswaardigheid.

Teologie moet nie bydra tot verskillende vorme van verwerpingsangs nie. Dit het veeleer die taak om die lewe lekker en leefbaar, mooi te maak; om soos Augustinus gesê het: God en mekaar te geniet.

Estelle:

Is die lewe reglynig of inderdaad ’n sinkplaatpad? Raak ’n mens se spirituele wiele nie pap sodat jy later eelte rondom jou siel ontwikkel om jou teenoor lyding af te grens nie?

Hoe is spirituele apatie van die gevaarsones van spirituele mymeringe?

Daniël:

Die lewe is ’n skommelende amper-stamperpad vol gruisklippertjies. Niks verloop reglynig volgens die kille logika van oorsaak-gevolg nie. Dit is nie net jou spirituele wiele wat pap raak nie. Ook jou kapasiteit vir omgee slyteer dan (compassion fatigue).

Estelle:

Die temas van jou boek het my nuuskierig gemaak en genooi om verder te lees – dit lyk asof hier ’n vrolike en humoristiese boek is met al die woordspelings en snaakse nuwe woorde en metafore. As ’n mens egter dieper kyk, kom ’n mens wel agter hier is ’n meer akademiese dimensie in die boek, dat dit meer spannend en diep-akademies is.

Hoe het jy daarby uitgekom? Hoekom hierdie boek juis nou?

Ek leer spiritualiteit en hoop by die nieu-Marxis: Ernst Bloch

Daniël:

Die boek is nie juis nou nie. Dit is ’n kulminasie van 50 jaar se worsteling met die vraag: Waarvoor lewe ek? En nou dat ek 78 jaar oud is en weet dat my toekoms krimp, het die boek bloot gebeur.

My eerste doktorsgraad was in filosofie en het gehandel oor die filosofie van die hoop binne die nieu-Marxistiese denke van Ernst Bloch. Met my aanstelling by die Fakulteit Teologie het die fakulteitsraad besluit maar ek moet ook ’n doktorsgraad in teologie voltooi. Daar was intense twyfel oor my Christelike, teologiese vermoëns en veral reformatoriese integriteit.

My tweede doktorsgraad was toe oor die teologiese karakter van die hoop en hoe dit die pastorale bediening se eiesoortige karakter, in onderskeid van die meer psigoanalitiese en Rogeriaanse skole van berading (counselling), bepaal.

Omdat ek van pastorale terapie gepraat het, wou die Departement Sielkunde my in 1982 by die Mediese en Tandheelkundige Raad aankla. Ek het dus doelbewus begin soek na die eiesoortige karakter van spirituele terapie binne die konteks van ’n Christelike lewens- en wêreldbeskouing.

Estelle:

Watter bydrae kan die Christelike verstaan van heling en spirituele gesondheid maak binne ’n professionele spanverband?

Daniël:

Die bydrae

Om bloot daar te wees vir ander, sonder ’n verborge agenda of professionele tydskedule. Die mediese personeel doen dinge vir en aan die pasiënt. Die pastoor is daar vir die pasiënt om saam met die pasiënt, deur die pasiënt se sinraamwerk, na troos te soek en bronne vir die spiritualiteit van hoop.

In spirituele gesondheid gaan dit om die vraag: Hoe om met simpatieke ondersteuning (medelye), mense by te staan in hul worsteling met die eksistensiële vraag: Waarvoor lewe ek?

Voorbeeld van heling in Christelike spiritualiteit

Die berig oor pous Franciskus se besoek aan Auschwitz op 29 Julie 2016 gryp ’n mens aan. Ten spyte van die wreedheid in die kamp was daar ook helde wat menswaardigheid gedemonstreer het en deernis sigbaar gemaak het. Die kerk het ook dikwels ’n onsigbare en aldus ’n kriptiese meta-karakter. Selfs God se onsigbaarheid kan funksioneer as ’n “kripto-afwesigheid” wat vir mense wat in deernis glo, God weer sigbaar en aanwesig kan maak. Ons kan dit noem “kripto-aanwesigheid” as aanduiding van die spiritualiteit van geestelike gemeenskap (koinonia) in die liggaam van Christus.

Francis spent time praying at the cell of Polish Conventual Franciscan Friar Maximilian Kolbe, who offered up his life to save that of another. Reuters writes that: “On July 29, 1941, the camp director, in reprisal for the escape of a prisoner, chose 10 others and sentenced them to death by starvation. When the selection was completed, Kolbe stepped forward and volunteered to die in place of one of them, Franciszek Gajowniczek. Kolbe was later killed by lethal injection but the man he saved survived the war. He was made a saint in 1982 by then-Pope John Paul II, a Pole” (Pope Francis Auschwitz 2016).

Hierdie daad van plaasvervangende lyding, plekomruiling deur Maximilian Kolbe, letterlik om in die skoene van ’n ander, Franciszek Gajowniczek, te gaan staan en sterf, is myns insiens van die sterkste bewyse in die Christelike geskiedenis dat God tog ook dáár is, en aldus nie in Auschwitz afwesig was nie.

Deur bykans 50 jaar van spirituele en teologiese besinning het ek net besef (soos wat die sogenaamde ateïs Ludwig Feuerbach dit gestel het): ’n God sonder ’n suiwer omgee-hart is ’n kille afgod.

Soek ’n mens god op die Olimpusberg of op die Kopbeenkoppie?

Estelle:

Wat sou jy sien as die kernverskil tussen die Griekse en Christelike godsverstaan?

Daniël:

Die Griekse godsverstaan is staties, onbeweeglik en sonder patos en ly tot die tragiek van determinisme. Hul kom nooit af van die Olimpusberg nie en wil nie betrokke raak nie.

Die Christelike godsverstaan is dinamies en vol medelye sodat ’n mens self kan ontdek dat God sy wil verander en ook “berou” kan betoon ten einde die mens te help om die onvoorwaardelikheid van genade te kan ontdek. Die God van die Bybel is dáár en raak betrokke daar waar ek en jy is. Die God op die Golgota-koppie bring horisonverbreding en verrassings van troos. Dit bring visie en hoop en hang dan saam met my houding en gesindheid wat bepaal word deur die gawes van die Heilige Gees.

Estelle:

Vertel asseblief vir ons wat jou persoonlike worsteling en soeke tydens die skrywe van jou boek was.

Daniël:

Met hierdie boek wou ek net eerlik my worsteling en soeke blootlê na hoe om die Pauliniese konsep van ’n weerlose en swak God binne pastorale verband aan lesers bekend te stel. Eintlik is die boek dan ’n vorm van apologie en poging om lesers te help om anders oor godsalmag na te dink en verrassende perspektiewe op, wat ek noem ’n Bedermde God, te laat ontdek. Om ’n godsbeeld te ontwikkel wat mense wat worstel met die sin en betekenis van Christelike spiritualiteit, te help om weer sinvol en hoopvol te leef. Ek het egter net besef dan is teologiese paradigmaskuiwe nodig om toepaslike godsbeelde te ontwikkel wat anders oor lyding, sterwe en die dood dink.

Estelle:

Wat sou jou antwoord wees op kritiese lesers se mening dat jou taal en prosesse en konsepte moeilik en ingewikkeld is?

Duur genade: Dit klink geleerd maar lees soos ’n slaaptydstorie vir kinders

Daniël:

Die taal en begrippe is nie moedswillig moeilik om net geleerd te klink nie. Om egter binne die professionele spanverband van die Christelike troos en hoop mense te versorg, moet ons loskom van kitsantwoorde en romantiese trooswoorde. Om interdissiplinêr met ander professies op die gebied van heling en menslike welsyn in gesprek te tree, moet ons teologiese taal en spirituele grammatika verskaf wat sin uitmaak en wortels het – nie net met die bybelse spiritualiteit nie – maar ook skakels het met verskeie ander wysheidstradisies, selfs met die antieke mitologie.

Duur genade bied nie goedkooptroos nie, maar bring mee ’n delikate en dikwels pynlike soeke na waarheid wat skerp bots met oppervlakkige, geromantiseerde terminologie wat wegkom met die kitsformules van die voorspoedsindroom (“godsdiens moet my gelukkig maak”).

Ek moes nuwe teologiese taal en grammatika skep. Ek moes ook teruggaan na die Semitiese of Griekse agtergrond van die begrippe. Vandaar die feit dat die indruk van konseptuele ingewikkeldheid geskep word.

Lees die boek lag-lag en fluit-fluit soos Hans die vlytige skoenmaker

Estelle:

Dit lyk vir my wel of jou humor ’n balanserende effek het op die dieper inhoud van die boek. Het jy die kreatiwiteit en humor in jou lewe van jou ouers geërf, of was dit jou skerp waarneming van jou omgewings waar jy gelewe het of het dit – by wyse van spreke – uit die lug op jou skoot geval?

Daniël:

Humor speel inderdaad ’n rol. Humor is egter nie snaaks of lagwekkend nie. Humor help om tegelykertyd met verskillende botsende perspektiewe te werk ten einde perspektiefverbreding en horisonuitbreiding te bewerkstellig. Met ander woorde, humor werk met ongewone kontraste en paradokse waardeur nuwe betekenisvlakke ontspring ten einde konseptuele verandering te bewerkstellig.

So het Hans Die Skoenmaker gereageer toe die ryk man (wat hom as vrek voorgedoen het), kort-kort met ’n versoek gekom het sonder om Hans te betaal: Hy het van voor af begin om alles met vernuf reg te maak. Fluit-fluit soos altyd! Hy was mos immers ’n toegewyde skoenmaker, trots op sy werk en nie ’n sluwe geldwolf nie.

Estelle:

Wie sou jy sien as die leser(s) van jou boek? Die meeste mense ken jou waarskynlik as pastorale berader – weet hulle van jou stokperdjie (en verdieping daarin) om die metaversum te bestudeer?

Die leserspubliek: Adam en Eva soos voor die sondeval

Daniël:

Dit is interessant hoe die vraag oor die potensiële lesers deur almal gestel word.

Hierdie boek was nie beplan nie. Soos reeds verduidelik: Dit het gebeur.

Ek het geen leser in gedagte gehad nie. Ek het bloot geskryf sodat lesers wat grootgeword het met die idee dat dit in die Christelike spiritualiteit gaan oor sonde en bekering en etiese vrae (oor die moreel-etiese konteks van Christelike spiritualiteit en piëteit) ook ’n slag kon hoor dat dieper as morele vraagstukke, gaan dit in die Bybel in die eerste plek oor sin, skoonheid en die mooi. Christelike spiritualiteit begin nie by Adam en Eva se sondeval nie (met kinderagtige vrae oor of die slang regtig gepraat het al dan nie). Die vraag na die bestemmingsfunksie van die mens begin by: Dit is baie goed! (Genesis 1:2).

Toe my 6-jarige kleinseun verlede week gehoor het dat sy nefie net by geboorte gesterf het omdat hy misvormd was (Edward-sindroom), het hy die volgende diepsinnige, teologiese vraag gevra: “Het Jesus dan ’n foutjie gemaak toe hy Hansie so gemaak het?”

Ek kon net sê: “Dit weet Oupa regtig nie. Maar ek weet hy het Hansie baie liefgehad. Daarom het Oupa Hansie daar in die hospitaal gedoop. Want dit weet Oupa: Dit maak nie vir God saak of ons mooi of misvormd sonder oortjies is nie. Die doop sê: Goddelike liefde is onvoorwaardelik. Soos jy vir ons spesiaal is, so is Hansie ook spesiaal al het hy so jonk gesterf.”

Die vraag is nie hoe en wanneer sterf ek nie, maar wie is ek as ek sterf en hoe is God jeens my as ek sterf?

God het die dag in die hospitaal saam met ons gehuil toe hy die dooie Hansie in sy mamma se arms gesien het. God was ook dáár. Daar het ook baie méér in die hospitaal gebeur as bloot die skok oor misvorming en hartseer oor die dood. Die water in die niervormige bakkie langs die dooie kind het ’n sakrament van nuwe lewe geword.

In my verwonding het ek troos ontdek. Ek het onthou wat ek die dag met die nuus dat Hansie aan Edward-sindroom ly in die Boeddhistiese tempel in Tokio gelees het: As ’n mens nie kan aanvaar dat om te lewe sluit in die pyn van verwonding nie, bly jy lewenslank ongelukkig.

Estelle:

Wat was jou uitgangspunt toe jy hierdie boek geskryf het?

Aan die een kant lyk dit soos ’n lewensverhaal en aan die ander kant lyk dit na ’n boek wat handel oor die etiek en worsteling met die vraag van goed en kwaad, ook met bekende antwoorde wat die kerk vir hul lidmate gee wat nie altyd help met pyn en lyding nie.

Die mens kla oor pyn en lyding. Maar wat van die pyn in die hart van die Skepper en ons Vader oor ons huigelagtigheid en onbetroubaarheid? Die pyn in die hart van die Vader oor die dooie Hansie sonder oortjies.

Daniël:

Ek het geen vooraf ingenome uitgangspunt gehad nie. Ek het bloot weer my spirituele bronne oor jare heen herbesoek en hardop begin mymer oor die vraag: Waarvoor het ek gelewe?

Ek was so beïndruk oor die feit dat Bach, nadat hy 9 van sy 18 kinders en 2 vroue verloor het, die kantate kon skryf: Kom skone dood!

Ek wou met die boek dieper gaan grawe of die dood net verskriklik is of ook “mooi” kan wees. Ek het al skrywende ontdek: Verwonding bring die verrassing van hernude verwondering; daar is inderdaad méér!

Moord in die kerk se konsistorie en op die gemeente se preekstoel

Estelle:

Hoe hoop jy om mense hiermee te help om te groei tot heelheid en vryheid?

Daniël:

Ek hoop dat mense wat verneuk voel deur denominasionele godsdienstigheid – mense wat teleurgestel is met hoe die kerkgeskiedenis aaklige bloedspore agtergelaat het; die manier waarop die kerk apartheid teologies wou regverdig; mense wat soos Nietzsche gevoel het dat ons, die manier waarop ons die Christelike geloof uitgeleef het, “God” vermoor het en soek na ’n God met passie, met ’n hart – dat juis diesulkes hierdie boek worstelend sal begin lees; mense wat binne ons huidige rassepolarisasie, half uitsigloos tussen Eskom en PRASA se mislukkings sinies voortstrompel; mense wat apaties geraak het teenoor die nood van ander; mense wat soos baie onlangs moes hoor dat die evangelie slegte nuus is.

Mense moet opnuut (soos ek) kan ontdek: Trisomie 18 is vanuit die estetika van goddelike ontferming, spiritueel-gesproke, ook ’n estetiese ervaring wat die lewe verryk.

Johan Retief beskryf sy spirituele reis as ’n reis na verlossing van ’n almagtige God. In die voorwoord tot die boek skryf Ben du Toit (in La Vita 2022:15): “Die ontmaskering van die bedenklike invloed van ’n geloof in ’n transendente, metafisiese (opper-) wese, meestal God of Allah genoem, kom in hierdie boek meedoënloos aan die orde.”

Vir xenofobiese mense en mense wat gestroop is van hul menswaardigheid en soek na erkenning (affirmation); vir mense wat bang is vir die dood en sterwe (en ek is een van hulle) en veg teen veroudering soos Antjie Krog in haar boek Verweerskrif (Body bereft), kan die lees van die boek nuwe perspektiewe van hoop ontsluit.

Estelle:

Het jou boek ’n antwoord verskaf nadat jy bewus geword het van Johan Retief se boek?

Daniël:

Die boek is nie ’n antwoord nie en verwys eintlik nie na enige direkte persoon of standpunt nie. Dit is heuristies, soekend en daarom amper-stamperig asof ek ook maar ’n pikkewouter is wat soek om vry te raak van slakkelange wat die lewe verpes.

Estelle:

Wat my getref het in die lees van die boek, is hoe jy aandui wat skoonheid is in die alledaagse lewe, ook in die betrokke-wees by die digitale werklikheid.

Skoonheid van bevriending en sypaadjie-deernis

Daniël:

Facebook bring mense digitaal bymekaar met ’n onmiddellikheid. Ek het net besef dat ons weer moet gaan kyk na die waarde van medemenslike bevriending, die waarde van buurmanskap en die verryking van deernis as Christelike deug. Ek gee onvoorwaardelik om vir ander wat daar is om my van my selfsugtige angstigheid te verlos. Veral as ek ’n hospitum word vir ander en gasvryheid in die alledaagse lewe demonstreer (Emmanuel Levinas) (Dit wat ek noem: ’n Sypaadjie-spiritualiteit al is dit ook binne ’n groot inkopiesentrum) (straatwysheid en Mall-pastoraat). Die ander se nood verskyn gedurig op die radarskerm van elke beweging van my.

Moontlik kan selfs homo digitalis daardie digitale supermens met super consciousness (die bioniese cyborg – “A fictional or hypothetical person whose physical abilities are extended beyond normal human limitations by mechanical elements built into the body”) met die lees van die boek ook die méérdimensionaliteit van ’n goddelike Facebook ontdek. Die bevriendende God; die God met ’n meer mens-vriendelike gelaat waarmee ek diakronies op straat gaan; die God nie met ’n bioniese hart nie maar ’n bebloede hart! Die God wat straatwaarde verkry wanneer my hart bloei vir die werklose by die straatligte.

Estelle:

Terwyl ek besig was om die boek te lees, was ek nogal geïnteresseerd in die belewing van skoonheid (al dan nie). Vertel asseblief meer hieroor. Wat is ’n tipiese gesprek tussen dooies in die doderyk?

Die estetika van ’n lyk binne die stank van die doderyk

Daniël:

Volgens Dostojefski in sy kortverhaal, “Bobok”, gaan dit blykbaar in die doderyk oor stank.

In Siberië, met byna 20 grade onder vriespunt, wag die grafgrawer vir die lyk terwyl die priester in die katedraal oor die gestorwene praat asof die man ’n engel was. Hy het die oorledene geken as ’n beduiwelde en onbeskofte mens wat vir niemand omgegee het nie. Terwyl hy toe maar buite wag en Vodka drink om hom warm te hou, hoor hy hoe die dooies in die kerkhof praat en stry oor wie die meeste stink.

Want, volgens Dostojefski, stink sommige dooies meer in die doderyk as andere. Waarom? Omdat hoe jy geleef en liefgehad het toe jy geleef het, bepaal jou kwalitatiewe toestand in die doderyk (metafories bedoel). Hoe meer jy gehaat het en bedrog gepleeg het, hoe meer stink jy in die hiernamaals! Want in die hiernoumaals was jou lewe soos ’n religieuse stinkmuishond.

Eintlik gaan dit in ’n Christelike spiritualiteit oor die skoonheid van die lewe; die kuns hoe om die ander, vreemde mens lief te hê. ’n Lewe van liefdevolle omgee maak ook die dood en sterwe mooi. Haat in hierdie lewe maak die lewe ondraaglik en die sterwe aaklig.

In War and Peace (1978:1091) beskryf Tolstoy hoe die sterwende Prins Andrei in ’n halwe beswyming worstel met die werklikheid van die lewe, terwyl hy besig is om te sterf. Tussen die besef van verganklikheid en die soeke na onsterflikheid is daar die eksistensiële méér van liefde.

“Yes – love” (he reflected again, quite lucidly). “But not that love which loves for something, to gain something or because of something, but the love I knew for the first time when, dying, I saw my enemy and yet loved him. I experienced the love, which is the very essence of the soul, the love which requires no object. And I feel that blessing feeling now too” (Tolstoy 1978:1090– 91).

Estelle:

Wat is dan teologies-gesproke mooi in ’n Christelike spiritualiteit oor die dood en sterwe?

Daniël:

Ek worstel in die boek met hierdie vraag waaroor daar geen finale antwoord bestaan nie. Ek besluit toe om weer 1 Korinthiërs 15 te gaan lees sonder enige vooroordeel of daar ’n lewe na die dood is al dan nie.

Vir my was dit werklik ’n openbaring hoe Paulus die ganse mens, ook die sogenaamde verganklike liggaam in 1 Korinthiërs 15:44 sien as letterlik ’n “psigiese liggaam” (natuurlike liggaam) wat jy saai. ’n Begrafnis is dan “mooi” in die sin dat jy nie net ’n lyk en stuk vleis begrawe of verbrand nie, maar ’n besielde entiteit in die aarde bêre wat dan deur God pneumaties beklee sal word. Die metafoor van ’n koringkorrel word gebruik. Daarbinne is die misterie van ’n groen halm wat jy nie sien nie, maar dink dat dit as kiembeginsel reeds daarin opgesluit is. Jy weet nie presies wat dit is nie, maar dat dit daarin is.

Hierdie beeld van saai en die kiembeginsel maak die dood en sterwe spiritueel- en teologies-gesproke vir my “mooi”. Sterwe en verganklikheid is dan vanuit die perspektief van ’n pneumatiese/geestelike liggaam, ’n heilige, sakramentele kleedrepetisie. In die verwonding en verlies van die dood is opgesluit die wonder en misterie van ’n ontkiemende koringkorrel, ’n “opstandingsliggaam” wat wesenlik onvoorstelbaar is vir die fenomenologie van empiriese menskunde.

Daarom is die dood en sterwe in ’n Christelike spiritualiteit ’n goddelike, wonderbaarlike kunswerk: Ek glo in die opstanding van die vlees!

Dag Hammarskjöld: Die skoonheid van die Bevrydingstryd in Afrika

Estelle:

Watter invloed het Dag Hammarskjöld op hierdie gedagtes van jou?

Die volgende gedig van Dag Hammarskjöld wat jy vertaal en aangehaal het (op bl 282 in Daar is méér), toon aan dat singewing ’n proses van spoorsny is binne die onsienlike en skoonheid. Dit behels dat (sy) mymeringe in sy dagboek dui op spore in sy persoonlike worsteling – na singewing aan wat kom ná die dood.

Die onbekende pad lê voor!

Ek word na vore gedryf,
Na ’n onbekende land.
Die grond word harder,
Die aarde vaster.
Die bult al steiler
Die lug raak kil.
Die koue bytend skerp rondom my
Die wind beweeg en stu my voort
Vanuit ’n vreemde oord
Met ’n onbekende doel
Word ek gesuig.
Die snare van my gemoed trillend
In gespanne afwagting.
Aljimmers die vraag:
Sal ek dit bereik?
Daar waar die roep van lewe klink
Met klokhelder toon
In geruislose stilte.

Daniël:

Ek dink Hammarskjöld se boek Vägmärken (Afrikaans: padtekens) is ’n onontginde juweel. Daarom het ek begin om dit in Afrikaans te vertaal. Die lees van sy dagboek het my gehelp om, in terme van Albert Camus, die volgende te doen: “In order to understand the world, one has to turn away from it on occasion.”

Hammarskjöld is een van die eerste bevrydingstryders teen kolonialisme in Afrika, wat eintlik nog nooit in ons Suid-Afrikaanse konteks behoorlik gehoor is nie.

Ek verwys dan as volg na die waarde van sy kripto-gedagtes:

Hammarskjöld se intieme mymeringe oor hoop en sin, sy “sielsgeheim vir meta-geluk”, wil ek as volg saamvat:

Elke handeling en elke verhouding van die mens word omhul deur stilte. Stilte is daardie ruimte waarbinne mense mekaar as “mense” werklik ontmoet: Dit skep daardie intimiteit om mekaar te ken. Sulke ontmoetinge is nie afhanklik van ’n “gepraat” en blote “gebabbel” nie. Dit is ruimtes waarbinne mense aanmekaar gekoppel raak as “bondgenote” omdat hul mekaar vertrou. Hulle raak vriende deur “dik en dun”, deur pyn, verlies en lyding heen. Waar ware vriendskap gedy, word woorde oortollig. Die lojaliteit van vriendskap is daarom ’n wegwyser na outentieke dialoog.

Egte en duursame vriendskap is eensaamheid verlos van die angs en vrees vir isolasie en verwerping.

Humor: Kougom van die menslike siel

Estelle:

Ek verkneukel my aan die paradoksale humor, ook jou metafore en vergelykings wat tegelyk verhul en onthul. Het jy enige opleiding gehad in verband met die poëtiese waarde van woorde?

Daniël:

Filosofie en die lees van letterkunde was my opleiding. Ek moes vir my doktorsgraad Ernst Bloch se bundels oor die filosofie van kuns, musiek en letterkunde deurwerk om iets van hoop te verstaan. Verder het die beoefening van kuns my gehelp om met die waarheidsvraag te worstel: Kuns is ’n leuen wat jou help om die waarheid beter te verstaan (Picasso).

Hierdie paradoksale formulering van Picasso help ’n mens om te besef dat humoristiese taal dodelik ernstig is. Dit werk soos ’n sinaps in die senustelsel van die prosesse van singewing. Humor help om die waarheid verrassende profiele te gee. Jy kyk soekend na die verskeie kante van waarheid. Dan hoef ’n mens ook nie kits-antwoorde uit te spoeg nie. Jy blaas die bubble van verwondering in die boek soos kougom. En dan is dit weer verby en jy leer om in die lewe langsaam te haas, want die lewe is amperig en stamperig!

Surf nuuskierig op webwerwe saam met netizens

Estelle:

Op ’n gewoon “menslike” vlak wil ek bieg of bely dat ek dikwels geëksperimenteer het met blogs as aanlyn leer om interaktiewe deelname van onderwysstudente as deel van my onderrig- en navorsingsfokus te fasiliteer. Die skepping, onderhoud en navorsing hiervan het my baie vervulling gegee, maar dit was nie vir my ’n spirituele ervaring nie.

’n Deel van die onderrigprogramme was dat ek studente bewus gemaak het van etiket voordat hulle verder aan die program deelgeneem het. Ek het egter nooit in enige van hierdie meta-ruimtes gevoel of ek en/of my studente binne hierdie meta-virtuele en digitalisering van onderwysinhoude spirituele berading benodig het nie.

Hoe kyk jy na my en my studente as ’n soort netizen – is dit die korrekte woord om in hierdie konteks te gebruik? Sou jy dit sien as ’n soeke na méér?

Daniël:

Netizens surf of swerf vir ure op webwerwe en hul vingers tokkel die knoppies op slimfone en die sleutels op rekenaars. Hul doen dit met oneindige vernuf en durende nuuskierigheid.

Netizens het nie “tegniese berading” nodig in die sin van professionele praatterapie met ’n deskundige nie. Hulle moet net gehelp word om die paradigmatiese raamwerk waarin hul in elk geval dink en leef, te ontdek, te artikuleer, beter te verstaan, en konstruktief aan te wend, naamlik om die lewe ’n estetiese ruimte van genot te maak. As hulle die wonderwêreld van verskillende patrone van denke ontdek (paradigmatiese sisteme), sinvolle webwerwe van inligting wat tot horisonverbreding aanleiding gee en kommunikasiestelsels van behoort (sense of belongingness) ontdek, word die rekenaar ’n tegnologiese trooster van mense se soeke na heling.

My skoondogter het met die ontdekking dat sy swanger is met ’n baba wat ly aan Edward-sindroom, ’n magdom Facebook-vriende ontdek wat haar bygestaan en getroos het. Eintlik funksioneer rekenaars meer diakronies as sinteties. Die sin van die netwerke wat ek digitaal ontsluit, moet ek self spiritueel verder ontsluit.

Ek probeer met die boek help met die skep van ’n spirituele en teologiese grammatika om hierdie proses van netwerking te bevorder (te promoveer), en nie om in die eerste plek negatief te beoordeel en sommer net te waarsku teen die gevare van rekenarisering nie. Sonder google.com kon ek nie hierdie boek geskryf het nie. Ek het reeds ’n homo digitalis geword.

Die ikonografie van lewe: ’n Impressionistiese kunswerk

Estelle:

Dit is vir my interessant dat jou kunswerke en foto’s beide impressionisties en ekspressionisties is. Het jy enige kunsopleiding iewers in jou lewe gehad, of kennis van hierdie twee kunsrigtings opgedoen? Wat dink jy is die rede vir hierdie integrasie in jou storie?

Daniël:

Nee, ek het geen professionele kunsopleiding gehad nie. Ek het wel intensief oor kuns nagelees en toe het ek in 2014 ’n boek oor ikone en ikonografie gepubliseer (Icons. Imaging the Unseen. On Beauty of life, Body and Soul, African Sun Media).

Alreeds met hierdie publikasie wou ek mense help om esteties na die lewe te kyk, naamlik om ’n ikoniese kyk te ontwikkel wat die onsigbare inkyk (Frans: visuelle) om dan met behulp van ver-beeld-ingryke denke die onsigbare sigbaar voor te stel en liggaamlik uit te leef. Oor laasgenoemde (besielde liggaamlikheid) het Michelangelo se stelling dat die toppunt van estetika die naakte liggaam van die mens is, ’n wesenlike rol gespeel. Daarom verklaar hy dat hy nooit ’n naakte mens geskilder of gebeeldhou het nie, want die perfekte, naakte liggaam is die naaste wat ’n mens kan kom aan wat die menslike siel is.

Die estetika van naaktheid verklap die misterie van die menslike siel. Daarom dat Michelangelo wesenlik ontsteld was toe die pous beveel het dat daar “deurtrekkers” oor die geslagsdele geskilder moet word (tafereel oor die Laaste Oordeel). Volgens Michelangelo het die pous nou deur hierdie beskildering die tafereel pornografies (aaklig, lelik) gemaak!

Die mooi van die menslike siel begin by die sien van die harmonie van liggaamlikheid. Alles van jou liggaam is jou siel.

Toe ek vir studente in die MIV-program verduidelik dat die geslagsorgane, byvoorbeeld die manlike penis, deel is van jou siel het hul gegiggel en gedink ek is gek!

Estelle:

Het jy al enige kunsuitstallings van jou werke gehad? Dit is almal baie treffend en sprekend.

Daniël:

Nee, ek het geen solo-uitstalling gehad nie. Ek het wel enkele kere aan die gala- en somer-uitstalling van die Stellenbosch se Kunsvereniging deelgeneem.

Jesus: ’n Handsome superstar soos ’n celebrity in Hollywood?

Estelle:

Wat dink jy – waarom is die uitbeeldinge en kunswerke van Jesus normaalweg so prentjiemooi? Is dit getrou aan die werklikheid? En wie se werklikheid?

Hoe het hierdie soort singewing verander – en sedert watter gebeurtenis(se)? Is dit ’n uitbeelding van aktuele/moderne voorbeelde gemeng met ou filosowe se idees?

Daniël:

In die kunsgeskiedenis was daar uiteenlopende voorstellinge van God en Christus. In piëtistiese kringe is daar probeer om Christus te romantiseer as “liewe Jesus” (sweet Jesus). Vandaar uitbeeldinge van ’n handsome Christus.

In my studie oor ikonografie het ek ontdek dat die Maria-kultus (die kind Jesus op die skoot van Maria) se oorsprong in die Egiptiese mitologie is: Die kind Horus op die skoot van Isis. Die voorstelling van die god Serapis (sien hieronder) het beslis die voorstelling van Christus met ’n stralekrans beïnvloed. Vandaar die feit dat ek Christus in die skildery oor God in ’n plakkerskamp, Kruispad, Kaapse Vlakte, as “skrikwekkende” God voorstel, want ’n gekruisigde seun van God is weersinwekkend, iemand vir wie jy jou aangesig verberg (sien die lydende kneg uit Jesaja 53).

Die kern van Christelike ikonografie en die argument in die boek (die ontwikkeling van ’n meta-kyk op die lewe) kan as volg saamgevat word:

Ontdek en besoek die idee (paradigma) en kragte wat jou gedrag bepaal, jou voortdryf en jou lewensdoelwit formuleer en definieer. Die sogenaamde ratwerk of ontwerp van die menslike siel is myns insiens die skoonheid van die offerliefde as omgee vir ander, die bevriending van mededeelsaamheid en die doen van geregtigheid – die humanisering van die lewe.

Lucius Annaeus Seneca (4 VC–65 NC) sê: “Life without a design is erratic.”

Sonder ’n strategiese ontwerp tree spirituele verwarring en verlamming in (ruggraatloosheid).

Die middel C van Christelike spiritualiteit: Dermklanke!

Estelle:

Dit lyk vir my of ’n diepgaande onderwerp in jou boek die middel C op God se genadeklavier is: naamlik ’n dermklank (splagchnizomai). Ons kan almal identifiseer met ’n dermklank – in letterlike en plat betekenis – hoe het jy hierby gekom? Wat was jou inspirasie hiervoor?

Daniël:

Die ontdekking dat in die gelykenis van die Verlore Seun die vader sonder ’n GPS op die tuiskoms van sy seun gewag het terwyl sy derms in beroering en angs sy vaderhart beklem het oor die feit dat hy werklik nie geweet het of sy verlore seun ooit sal terugkeer nie, was vir my ’n aangrypende openbaring. Dit terwyl preke altyd van die voorveronderstelling uitgegaan het dat die vader geweet het sy seun kom terug en net rustig gewag het. Hierdie goddelike, vaderlike drama het skielik vir my die middel C van goddelike estetika laat hoor.

Mooier selfs as Mimi Coertse in die opera van die Towerfluit.

My navorsing oor ikonografie het my ook gehelp om te ontdek dat die vernaamste bronne in die Christelike kunsgeskiedenis was die Romeinse keiserkultus en die Egiptiese mitologie met voorstellings van die god Serapis. Sien hier onder die afbeelding van Serapis (links), die voorstelling van God pantokrator in die Hagia Sophia (middel) en die peristalse van omgee in die bedermde terminologie van die omgeevader in die gelykenis van die Verlore seun (regs).

Afbeeldings is in die openbare domein en verkry van Wikimedia Commons. Bronne: figuur 1, figuur 2, figuur 3

Die hel van medelye

Estelle:

Deur my lees van jou boek het ek (as ’n kwasifilosoof) ’n nuwe verstaan van Nietzsche gekry. Was dit jou bedoeling, of was dit bloot ’n verwysing (met verdieping) wat in jou storielyn gepas het?

Daniël:

Wel, beslis. Nietzsche het my oë vir die volgende waarheid in spiritualiteit oopgemaak:

Heel merkwaardig merk Nietzsche op (miskien sonder dat hy dit direk só bedoel het) dat die skoonheid van ’n “spirituele superman” (Übermensch) in medelye ten toon gestel word.

But if you have a suffering friend, be a resting place for his suffering, but a resting-place like a hard bed, a camp-bed; thus you will serve him best (Nietzsche 1966:113–4).

Want medelye is harde, uitputtende werk omdat liefde jou tot die dood toe uitput en verniel.

Estelle:

Is die liefde in hierdie sin dan die hel van medelye?

Daniël:

Ja. So het die duiwel dan ook aan Zarathustra bekend gemaak dat God sy hel gehad het. “Even God has his hell: it is his love for man.” God is dan nie “onties dood” aan sterflikheid nie, maar “spiritueel- en metafories-gesproke dood” aan te veel liefde (xenophilia) en medelye (ta splanchna). “God is dead; God has died of his pity for man” (Nietzsche 1966:114).

Menslike misterie: Die onopgeloste raaisel van selfdood

Estelle:

Jy verwys na Sokrates se siening dat “the unexamined life is not worth living” – jy gaan verder hiermee na hoop en singewing en ook dat dit ’n kwessie van lewe en dood is.

Verduidelik asseblief en praat met ons oor jou siening daarvan dat ’n bekende en bekroonde skrywer soos Karel Schoeman selfdood kies? Pas dit by ander bekroonde kunstenaars se worsteling met “the dark night of the soul”? Ek dink hier spesifiek aan Robin Williams (akteur en komediant) se tragiese einde.

Daniël:

Persoonlik kies ek om nie van “selfmoord” of “selfdood” te praat nie. Ek verkies “self-terminering”.

Sterwe handel nie oor die vraag hoe het ek gesterf nie. Sterwe is ’n kwalitatiewe term: Wie is ek, wie was ek en hoe het ek geleef voordat en toe ek gesterf het?

Die antwoord hierop is ’n persoonlike en individuele misterie. Die hoe en aard van sterwe kan dus nie psigologies beoordeel word met teorieë oor depressie nie. Ook nie chemies-biologies in mediese terme nie. Sterwe is ’n persoonsgeheim en moet nie moreel-eties beoordeel word nie. Spiritueel-gesproke is die feit van sterwe gekoppel aan die worsteling met die vraag oor lewensvervulling en lewensafronding. Het ek bereik dit waarvoor ek my “afgesloof” en myself voor opgeoffer het?

Vrede in Jerusalem, lekkerkry soos Jan Spies of godsdienstige genot soos Augustinus?

Estelle:

Jy verwys na die oorsprong van die naam “Jerusalem” en dat dit “vrede” beteken. Dit het my nuuskierig gemaak en ek lees toe dat dit eintlik voorheen “Ursalim” genoem is en verwys het na “oorwinnaars” (gevegte/vegters). Laasgenoemde maak die nuwe betekenis vir my sterker, omdat dit op ’n dieper vlak hierdie vrede meer uitlig. Wat is jou mening hieroor?

Daniël:

Daar bestaan verskillende vlakke van betekenis. Vir die Jode was dit die heilige stad van vrede wat ’n staat van versoening onder die guns en ontferming van Jahwe voorgestel het. Dit is daarom die heilige stad as simbool van die godsverbond.

In Greek, the city is called either Ierousalēm (Ἰερουσαλήμ) or Hierosolyma (Ἱεροσόλυμα). The latter exhibits yet another re-etymologization, by association with the word hieros (Greek: ἱερός, “holy”).

Estelle:

Jou verwysing na die spreekwoord “everything goes” – dat niks jou meer raak nie, “jy kan nie meer verwond raak of seerkry nie” (bl 313). Wat dan van net “lekkerkry” as ’n mens op die digitale tuistes swerf?

Daniël:

Ek wou waarsku teen ’n kunsmatige vorm van apatie en daardie cool voorkoms wat voorgee dat niks jou raak of pla nie. Ons moet intens lewe en, volgens die Prediker, ons brood met ’n vrolike hart geniet.

Niks is egter so lekker soos Jan Spies se ryk en lekker nie. Ons is geskep onder die goddelike uitroep. Baie goed! Ons kan die goed en méér van lewe sintuiglik ervaar. Veral wanneer ek die see by Franskraal ruik. Wanneer die sagte noordweste bo in die kloof van die Dwarsrivier by Ceres saggies die skaamrosies se koppies opwaarts buig.

Augustinus het al gesê geloof is daar om God te geniet. Ons is geskep om te geniet. Die Spreukeboek verklaar duidelik dat ons ons brood en wyn met ’n vrolike hart kan geniet. Selfs die vrou van jou jeug al is sy geplooid en voel sy afgesloof. Juis dan moet ons mekaar geniet!

Die stille rus van intimiteit: Die stille rus van Henri Nouwen se Solitude

Estelle:

Jy verduidelik dat die aanspreekvorm “babe vir en van luisteraars meewerk dat verwonding irrelevant is. Dit het my laat dink aan ’n fopspeen vir kleuters en “drink jou pille” vir tieners soos wat dit uitgebeeld word in Brave new world.

Daniël:

Wel, wanneer tegniek en funksionaliteit ontaard in funksionalisme en tegnokrasie en verhoudinge meganies raak, word menswaardigheid verkrag.

My basiese stelling is: Ons kernbehoefte in ’n spirituele perspektief oor die sin en doel van die lewe is intimiteit, naamlik om onvoorwaardelik aanvaar te word vir wie jy is sonder die angs vir verwerping. Tegnokrasie en funksionalisme laat ’n mens voel jy is nooit kompeterend of goed genoeg nie en jy word bloot ’n ratwerk in kunsmatige verhoudinge. Spiritualiteit werk met die uitgangspunt van onvoorwaardelike, offervaardige liefde.

Die eerste tree daarheen is volgens Henri Nouwen: Om te beweeg vanaf loneliness na solitude!

Teologiese opleiding: Word ’n lewenskunstenaar

Estelle:

Wat my beïndruk, Daniël, is jou verwysing na tekste in verskeie tale – boeke, films, dramas, TV-kunswerke, rekenaarspeletjies, rekenaartegnologie, emosionele geletterdheid, filosofie, teologie, psigologie en logoterapie.

Dit is – soos ek dit waargeneem en ervaar het met die opleiding van tokkelokke en predikante in my lewe – verdere taalgeletterdheid as net Grieks en Hebreeus, met ’n bietjie Latyn wat deesdae nie meer nodig is in hulle opleiding nie.

Wat dink jy verloor laasgenoemde godsgeleerdes in hulle pastorale sorg en woordbediening?

Daniël:

Hulle benodig opleiding in lewensvaardighede, die aard van verskillende spiritualiteitstradisies, filosofiese stelsels, letterkunde, ’n deeglike opleiding in ekonomiese stelsels en kulturele antropologie. ’n Bestudering van ikonografie sal hul help om die verband tussen konseptualisering en verbeeldingryke denke te bevorder. Die grondtale van die Bybel en ’n bybelse argeologie is onontbeerlik.

Persoonlik het my blootstelling aan die mediese dimensie in hospitale my gehelp om te fokus op die spirituele behoeftes van verskeie pasiënte soos mense wat ly aan kanker, MIV/Vigs, bejaardesorg/geriatrie/demensie/Alzheimer se siekte, beroerte- en hart-pasiënte, ensovoorts. Gevolglik moes ek baie navorsing doen oor medies-etiese vrae en bio-etiek. So het my oë en ore oopgegaan vir die lewensvrae waarmee mense worstel.

Afrikaans 1 deur middel van De kleine Johannes!

Estelle:

Tydens die lees van jou boek het ek gewonder of jou verwysing na Jan FE Cilliers se gedigte “Dis al” en Eugène Marais se “Skoppensboer” toevallige kennis was of het jy ook Afrikaans as vak bestudeer?

Hoe het hierdie bykomende kennis van Nederlands, Frans en Duits bygedra tot jou eie spirituele reis?

Daniël:

Ek moes Afrikaans 1 neem. Dit was egter my voorgeskrewe boek in matriek, De kleine Johannes (Frederik van Eeden) en Ina Boudier-Bakker se Kinderen wat my nuuskierigheid gewek het. Ook Shakespeare se Julius Caesar in standerd 6 wat my, letterkundig-gesproke, nuuskierig gemaak het.

My Duitse en Nederlandse kennis het my ongelooflik gestimuleer. Frans 1 moes ek neem om die eksistensiële filosofie te kon bestudeer. Tegelykertyd het ek besef dat, as ek werklik probeer om die pastorale teologie te humaniseer, moet ek gereeld elke jaar ’n paar letterkundige werke bestudeer. Die Russiese skrywers het my verbeelding aangegryp. Dit is eers verlede jaar dat ek Tolstoy se War and Peace kon voltooi! Ongelooflik!

Heilige idioom of die spitsvondigheid van ’n Surf-advertensie

Estelle:

Wat is volgens jou die verskil tussen ’n heilige idioom of mantra en positive thinking? Laasgenoemde is wat baie mense vir hulle naastes en vriende in emosionele en spirituele situasies maklik sê: “Ruk jouself reg.” Dit werk waarskynlik soos ’n Surf-advertensie. Dink reg en alles loop reg!

Daniël:

Die sielkunde soek tans ernstig na ’n verandering van teoretiese paradigmas. Daar is ’n skuif weg vanaf ’n probleemgerigte benadering na ’n groeigerigte benadering wat fokus op die positiewe en konstruktiewe aspekte van die bestaan.

Positiewe denke word aangevul deur modelle wat gerig is op die meer voorspoedsindroom/geluk-dimensie (flourishing). As wetenskap wil dit waarde-neutraal wees sodat wat vir jou persoonlik goed en reg is, dit wat persoonlike behoefte-satisfaksie voed, gedrag bepaal. Dit gaan om die demokratisering van mensgerigte gedrag. Positive thinking soek na rasionele konstrukte wat gedrag positief kan motiveer. Tog bly die grondliggende filosofie in counselling om non-direktief te werk te gaan.

Aesthetic living demonstreer ’n gesindheid van deernis en ontferming (compassionate being-with).

Met ’n heilige idioom word bedoel dat ’n geïnternaliseerde norm gerugsteun en gevoed word deur ’n eksterne faktor wat religieuse waardes en geloofsisteme insluit, jou gedrag singewend vorentoe stuur. So ’n idioom funksioneer binne die wysheidstradisie van verkillende filosofiese en kulturele tradisies en is direktief van aard. Ongelukkig skram die meeste fenomenologies-georiënteerde sielkundige modelle weg van direktiwiteit in die lig van ’n meer non-direktiewe benadering.

Ek het egter besef toe ek in ’n sielkundeklas op die grens van die Belgiese Kongo gesit het (1986) en hoor hoe die dosent die Rogeriaanse tegniek van empatiese response verduidelik, hier is iets verkeerds. Ek het koue rillings gekry.

Ek het toe begin met die bestudering van verskillende Afrika-spiritualiteite en filosowe soos Julius Nyerere en Kenneth Kaunda. Ek het Kaunda persoonlik ontmoet en was ongelooflik beïndruk toe hy my in 1986 persoonlik by die grens kom groet het. Sy boek A humanist speaks to Africa het my gehelp om te begin soek na die wortels van ’n moontlike ontginning van Afrika-spiritualiteite vir die pastorale bediening. In my boek Cura Vitae het ek toe ’n hele hoofstuk gewy aan die eiesoortige onderbou van berading en die pastorale gesprek binne ’n Afrika-konteks.

Mubanga Lumpa in ’n artikel “Celebrating Kenneth Kaunda, a Humanist of Africa” merk as volg op:

Kaunda’s political ideology of Humanism embodied values of justice and equality which served as a guiding principle for individual morality in society. In both theory and practice, Kaunda’s Humanism contained elements of Marxism, socialism, and Christian faith. In his view, the traditional characteristics of Africa were inherently humanistic. Thus, his ideas on humanism placed strong emphasis on individual obligation toward the advancement of the collective good of society. He abhorred capitalism and viewed it as imperialistic which led to the exploitation of his fellow Africans.

Ek het die studente aangemoedig om te begin dink in ’n Afrika-idioom oor pastorale sorg.

As jy ’n goeie predikant wil wees: Moenie dans nie

Estelle:

Wat is vir jou die beweging in die berading van die godsdienstige soeke van die mens na die volwasse ontwikkeling van ’n gebalanseerde sin vir verantwoordelikheid en besluitneming (in terme van morele onderskeid tussen reg en verkeerd)?

Daniël:

Tradisioneel-gesproke moes godsdiensraamwerke voorsien vir die moralisering van die lewe. Wat is reg en wat is verkeerd? Wat is sonde en hoe kan ek daarvan verlos word? Binne die sogenaamde normgerigte etiek word spesifieke voorskrifte geïdentifiseer wat prinsipe beskryf wat dan ook as wet beskryf word. Maar as ’n mens nie die religieuse sin van die wet verstaan nie ontaard voorskriftelikheid in formalisme, moralisme en wettisisme.

Byvoorbeeld: In 1980 moes kweekskoolstudente teken dat hul nie sal dans nie om as predikant vir die bediening gelegitimeer te kan word. Die sinode het besluit dans is sonde sonder om ooit te vra wat is die funksie van dans in die menslike eksistensie.

Reis deur die lewe soos Pikketoos en Pokkelwyn en kyk na die kersieboom in bloei

Estelle:

Ek moet ruiterlik erken dat die laaste temas wat handel oor (trans-) humanisme en waarneming en die ervaring van skoonheid, sowel as die soeke na menswaardigheid as die sin van die lewe, vir my persoonlik ontsaglik baie beteken het, omdat dit vir die menslikheid van my persoonlike en spirituele reis terapeuties is.

Was dít jou bedoeling met die boek, of is dit ’n toevallige bonus in my geval?

Daniël:

Dit is die kerntema van die boek.

My eksterne eksaminator en medepromotor vir my doktorsgraad in filosofie was in die krygsgevangenekamp gedurende die Tweede Wêreldoorlog. In sy biografie skryf Jürgen Moltmann hoe hy luise moes doodknip en ’n hele dag lank gesukkel het om trokke uit die modder te sleep. Hy het breekpunt bereik. Maar toe hy skielik opkyk en ’n kersiebloeiselboom vol in die blom sien staan, besef hy dat daar meer in die lewe is as die stank en vuil van ’n paradegrond. Dat die lewe omraam is deur skoonheid het hom die moed gegee om met die lewe voort te gaan ten spyte van die luise in die barak en die uitsigloosheid van ’n paradegrond.

Medelye-moegheid

Estelle:

Wat vir my omvangryk was in die lees van jou boek is die verskynsel dat professionele apatie kan lei tot verskeie vorme van beroepsuitputting (compassion fatigue). Kan die probleem ook “uitbranding” genoem word?

Hoe sal jy die mense wat voorbeelde is van hierdie probleem pastoraal begelei tot die ontwikkeling van ’n bewussyn van skoonheid en heelheid/holisme?

Daniël:

Daar is ’n verskil tussen uitbranding (burnout) en medelye-moegheid (compassion fatigue).

In uitbranding wil jy quit, want jy kan net nie meer nie. Jy sien nie meer kans nie, want dit wat jy doen, oorvra jou vermoëns. Jy probeer harder maar hoe meer jy probeer, hoe meer wanhopig raak jy. Ek gaan bedank! Jy het nie alleen te veel blootstelling gehad aan dieselfde roetine en pligte nie. Jy besef dat jou vaardighede skiet tekort en dat al jou reserwes is uitgeput en dat jy geen meer visie het of ’n besef van ’n roepingsbewussyn besit nie. Neerslagtigheid het jou sinraamwerk gebreek. Alles is aaklig!

In hierdie geval moet ’n mens ernstig besin oor nie net ’n breuk nie, maar oor radikale verandering.

Medelye-moegheid is ’n simptoom van over exposure (te veel langtermyn blootstelling aan voortdurende lyding en ellende met uitputting van spirituele reserwes). Jy wil nie ophou met jou sorg aan mense nie, jy benodig egter ’n breuk om weer jou reserwes om medelye te kan betoon, aan te vul.

In hierdie geval moet jy jou tenk weer gaan vul deur tydelik “uit te tree” soos om ’n spirituele retreat te (Frans: retraite) doen. Gaan hou vakansie, woon ’n spiritualiteitskamp by of gaan doen tydelik net iets anders.

Estelle:

Dit lyk of jy meen dat al die “formules en definisies” van wie en hoe God is, eintlik tot één belangrike “infinisie” herlei kan word, naamlik ’n infinitiewe spreke oor die hoedoenighede van God in die vergelyking van die Bedermde God/Vader. Dit verwys daarna dat die liefde vir sy seun die vader innig (en tot in sy derms/ingewande wat lewegewend is) laat verlang na sy verlore kind.

’n Teologie van die binnegoed soos by ’n slagpale

Kan jy asseblief vir die leser kortliks verduidelik wat jy presies hiermee bedoel?

Daniël:

Die konsep van ’n teologie van die ingewande, ’n Bedermde God (die weerlose en swak God op die Golgota-koppie buite Jerusalem) en nie die Beneukte God van die Olimpusberg nie wat soos Zeus vere voel vir menslike ellende en mislukking, demonstreer aan die kruis dat omgee en medelye (compassion) is nie ’n deug wat jy met morele en emosionele entoesiasme voltrek nie. Omgee is wesenlik goddelik wanneer dit verstaan dat medelye verg die pyn van ’n offer. Ek het onvoorwaardelik lief sonder om iets terug te verwag; sonder om te kyk na ’n uitkoms of om resultate te verwag.

Omgee, medelye, simpatie (compassion) beskryf die manière d'être (way of being) van Christelike spiritualiteit.

Viktor Frankl en van sy kampmaats het besluit om te ontsnap. Hul het hul ontsnaproete getoets. Toe hul die nag voor die ontsnapuitgang staan, besluit Frankl om om te draai want een van hul medegevangenes in die barak is besig om te sterf. As medikus en psigiater het hy geweet dat hy niks vir die man kon doen nie. Hy gaan die nag sterf. Hy het egter omgedraai, sy vryheid opgeoffer net om by die sterwende te wees, dat ’n lydende mens nie alleen sterf nie. Dit is wat bedermde medelye beteken.

Toe Frankl en die ander gevangenes enkele dae daarna deur die Russe uit Auschwitz bevry is, stap hul deur die woud en kom op die lyke af van hul makkers wat die nag toe hul ontsnap het deur die SS doodgeskiet is.

Reis diakronies dan skryf jy ’n spirituele outobiografie vol slaggate maar met uitroeptekens sonder antwoorde!

Estelle:

Die buiteblad van jou boek se omslag (kunstig geskep deur Karen Cronjé van Naledi Uitgewers) is treffend, met die Aurora waar kleurvolle ligstrale wat soms in poolstreke aan die nagtelike hemel sigbaar is, met mekaar kruis by Daar is méér. Dit – asook die subtitel se “metaversum” – het my laat dink hier is meer as net ’n outobiografiese reis.

Die subtitel het my verlei om te besef dat die outobiografie na ’n storielyn van jou eie lewe sal verwys – dít tesame daarmee dat jou humoristiese woorde in die opskrifte wel iets vertel van jou (en myne en menige leser) se kinders se kleintyd. Praat ten slotte met ons hieroor asseblief.

Daniël:

’n Outobiografie is eintlik nooit “outo nie. Dit is diakronies.

Dit is nie ’n reguit pad nie. Dikwels kou jy soos Jeremia gruisklippertjies omdat die pad vol slaggate, potholes is. Dit verloop sigsag omdat die lewensreis deur die pyn van paradoks (sonder logiese antwoorde en wonderwerkende ingrypings van “bo”) tog ook in flitsende momente van “mooi” sin ontvou. In die verlies van kanker kan jy ook die wins van omgee ontdek. Dan maak jy met jou doring in jou vlees wat nie deur gebed weggeneem is nie, soos Paulus: Om ander te troos met dieselfde troos waarmee jy getroos is. Jy sien jou medemens se nood raak en reik uit.

Estelle:

Wat sal jou shout of joy wees nadat jy alles gedeel het en terugkyk na jou vulkaan van idees, ervarings, belangrike tekste en persone in jou lewe?

Daniel:

Soos Goethe in Faust: “Verweile doch, du bist so schön.” Nie waar daar lewe is, is daar hoop nie, maar waar hoop is, daar is lewe. Dum spiro spero: Terwyl ek asemhaal, hoop ek!

Estelle:

Dankie, Daniël, vir hierdie láng en innige gesprek wat amper net so lank en (vir my) lieflik en looflik soos jou boek is! Ek salueer jou en sê: Bravo!

Omdat ek – en dalk baie van die LitNet-lesers – nie teoloë of filosowe is nie, wonder ek of jy dalk ’n paar van die woorde wat jy gebruik, kan verduidelik en/of vertaal...

Daniël:

Doksologie Doksologie kom van die Grieks doksa (Δόξα) wat letterlik beteken: Dit wat swaar weeg, gewigtig en prioriteit nommer een moet wees. Dit is ’n metafoor uit die Semitiese bestaan. Wanneer die eienaar na sy landgoed kom om sy werkers te vergoed, het hul geweet sy saalsak is vol vergoeding. Hul moes met hom rekening hou en hul werk goed doen. Hy kry voorkeurbehandeling. Later in die kerklike liturgie het dit die vorm aangeneem van lofprysing en om eer aan God te bring vir die goedheid van genade en ontferming.
Meta-vraag Die méér-vraag na dit wat verder as die sigbare, die fisiese strek maar wat sin en betekenis kan ontsluit: Om die onsigbare te sien; dit wat agter die fisiese skuil en verbeeldingryk ontsluit kan word. Dikwels deur middel van metafore en simbole. “Meta” verwys na dit wat verborge, kripties is, en bekendgemaak moet word.
Weltanschauung Lewensbeskoulike besinning.
Fata morgana Hersenskim of lugspieëling.
Omnipotentia Almag as alles kan en alles doen soos die een wat die sterkste is (Atlasfiguur).
Pleistoseen Pleistoseen verwys na die geologiese periode 2,580,000 tot 11,700 jaar gelede. Anatomies-gesproke is dit min of meer die fase waarin die sogenaamde moderne mens (homo sapiens) na vore getree het en wat met behulp van instrumente die aarde kon bewerk en begin het om rond te beweeg/te trek. Dit val ook saam met die sogenaamde Ystydperk.
Eskatologiese denke Denke vanuit die einde. Die einde is dan gesien as die vervulling van God se beloftes. Dit fokus op die einddinge wat kan gebeur en saamhang met voorspellinge of profesieë of gesigte, met behulp van simbole afkomstig uit die meer bekende ervaringsveld van die hoorder. Die Christelik-spirituele vlak van betekenis is: Dit gaan oor die eintlike, wesenlike karater van die koninkryk van God en die aard van die Messiaanse ryk. So is die belofte van die wederkoms van Christus dus eskatologies. Dit dra dan ook die spanning in van dit wat alreeds was (die vervulde beloftes van God), en dit wat nog-nie is, dus nog uitstaande is en in die hoop verwag word dat dit wel sal gebeur.
Deikties Om aan iets betekenis te gee; dit wat sinvol is; om iets aan te dui wat dan ook rigtinggewend kan wees.
Metaversum Die meerdimensionaliteit van ’n uitdyende heelal wat met behulp van digitalisering, die rekenaartegnologie, avatar-manipulering en bewolkte webwerwe, ongekaarte ruimtes kan ontsluit wat deur ruimtetegnologie toeganklik raak. Kennis hang saam met blokkettings wat kommunikasiestringe skep (blockchains) wat digitaal toeganklik is.
Colo Van die Latyn: Om te versorg of te verpleeg. Dit is die agtergrond vir die woord “kultuur”.
Meme ’n Kort gedagtegreep wat ’n soort van motto word waarvolgens ’n mens lewe en jou dagtaak inrig om sin te gee aan dit wat jy moet doen of as jou roeping beskou. Dit verskaf dryfkrag en motivering. Die meme vergestalt in sosiale media in ’n beeld of video of foto wat dan ’n kort samevatting gee van ’n idee of gedagte wat nageboots kan word.
Astheneia Die woord in die Nuwe Testament vir “swakheid” en “weerloosheid”. Dit het ’n Ou Testamentiese agtergrond wat alle vorme van swakheid insluit soos verskillende siektes, rampe en vorme van lyding en ontwrigting wat pyn veroorsaak.
Sapienta Die wysheid van die hart wat kom met insig en lewenservaring oor wat werklik die bestemmingsfunksie van die mens is. Dit verwys ook na daardie onderskeidingsvermoë oor wat reg en verkeerd is (morele besluitneming) en wat toepaslik en ontoepaslik is (singewende besluitneming vir doelgerigte en genormeerde gedrag in die lig van geloofsisteme en filosofiese wêreld- en lewensbeskouings wat ook korreleer met waarheidstradisies binne verskillende kultuurkontekste).
Alètheia Die soeke na waarheid. Letterlik: Om die deksel van die kookpot op te lig om te kyk wat daarbinne aangaan. Om die wese van dinge te verken en dit bekend te maak of te openbaar of sigbaar voor te stel. Waarheid bewys eintlik niks; dit maak die lewe leefbaar en sinvol.
Antroposeendenke Die huidige geologiese tydperk waarin menslike aktiwiteite en tegnologiese ingrepe op die natuur kritiek raak en ook deurslaggewend raak vir klimaatsverandering en die omgewing. Dit hang saam met ’n toenemende bewuswording van veral omgewingsuitbuiting en besoedeling. Menslike aktiwiteit bepaal aldus meer en meer geologiese en metrologiese veranderinge.
Metaseendenke Die tydsfase waarin menswees deurslaggewend bepaal word deur kunsmatige intelligensie, rekenaarvaardigheid, digitalisering en ruimtetegnologie. Hier duik die gevaar van fiktiewe manipulasie op.
Stad van God (Augustinus) Teenoor menslike woonplekke of stede stel Augustinus die ewige stad van God wat berus op troos en genade, voor. Die stad is die simbool van dit wat die mens die moed gee om te bestaan. Dit dui op die geloofsfeit dat die ryk van God ook oor die kwaad en bose magte sal triomfeer.
Faktisiteit Dit wat sigbaar en konkreet ervaarbaar is en dan met behulp van feite bewys kan word. Die harde werklikheid van dit wat ’n mens elke dag ervaar en kan sien. Jy kyk na ’n boom en weet dan dit is daar sodat jy dit dadelik kan waarneem.
Kontradiktories Dit wat die teenoorgestelde verteenwoordig en aldus paradoksaal blyk te wees.
Polimorf Verskillende vorme van mutasie of verandering met variasie in voorkoms en hoe dit presenteer.
Parrhēsia Die woord wat Paulus gebruik om in die lig van kritiek en teenstand moed te skep en met sy bediening voort te gaan. Letterlik verwys dit na vryheid van spraak en wat jou die moed gee om selfs teenstanders ’n bietjie die kop te was en tereg te wys. Die spirituele Christelike betekenis is: Vrymoedigheid vanweë die feit dat Christus vir ons is en as voorspraak by die Vader optree.
Eparrēsiasametha Die moed en vrymoedigheid om met jou lewe voort te gaan en jou roeping te vervul.
Prohairesis Die vryheid om keuses uit te oefen en besluite te neem wat sin aan handelinge verskaf en wilsbesluite bepaal; dit wat gedrag motiveer. Die soeke na daardie middele wat jou sal help om ’n doel te bereik; die uitdaging om ’n morele keuse te maak. Die wil tot sin en hoop.
Logoterapie Die logos of sin vir lewe. Viktor Frankl: As ek ’n “waarvoor” in die lewe vind, kan ek die grootste ramp of verlies oorkom en verwerk.
Idemiteit Herhaling; dit wat kontinuïteit verskaf en volhoubaar is.
Mirifica commucation Martin Luther se uitdrukking toe hy ontdek dat Christus plaasvervangend met hom plekke omgeruil het en in sy plek vir hom reeds boete gedoen het vir sy sondeskuld. Letterlik beteken dit: Die vrolike ruil.
Sesure (bl 418) Deurlopende opeenvolgende verandering as gevolg van opeenvolgende tye of episodes wat amper soos seisoene werk.
Anagnorisis Om jou ware karakter en identiteit te ontdek in die ontmoeting met die ander. Wedersydse herkenning en erkenning van mekaar.
Docta spes Die leer en verstaan oor wat die beginsel van hoop beteken wanneer die hoop deel van jou daaglikse bestaan is.
Hermeneutiek Die teorie oor uitlegkunde en die verstaan en betekenis van woorde, begrippe en patrone van denke (paradigmas). Die kuns van interpretasie.
Vägmärken Sweeds vir “wegwysers”. Die Engelse vertaling van Dag Hammarskjöld se boek met die titel Vägmärken (Engels: markings).

 

Lees ook:

’n Weerlose God op die skilderdoek

Die estetika van ’n skreeu-lelike, “weerlose God”. Skilderkuns as medium in prosesse van teologies-paradigmatiese transformasie – ver-beeld-ende stank (skúbalon) vir skandalige on-dank (skandalon)

Verwondering ondanks verwonding. Tussen aftakeling (verganklikheid) en ontkieming (onverganklikheid) ‒ oor die spirituele estetika van ’n “pneumatiese liggaam” binne die knyptang van veroudering, sterwe, graf en dood

  • 3

Kommentaar

  • Jeanette de Klerk-Luttig

    Sjoe, dankie vir die ongelooflik interessante onderhoud waaruit ek soveel kon leer!
    Die wyse waarop Daniel die kennis saambind uit so wye verskeidenheid terreine is so sinvol en is uniek in Afrikaans.

  • Sjoe! Waar om te begin? Miskien deur te sê veels geluk met die boek. Moet sê dit lyk na presies die tipe boek waarvan ek sal hou en ek oorweeg ernstig om dit te lees.

    Ek dink mens kan met sekerheid sê dat die moderne mens is toenemend geneig om te sê ja vir God, maar dan is dit God op my terme. Daar is ook mense wat nie meer in God belangstel nie, maar diegene wat gelowig is, besluit toenemend self hoe God vir hulle moet lyk en wees en funksioneer. Die dae is lankal verby waar mense maar hulle ouers, onderwysers, familie en die dominee se opinies as finaal aanvaar.

    Maar net so paar ander observasies wat ek wil maak:

    Ek dink nie die Christendom het sommer net per toeval die grootste en invloedrykste godsdiens/geloof op aarde geword nie. Die idees wat die Christelike geloof onderlê, is 'n uiteenlopende mengsel, oorgeneem uit verskeie tradisies. Daar bestaan talle inherente teenstrydighede aan God in die Christelike tradisie. Byvoorbeeld: God is liefdevol, maar God is ook die God van wraak. Hy is almagtig en het beheer oor sy skepping, maar gee die mens vrye keuses. Hierdie verskillende elemente, spreek tot uiteenlopende spiritualiteite. Dit skep ruimtes vir uiteenlopende mense om op hulle eie maniere die Christendom te omhels en te integreer met hulle bestaande kulture en persoonlike oortuiginge. En dit lyk my toenemend die nuutste toevoeging tot hierdie breë huis van kompeterende idees, is die gedagte dat God nie verstaan kan word as 'n tradisionele "wese" nie. Vandaar die vrae oor die teïsme en die deïsme, soos die artikel dit noem.

    U noem ook onder meer die invloed van Griekeland. Dit is 'n baie negatiewe aspek van die Griekse invloed wat uitgewys word. Die ontoegangklike God daar bo op die Olimpusberg. Dit word dan gekontrasteer met die Judaïsme. Maar met respek gesê, het Moses nie ook vir God op die berg gaan ontmoet nie?

    Is die Griekse invloed op die Christendom nie meer spesifiek een van demokratisering nie? Jesus was nie 'n Christen nie en Paulus was die een wat na bewering geskryf het:"Daar is nou nie meer Jood of Griek, slaaf of vryman, nie meer man of vrou nie, want julle is almal één in Christus Jesus" (Galasiërs 3).

    Ek merk ook die klem op hoe die mens leef. Dit is weer eens gekoppel aan "God op my terme". Binne die kerke vind mens dan ook die sogenaamde "emerging church", wat presies tot daardie soort spiritualiteit spreek, maar dikwels ook as 'n gevaar beskou word deur ander "soorte" gelowiges.

    Iets aan die vraagsteller, ek dink die "Dis al"-vers waarna verwys word, is 'n vers deur Jan Cilliers, nie Eugene Marais nie.

    Ten slotte, die boek lyk fassinerend, maar die ou duiwel staan ook hier op my skouer en hy fluister in my oor. Hy sê - die akademie is steeds maar net 'n groot ivoortoring. Die deursneemens verkies maar 'n kwaai God. Een wat aanbidding en respek eis en wat vrees afdwing en inboesm. En dit is presies hoekom Islam eendag dalk die Christendom sal verbysteek in terme van aantal volgelinge. Nie dat mens die onderstrominge en nuanses binne Islam moet geringskat nie.

  • Dankie, "Snotjan" vir jou kommentaar en waarderende kritiek.
    Ek neem met leedwese kennis van my fout om "Dis al" nie toe te skryf aan Jan F.E. Cilliers nie. Ons sal dit spoedig regstel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top