Kaalvuis deur Stefaans Coetzee: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur. 

Titel: Kaalvuis
Skrywer: Stefaans Coetzee
Uitgewer: Kibush Publishers

Die titel tref soos ’n hou wat jy nie sien kom nie. Dit roep beelde op van fisiese konfrontasie waar elke slag sy impak moet hê. Agter dit skuil ’n karakter wat sonder skanse oorleef, waar krag hand aan hand loop met kwesbaarheid.

Uiterlike hardheid versus innerlike broosheid

Kaalvuis is deel van Die Rooi Harlekyn-reeks (boek 4) en is in Desember 2025 gepubliseer. Dit is nie ’n verhaal waarmee jy agteroorsit en ontspan nie – dit vereis jou volle aandag. Jy moet kophou met die karakters en hoe elkeen aan die storielyn gekoppel word. Persoonlik het ek daarmee gesukkel en moes telkens terugblaai om my te herinner wie hoort waar. Ek beveel aan dat die vorige drie boeke in die reeks eers gelees word:

  • Hartslag deur Felicia Snyman-du Toit
  • Poppemeester deur Sunel Combrinck
  • Verval deur Christelle Wessels

Die roman is vol treffende beelde wat lank ná die lees bybly. Papier wat met tandepasta teen ’n muur vasgesit word. Die beskrywing: “Sy knie skiet popcorn” is skitterend effektief in sy beeldspraak, terwyl “wolwe in die tronk wat nie meer skaapsklere dra nie”, die ware aard van mense ontbloot sonder illusie.

Stefaans Coetzee skryf met ’n ongefiltreerde eerlikheid. Hy ken die wêreld van tronkwerklikhede en permanente paraatheid: Slaap sonder kombers of laken om vinnig te kan opstaan vir selfverdediging, geen kussing wat klank kan demp nie, rug teen die muur vir beskerming en ’n mes altyd binne bereik van die regterhand.

Roux Steyn is ’n karakter gevorm deur jare van gevangenskap – 23 jaar agter tralies en wat vir hom ’n huis geword het. “Hy praat geweld vlot”, want dit is deel van sy refleks en sy manier van bestaan. Hierdie ingeboude geweld is egter nie sonder grense nie.

Wat binne die tronk gevorm is, bly nie agter tralies nie

Sekere grense word duideliker: Kinders is buite perke. Een grens wat nie oorgesteek mag word nie, ook nie wanneer geweld normaal is nie. Dit skep ’n interessante spanning tussen brutaliteit en etiek. Die res van Kaalvuis se storielyn sluit aan by hierdie etiek en is steeds van toepassing nadat Roux vrygelaat is. Selfs sterker as binne die vier mure. Hy leef onder die radar, half onsigbaar vir die samelewing, maar ironies genoeg raak daardie selfde wêreld afhanklik van hom. Roux laat vaar nie sy verlede of die vaardighede wat hy in die tronk geslyp het nie; hy hergebruik dit vir beskerming en geregtigheid in die samelewing.

Teen die einde skuif die fokus na familiebande – sommige verhoudings toon groei; ander word tot in die dood verbreek. Dit laat ’n gevoel van verlies, maar ook van ontwikkeling.

Kaalvuis kan nie in isolasie gesien word nie. Stefaans Coetzee se werk ondersoek konsekwent temas van skuld, geweld en genade. Hy beweeg doelbewus tussen verskillende genres – van lewensverhaal tot misdaad- en inspirasiefiksie en kortverhale. In hierdie opsig staan sy lewensverhaal Onbeskryflike genade nader aan getuienis en innerlike transformasie, terwyl Kaalvuis en Sel ses die harde werklikhede van oorlewing verken. Die twee vloei inmekaar, omdat albei dieselfde kernvraag stel: Hoe lyk menslike herstel in ’n wêreld wat gebreek is deur skuld en geweld? Waar lê die grens tussen oorlewing en menswees wanneer die wêreld jou dwing om kaalvuis te leef?

Coetzee se styl is sonder vernis en die leser word nie beskerm teen die hardheid van wat gebeur nie. Kaalvuis is nie ’n maklike leeservaring nie, maar dit is juis die intensiteit wat dit laat werk: ’n verhaal wat jou nie toelaat om passief te lees nie, maar jou dwing om te kyk – reguit, kaalvuis, na wat onder die oppervlak lê.

Lees ook:

Sel ses deur Stefaans Coetzee: ’n resensie

Lesersindruk oor Sel ses deur Stefaans Coetzee

Hoe lyk ’n man? Anschen Conradie gesels met Stefaans Coetzee oor Sel ses

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top