Titel: Sel ses
Skrywer: Stefaans Coetzee
ISBN: 9781991256980
Uitgewer: Naledi
Wat is dit aan die lewe in ’n tronk wat mense so fassineer? Alhoewel niemand werklik in ’n tronk wil wees nie, bly dit ’n plek wat die verbeelding aangryp – ’n wêreld van geweld, konflik, maar ook kameraadskap.
In sy roman Sel ses neem Stefaans Coetzee sy lesers op ’n onvergeetlike reis tot in die kern van die harde tronklewe. Met die insig van iemand wat self byna 19 jaar agter tralies deurgebring het, bring Coetzee hierdie wêreld met ’n aangrypende realisme tot lewe.
In teenstelling met sy vorige werk, Onbeskryflike genade, wat ’n outobiografiese toon gehad het, is Sel ses heeltemal fiktief. Tog voel die verhale ongelooflik werklik, waarskynlik as gevolg van Coetzee se eie tronkervaring. Die hoofkarakter, Roux Steyn, staan na 23 jaar die kans om op parool vrygelaat te word, maar om sy vryheid te verseker, moet hy een jaar lank “skoon loop” – ’n byna onmoontlike taak vir ’n bendeleier met ’n mislukte rekord in woedebestuur. Boonop het hy talle vyande wat wag vir die perfekte kans om hom aan te val.
Coetzee se skryfwerk slaag daarin om die leser se sintuie ten volle in te span. Jy hoor die geklingel van die wagte se sleutels, ruik die bedompigheid van die selle en proe die vaal tronkkos. Die spanning is aanvoelbaar en die wanhoop tasbaar. Sel ses gee ’n eerlike en rou blik op die realiteit van die gevangenislewe – waar klas, ras en seksuele oriëntasie vervaag en almal gelyk is. Dit is ’n plek waar kameraadskap tussen gevangenes ontstaan, ’n unieke soort band wat slegs diegene wat self daar was, ten volle kan begryp.
Een van die roerendste aspekte van die boek is Roux se verhouding met Queen Africa, ’n transseksuele gevangene wat dikwels misbruik word deur ander. Roux is een van die min mense wat die ware mens in haar raaksien en haar met respek behandel. Hierdie oomblikke toon die menslikheid wat selfs in die donkerste omstandighede kan floreer – ’n onderwerp wat Coetzee meesterlik hanteer.
Sy is nie die gewone tronkpoes wat buk om beskerming of om beter te lewe nie, sy is high class. En almal deel alles met haar, want dit is die enigste sel waar die mure nie ore het nie. (bl 67)
Omdat hy nie seksuele gunsies by haar soek nie en haar sien vir wie sy regtig is, deel sy haar diepste geheime met hom. Queen Africa is soos sy suster.
Sy. Daar is geen man in haar nie. [...] Dit is al hoekom sy bedrog gepleeg het – om volkome vrou te word. (bl 66)
Coetzee het al dikwels in onderhoude daarna verwys hoe almal in die tronk gelyk is ongeag ras, klas, geloof of seksuele oriëntasie. Daardie aspek kom baie duidelik na vore in Sel ses, tussen al die geweld en brutaliteit wat daar in die tronk is.
In Roux se geval leer mens inderdaad iets van die mens in die monster verstaan, maar bowe al van die dinge wat die monster in die mens wakker maak. In Roux se geval is dit indirek deur sy pa se toedoen veroorsaak dat hy in die tronk beland het. Daar is egter ’n kinkel in sy misdaad waarvan mens eers later in die boek bewus raak.
Coetzee se styl is eerlik en onverskrokke. Soos ander resensente tereg opmerk, is hierdie harde realisme dalk nie vir sensitiewe lesers nie, maar die boek se eerlikheid en intensiteit maak dit ’n noodsaaklike leeservaring. Die spanning word net versterk deur Coetzee se eie ervaring van die tronklewe, wat die leser laat voel asof hulle self daar is, in die daaglikse stryd om oorlewing en menswaardigheid.
“Dis donners maklik om iemand dood te maak, maar vrek moeilik om met die monster in jou saam le leef. Ek kies om jou hierdie keer te vergewe,” flits dit in een van die tonele deur Roux se kop tydens ’n onderonsies met ’n bewaarder. “Hy druk sy hand in sy sak. Hou die vuurhoutjieboksie vas. Samantha, vir jou sal ek almal se kak opvreet” (bl 61).
Afgesien van ’n paar geringe redigeringsfoute wat pla, is Sel ses ’n opwindende leeservaring wat ’n kragtige blik bied op ’n wêreld wat vir die meeste van ons vreemd en ongenaakbaar is. Die boek daag die leser uit om die mens in die monster raak te sien en om te besef dat daar dikwels komplekse redes agter selfs die donkerste keuses skuil.
Die grootste vraag wat die boek los, is wat van Roux Steyn sal word. Waarheen hardloop hy en sal hy ooit ophou hardloop? Dit is ’n verhaal wat smeek vir ’n opvolg – ons wil almal weet wat met hierdie komplekse karakter gebeur wanneer hy uiteindelik “begin hardloop”.
Kommentaar
Kan nie wag vir die waarhede nie...