John of John deur Douglas Stuart: ’n resensie

  • 0

John of John
Douglas Stuart
Uitgewer: Picador
ISBN: 9781035086962

Douglas Stuart het die Booker-prys in 2020 gewen vir sy roman Shuggie Bain. Sy tweede roman Young Mungo (2022, Picador) was een van die Sunday Times se topverkopers en is vir ’n hele aantal pryse benoem, onder andere die Skotse Nasionale Boekprys. Met John of John (2026, Picador) is Stuart vir die tweede keer op die Booker‑kortlys geplaas.

Hoewel die boeke onafhanklik van mekaar kan staan, is Mungo eintlik maar ’n opvolg van Shuggie. Shuggie se storie dek sy jong kinderjare totdat hy op 15 sonder ma of pa by Kilfeathers moet werk om sy kamertjie te betaal en nou en dan te kan eet. Mungo is 15, sterk op pad 16 toe, en het dieselfde tipe probleme as Shuggie, omdat albei uiteindelik alleen gelaat word om na hul alkoholverslaafde ma’s om te sien. Ten spyte van hulle ongereelde skoolbywoning is albei egter ewe vasberade om skool klaar te maak.

Shuggie het reeds van kleins af queer maniërismes gehad, tot so ’n mate dat hy deur hul gemeenskap as “no right” geëtiketteer is (165) en sy ouer broer, Leek, hom laat oefen het om soos ’n man te loop (152). Shuggie was te jonk en later ook te geïsoleerd om ontluikende seksualiteit ten volle in sy storie te kon oopskryf, en dit is wat Stuart toe gedoen het in Young Mungo met die verhouding wat tussen Mungo en James ontstaan. Stuart sê in ’n 2025-onderhoud op die Booker-blad: “I think of both books as part of an eventual triptych, a loose tapestry of Scottish masculinity, if you like.”1

John of John is dan die derde boek: oor ’n gay jongman wat pas klaar gestudeer het, en hoewel sy storie in baie opsigte wesenlik van dié van sy twee voorgangers verskil, simboliseer hy tog ook die sukses waarna Shuggie en Mungo gestreef het.2

Die romans is karaktergedrewe en die stories ontvou algaande op hul eie tyd. Jy word egter beloon as jy nie lukraak vluglees oor beskrywings, gedagtes en soms terloopse onbenullighede soos oogskadu nie, want dit is daar waar Stuart die leefwêreld van sy stories oopskryf en die plot voortdryf sonder dat ’n mens dit agterkom.

Hy praat openlik oor die outobiografiese elemente in sy werk. Queer temas, seks, fisiese en psigiese trauma en verskeie vorme van geweld kom onapologeties en eksplisiet in al drie sy boeke voor, maar veral in Young Mungo word die plofbaarheid daarvan in die hoofkarakters se lewens so ’n integrale deel van die verhaal dat ek soms die boek moes neersit net om weer te kon asemhaal. Stuart slaag egter goed daarin om pyn en verdriet met teerheid en humor te verweef deur sy metaforiese skryfstyl en die verhoudings van die hoofkarakters met die mense rondom hulle.

Waar Shuggie en Mungo se stories die verhouding van seuns met hul ma’s verken, verskuif Stuart in John of John nie net die vergrootglas na die verhouding tussen pa en seun nie; hy verskuif ook die verhaal na die Buite-Hebridiese eilande, waar die gemeenskappe so klein, so oud en so konserwatief Presbiteriaans is dat jy soos in die Ou Testament geken word aan wie jy behoort. Jou geslagsregister is belangriker as jou naam, want “John Macleod” is ’n naam so algemeen soos wit skape (9).

Die boek gaan oor John-Calum Macleod, die verlore seun van John, seun van Iain, seun van Iain die wewer (9).3 Cal word deur sy pa, John, teruggeroep na die eiland Harris om sy verswakte ouma te help versorg. Falabay is ’n barre landskap, so moeilik om te bewerk met so min geld wat uit skaap en tweedwewery gemaak word, dat die wroeging van die eiland en die wroeging van sy mense op mekaar inspeel. Toe een van Cal se medepassasiers op die veerboot terug huis toe hoor dat hy van Falabay af kom, sê sy: “Oh, they like their drink there ... that’s a hard place. Hard, but beautiful ... Though why anyone would want to live on those rocks is beyond me” (8–9).

Asof Stuart sy lesers wil help met die trek van Cal se Edinburgse stadsrealiteit na hul huurplasie in Falabay, gebruik hy in hoofstuk een ’n telefoongesprek tussen pa en seun om die amper onoorbrugbare kloof tussen die twee wêrelde te skets (1–5). Cal het pas graad gekry by ’n tekstielkollege suid van Edinburg, maar die tekstielbedryf is in net so ’n benarde toestand soos die nywerhede in Glasgow (Shuggie en Mungo) en hy kry nie werk nie, ten spyte daarvan dat hy sy graad met lof geslaag en verskeie pryse gewen het. Hy is openlik gay in Edinburg, en op sy terugreis moet hy homself as’t ware in die kas terugpak. Sy kas is egter nie netjies genoeg na sy pa se sin nie, en die geveg oor sy voorkoms begin reeds toe sy pa hom by die bus oplaai.

It wasn’t just the long, flame-coloured hair, or the ripped denim, or even the ridiculousness of a child who had never been in the Boys Brigade wearing a military jacket. It was the confused signal they were sending, the strange tension between the masculine and the feminine. (27)

John se tweede bekommernis is dat Cal ná vier jaar by die kollege huis toe kom sonder ’n meisie in sy lewe. Dit duur nie eens die volle rit huis toe voor sy pa hom vra wat dan nou van jong Isla4 nie, want Falabay se mense het nog altyd gehoop dat Cal en Isla Macdonald uiteindelik eendag bymekaar sal uitkom, trou en ’n gesin begin soos dit goeie, gelowige eilanders betaam. Maar Cal het net oë gehad vir Doll, Isla se broer wat ’n jaar ouer as sy was, en twee jaar jonger as Cal. Hulle twee het, by gebrek aan genoeg kinders van dieselfde ouderdom op die eiland, noodgedwonge maats geword toe Cal 10 en Doll agt was, en op hoërskool het hulle seksueel begin eksperimenteer.

Isla, wat net 15 was toe Cal kollege toe is, was die perfekte meisie vir hom, want daar was geen druk op hulle verhouding nie. Hoewel almal hulle uiteindelik saam wou sien, sou voortydige skande op die twee huise glad nie gedeug het nie. Hy kon dus rustig queer wees sonder dat enigiemand ’n vraag gevra of ’n wenkbrou gelig het.     

Big John, soos Cal sy pa soms noem, is ’n beginselvaste, godvresende man, voorsanger by die Sabbatsdienste en boekhouer van die 26 gelowige siele op die eiland se kerkbywoning. Hy haal lang stukke uit die Galliese Bybel aan en hou veral dele van Deuteronomium aan sy afgedwaalde seun voor.

John het net ’n enkele goeie vriend – Innes MacInnes – een van twee broers wat saam hul huurplasie moet bedryf, maar vir sestien jaar lank nog nooit ’n woord met mekaar gepraat het nie. Innes het ’n flegmatiese persoonlikheid, maar ten spyte van sy kalmerende invloed, kry hy dit baie selde reg om John sover te kry om sy Goddelike wapenrusting net soms neer te lê en ’n bietjie bene te rek.

John het ook ’n geheim wat hy ten alle koste van Cal wil weerhou. Dit word reeds aan die einde van hoofstuk twee duidelik, en Stuart self het dit ten minste in een van sy baie onderhoude genoem as synde nie ’n boekbederwer te wees nie. Die manier waarop hy dit egter aan die leser blootlê is so subtiel, en die ironie so groot, dat die fluistering teen Falabay se heuwels uitgalm, en ek voel nie dit is my plek om dit uit te lig nie.

Al wat ek wel sal sê is dat Stuart tydens sy navorsingsonderhoude met die eilanders eendag besef dat die storie nie eintlik oor die verlore seun self gaan nie, maar oor die mense wat hy agtergelaat het.5 John se geheim bepaal sy verhouding met elke mens met wie hy in aanraking kom. Dit veroorsaak dat hy almal wat vir hom lief en dierbaar is uit sy lewe uit verdryf, en die leuen waarop hy daardie lewe gebou het, dreig om hom, en almal rondom hom te vernietig.

Die een ligpunt in Cal se lewe was nog altyd sy ouma Ella. Sy het hom as’t ware grootgemaak nadat sy ma die pad gevat het toe hy maar nege jaar oud was. Hulle deel ’n band wat sy pa tot buitestander relegeer, en hoewel dit John se hart breek, het hy geen ander meganisme as bitterheid en woede om daaraan uiting te kan gee nie. Dis Ella wat die ontwerpersrokke ontdek wat Cal gemaak het. Dis haar spookspelery in die kombuis wat hom die geleentheid gee om vir haar te wys wat hy met eenvoudige lakenlap en kopspelde kan doen. Dit is sy wat hom moed inpraat wanneer hy moedeloos by die weefstoel sit:

“I can’t do this, Ella.”

“Ye can. You will feel better when you make some money.”

Ella crossed the room and rubbed the far wall and Cal noticed for the first time that it was blank, the only surface free of tools or spare parts.

“Imagine whatever you like on that wall over there, and then just pedal towards it.” (75)

Stuart gebruik taal op ’n slim manier om die verhoudings tussen Cal, John en Ella te definieer. Hoewel John die buitestander is in die verhouding tussen ouma en kleinseun, kan Ella oënskynlik nie Gallies praat nie, en wanneer John Cal in Galliese gesprekke indwing, is Ella die een wat uitgesluit is: “[John’s] English was free of any dialect or mainland slang ... His choice to speak Gaelic was often territorial, designed to mark some part of Cal as his and his alone” (52).

Cal kom onmiddellik agter dat Ella nie so siek is soos wat sy pa dit laat klink het nie. Haar voete is wel geswel, maar hoogstens die kleur van sagte lila en glad nie die bloederige kleur van kalfslewer soos sy pa gesê het nie. Hy is vas oortuig dat sy pa pleinweg gelieg het oor haar gesondheid om hom terug te kry op die eiland, en dit is eers in die tweede laaste hoofstuk tydens ’n gesprek tussen John en Ella dat ons uitvind dat feitlik niks in die hele verhaal is soos ons gedink het nie.

Ek dink Stuart se sukses is te danke aan ’n paar faktore wat soos gronddrade deur al sy werk loop. Eerstens skep hy komplekse karakters wat ongemak met hul eie teenstrydighede beleef, soos wat ons almal in onsself ervaar en daarom met die karakters kan identifiseer.

Daar is nie “goeie” of “slegte” karakters nie. Wanneer ons Cal jammer kry, omdat hy onder valse voorwendsels teruggeroep is eiland toe, kom ons vinnig agter dat hy ook nie ’n engeltjie was nie. Hy het sy pa in die skuld gedompel en rekeninge en waarskuwingsbriewe kom in strome met die pos aan. Wanneer ons John met die aarde wil platmaak toe hy Cal so erg aanrand dat hy vir weke met ’n stukkende gesig rondloop, forseer Stuart ons in hoofstuk sewe om John se storie te hoor sodat dit onmoontlik word om hom totaal te veroordeel. ’n Mens kan nie help om te sien waar hy vandaan kom nie, en jy kan nie uitwis wat jy klaar gesien het nie. Cal se ma het wel die pad gevat, maar die storie van elke gebroke huwelik het altyd twee kante.

Stuart het ook ware empatie met die mense in en van sy wêreld. Dit blyk baie duidelik, nie net uit hoe hy sy karakters skets nie, maar ook uit sy gebruik van Hebridiese Gallies in John of John, en die Skots-Engelse dialek in Shuggie en Mungo. Dit is egter meer as net ’n taalfoefie.

Dialect is at my core, it’s the first stories I heard, it’s the people I love. Dialect is not only language, it tells us about communities, it gives us so much history and had I written the novel in standard English I would have betrayed my characters and the city that made me.6

Indien die leser sou wou mor, omdat die taal moeilik lees, kan ek dink dat Stuart dalk sal sê: “Aanvaar die taal as jou sleutelgat om sin te maak van my en my mense se wêreld, of sit die boek neer.” En hoekom sal hy nie? As die taalgebruik een van die grootste redes is waarom Shuggie 40 keer afgekeur is7 voordat Picador ingestem het om dit te publiseer, wie is die leser om dit te wil afmaak?

Die Audible-weergawes van die boeke word onderskeidelik deur Angus King, Chris Reilly en Lorne MacFadyen gelees. Hulle maak die taaldeur oop, nooi jou in en gee vir jou tee of ’n pint – of vodka, sou jy dit verkies, selfs voor die vliegtuig oorkom. Die gelyktydige lees-en-luisterervaring sleep jou in Stuart se wêreld in en maak dit moeilik om uit te klim.

As jy egter wil “goed voel” ná enige van die drie boeke, sal jy teleurgesteld wees. Soos die karakters in sy boeke, laat Stuart ons met ambivalente indien nie tragiese eindes nie. “The feedback loop of modern publishing is instant and so algorithmically commercial that it knows to please and rarely discomfort the reader,” sê Stuart.8 Mary Beard – die hoof van die Booker-beoordelaarspaneel – sê in dieselfde trant dat om lees tot die ontspanningsafdeling van ons lewens te beperk, is om die waarde daarvan heeltemal te onderskat. Sommige van die boeke gaan jou nie beter laat voel nie. Hulle gaan jou ’n nuwe perspektief op die wêreld bied.9

Skrwersnota:

Geen vorm van KI was op enige manier by die skryf van hierdie resensie betrokke nie. Internetsoektogte is met die &udm=14-blaaieruitbreiding gedoen wat KI-funksies en ‑oorsigte uit die soektog verwyder.

Eindnotas

1 Stuart, D. 2025. I don’t think working-class people can afford to write. The Booker Library. https://thebookerprizes.com/the-booker-library/features/douglas-stuart-i-dont-think-working-class-people-can-afford-to-write (geraadpleeg op 14 September 2026).

2 Stuart gebruik “gay”, “queer” of “homoseksueel” om na homself en sy karakters te verwys, en vir die doeleindes van die resensie sal ek by dié terme hou.

3 Maar eintlik, sê Stuart, het hy tydens sy navorsingsonderhoude met die eilanders eendag besef dat die storie nie eintlik oor die seun self gaan nie, maar oor die mense wat hy agtergelaat het.

Stuart, D. 2025. In gesprek met Richard Coles vir die Hay Festival, 23 Mei. https://www.hayfestival.com/p-24814-douglas-stuart-talks-to-richard-coles.aspx (geraadpleeg op 21 September 2026).

4 Uitgespreek as “Aaila”.

5 Stuart, D. 2025. In gesprek met Richard Coles vir die Hay Festival, 23 Mei. Beskikbaar by: https://www.hayfestival.com/p-24814-douglas-stuart-talks-to-richard-coles.aspx (10:11/53:36) (Geraadpleeg op 21 September 2026).

6 Stuart, D. 2025. I don’t think working-class people can afford to write. The Booker Library. https://thebookerprizes.com/the-booker-library/features/douglas-stuart-i-dont-think-working-class-people-can-afford-to-write (geraadpleeg op 14 September 2026).

7 Stuart, D. 2025. I don’t think working-class people can afford to write. The Booker Library. https://thebookerprizes.com/the-booker-library/features/douglas-stuart-i-dont-think-working-class-people-can-afford-to-write (geraadpleeg op 14 September 2026).

8 Stuart, D. 2025. I don’t think working-class people can afford to write. The Booker Library. https://thebookerprizes.com/the-booker-library/features/douglas-stuart-i-dont-think-working-class-people-can-afford-to-write (geraadpleeg op 14 September 2026).

9 Beard, M. 2026. Tydens Booker-paneelbespreking. https://www.youtube.com/shorts/bV5mmcVadnU (geraadpleeg op 4 Oktober 2026).

Lees ook:

Book review: The director by Daniel Kehlmann

The machine and the mending: a review of Jill Lepore’s We the People

Booker winner included in Folio Prize shortlist

PenAfrican: Before we hit the ground by Selali Fiamanya

PenAfrican: Land by Maggie O’Farrell – a book review

Karel Schoeman, Virginia Woolf en die kleure in die Ierse dagboeke: ’n vergelykende ondersoek

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top