Johann Beukes: Afrikaans die soepelste taal vir filosofie

  • 2

Johann Beukes (Foto: verskaf)

Johann Beukes het onlangs ’n ATKV-SA Akademieprys ontvang vir ’n akademiese artikel wat in 2018 in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling verskyn het. Dié gerespekteerde pryse word toegeken aan geakkrediteerde akademiese artikels wat in Afrikaans geskryf is. Beukes se wen-artikel, “Die Arabiese trajek in die Karolingiese periode van Middeleeuse filosofie”, is hier beskikbaar.

Melt Myburgh het vyf vrae aan Beukes, ereprofessor in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat en residensiële assosiaat by die Sentrum vir die Geskiedenis van Filosofie en Wetenskap aan Radboud Universiteit Nijmegen in Nederland gestel.

...................

Hoe lank is jy reeds verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat? Vertel kortliks hoe jou paadjie in die akademie geloop het tot by dié universiteit.

Ek was sedert 1995 ’n navorsingsgenoot en dosent by die Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria en later by die Departement Filosofie, Universiteit van Johannesburg. In 2012 het ek ernstig siek geword, probleme ervaar om my akademiese verantwoordelikhede na te kom en moes gevolglik ’n stabiele verbintenis met die Universiteit van Johannesburg prysgee. Ek het vir meer as vyf jaar daarna in afsondering gewerk, enersyds ter wille van my gesondheid, maar andersyds ook om ’n projek waaraan ek op daardie stadium reeds ’n dekade lank gewerk het, af te handel.

In April 2018 was ek in staat om ’n uitnodiging van die Departement Filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat as navorsingsgenoot op te neem wat later tot ’n aanstelling as ereprofessor in filosofie by die universiteit gelei het. Aangesien daar plaaslik min spesialiste in Middeleeuse filosofie is, is Nederland en België, wat ek as die geografiese sentrum van die vakgebied beskou, die aangewese plek vir my om te woon en werk. Ek is dus dankbaar vir wat vanaf September 2019 as ’n dubbele verbintenis tussen die Universiteit van die Vrystaat en Radboud Universiteit Nijmegen gemanifesteer het: Ek is ’n werknemer van die Universiteit van die Vrystaat en lewer uitsluitlik navorsingsuitsette vir daardie universiteit, maar Radboud voorsien aan my as ’n residensiële assosiaat van die Sentrum vir die Geskiedenis van Filosofie en Wetenskap (CHPS) by die Fakulteit Filosofie, Teologie en Religiewetenskappe, van die administratiewe en akademiese ondersteuning om gespesialiseerde uitsette te kan bly lewer.

As teenprestasie doen ek diens by CHPS om in talle opsigte tot hierdie unieke navorsingsentrum se werksaamhede en vooruitgang by te dra. Ek woon en werk vanaf Maart 2021 permanent op die Radboud-kampus in Nijmegen.

Kan jy onthou hoe jou wenartikel, “Die Arabiese trajek in die Karolingiese periode van Middeleeuse filosofie” ontstaan het? Wat was die prikkel wat spesifiek tot die navorsingsonderwerp gelei het?

Die wenartikel het deel gevorm van ’n groter navorsingsprogram, waarin my aanvegting van ’n “latente Oriëntalisme” in die deeldissipline van Middeleeuse filosofie gestalte wou kry. Met Oriëntalisme bedoel ek ’n modern-kritiese perspektief op ’n skynbaar spontane postulering van ’n dispariteit tussen ’n meerderwaardige Westerse Self en ’n ondergeskikte Oosterse Ander.

Tot in die laat 1960’s was daar weinig inleidingswerke tot Middeleeuse filosofie wat die Arabiese denkers hoegenaamd ingesluit het, met moontlike uitsondering van Ibn Sina (Avicenna), Ibn Rushd (Averroes) en miskien ook Moses Maimonides vanuit die Arabiesmagtige Joodse sektor, wat arbitrêr by hierdie oorsigwerke ingesluit is – of nie. Vanaf die vroeë 1970’s het hierdie “Oriëntalisme” langsaam aandag begin geniet, maar nog heel onvoldoende. Ek het daarom met ’n projek begin om die Middeleeuse Arabiese denkers naatloos langs hulle Latyns-Westerse medegangers in te sluit sonder om hulle aan Westerse konvensies te verbind. Die Arabiese eienaam, die Arabiese jaartelling en Arabiese idiosinkrasieë moes behoue bly.

Ek het uitstekende leiding ontvang van Francis Galloway, redakteur van Geesteswetenskappe by LitNet Akademies, en is onder haar wakker redakteursoog in staat gestel om die Arabiese denkers vanuit die Middeleeue nie net die eerste keer samehangend in Afrikaans in twee geakkrediteerde, portuurgeëvalueerde artikels te laat dien nie, maar om dit juis by Geesteswetenskappe – en nie Godsdienswetenskappe nie, waarheen Middeleeuse filosofie normaalweg onregmatig uitrangeer sou word – te kon publiseer.

Die feit dat LitNet Akademies buigsaam genoeg is om ’n skrywer in staat te stel om langer artikels te publiseer, was die deurslaggewende oorweging om die twee manuskripte aan LitNet voor te lê. Die twee artikels (die tweede is hier) is na my beste wete die eerste poging om die wesenlike aan Middeleeuse Arabiese filosofie met Middeleeuse Latyns-Westerse filosofie in Afrikaans te integreer en sintetiseer.

Daar is natuurlik vele spesialiste aan beide kante – “filosofie van Islam” en (Westerse) “Middeleeuse filosofie” – wat met enorme behendigheid binne daardie twee domeine werk. Tog is daar betreklik min skrywers wat die brug slaan tussen “Oos” en “Wes”, juis binne die komplekse ruimte van die vroeë (wat ek noem die Karolingiese en post-Karolingiese) periodes in die Middeleeue. Die hewige godsdienstige en staatkundige konflik tussen Islam en die Christendom, met laasgenoemde se oorwegend tragiese Kruistogte het veel later gevolg, vanaf die laat 11de eeu. Ironies het daardie konflik die bekendstelling van die Arabiese denkers se vertalings van die Griekse tekste in Arabies (en vanaf die vroeë 13de eeu vanuit Arabies na Latyn, in besonder Aristoteliese natuurlike filosofie) bevorder eerder as versluier.

Ek voel my bevoorreg dat ek ’n beskeie bydrae kon lewer om betreklik onbekende Arabiese denkers vanuit die Middeleeue met hierdie twee artikels in die soeklig te kon bring. Dat ek dit in Afrikaans kon en wou doen, spreek natuurlik van ’n besondere filosofiese benadering tot die aanspraak van partikulariteit.

Hoekom is dit vir jou belangrik om navorsing in Afrikaans te publiseer?

Wel, presies: My filosofiese oriëntasie is wesenlik partikulier, eenvoudig en enkelvoudig. Reeds as jong filosoof is ek deur my destydse (dit was 1995) promotor in filosofie by die RAU, Johan Snyman, op die spoor gestel van Adorno se basiese en negatief-dialektiese motto: Das Ganze ist das Unwahre. Filosofie vertrek gevolglik nie vanuit vrae of oorwegings vanuit ’n oorhoofse probleemkonteks of diskursiewe ruimte nie, maar vanuit ’n heel spesifieke vraag en taal.

In my geval is die vraag eenvoudig “wat?”, en die taal Afrikaans. Ek is glad uit die blokke in Afrikaans, maar nogal onbeholpe in ander tale, veral in Engels, trouens selfs ook in Nederlands. Hoe hard ek ook al probeer, val my publikasies in Engels en ander tale my as nie-outentiek op; asof dit nie ek is wat dit geskryf het nie. Dit is miskien, as ek so vrypostig mag wees om hom as voorbeeld te gebruik, soos om André P Brink te verplig om primêr in Engels of Nederlands te moes skryf. Hoe sou Kennis van die aand daar uitgesien het as dit aanvanklik in Engels of Nederlands geskryf en gepubliseer is en eers later in Afrikaans vertaal sou word? Dit sou eenvoudig nie dieselfde boek gewees het nie.

Daarby moet ek sê dat Afrikaans vir my die mees soepele taal is om filosofiese arbeid tot uitdrukking te bring. Afrikaans is werklik vir my die mooiste, mees gestroopte taal – waar selfstandige naamwoorde byvoorbeeld nie geslagsbepaald is en lidwoorde nie met “het” of “de” onderskei moet word nie. Afrikaans is vir my so mooi, want dit het met grammatikale oorbodighede weggedoen. Juis daarom werk die taal so goed in en vir filosofie, waar gestroopte formulering wesenlik belangrik is in meervoudige stellinge.

Wat was jou reaksie toe jy hoor dat jy die ATKV-SA Akademieprys vir die artikel gewen het?

Ek was soveel verbaas as verras, maar veral beskeie daaroor. Ek is diep bewus van die kwaliteit werk wat jaarliks in Afrikaans in die geesteswetenskappe gepubliseer word en gee hiermee erkenning aan my Afrikaansmagtige kollegas en medegangers. Hulle werk voldoen normaalweg aan die hoogste standaarde vir internasionale navorsing.

Ek is egter so gewoond daaraan dat my werk as “obskuur” beskou word dat ek hoegenaamd nie dink aan pryse of toekennings vir enigiets wat ek doen nie. Ek bedank die betrokke instansies (ATKV-SAAWK) natuurlik daarvoor, maar eintlik behoort die prys aan daardie Arabiese denkers. Miskien sal hulle my by die jongste uur ontmoet en teregwys oor hoe verkeerd ek hulle verstaan het.

Waarmee hou jy jou tans op navorsingsgebied besig?

Ek werk die afgelope twee jaar intensief aan ’n rehabilitasie, herlesing en herinterpretasie van minder-bekende en totaal onbekende vroulike Middeleeuse denkers. Vroue in die Middeleeue lê my na aan die verstand en hart; ek is intellektueel en emosioneel digby hulle. Ek het veral ’n diepgaande respek en liefde vir nonne uit die Benediktynse tradisie.

Daarby fokus my bestaande navorsing Foucaultiaans op seksualiteit binne Middeleeuse kloosterruimtes; sien byvoorbeeld “'Foucault se sodomiet': Damianus se Liber gomorrhianus (1049) heropen”, HTS Teologiese Studies / Theological Studies 75(4), Art #5216, 1–13, “Intervroulike seksualiteit in die latere Middeleeue: ’n Ideëhistoriese oorsig”, Verbum et Ecclesia 41(1), Art #2074, 1–13 en dalk ook oor die 12de-eeuse Hildegard von Bingen en haar geliefde Richardis. Seksuele oriëntasies in die Middeleeue en seksuele aktiwiteit binne Middeleeuse kloosters is uitermate komplekse en sensitiewe kwessies. Tyd sal moet leer of ek oor die eksegetiese delikaatheid beskik het om daardie kompleksiteit en geladenheid te eerbiedig.

 

Lees ook:

Johann Rossouw se gesprek met Johann Beukes oor Middeleeuse filosofie:

Middeleeuse filosofie: ’n onderhoud met Johann Beukes

Kobus Krüger se resensie van Middeleeuse filosofie, deel I en deel II:

Middeleeuse filosofie deur Johann Beukes: ’n resensie

Pieter Duvenhage se YouTube-gesprek met Johann Beukes oor Middeleeuse filosofie:

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    "Hoe hard ek ook al probeer, val my publikasies in Engels en ander tale my as nie-outentiek op; asof dit nie ek is wat dit geskryf het nie." Dit geld ook vir talle ander Afrikaanssprekende akademici. Sommige van hulle volhard egter uitsluitlik in Engels, gevolglik lewer hulle geen bydrae tot Afrikaans as akademiese taal nie. LitNet Akademies bied 'n uitstekende geleentheid om steeds in Afrikaans te publiseer.

  • Avatar
    Jacobus Swart

    Hoe woeker hierdie groot man nie met sy beiteltjie nie! Die aura van sy arbeid
    gewaarmerk met die taal waarin hy skryf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top