Middeleeuse filosofie deur Johann Beukes: ’n resensie

  • 3

Middeleeuse filosofie, deel I en deel II
Johann Beukes
Akademia
ISBN (deel I): 978-0-620-84355-3 en ISBN (deel II): 978-0-620-87894-4

Hierdie omvangryke (1 624 bladsye) gespesialiseerde werk deur Johann Beukes oor Middeleeuse filosofie is ’n vak-akademiese en breër Afrikaans-kulturele bydrae van die hoogste gehalte. Dit is ’n omvangryke en deeglike geheeloorsig, ensiklopedie, naslaanwerk, wat nie slegs ’n betekenisvolle toevoeging tot die korpus vakkundige literatuur oor Middeleeuse filosofie maak nie en nie slegs vir vakspesialiste en nog fyner-kykende nisspesialiste van belang is nie. Dit is ook verpligte leesstof vir elke Afrikaanse student in teologie en filosofie.

Dat hierdie werk juis in Afrikaans geskryf is, is betekenisvol. Daar is stellig nie ’n groot aantal Afrikaans-lesende spesialiste en studente op hierdie gebied nie – afgesien van Afrikaanssprekendes en -skrywendes, ook ’n aantal Nederlandse en Vlaamse kenners. Maar die boek is ook van groot relevansie vir die breër Afrikaanse kultuurgemeenskap. In hierdie resensie (’n persoonlike resepsie van Beukes se meesterwerk, word erken) wil ek juis veral die betekenis van die boek vir hierdie dieperdenkende maar nie noodwendig vakgespesialiseerde Afrikaanse lesersgemeenskap beklemtoon en dit sonder voorbehoud aanbeveel.

Om nie die grense van ’n bekendstellende resensie te veel te oorskry nie, beperk ek dit tot enkele dimensies van hierdie myn van inligting en nadenke.

 

  1. Probleem

Die terminaalsiek Suid-Afrikaanse res publica, die ganse mensheid, verkeer tans in ’n krisis van epogale omvang wat nie hier uitgespel hoef te word nie. Die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap in al sy diversiteit is deel daarvan. Die na-Middeleeuse, moderne era is aan die disintegreer, met insluiting van die tradisionele religieuse erfenis van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap, naamlik die Protestantse Reformasie. Is ’n nuwe sinryke epog, ’n nuwe saambindende visie, sintese, anderkant verbruikgedrewe globalisme, duidelik waarneembaar? Nog nie.

Nooit is enige menslike kultuurprestasie en tradisie finaal voltooid formata (gevormd) nie. Dit verkeer altyd êrens tussen begin en einde in ’n proses van verganklikheid. Dus ook nooit voltooid re-formata (finaal her-vormd, ge-re-formeerd), met slegs ’n verlede-herhalende of -herstellende of daarna terughunkerende houding nodig nie. En ’n wekroep semper reformanda in die verpligtende gerundivum-vorm (altyd te-re-formeer, te-her-vorm), altyd in ’n imperatiewe proses van immer terugkeer en herstel tot wat in ’n normatiewe verlede tyd begryplik, waardevol en goed was (hetsy Reformasie of Middeleeuse skolastisisme), is nie die hele antwoord nie. Hierdie oorweging het twee gerigthede: een op ’n verlede voor ’n gekose normatiewe moment, en een op die toekoms.

Wat die verlede betref, moet diegene vir wie die behoud van die Hervormde/Gereformeerde godsdiensverlede ’n saak van erns is, ook die vóór-verlede ken en verstaan. Vir sulkes is ’n ernstige kennisname van die Middeleeuse verlede baie nodig, en is Beukes se boek verpligte leesstof.

Wat die toekoms betref: Dit behoort gebou te word aan die hand van ’n kernspreuk soos semper amplius formanda (immer meer-[breër, dieper, subtieler]te-formeer). “Meer” wil hier insluit: meer omvattend in getal normatiewe mensheidstradisies wat in berekening gebring word; meer omvattend in insluitende, sintetiserende visie; meer ingrypend waarderend-krities, radikaliserend, verder-voerend, transformerend, transenderend; meer toekomsgerig en toekomsskeppend. Juis dan bly ’n studie van die verlede wesensbelangrik. Deeglike kennis van die verlede beteken nie om gesig na die verlede te leef of toe te laat dat dit ideologiese engte word nie. (Beukes self doen dit glad nie.) Die toekomstige, nuwe uitdagings sou vandag uitnooi tot ontmoeting en sintese met meer as die Middeleeuse Judaïsme en Islam, en wel ook met byvoorbeeld die groot geskrewe tradisies van Indiese Boeddhisme en Vedanta en Chinese Taoïsme en Confucianisme – maar, voeg ek met klem by, deeglik gevoed uit die Westerse Middeleeuse prestasie. Met die slottakkoorde van die Middeleeue en die aanbreek van ’n nuwe tydvak het Nikolaus van Kusa getas na ’n breë pax fidei. Sonder ’n grondige waarderend-kritiese kennis van en insig in die Middeleeue is ’n vernuwende (ook ’n Afrikaanse) trajek nie moontlik nie. Daarvoor verdien Beukes die grootste dank en erkenning.

Die millennium lange Europese Middeleeue met ’n begin, ’n hoogtepunt en ’n einde is stellig een van die kulturele hoogtepunte in die mensheidsgeskiedenis as geheel. Beukes se boek bied die leser ’n samehangende beeld van daardie trajek van die Europese kultuurgeskiedenis. Dit is onmisbaar vir elke denkende verlede-eerbiedigende, hedekritiese, toekomsskeppende Afrikaanse persoon, in ’n tyd waarin daardie kosbare verlede vergete raak, selfs geringgeskat word, asof met skuld bedek. Middeleeuse filosofie is dus van groot kultuurstrategiese belang. Die Middeleeue is deel van die agtergrond en wordingsgeskiedenis van die Afrikaanse kultuur, waarsonder ook die Reformasie nie verstaan kan word nie en waarsonder ’n toekoms nie geskep kan word nie.

Die skrywer se magistrale breedte- en dieptekennis van die Middeleeue het nie as korrelaat ’n onkritiese romantisering daarvan nie. Hy is historikus, kenner van wat was, nie restoureerder en renoveerder daarvan nie. Deurgaans blyk sy hoë waardering vir aspekte soos die intellektuele briljantheid en akademiese integriteit van die Middeleeuse piek- en sleutelfigure, maar aangeleenthede soos tipies-akademiese naywer en institusionele-kerk-verval word nie onder ’n maatemmer verberg nie. Hy is ook ’n gepubliseerde spesialiskenner van die Franse filosoof Michel Foucault (’n Foucault-monografie deur hom het in 2020 verskyn), en deel in Foucault se siening van diffuse alomteenwoordige mag, wat die Middeleeue betref, in ryk- en kerkstrukture. Beukes se meestal stil, implisiete kritiek kom egter duidelik na vore in sy ondubbelsinnige kritiek op die onderdrukte posisie van vroue in die Middeleeue: slegs ses van die 145 figure wat behandel (kon) word, is vroue, wat ’n literêre spoor nagelaat het, en dit as institusioneel uiters randstandige, buite-akademiese en buitefilosofiese figure. Laat hulle in ’n lomp laat poging tot restitusie ook hier genoem word: Héloïse d’Argenteuil (ca 1100–1164), Hildegard von Bingen (1098–1179), Mechthild von Magdeburg (ca 1207 – ca 1282), Hadewijch van Antwerpen (fl 1240), Marguerite Porete (ca 1250–1310) en Katharina van Siena (1347–1380).

Illustrasie van Hildegard von Bingen (bron: https://en.wikipedia.org/wiki/Hildegard_of_Bingen#/media/File:Hildegard_von_Bingen.jpg)

Bogenoemde probleem was nie ’n periferiese etiese kwessie wat maklik reggestel kon word nie, maar het tragies, paradoksaal, struktureel saamgehang met die kernleerstuk van die klassieke Christendom wat in die Middeleeue in so ’n briljante poging tot sintese vorm aangeneem het: die trinitariese dogma van Vader, Seun en Heilige Gees. Wie sou gewaag het om as wesenlike, ononderhandelbaar verpligtende dogma-uitvloeisel van die groot Geheim te praat van die Een God as Moeder, Dogter en Gees, sou waarskynlik al by voorbaat staanplek op ’n brandstapel kon bespreek het. En indien dit die kernleerstuk sou gewees het, sou die institusionele opset van die kerk heel anders daar uitgesien het as wat in die Middeleeue wel die geval was. Gelyklopend met die aantoon van geloofsgewortelde diskriminasie teen vroue is die profilering van die Middeleeuse kultuur van sensuur aan die hand van Petrus Damianus (1007–1072) se hervormings in opdrag van pous Leo IX.

Die sentrale probleem waarmee die Middeleeuse denkers geworstel het, was om ’n versoening, selfs inhoudelike sintese, van twee fundamenteel verskillende uitgangspunte, denkstyle en denkinhoude te probeer bewerkstellig. Aan die een kant was daar (a) ’n  tradisionele Joodse (wat die Christendom betref, sowel in Ou as Nuwe Testament), antropomorfe, androsentriese, paternalistiese, patriargale, mitologiese, monoteïsties-religieuse, geopenbaarde, in dogma vasgelegde denkstyl en denkinhoud. Aan die ander kant was daar (b) die twee voorafgaande,  reeds gevestigde, redegebaseerde metafisikas van  Plato en Aristoteles en die denktradisies wat deur albei gevestig is. En tussendeur was daar ook betekenisvol die komponent van Neoplatonisme, op die voetspoor van Plotinus (gelyktydig met die Christendom ontwikkelend). Om laasgenoemde drie redelik te sintetiseer, en al drie met die Christelike geloof en dogma, het geblyk ’n ontsaglik uitdagende taak te wees. Voeg die bestanddele van Joodse en Muslim-gelowe daarby, en mens besef die uitdaging wat omvang sowel as kompleksiteit betref, en die verbluffende prestasie wat die Middeleeuse denkers tot stand gebring het.

Kunstenaarsvoorstelling van Katharina van Siena (bron: https://commons.wikimedia.org/wiki/File:Giambattista_Tiepolo,_,_Kunsthistorisches_Museum_Wien.jpg)

Mens kan, naas bewonderende begrip vir intellektuele moed en prestasie, ook tot die gevolgtrekking kom dat die Middeleeuse projek, kulminerend in die skolastiek, uiteindelik, op die keper beskou, tog nie geslaag het nie. Die verlenging van formele logika na metafisiese ontologie en teologie, en die heen en weer verbindinge tussen laasgenoemde twee, was nie noodwendig onweerspreeklik dwingend, verpligtend, oortuigend nie. Om die betrek van Jodedom en Islam in ’n multireligieuse raam ’n stap verder te neem: Vroeë Boeddhisme, tydgenootlik aan Aristoteles, het ook oor ’n sterk ontwikkelde logika beskik, maar het ’n dergelike ekstrapolasie, met die metafisies-teologiese implikasies daarvan, van die hand gewys (vgl Jayatilleke, Early Buddhist theory of knowledge, 1963).

Beukes bied ’n genuanseerde  rekonstruksie van die subtiele historiese samehang van teoretiese faktore met ander kondisionele faktore wat ’n bydraende rol gespeel het in die uiteindelike disintegrasie van die Middeleeuse duisendjarige denkprojek, kulminerend in die hoogskolastiek – kragte soos die toenemende skeiding van kerk en staat en gepaardgaande sekularisme, en die toenemende skeiding van teologie en filosofie en gepaardgaande verselfstandiging van die natuurwetenskappe. Tog bevat die Middeleeue ook ’n ander, dieper les, mag mens vermoed: die metafisiese aanvaarding van ’n onafwendbare, selfs wesenlike verganklikheid, die verskyning en verdwyning van alle dinge, ook die briljantste denkprestasies, op ’n uiteindelike onoorskrybare gesigseinder. Die Middeleeuse denkers self, volgens hul eie siening onstuitbaar in die spoor van Augustinus op weg van civitas terrena na civitas Dei, sou hul stellig teen so ’n vertolking verset het.

 

  1. Struktuur

Middeleeuse denke kan aanvanklik voorkom as ’n verwarrende doolhof vol doodlooppaaie. Aan die hand van ’n gids soos Beukes word dit ’n unieke sinryke labirint, een met ’n filosofies-teologies baanbrekende toegang (Augustinus, 354–430), saambindende sentrum (Aquinas, 1225–1274), beginnende einde (Willem van Ockham, ca 1285–1349) en afsluitende uitgang (Nikolaus van Kusa, 1401–1464), een wat jy tot jou verryking oor en oor van begin tot einde en terug kan bewandel.

Augustinus (bron: https://sco.wikipedia.org/wiki/Augustinus#/media/File:Saint_Augustine_by_Philippe_de_Champaigne.jpg)

Die boek begin met ’n voorwoord en deeglike en besonder waardevolle  inleiding wat die plan en metode van die boek uiteensit en die leser ruim (30 bladsye) voorsien van die noodsaaklike Griekse agtergrond betreffende die hooffigure en strominge wat dwarsdeur die Middeleeue so ’n uitdagende en verrykende invloed uitgeoefen het: Plato, Aristoteles, Middel-Platonisme en Neoplatonisme.

Die substansie van die boek bestaan uit ’n kronologiese verdeling in ses periodes, met Augustinus (periode 1), Aquinas (periode 5), Ockham en Kusanus (albei periode 6), soos vermeld, die vier mees beslissende epogale skarnierfigure:

     (1) post-Romeinse periode (5de tot 7de eeu)

     (2) Karolingiese periode (8ste tot 9de eeu)

     (3) post-Karolingiese periode (10de tot 12de eeu)

     (4) vroegskolastiese periode (11de tot 13de eeu)

     (5) hoogskolastiese periode (13de tot 14de eeu)

     (6) postskolastiese periode (14de tot 15de eeu).

Die inhoud word nie as een aaneenlopende historiese verhaal of tematies-gesentreerde ontleding aangebied nie, maar as ’n reeks van altesaam 145 intellektuele portrette van prominente Middeleeuse filosofiese denkers, kronologies georden.

Volume I bevat 58 sulke gevallestudies: ses in periode (1), sewe in periode (2), 13 in (3) en 32 in (4).

Volume II bevat 87: soos te verwagte die groot getal van 50 in periode (5), die hoogbloei van die skolastiek; en nie te versmaai nie, 37 in periode (6), die afloop en einde van die skolastiek sowel as van die Middeleeue in sy geheel geheel.

Neem in ag dat die skolastiek ook ’n lang nawerking gehad het, byvoorbeeld ook in die Gereformeerde skolastiek van Gisbertus Voetius (1589–1672), dus tydgenoot van “Afrikaans”-stigtende Jan van Riebeeck, en belangrike rolspeler by die Sinode van Dordt (1618–1619).

Elk van hierdie portrette staan op eie bene as ’n essay-artikel, bevat gewoonlik ’n  biografiese skets sover inligting beskikbaar is, en word voorsien van verklarende eindnotas en in elke geval ’n indrukwekkende bibliografie van primêre en sekondêre bronne.

.........
Die boek is besonder volledig. Dit bevat inligting oor, en verraai juis ’n besondere belangstelling in, ’n groot aantal byna heel onbekende, ondergekommentarieerde, institusioneel randstandige figure.
..........

Die boek is besonder volledig. Dit bevat inligting oor, en verraai juis ’n besondere belangstelling in, ’n groot aantal byna heel onbekende, ondergekommentarieerde, institusioneel randstandige figure. In dieselfde gees ontvang die eerste drie bogenoemde periodes meer aandag as wat gewoonlik in oorsigwerke die geval is. Die aandag aan juis die marginale is een van die mees blywende positiewe indrukke van die boek. Die hoofklem val egter vanselfsprekend op substantief-invloedryke figure (deur die skrywer “gekanoniseerde” sleutelpersone genoem): denkers soos Augustinus, Boethius en Pseudo-Dionisius in periode (1); Alcuin en Johannes Skotus Eriugena in (2); Avicenna, Anselmus en Petrus Abelardus in (3); Bernardus van Clairvaux, Averroes, Moses Maimonides, Robert Grosseteste en Bonaventura in (4); Thomas Aquinas, Meister Eckhart, Johannes Duns Skotus en Willem van Ockham in (5); en Jan van Ruusbroec en natuurlik Nikolaus van Kusa in (6). In sulke  gevalle word die leser voorsien van uitgebreide ontledings en vertolkings van hul onderskeie aksente en bydraes.

’n Sterk punt van die boek, relevant in ons teenswoordige Afrikaanse situasie van waarskynlik steeds ’n sterk religieuse uitsluitendheid, is dat Joodse en Muslim-denkers met klem sonder enige onderskeid of diskriminasie as ewewaardig aan Christelike denkers en deelnemend aan een en dieselfde denkeksperiment en gesprek behandel word. Mettertyd het verhoudings tussen die drie, in elk geval wat die Christendom en Islam betref, erg versleg, met die kruistogte van die 13de tot 15de eeue die militêre uitinge daarvan, en met gevolge vandag steeds voortslepend.

Die individuele portrette word tot ’n eenheid verbind deur middel van ses ekskurse, op strategiese plekke ingevoeg, wat breër historiese en saaklike verbande uitlig. ’n Goeie manier van lees sou inderdaad wees om te begin met die voorwoord en inleiding, te vervolg met die konteksskeppende ekskurse, en mens dan te verdiep in die afsonderlike periodes met hul individuele portrette. Die ekskurse handel onderskeidelik oor:

(1) die oorgang van die Karolingiese na die post-Karolingiese periode, met ’n oorspronklike ontleding van die filosofiese en institusionele dimensies daarvan

(2) die opkoms van die universiteitswese

(3) die onderskeid tussen filosofie en teologie in die skolastiek

(4) die opkoms van tegniese Aristotelianisme in die vroeë skolastiek

(5) die berugte Paryse veroordelings van 1277

(6) die begrip postskolastiek.

Die invoer van wat Beukes die postskolastiese periode noem (6 hier bo) is sy vernuwende voorstel aan sy vakgenote. Dit is nie die enigste vernuwing nie – daar is onder andere ook die fyn onderskeidinge betreffende filosofiese en institusionele oorgange tussen die Karolingiese en post-Karolingiese periodes. Wat postskolastiek betref: In ’n oortuigend gemotiveerde ekskurs in volume II, ble 1175–82 argumenteer Beukes dat die historiografiese tendens was om die eeu tussen Ockham en Nikolaus van Kusa te onderwaardeer, terwyl dit in werklikheid as ’n era met ’n eie karakter aandag verdien. In werklikheid het hoogskolastiek geleidelik verval,  of verryp (afhangende van die waarnemer se perspektief), tot voldrae na-Middeleeuse denke, die begin van ’n nuwe epog. Die formulering “herfsttij der Middeleeuwen” (Huizinga) vir die 14de en 15de eeu het steeds ’n suggestiewe waarde. Ek lees Beukes se aanbod van hierdie periode as kenmerkend van sy unieke styl om juis die onderwaardeerde randstandige tye en figure tot hul reg te laat kom. Dit was ’n tyd gekenmerk deur onder andere die finale skeiding van teologie en filosofie, die verselfstandiging van die natuurwetenskappe, institusiekritiek en verskillende vorme van postskolastiese mistiek, byvoorbeeld van Ruusbroec en Kusa (sien ook punt 5 onder).

 

  1. Aanbod

Die boek is kennelik geskryf uit ’n diep affiniteit van die navorser met sy navorsingsveld. Die ideë-historiese passie van die skrywer is gekoppel aan onkreukbare saaklikheid en ensiklopediese kennis. As mens is hy natuurlik deel van die denkproses, maar hy stoot homself en sy eie religieuse voorkeure nie op die voorgrond nie, en swaai geen byl apologeties of polemies nie. Uit die aard van die saak is die skrywer volledig op hoogte met die teologie wat so intiem met die filosofie van die tydvak vervleg was, en word die onlosmaaklike verband tussen teologie en filosofie aangetoon, maar die boek bly by die filosofie.

Opvallend is die kollegiale, vriendskaplike omgang met plaaslike en internasionale vakgenote. Die skrywer is duidelik deel van ’n werksgroep kollegas en vriende, ’n werksgemeenskap van spesialiste wat oor dekades gegroei het (hy het die boek reeds in 2005 begin skryf), en hy gee deurlopend erkenning aan medenavorsers in ’n proses van betekenisvolle meningswisseling. Die boek begin trouens heel voor met lyste van sulke Suid-Afrikaanse magistri en vriende, en Nederlandse en Belgiese hoogleraars in filosofie word met groot waardering by naam genoem.

Wat my tref en aanspreek wat die aanbieding betref, is die deeglikheid daarvan, wat nie terugstaan vir dié van die skolastici self nie. So word die essayistiese artikels gevolg deur ’n alfabetiese lys van die tevore kronologies behandelde Middeleeuse filosowe, met die relevante trefwoorde, sleutelbegrippe en spesialisnavorsers in elke geval kernagtig voorsien.  Dit is besonder nuttig vir vinnige oriëntering op ’n wye veld. Dit word gevolg deur ’n alfabetiese lys van tegniese terme, in die vorm van oorsigtelike en samevattende verduidelikings. Die boek word afgesluit met ’n uitgebreide bibliografie van nie minder nie as 91 bladsye.

Die boek is besonder keurig uitgegee deur Akademia Uitgewery. Veral opvallend is die afdrukke van skilderye, in verskillende tydvakke geskep, wat visuele beelde van die Middeleeuse milieu en die visuele verwerking daarvan aan die intellektuele begrip koppel en besondere waarde toevoeg.

 

  1. Taal

Taal en wat daarmee saamhang is die mees sentrale tema in Beukes se boek, onthul in sy eie gebruik van taal sowel as in sy nadenke oor die Middeleeue. Afgesien daarvan dat hy vakkundig eerstehands omgaan met Hebreeus, Grieks, Latyn, Duits, Frans, Nederlands en Engels, werk hy skeppend met en in Afrikaans. Dit is nie slegs tot voordeel van niegespesialiseerde lesers nie, maar Afrikaans as vaktaal word ook deur die Afrikaanse weergawes van Griekse en Middeleeuse Latynse filosofiese terminologie verryk. In die proses word ’n deurdagte en konsekwente stelsel om klassieke en Middeleeuse eiename in Afrikaans weer te gee, aangebied. Hopelik word dit die norm. Die skrywer se bewuste betrokkenheid by Afrikaans en sy inset om die aard van Afrikaans as Dietse taal te handhaaf en te ontwikkel, val op en verdien hoë waardering. Hy self skryf ’n unieke, sterk Afrikaans met ’n duidelike Germaanse karakter.

Die akademiese leitmotief deur die boek is die verband tussen taal en logika, op voetspoor van die Middeleeuse verwerking van veral Aristoteles. Die kern van die ontwikkeling was dat Aristoteles se formele logika toenemend as ontologies wesenlik relevant verstaan is. Die aanvanklik suiwer logikagekoppelde begrip substansie is byvoorbeeld aangebied as toegerus met dwingende metafisiese en teologiese implikasies wat uitgedruk sou kon word in ’n taal-logies-teo-logiese gevolgtrekking soos onder andere: “Dus moet God bestaan.”

Aristoteles (bron: https://en.wikipedia.org/wiki/Aristotle#/media/File:Aristotle_Altemps_Inv8575.jpg)

Die skrywer se noukeurige verkenning begin by Augustinus (bl 56 ev), wie se belangstelling in die verbande tussen logika, taal en werklikheid, met ingrypende implikasies vir die godsvraagstuk, daarna deur feitlik elke Middeleeuse filosoof met erns bejeën is. Beukes gee besondere aandag aan hierdie dimensie by die gekanoniseerde figure vroeër genoem, maar ook by ander, minder gekommentarieerde figure soos Sadiah Gaon, Albertus Magnus, Petrus Hispanus, Willem van Ware, Thomas van Erfurt, Martinus van Dacia, Sigerius van Brabant, Godfrey Fontibus en Johannes Wyclif.

 

  1. Mistiek
........
Vir my is die skrywer se duidelike waardering van die mistieke dimensie in die Middeleeue ’n betekenisvolle aksent.
..........

Vir my is die skrywer se duidelike waardering van die mistieke dimensie in die Middeleeue ’n betekenisvolle aksent.

“n Boeiende, waarskynlik nooit beantwoordbare vraag is: Wat presies het op die kruin van sy lewe en loopbaan in die prins van skolastici, Aquinas, gebeur op 6 Desember 1273, drie maande voor sy dood, toe hy ’n besondere ervaring (“openbaring”) gehad het wat hom genoop het om sy Summa onvoltooid neer te lê? Dalk was dit nie tragedie nie, ook nie ’n visioen van die hemelse glorie nie (waarom sou dit hom genoop om het op te hou skryf?), maar ’n kwalitatief ander, ontdekkende deurbraak? Hy sou volgens oorlewering aan sy metgesel die volgende gesê het van alles wat hy geskryf het: “Mihi videtur ut palea”, wat ek in Afrikaans sou wou weergee as: “Dit kom my voor as kaf.” Die vertaling impliseer: Sou Aquinas die woord palea juis in die ambivalente sin kon bedoel het wat “kaf” dra? Nie bloot iets veragtelik sleg (“onsin” ens) nie, maar waarderende agterlating? Sonder die aanvanklik beskermende omhulsel, nou afgestroop, sou daar immers nie koring gewees het nie? Sou die ervaring, die “openbaring”, weer nog ’n keer bonatuurlik ingegewe informasie, bewoording van Bo gewees het, soos in die Ou Testament? Sou dit nie dalk juis die radikale agterlating gewees het, nie alleenlik van alle skryf nie, maar van alle “logiese” dink/praat as verpligte basis vir uiteindelike insig (byvoorbeeld in die vorm van bewyse vir die bestaan van God)? Sou die groot gees ’n domein betree het anderkant die behoefte om uiteindelike waarheid met die logika van Aristoteles, hoe indrukwekkend ook al, nie slegs te bemiddel nie, maar selfs te fundeer? Sou hy albei komponente van die sintese (en dus ook die sintese self) oorweeg en te lig bevind het: Aristoteles se primum movens as onbewegende, onbewoë agent van alle beweging/verandering; en antropomorfe teïstiese mitologie? Sou hy oorweeg het, en dalk tot die besef gekom het, dat die normatiewe ekstrapolasie van logika tot ontologie en teologie ’n stap te ver, onnodig, ongeldig, was? Kort gestel: Was die skolastieke projek uitgeput? Tog, het dit juis so sy uiteindelike bestemming, naamlik swye, bereik? Aquinas was nie maar net fisiek of geestelik gedaan nie, sou ek spekulatief vermoed, maar het ’n ander dimensie betree of ten minste vermoed: radikale mistiek, die stilte as die wind uitgewoed is. Sou die swye, die ophou skryf, die afskeid, in sy volle diepte die uiteindelike saak self, die koring, wees, uit die omhulsels van die onvermydelike, selfs groei-noodsaaklike, “kaf” bevry? Dit was dorstyd, tyd om skutblare af te skud. Die mens – ook, en juis, ’n diepsinnige een soos Aquinas – sal en moet dink en daaroor praat en skryf. Praat, logika, voor en na stilte is onvermydelik en belangrik, maar dan sou dit  philosophia theologiaque ancillae silentii word.

Wat ’n indrukwekkende konstruksie was die Middeleeue en skolastiek nie, maar voorlopig voor die gesigseinder van absolute stilte. In hierdie rigting gelees sou figure soos die verketterde Eckhart, die aangeklaagde Ruusbroec, en die deur vuur verteerde, stil-sterwende Porete juis so ’n diepe, ongereflekteerde, onbedoelde, selfs onbewuste, nog onontwikkelde tendens van die skolastiek verteenwoordig het, die ontwikkelende blom en vrug van die Middeleeuse groeiproses wees.

So gesien, sou ten minste ’n vermoede van “postskolastiek” by Aquinas self aangemeld het, nie tydsgewys nie, maar saakgewys. Dan sou “metaskolastiek” ’n meer gepaste term wees. Ek bedoel dit nie as ’n historiese stelling wat die periodisering van Beukes bevraagteken nie, maar opper dit slegs as ’n moontlikheid, stof vir ’n spekulatiewe novelle eerder as vir soliede historiografie. My vrae is bedoel as ’n onderskrywing van Beukes se “rehabiliterende” lees (bl 57) van die Middeleeuse denkers, die Middeleeuse korpus as geheel: Aquinas, sy lewe afsluitend as swygende, postskolastiese, metaskolastiese mistikus: “agterlatend”, “transenderend”; nie ’n fratservaring nie, maar die onontwykbare toe-koms van ’n buitengewoon radikale denker, in die konteks van ’n eeue-durende kollektiewe briljante denkeksperiment. Indien Aquinas die weg van stilwording tot absolute gesigseinde anderkant univokale, ekwivokale en analogiese predikasie gevolg het, sou dit sy statuur nog verder verhoog, wil ek aan die hand doen. In elk geval het Ockham en die afloop van die skolastiek ook nie hierdie rigting gevolg nie. In die woorde van Beukes: “Die God van die Christendom is uiteindelik vrygestel van arbitrêre skolastiese spekulasies oor wie hierdie God is en wat hierdie God doen. Filosofie was in die postskolastiek, steeds met diepe agting vir daardie God van die Christelike Latynse Weste ... vry” (II, bl 1166).

Maar dan was dit blykbaar nie ook die weg na swye voor absolute gesigseinde nie. Met groot respek vir daardie tradisie: In postskolastiek (word duidelik in Beukes se fyn ontledings) is die weg na metakonseptuele, metateïstiese mistiek nie programmaties betree en enduit gevolg nie – nie in Ruusbroec se dieptemistiek met die apologeties-kategetiese en dogmatiese motiewe daarin, of in die spekulatiewe denke van Nikolaus van Kusa nie. Afgesien van wat Thomas werklik ervaar het, of sou kon ervaar het, is sodanige mistiek vir my die uitkoms, bestemming, van die Middeleeuse onderneming – uitgespreek nie teen of ten spyte van nie, maar danksy Beukes se grondige weergawe en ontleding daarvan.

As afsluiting van ’n reeds lang resensie: Hierdie land dryf ’n krisis binne waarin die toekoms van die Westers-gewortelde kulturele tradisie, en van Afrikaans as ’n draer daarvan, nie vanselfsprekend is nie. In hierdie situasie is Johann Beukes se Middeleeuse filosofie van die grootste relevansie, verlede-waarderend en -bevestigend, en so toekomsskeppend.  

 

  1. Beskikbaarheid

Die boek is primêr op Akademia se aanlyn winkel te koop. Skakel: https://winkel.akademia.ac.za/collections/frontpage/products/middeleeuse-filosofie

Dit is ook by die hooftak van Protea Boekwinkel beskikbaar. 

Lees ook:

Middeleeuse filosofie deur Johann Beukes: ’n lesersindruk

Middeleeuse filosofie: ’n onderhoud met Johann Beukes

  • 3

Kommentaar

  • Briljant! Baie dankie vir die skitterende resensie.

    Kan nie wag om my hande op die boeke te kry nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top