Kobus Krüger

J.S. (Kobus) Krüger is emeritus professor in godsdienswetenskap en navorsingsgenoot verbonde aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Hy het sy voorgraadse en ‘n deel van sy nagraadse studie aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Hy het ook nagraadsestudietydperke aan die Vrije Universiteit van Amsterdam en Tübingen deurgebring. In sy akademiese loopbaan was hy van 1972 tot 1979 dosent in sistematiese teologie aan die Universiteit van Suid-Afrika, en vanaf 1980 professor in godsdienswetenskap aan dieselfde Universiteit. Vanaf 1984 tot sy aftrede in 2005 was hy departementele voorsitter van Godsdienswetenskap.

Wat die godsdiensgeskiedenis betref, was die belangrikste velde van sy belangstelling die Christendom en Boeddhisme, asook die geskiedenis van die mistiek as algemeen-menslike verskynsel. Wat die teorie betref, was die kern van sy belangstelling die ontwikkeling van ‘n metafisies-mistieke raamwerk wat die veelvoud van religieë sinvol kan verbind, met mistiek as die sentrale samebindende, organiserende beginsel.

Hy het sestien boeke geskryf wat oor die volgende temas handel: godsdienswetenskaplike vakmetodologie, San-religie, Boeddhisme, die ontwikkelinge in die Gereformeerde Christendom oor die laaste 150 jaar, en mistiek. Die boeke sluit ook vertaling-vertolkings uit die klassieke skat van mistieke werke in (vertalings van die Sutta Nipata, Maha-satipatthana Sutta, Tevijja Sutta, Geestelike Brulocht van Jan van Ruusbroec, De la causa, principio e uno van Giordano Bruno en die Inferno van Dante).

Hy is die medeskrywer van twee handboeke oor die algemene godsdiensgeskiedenis.

Middeleeuse filosofie deur Johann Beukes: ’n resensie

Kobus Krüger Resensies 2020-10-02

"Hierdie land dryf ’n krisis binne waarin die toekoms van die Westers-gewortelde kulturele tradisie, en van Afrikaans as ’n draer daarvan, nie vanselfsprekend is nie. In hierdie situasie is Johann Beukes se Middeleeuse filosofie van die grootste relevansie, verlede-waarderend en -bevestigend, en so toekomsskeppend."  

Oor die mistiek, Boeddhisme, meertaligheid, Afrikaans, teologie en die politiek: ’n onderhoud

Pieter GR de Villiers, Kobus Krüger Onderhoude 2018-07-03

"Die lang nag van apartheid in enige vorm (ook religieus) is nou verby en ’n nuwe dagbreek kan voorlê ‒ ’n Aurora inderdaad, om van die Duitse mistikus Jakob Böhme (1575‒1624) te leen ‒ met as sydelingse, maar belangrike gevolg ’n nuwe waardigheid vir Afrikaans en die behoud van die beste in die kulturele en Christelike religieuse tradisie daaragter, en ’n nuwe skeppende bydrae tot die geheel van hierdie vasteland en die wêreld."

Oneindigheid as religie-relativerende en -insluitende horison

Kobus Krüger LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe) 2013-09-03

"Die slotsom is dat dié model ’n belowende metafisies-mistieke horison bied om die groot verskeidenheid historiese religieë positief met mekaar in verband te bring, krities te relativeer en bevestigend saam in te sluit."

Top