Middeleeuse filosofie deur Johann Beukes: ’n lesersindruk

  • 4

Middeleeuse filosofie, deel I en deel II
Johann Beukes
Akademia
ISBN (deel I): 978-0-620-84355-3 en ISBN (deel II): 978-0-620-87894-4


Johann Beukes se tweedelige Middeleeuse filosofie (Akademia) het onlangs verskyn. Die aankondiging is heel gepas op Afrikaansdag, 14 Augustus, op LitNet gedoen. Dit is verblydend dat so ’n omvattende werk, en daarby oor die Middeleeuse wysbegeerte, in Afrikaans gepubliseer is. In die vorige eeu is daar betreklik min aandag aan hierdie onderwerp aan Afrikaanse universiteite geskenk. Een van die redes kan wees dat die filosofiedosente aan daardie universiteite dikwels ’n protestants-teologiese agtergrond gehad het. Aan wat tot onlangs ’n ten volle tweetalige universiteit was, naamlik die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), het die Middeleeuse wysbegeerte toe in groter mate as aan enige ander Suid-Afrikaanse universiteit tot sy reg gekom. ’n Mens kan selfs beweer dat die wysbegeerte as sodanig meer prominent aan Unisa as aan enige ander plaaslike universiteit was.

Die rede hiervoor was dat daar voorgraads nie net die gebruiklike enkele driejarige filosofiehoofvak was nie, maar twéé driejarige hoofvakke, naamlik Geskiedenis van die wysbegeerte en Sistematiese wysbegeerte. Eersgenoemde vak is deur professor Herman de Vleeschauwer (1899–1986) aangebied. Hy was ’n Vlaming wat sy lesings in sy soort Afrikaans geskryf het. Unisa se redaksie-afdeling het sy teks in groter mate verafrikaans en ook die Engelse vertaling geskep. Dit het feitlik uitsluitlik om Westerse wysbegeerte gegaan. By De Vleeschauwer se begrafnisbyeenkoms het, naas De Vleeschauwer se seun, Cas van Vuuren (1930–2014), toe ’n Unisa-viserektor, die woord gevoer.

De Vleeschauwer was ’n Rooms-Katoliek. In Geskiedenis van die wysbegeerte is die antieke Griekse wysbegeerte in die eerste jaar in die enkele vraestel behandel. In die tweede jaar het die eerste vraestel oor die Middeleeuse wysbegeerte en die tweede vraestel oor die Thomisme (Thomas van Aquino en die nieu-Thomiste tot die 20ste eeu) gehandel. Die derdejaar-eindeksamen het uit drie vraestelle bestaan, maar vanweë die groot klem wat in die tweede jaar op die Middeleeue geplaas is, kon net tot by die 19de eeu gevorder word. As die student iets oor die geskiedenis van die wysbegeerte in die 20ste eeu (afgesien van nieu-Thomisme) wou weet, moes hy vir die eerste honneursvraestel inskryf.

De Vleeschauwer het aan studente die geleentheid gebied om ’n begrip te ontwikkel vir die ryke verskeidenheid idees wat in die sogenaamde donker Middeleeue aan die orde van die dag was. Dit was vir hierdie studente seker ook makliker om die oorgang van die antieke na die moderne wysbegeerte te verstaan – dat daar ’n deurlopendheid is. Wat vir De Vleeschauwer ook belangrik was, is dat die Middeleeue (sy periodisering daarvoor was van 400 tot 1400, dus ’n tydperk van 1 000 jaar) die wieg van die universiteitswese (omstreeks 1200) was.

Die universiteit is ’n Europese uitvinding wat wêreldwyd nagevolg is. Deesdae lyk dit asof universiteite in die Westerse wêreld, veral in die VSA, maar ook elders, insluitende Suid-Afrika, ontaard het. Dit is asof die leiding uitgaan van mense wat nie ’n grondige historiese kennis het nie en ook nie weet wat ’n universiteit veronderstel is om te wees nie. Ek het al daaroor geskryf: "Miriam Joseph: The trivium" (LitNet, 4 Februarie 2014). Die klem val deesdae op beroepsafrigting wat nie meer deur deeglike algemene vorming/opvoeding voorafgegaan word nie.

Naas De Vleeschauwer was Marthinus Versfeld (1909–1995) bekend as ’n Rooms-Katolieke Afrikaanssprekende dosent. Hy het die wysbegeerte soms tot lewenswysheid afgewentel. Van Versfeld is onder meer die boek Rondom die Middeleeue (1962) gepubliseer. Aan die Universiteit van Kaapstad het Versfeld een van sy studente, Anna Louize Conradie (later Heiberg, 1924–2013), tot die Rooms-Katolisisme bekeer. Sy was daarna ’n dosent in die wysbegeerte aan die Universiteit van Natal. Van Conradie is twee verdienstelike Afrikaanse fiksieboeke gepubliseer: Dans makaber (1966) en Dambord (1969). Albei boeke is nooit na waarde geskat nie.

De Vleeschauwer is die grondlegger van sowel die Departement Wysbegeerte as die Departement Biblioteekkunde (later inligtingkunde) aan Unisa. Archie Dick het in 2002 ’n artikel oor De Vleeschauwer se Nazi-simpatie en sy invloed op leidende Afrikaanse biblioteekkundiges gepubliseer. Daarin kom die reusebydrae van De Vleeschauwer tot die plaaslike biblioteekkunde glad nie tot sy reg nie. Met die tydskrif Mousaion (wat tot op hede voortbestaan) het De Vleeschauwer ook op hierdie terrein in die buiteland invloed uitgeoefen, byvoorbeeld op Jesse Shera (1903–1982) in die VSA. Dolf van Niekerk (gebore in 1929 en gelukkig nog met ons) het hierna die balans probeer herstel met ’n essay, "Herman die grote", in sy bundel, Die aarde waarop ek loop (2003), waarin hy sy bewondering vir De Vleeschauwer uitspreek. De Vleeschauwer was buitengewoon klein van gestalte maar groot van gees.

In 2016 is Pieter Duvenage se Afrikaanse filosofie: Perspektiewe en dialoë gepubliseer. In 2017 het Gerrit van Wyk Kruger se Die geskiedenis van die Griekse taal oor 35 eeue heen verskyn. Daarna het Die storie van Afrikaans van Wannie Carstens en Edith Raidt gevolg: deel 1 (2017) en deel 2 (2019). Al hierdie boeke is in Afrikaans. Vanjaar se welkome verrassing is Johann Beukes se tweedelige werk.

Gelukkig is daar nog uitgewerye wat hulle geloof in Afrikaans as akademiese taal behou het.

  • 4

Kommentaar

  • Dankie vir nog 'n puik stuk Johannes!

    Na aanleiding van jou vermelding van Anna-Louize Heiberg, moet ek darem ook noem dat daar 'n baie informatiewe artikel oor haar op die Afrikaanse Wikipedia beskikbaar is, wat melding maak van beide genoemde publikasies, en dit bondig maar gedetailleerd bespreek.

    Ek moet ook melding daarvan maak dat Leon Lemmer op PRAAG uiteraard hewige maar gepaste en geregverdigde (in my opinie) kritiek gelewer het op Carstens en Raidt se publikasie betreffende Afrikaans, welke artikel jy gerus kan lees, indien jy dit nie reeds onder oe gehad het nie.

    Ek het kommentaar gelewer op jou vroeëre artikel ("Afrikaans: vind onteiening plaas?") en wil ook byvoeg dat ek Ria Winters se reisverhaal (Reise met Schoeman) besonders goed gevind het, en is dit 'n voorbeeld van waartoe standaard Afrikaans steeds in staat is, ook wat die toekoms betref! (ek kan nie glo mens moet in die hedendaagse tyd die aandag vestig en jou verbly oor dit wat voorheen gemeenplaas en vanselfsprekend was en 'n groot ophef daaroor maak nie; maar ja; nood leer beslis bid! [vir Afrikaans])

    'n Ander splinternuwe publikasie waarna ek uitsien, maar waarvan ek onseker is betreffende die ideologiese raamwerk en begronding daarvan ('n vb. van so 'n betwyfeling is van der Vyfer se boek; "Grensgeval" wat ek beslis nie sal lees nie!), (ja, deesdae kan jy nie sommer meer net 'n boek aanskaf sonder om nie seker te maak dat dit jou nie op een of ander wyse aanstoot sal gee en jou konserwatiewe oortuigings aanval nie!), is Francois Smith se "Kleinste ramp denkbaar", alhoewel ek weet dat sy vorige publikasie, "Kamphoer", wel in goeie standaard-Afrikaans (oftewel SvA [Standaard variëteit van Afrikaans - soos dit na dese bekendstaan by onder meer Pukke]) geskryf is. Derhalwe kan ek met redelike sekerheid se dat die lg. publikasie (al is dit nie 'n akademiese publikasie nie maar 'n doodgewone roman) nog 'n pluimpie vir Afrikaans is en iets is om te vier, naas die uitstaande publikasies wat die afgelope jare die lig gesien het (soos Etienne van Heerden se "Biblioteek aan die einde van die wêreld", Andries Buys se "Die dao van Daan van der Walt" en "Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey" deur Charl-Pierre Naudé).

    Soos ek vroeër vermeld het, dink ek die Afrikaanse uitgewersbedryf in geheel beleef 'n bloeitydperk waarvoor die aanvoorwerk jare gelede reeds gedoen is, en lê dit ook die fondament vir toekomstige generasies Afrikaners en Afrikaans, en dra dit sodoende daartoe by om die toekoms van ons geliefde taal te verseker en te verseker dat dit nie in 'n onverstaanbare, smaaklose en myns insiens, indien die onverstaanbare poging om Afrikaans te "herstandaardiseer" tot sy logiese gevolgtrekking gevoer word, walglike brabbeltaal te laat ontaard nie.

  • Net 'n laaste opmerking; myns insiens sal ons dierbare taal ONHERKENBAAR wees en sal ons vervreemd daarvan wees indien mense wat dit wil "her-standaardiseer" hulle doel bereik.

    Met al die goedgesindheid in die wêreld: ontwikkel Kaaps, soos die Afrikaners Afrikaans ontwikkel het; net 'n wenk: daar lê 'n harde pad van "klippe kou" voor indien dit die doelwit is, maar niemand staan in diegene se pad wat dit wil verwerklik nie, en sal selfs klippe uit die pad uit rol en raad en bystand gee, maar om hemelsnaam, asseblief tog, ontwikkel dit dan as 'n aparte taal en los Afrikaans uit soos hy is!

  • Johannes Comestor

    My bostaande artikel is geskryf kort nadat op 14 Augustus op LitNet aangekondig is dat Johann Beukes se boek verskyn het. Op 21 Augustus is op LitNet die teks gepubliseer van 'n omvattende onderhoud wat met die outeur gevoer is. Daarin bevestig Beukes die relatiewe verwaarlosing van die Middeleeuse wysbegeerte aan Suid-Afrikaanse - dalk veral Afrikaanse - universiteite. Hy verwys ook na die erkenning wat Marthinus Versfeld aan die Middeleeuse denke gegee het. Omdat my skrywe pas gepubliseer is, kan dit die indruk wek dat ek vir Beukes in hierdie twee opsigte napraat. In werklikheid bevestig hy wat ek geskryf voordat die onderhoud met hom verskyn het. Wat nuut in my skrywe is en glad nie in die onderhoud ter sprake kom nie, is die omvattende voorgraadse lesings oor die Middeleeuse wysbegeerte wat deur De Vleeschauwer aangebied is.

    Dat Beukes 145 Middeleeuse denkers bespreek, is 'n buitengewone prestasie. Daarmee verseker hy dat hierdie bome nie in die woud van die Middeleeue verdwyn nie. Die idees van ses vroue kom aan bod. Dit is goed so, maar dit is darem te dik vir 'n daalder om die wysbegeerte en die Middeleeue te vervroulik.

  • Litnet weier om my kommentaar, wat ek reeds gister geskryf het, te plaas. Ons is werklik nou in 'n era van SENSUUR. Geluk aan al die linkses, julle het jul doelwit van muilband-sensuur bereik!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top