Persvrystelling: Wêreldgebeurtenis in Afrikaanse filosofie

  • 1

Akademia Uitgewery het reeds die onlangse publikasie van haar eerste oorspronklike werk opgevolg met die uitgee van ’n monumentale boek oor die Middeleeuse filosofie. Die verskyning van Middeleeuse filosofie, ’n reusewerk van oor die 1 600 bladsye in twee volumes, vergestalt die lewenswerk van Johann Beukes, spesialisnavorser in hierdie dissipline aan die Universiteit van die Vrystaat se Departement Filosofie.

Middeleeuse filosofie omvat die werk van 145 filosowe oor die tydperk vanaf 410 tot 1464, en bied so ’n toeganklike tog omvattende blik op ’n millennium se ontwikkeling in die Westerse intellektuele en kulturele wêreld. Uiteindelik word hierdie denkers vanuit ses nuut­verantwoorde periodes in Middeleeuse filosofie in die werk hanteer; bygewerk vanuit die mees onlangse nisnavorsing in Duits, Engels, Frans en Nederlands; elkeen met ’n eie afdeling, bibliografie en kommentaar per eindnotas.

“Hierdie boek is vir die eietydse filosofie, Middeleeuse filosofienavorsing en die Afrikaanse taal werklikwaar ’n wêreldgebeurtenis,” sê Johann Rossouw, filosofiedepartementshoof aan die Universiteit van die Vrystaat.

In hierdie werk word by die ‘gekanoniseerde’ denkers in Middeleeuse filosofie vertoef – figure soos Augustinus, Boethius, Abelardus, Aquinas en Ockham – maar juis nié met oordrewe klem nie. Die literatuur oor hierdie gekanoniseerde denkers is reeds onoorsigtelik in ’n verskeidenheid van tale aangebied. Die boek se belang vestig eerder veral in die ondergepubliseerde, eenkantfigure in Middeleeuse filosofie – en daar is vele sodanige marginale figure indien ’n leser bereid is om die argiewe werklik met erns te neem.

Middeleeuse filosofie is nie bloot ’n akademiese naslaanwerk nie, maar ook ’n leesboek aangebied vir ’n wyer belangstellende leserspubliek – en kan vanuit die estetiese aanbod en toeganklike aard daarvan vir enige leser aanbeveel word wat geïnteresseerd is in die na-Romeinse kultuurgeskiedenis en Middeleeuse filosofiegeskiedenis.

“Johann Beukes se geduldig monnikewerk oor die Middeleeuse filosofie is wel deeglik in gesprek met ons eie tyd. Die helder en soepel taal waarin dit geskryf is verdien ’n breë-ingeligte leserspubliek in Afrikaans,” vertel Pieter Duvenage, dekaan van Akademia se Fakulteit Geesteswetenskappe. 

Kobus Krüger, emeritusprofessor in godsdienswetenskap en navorsingsgenoot verbonde aan die universiteite van Pretoria en die Vrystaat, noem die boek “’n deeglike oorsig oor en oorspronklike insig in die Middeleeuse denke, in aansluiting by en betekenisvol bydraend tot die internasionale navorsing op hierdie terrein. Hierdie groot werk bied, toeganklik ook vir die algemene leser, onskatbare betekenis vir die Afrikaanse teologie en filosofie, taal en kultuur.”

Middeleeuse filosofie is as twee aparte volumes te koop op Die Winkel en by Protea Boekwinkel se hooftak in Pretoria.

Klik hier vir ’n uittreksel van die boek.

  • 1

Kommentaar

  • Wonderlik! My opregte dank aan meneer Beukes en Akademia-universiteit vir hierdie Afrikaanse boek van onskatbare waarde!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top