JC (Jaap) Steyn: Enkele persoonlike herinneringe

  • 1

Skets (inkpen en potlood): van JC Steyn (C Swart, 2018)

JC (Jaap) Steyn: (31.7.1938–6.9.2021)

Vergun my enkele persoonlike herinneringe aan hierdie merkwaardige mens.

Nog ’n groot seder in die Afrikaanse taal- en kultuurkringe het geval.

Een van die slimste mense wat ek ken, bekroonde digter en skrywer, gerekende biograaf en kultuurhistorikus, taalkundige, oudjoernalis en meningsvormer – kortom, kultuurgees by uitstek en boonop ’n oudkollega en baie goeie vriend – is nie meer nie ... 

.......

Een van die slimste mense wat ek ken, bekroonde digter en skrywer, gerekende biograaf en kultuurhistorikus, taalkundige, oudjoernalis en meningsvormer – kortom, kultuurgees by uitstek en boonop ’n oudkollega en baie goeie vriend – is nie meer nie ... 

..........

Jaap Steyn is Maandagoggend 6 September 2021 op 83-jarige ouderdom in sy huis by die aftree-oord Aliquando oorlede nadat hy gesondheidsprobleme ondervind het en oor die naweek dokter toe was. Sy suster was oor die naweek by hom. 

My hart huil oor hierdie groot (maar uiters beskeie) gees. Wat ’n voorreg was dit nie om hom in my lewe te kon hê nie. Wat ’n gespreksgenoot was hy nie!

Boonop ’n ware heer wat steeds, op gevorderde ouderdom, altyd saamgestap het motor toe om die deur vir jou as vrou te gaan oopmaak. 

.........

Ek onthou hoe hy eenmaal agter sy oorvol lessenaar by die UV, diep in hogere gedagtes versonke, "Steyn hier!" geroep het toe ek aan sy kantoordeur klop (asof hy ’n telefoon beantwoord). Na sy momentele verwarring het ons lekker gelag oor sy diep denke wat hom so uit die werklikheid kon meevoer. 

...........

Ek onthou hoe hy eenmaal agter sy oorvol lessenaar by die UV, diep in hogere gedagtes versonke, "Steyn hier!" geroep het toe ek aan sy kantoordeur klop (asof hy ’n telefoon beantwoord). Na sy momentele verwarring het ons lekker gelag oor sy diep denke wat hom so uit die werklikheid kon meevoer. 

Jaarliks, tot verlede jaar nog, het ons Kerskaarte per pos vir mekaar gestuur – en dit het altyd voor Kersfees gearriveer, ondanks sogenaamde posstakings. Hy het selfs eenmaal te voet by die hospitaal ná haar operasie by my ma (ook ’n nooi Steyn), wat hy nie juis geken het nie, ingeloer met ’n groot boks Lindt-sjokolade. Prof Jaap het nie motor bestuur nie. 

Hy het vroeër jare, voor aftrede, strategies na aan die kampus en argiewe gebly en gestap na waar hy wou wees. (Ek het altyd by myself gedink dat hy in sy element sou wees as hy per ongeluk vir ’n naweek in ’n argief toegesluit sou word.) In sy motorhuis by die aftree-oord was – reg geraai – nie ’n motor nie, maar boeke, boeke en nogmaals boeke. 

Ek was een van die min mense wat hy, veral toe hy voor aftrede na aan die kampus gebly het, toegelaat het om hom op te laai êrens heen ná aanvanklike teëstribbeling. Die eerste keer het hy so byna ’n gat deur die passasiersitplek se voetpaneel getrap soos hy vasgeskop het – vir ingeval ek ’n woeste bestuurder sou wees. Later jare was hy heel ontspanne as hy saamry. In Hoeke boerseuns ons was lees ’n mens van hom as klein seuntjie wat sy eerste motorkar te siene kry wat met ’n opskiet van klippe op die plaaswerf ’n swierige draai voor die omstanders gooi en hy wat onder sy ma se lang rok skuiling soek teen die meganiese gevaarte.

Foto: Jaap Steynsingel-naambordjie in Langenhovenpark, Bloemfontein (C Swart)

Hy het gereeld later jare in die besige Wynand Moutonstraat afgestap vir oefening en hy is gereeld met twee sakkies kruideniersware (een van die oudkollegas het daarna verwys as “twee emmertjies melk”) weerskante vir balans gesien. Prof Jaap se bejaarde moeder het later, tot haar oorlye in haar negentigs, by hom gebly. Ek onthou hoe hy hom ’n keer of wat uit ’n vergadering kort voor middagete  verskoon het omdat sy moeder laat weet het dat die kos op die tafel is ...

Wat ’n voorreg om met my verjaarsdae gereeld ’n getekende eksemplaar van so ’n groot gees se nuutste pennevrug te kon ontvang. Sy boeke is beskeie, amper verskonend (maar natuurlik deur my hoogs gewaardeerd), as geskenk aangebied. 

........

Hy was selfs by kongresse onbewus van hoe sy verreikende referate ’n totale kongres se denkrigting kon bepaal (dit was vir hom suiwer hel om voor mense te praat en hy kon maklik ’n hele waterkraffie weens spanning leegdrink tydens sy referate).

..........

Hy was selfs by kongresse onbewus van hoe sy verreikende referate ’n totale kongres se denkrigting kon bepaal (dit was vir hom suiwer hel om voor mense te praat en hy kon maklik ’n hele waterkraffie weens spanning leegdrink tydens sy referate). Dit was ’n ongewone voorreg om as jong akademikus saam met swaargewigte soos Jaap Steyn en Hennie van Coller oor GR von Wielligh se literêre en taalkundige nalatenskap in Afrikaans referate te kon lewer by ’n Neerlandistiekkongres en later by NALN, waar daar ook opnames van gemaak is. Later jare het prof Jaap slegs periferale sig gehad en was sy vergrootglas sy bondgenoot tydens kongresse en praatjies, maar dit was amper vir my of dit sy spanning ietwat verminder het in die laaste jare en of hy later nie eers meer op sy aantekeninge daarmee gekyk het nie en baie gemakliker uit die hart met gehore omgegaan het. Tydens die literêre stadsbustoer saam met NALN in sy 80ste lewensjaar het hy onderhoudend aan ’n bus vol kultuurmense die stad se geskiedenis vertel. 

Jaap Steyn se beskeidenheid was wyd bekend en die volgende herinnering onderstreep die feit deeglik: Langenhovenpark, die woongebied in Bloemfontein waarin ek bly, vereer groot skrywers in Afrikaans deur hul  straatnaamborde. In die laat negentigs pyl ek met jeugdige opgewondenheid op my kollega prof Jaap Steyn af met my mik-en-druk-kameratjie met ’n foto van die bordjie met “Jaap Steynsingel" daarop wat ek pas ontdek het en vra of hy al sy singel in Langenhovenpark gesien het en of hy vir my by sy bordjie sal poseer as ek hom sy straat gaan wys. Hy verkleur in vele tinte van verleentheid en stry my op dat die straat nie na hom vernoem is nie.

"Nou maar na wie dan? Dis almal strate van groot skrywers," wil ek ongelowig-onseker weet. 

"Daar was ’n ánder Jaap Steyn. Die straat is na hom vernoem." 

Ek glo hom amper met plattelandse goedgelowigheid in wat hy as prof my probeer wysmaak. 

"Is die ander Jaap Steyn ook ’n groot skrywer?"

Klein glimlaggie. "Nee." 😏 

Vir my was dit altyd ’n groot aanmoediging as prof Jaap, ’n kultuurgees by uitstek, oor jare heen tred gehou het met my kultuuraktiwiteite en groot waardering en aanmoediging uitgespreek het vir betrokkenheid by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, NALN, die Vrouemonumentkommissie, Provinsiale Geografiese Namekomitee, Bybelgenootskap, ens se aktiwiteite. Ek is baie dankbaar dat daar uit akademiese geledere drie jaar gelede vir hom ’n huldigingsbundel vir sy 80ste verjaarsdag gemaak is waarin akademiese en kreatiewe hulde uit vele oorde gebring is en ek ook my hulde in die digformaat wat hy so goed bemeester het in sy gedigte, naamlik vernufspoësie, kon bring. Al het die oorhandiging van die huldigingsbundel hom baie verleë gelaat, en al wou hy nie die aandag op hom gevestig hê nie weens sy kenmerkende beskeie ingetoënheid, vertrou ek hy het tog besef hoe geliefd hy werklik was en hoe belangrik sy akademiese, vakkundige en literêre bydrae in Afrikaans werklik is. 

Hierdie groot seder se val gaan nog lank deur die literêre en akademiese bos weergalm. Rus in vrede, prof Jaap ...

Ongepubliseerde gedig deur Corlietha Swart aan Jaap Steyn

 

Lees ook:

Jaap Steyn – ’n huldiging

’n Persoonlike huldeblyk aan Jaap Steyn

Skoon wasgoed: Hoeke man hy was, JG Steyn (1938–2021)

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top