Skoon wasgoed: Hoeke man hy was, JC Steyn (1938–2021)

  • 3

Voorblad van Hoeke boerseuns ons was: verskaf; foto van Jaap Steyn: LitNet

.........

Met die onlangse afsterwe van JC (Jaap) Steyn kon jy uit die huldeblyke en kommentare geen twyfel hê oor die statuur van hierdie man nie. Gemeen aan alles wat mense oor hom gesê het, is dat hy ’n reus onder die reuse was: van intellek, van werk in sowel volume as kwaliteit, in die diepgang van sy insigte, in sy integriteit, beide as mens en as akademikus.

..........

Met die onlangse afsterwe van JC (Jaap) Steyn kon jy uit die huldeblyke en kommentare geen twyfel hê oor die statuur van hierdie man nie. Gemeen aan alles wat mense oor hom gesê het, is dat hy ’n reus onder die reuse was: van intellek, van werk in sowel volume as kwaliteit, in die diepgang van sy insigte, in sy integriteit, beide as mens en as akademikus.

Wat des te merkwaardiger is as mens hom in lewende lywe meegemaak het. Hy was pynlik skaam en ongemaklik in geselskap, en so beskeie dat hy byna sigbaar weggekoes het wanneer daar iets waarderends oor hom gesê is. Hy was nie groot van gestalte nie, asof hy hom so klein moontlik in die wêreld wou dra. En dan was dit asof hy hom nóg kleiner wou maak wanneer die aandag in die geselskap na hom toe verskuif.

Jy sou jou egter kwaai misgis as jy hom in die gees aansien soos hy hom in die vlees voorgehou het. Hy was so belese dat hy iets onderhoudends oor omtrent alles mee te deel gehad het. Hy kon begeesterd en oortuigend vertel, met ’n egtheid wat jou aangetrek het. Hy het sekerlik die krag van taal in vertelling geken.

Met sy kriewelrigheid onder die kalklig is dit te verwagte dat hy eerder onder lamplig die tuiste in sý taal sou soek, en vind. Sy hele formidabele oeuvre is daarvan getuie: digkuns, kortverhaal, roman, biografie, geskiedskrywing, akademiese werk in taalgeskiedenis en -sosiologie. Tussen al hierdie monumentale werke moet jy gebukkend soek na ’n beskeie boekie waarin hy, buiten sy outobiografie, Sonkyker, miskien die naaste aan skryf oor homself gekom het. Soos die volkshuisie wat in die groeiende stad omring geword het van toringgeboue maar verseg het om bes te gee.

.........

Tussen al hierdie monumentale werke moet jy gebukkend soek na ’n beskeie boekie waarin hy, buiten sy outobiografie, Sonkyker, miskien die naaste aan skryf oor homself gekom het. Soos die volkshuisie wat in die groeiende stad omring geword het van toringgeboue maar verseg het om bes te gee.

.........

Dié boekie heet Hoeke Boerseuns ons was (1991), en dit was my voorreg by Tafelberg-Uitgewers om Jaap se redakteur te wees. Die werk saam aan die bundel vertellings was so aangenaam as wat enige van my beste ervarings as boekredakteur was. Die skryfwerk is dié van ’n fyn stilis, ’n beskaafde mens en iemand met dieselfde grasie van oog, hart en hand. Maak jy ’n voorstel, soos ’n woordkeuse of ’n frasering, gryp hy dit entoesiasties aan indien hy dit so insien. Indien nie, wys hy dit ferm maar hoflik van die hand.

Een so ’n voorstel gee my steeds vreugde. Daar was ’n gesoek vir ’n titel vir die boek, soos so dikwels met boeke wat mens so helder insien dat dit moeilik is om ’n naam daarvoor te gee. En soos so dikwels lê die titel klaar iewers in die teks. Toe ek dit kry, was dit soos om ’n diamant in die diggings te vind: “… hoeke Boerseuns ons was”. Jaap het dit onmiddellik ingesien en aangegryp. Dis volks, dis innig, dis humoristies, trots en tog beskeie. Alles wat die boekie is.

En so, rondom die teks voorhande, kom daar ’n klein gemeenskaplikheid tot stand waarin die verwysingspunte die teks, die skrywer en die redakteur is. Dit is werk van groot intimiteit, want dit stip albei se volledige aandag op een plek in een oomblik toe. In een van haar teologiese essays beskryf die groot Amerikaanse skrywer Marilyn Robinson wat die konsep heiligheid vir haar beteken: reslose teenwoordigheid aan en by iets, in een oomblik, in ons ondermaanse wêreld. So, in elk geval, was dit dikwels vir my om met ’n skrywer en sy of haar boek te werk.

Dit vra nie persoonlike ontboeseming nie, want dis nie dáárdie soort intimiteit nie. Soms kom dit vanself, ongedwonge. In Jaap se geval sou dit nie gebeur nie. Tog skemer daar genoeg in die stories deur van die adolessent en die jong man Steyn se blik op die wêreld, en die kyk wat hy van die wêreld se kant terug op homself ervaar.

Een so ’n oomblik bly my by: ’n treinreis deur die platteland. Ons leef in ’n tyd waarin nasionale treinroetes op deurgeslyte spore loop, streeksroetes vinnig verdwyn en plaaslike roetes weg is, die stasiegeboue geplunder en die spore verkwansel. En dit sal nooit herstel word nie. Die verlies aan beskawing en verbinding wat ons danksy treine gehad het, is om van te versmoor.

Gelukkig kon die jongman Steyn die trein na sy bestemming neem. Hy kon dekades later daaroor skryf. En ons kan dit nóg dertig jaar later steeds lees. Van hoe die sonlig vertederend oor die aantreklike gesig van ’n slapende reisgenoot op die groen treinbank skuif. Die onuitgesproke verlange in metafoor uitgedruk deur ’n lewenslange enkeling.

Werk afgehandel, moes ek Jaap die agtermiddag na Kaapstad se lughawe neem. Hy was Bloemfonteiner en daarheen sou hy na elke uitvaart terugkeer. Van daar af sou die werk van sy hande oor die land heen uitwaaier. Synde nog ’n groentjie met net een begeerte, naamlik om my in die volheid van die rol van boekemens te klee, neem ek Jaap eers vir ete in La Perla, die restaurant wat volgens my wete die vermaardste onder skrywers en uitgewers was, en een van die bestes in die stad.

Dit was my eerste fout. Vir Jaap kon jy nie vermaak kry met asemrowende see-uitsigte of smakkende cuisine nie. Fout nommer twee was om hom die onderwerp van enige viering te maak, hy wat so tot die uiterste selfwegsyferend was. My derde fout was om ’n plek aan die ander uiteinde van die stad as die lughawe te kies. Die hele ongemaklike ete deur het hy gesit en vroetel, eintlik gewriemel, en op sy horlosie gekyk.

.........

Hy wou drie uur voor sy vlug op die lughawe wees, en van Seepunt af Matroosfontein toe is ’n lang rit om die berg en deur die stad. En netnoumaar begin die agtermiddageksodus suide toe.

.........

Hy wou drie uur voor sy vlug op die lughawe wees, en van Seepunt af Matroosfontein toe is ’n lang rit om die berg en deur die stad. En netnoumaar begin die agtermiddageksodus suide toe.

Toe ons uiteindelik in die vertreksaal staan, pluk Jaap sy tas van die trollie af en plak dit op die vloer neer. Op sy knieë sukkel hy die knippe senuweeagtig oop en vroetel vervaard tussen sy persoonlike effekte.

Toe hy nie kry wat hy soek nie, begin hy uitpak. ’n Bondel hemde, twee skoene, ’n boks met ’n bevrore snoek, ’n bos proteas. Plat op die vloer ’n man met byna sy hele tas rondom hom uitgepak, ’n ander wat verleë bystaan, en reisigers wat al starende draaie om dié toneeltjie loop. A! Hier is dit. En Jaap hou ’n duur, gebokste bottel wyn na my uit. Hy het in sy vol rooster tyd gemaak om vir my ’n geskenk te gaan uitsoek.

Ek het Jaap daarna weer gesien, soos maar gebeur in ons klein bedryfie, staan-staan by boekgeleenthede – ’n lesing, ’n prysuitdeling, ’n bekendstelling. Ons het nou en dan ’n nota uitgeruil. Oor die jare het dit opgedroog. My klein ervaring van hierdie groot gees was soos ’n beskaafde minuut in ’n treinwa onderweg, toe die son vir ’n onbewaakte oomblik helder en ontblotend oor ’n medereisiger skuif, en daarna skaduwee.

Lees ook:

’n Persoonlike huldeblyk aan Jaap Steyn

Elders gesien: Jaap Steyn – "Afrikaans het ’n groot seun verloor"

Jaap Steyn – ’n huldiging

  • 3

Kommentaar

  • Asemrowende stuk! De Jager verplaas altyd die leser. Lank na jy sy slotwoorde gelees het, sit jy nog vasgevang in die moment.
    Daar is iets magies en geweldig aantreklik in Steyn se beskouing van die liefde, en van mense.

  • Francois Verster

    Ek het hom net een keer ontmoet, en tog bly die indruk by my: dis soos Frederik skryf - hy was krimpklein in die vlees, maar steeds het dit nie sy groot gees in die genie-bottel teruggedruk nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top