
Foto deur Jose Antonio Alba van Pixabay
Wie is Annemarie van der Walt? Wat is jou rol by die Boekenaweek? (Net so bietjie meer agtergrond oor jou en jou betrokkenheid by die fees.)
Eerstens is ek seker ’n ongeneeslike leser! Wel opgelei in die joernalistiek, en is die afgelope 22 jaar (sedert my semigrasie na Kaapschehoop in 2004) ook rubriekskrywer, eers vir Beeld (Netwerk24) en nou vir Die Papier.
Daarby is ek jare reeds betrokke by die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees se boekprogramme.
Jy het al op verskillende maniere met boeke gewerk (as joernalis, skrywer en nou ook programorganiseerder). Hoe help dié ervaring jou wanneer jy die Boekenaweek se program saamstel?
Kyk, een van my gunstelingwerke ooit was as boekverkoper. Dit is ’n bietjie soos geheime toordery om die regte boek in die regte leser se hande te kry. En weer eens, as leser bly ’n mens mos maar op hoogte met wat verskyn en laat jy jou deur eie nuuskierigheid lei. Ek gee ook alle eer aan die onderskeie uitgewershuise se hulpvaardige en bekwame bemarkingsmense vir hul bydraes in die samestelling van die program.
Dit is vanjaar die vierde Innibos Boekenaweek. Wat het jy uit die eerste drie naweke geleer, en wat doen julle in 2026 anders?
Om by die begin te begin: Die Boekenaweek op Kaapschehoop het apart van die “hooffees” van Innibos ontstaan in daardie vreemde post-Covid-tyd toe daar beperkings was op groot byeenkomste. Dit was destyds een van verskeie kleiner aanbiedings wat Innibos aangepak het. Die ligging en uitleg van Kaapschehoop leen hom in besonder tot ’n gesellige samekoms waar skrywers en lesers kan skouers skuur – sonder om in ’n motor te hoef te klim, omdat alles binne loopafstand is.
Vanjaar torring ek nie veel aan ’n resep wat werk nie, hoewel ons vroeg wegspring op Vrydag 28 Augustus. Want ek het geleer dit help nie om Sondae gesprekke aan te bied nie, want Saterdagaande se kuiers is lank en dringend ...
Dit is hier ook gepas om die ATKV innig te bedank vir hul borgskap en harde werk om boeke, lees en skrywers te bevorder. Kosbaarder as korale, sowaar.
Die Vrydagprogram lê sterk klem op nie-fiksie en aktuele onderwerpe (Oscar Pistorius: the big lie and the right to a fair trial; Historiese almanak – onthou jy nog?; Parlementpraatjies, ensovoorts). Waarom was dit vir jou belangrik om juis vanjaar soveel ruimte daarvoor te maak?
Die aanbod van plaaslike nie-fiksie is tans besonder sterk en plaaslik is hier ook ’n bedrywige historiese vereniging wat boeke en praatjies met ’n geskiedkundige aanslag goed ondersteun.
Ek glo Graham Coetzer se boek Zama Zama: inside the illicit mining underworld is veral vir ons Laevelders van belang, want ons het daardie kwessie en die gevolge daarvan op ons drumpel.
Van die boeke op die program handel oor groot, sensitiewe sake wat mense sterk aan die praat het. Hoe kies jy die regte persoon om só ’n gesprek te lei en te sorg dat dit nie bloot sensasioneel raak nie?
Hm, ja, ek glo jy verwys onder meer na Chris Marnewick se boek oor die Pistorius-hofsaak. Dit sal die boek se eerste bekendstelling wees tydens die Boekenaweek. Dit was ’n opspraakwekkende hofsaak en Chris as senior advokaat werp lig op van die regsaspekte waaroor daar steeds vraagtekens is. Jana van der Merwe het as verslaggewer die ganse hofsaak bygewoon en het self ’n regsagtergrond. Ek kon aan geen beter gesprekleier dink nie.
Daarby is ’n gesoute onderhoudvoerder en onblusbare leser soos Susan Booyens iemand wat met enige dam se eende kan gesels oor enige onderwerp onder die wye hemel.
Die meeste onderhoudvoerders het ’n joernalistieke agtergrond ... seker ’n geval van: It comes with the territory?
Jy het al genoem dat julle graag meer jonger lesers by die Boekenaweek wil betrek. Watter dele van vanjaar se program dink jy gaan veral by hulle aanklank vind?
Dit is telkens my strewe, inderdaad. In dieselfde asem moet ek noem dat die Laeveld nie bekend is as ’n streek met derduisende lesers en boekkopers nie – ek dink die klimaat is te goed hier ...
Sally Andrew se Tannie Maria-stories het ’n wye aanhang, ook onder die jonger (die o/40-jaar) span. En digters Tom Dreyer en Jennifer Pape is ’n groot pluspunt.
Daar is ruimte vir verbetering, dus.
Die program sluit nie net Afrikaanse skrywers en boeke in nie (Wild things never die en Zama Zama: inside the illicit mining underworld). Hoe besluit jy watter Engelse of ander stemme ook by die Boekenaweek hoort?
Die boeke meld aan en lesers lees ongeag taal. Soos genoem, is Zama Zama in besonder aktueel vir ons omgewing. Sally se Tannie Maria – wie is nié lief vir dié Karoo-tannie nie?
Poësie word vanjaar op meer as een manier aangebied: deur gesprekke, ’n ATKV-poësiewerkswinkel. Waarom wou jy digkuns ook ’n meer praktiese plek in die program gee?
Dit is die tweede jaar dat die ATKV die poësiewerkwinkel aanbied, en verlede jaar het gewys daar is groot belangstelling. Om boonop die Hertzogpryswenner Tom Dreyer as een van die aanbieders te kan hê, is geensins te versmaai nie. Tom en Jennifer Pape het reeds suksesvolle werkwinkels op hul kerfstok.
Digkuns hóórt op enige boekprogram. En pleks van ’n bespreking daaroor, verkies ek om die vloer oop te gooi sodat hulle self daaroor kan gesels, en die woord en wederwoord laat geld in gesprek met mekaar.
Myns insiens is daar ’n oplewing in digkuns, en nie net in Afrikaans nie. Dit het sekerlik met die beroerde stand van onder meer wêreldpolitiek te doene. Selfs ’n droewe gedig is salf vir die gemoed.
Kaapsehoop is duidelik meer as net die plek waar die Boekenaweek aangebied word. Hoe gebruik julle die dorp, sy atmosfeer en sy mense as deel van die ervaring?
Nou ja, hier is ek geensins objektief nie, want dis een van die mooiste dorpe in die land! Al is hier nie ’n supermark of OTM nie (of dalk juis). En vanjaar gaan dit volmaan wees – so dit is ’n groot bederf deur die hemele.
Tyd beweeg dalk so bietjie stadiger hier en dit voel altyd vir my asof die “durende gesprek” – hetsy tussen die feesgangers of met die natuur – net gebeur.
Die naweek bring joernaliste, skrywers, lesers en ander boekmense bymekaar. Hoe behou ’n mens die lekker “kuierkarakter” sonder dat die boeke en gesprekke op die agtergrond beland?
Dis nou nie iets waaroor ek my kop breek nie! Die mense wat die Boekenaweek bywoon, is merendeels eende uit dieselfde dam en ek het volle vertroue in hulle om te “boek” en te kuier.
Frieda van den Heever gaan ook tydens die Boekenaweek sing. Hoe belangrik is dit vir jou om musiek deel van ’n boekenaweek te maak, en wat bring dit na die program wat ’n gewone boekgesprek nie altyd kan doen nie?
Ek kan nie vir jou sê hoe bly ek en Nita Cronjé (van die ATKV) albei is dat Frieda ingestem het om te kom met haar vertoning nie! Frieda is ’n woordkunstenaar. In die volste sin van die woord. Of sy dig, lirieke skryf, oor vers en klank gesels, musiek maak.
Lees ook:
Toyota Innibos Kaapsche Hoop poësiewerkswinkel en boekenaweek

