Sy het haar lewe begin as Meghan Meisters, ’n meisie van Winnipeg met ’n Cree-ma en ’n pa wat Ierse bloed het. ’n Groot figuur in haar kindertyd was haar Cree-oupa, Nimosôm, wat gesê het met haar ligte kleur is “try for white” haar beste opsie. “Hy was nie skaam vir sy bruin vel nie,” vertel sy, “hy wou my net die traumatiese ervarings spaar wat hy gehad het.”
In haar laat tienerjare het Meghan besluit om die ander koers in te slaan en haar inheemse herkoms, Cree en Métis, te verken. Op ’n tradisionele naamseremonie is sy Waseskwan Iskwew ("bloulugvrou”) herdoop. Toe sy begin sing, het sy dit tot iskwē (“vrou”) verkort.
In Los Angeles, New York en oral in Kanada het sy op klubtreffers gesing en eers na agt jaar daarvan het sy kans gekry om haar debuutalbum te maak. Van die eerste snit af is daar iets unieks in haar styl, maar nog nie die sosiale boodskappe wat nou vir haar belangrik geword het nie. Haar inspirasie is “die fundamentele donkerheid wat lewe kry met groepe soos Massive Attack en Portishead as deel van die Bristol-klank, maar ek hou ook van sterk, moedige vroue soos Björk en Erykah Badu.”
Met acākosīk, wat op 8 November uitgereik is, vind sy uiteindelik haar unieke stem. Dis nie elektronika en inheemse tradisies wat meng totdat net ’n generiese world fusion oorbly nie. Die twee elemente en die twee kultuurwêrelde waarin sy leef, staan ewe sterk langs mekaar en dis wat haar laat uitstyg.
Die album is kort, intens en vol emosionele temas. Die eerste kortspeler, “Little Star”, is ’n treurlied vir verlore jong lewens. Sy het dit verlede jaar geskryf nadat twee wit juries in opspraakwekkende moordsake kort na mekaar twee wit beskuldigdes vrygespreek het.
Hul slagoffers was twee inheemse jongmense wat, nog erger, tydens die verhore gruwelik deur die media verdag gemaak is. “Dit het weer vir my gewys hoe ons liggame in dié land geringgeskat word,” sê iskwē.
Ander liedjies gaan oor ’n giftige verhouding en ’n vriend wat aan kanker dood is. Dalk die aangrypendste is “The Unforgotten” oor die miskenning van haar land se eerste nasies. Hier's die eerste vers:
We are the war that's forgotten
We stand up tall against the other side
We are the nation of tomorrow
We are the children who were not afraid to die
Dis vir iskwē hoofsaak dat jy elke woord moet hoor – sy sing hulle nadruklik en maak seker dat niemand kan misverstaan wat sy bedoel nie. “Ek wil dit nie ‘ons en hulle’ maak nie, ek wil ’n gesprek begin,” sê sy in ’n onderhoud.
“The Unforgotten” het net twee verse en die koor is ’n “uh, oh, uh-oh” – ’n pop-cliché, maar met ’n Ojibwe-powwow en die keelsang van Tanya Tagaq bygewerk, bou dit op tot ’n strydkreet wat ’n hart volmaak.
Na al die intensiteit eindig die album met ’n erotiese dubbelsinnigheid. “Night Danger”, verduidelik sy, gaan daaroor dat ons soms alles sien wat ons moet wanneer ons iemand ontmoet, maar dit beteken nie ons bly op ’n afstand nie. “Dis oor dié waarskuwingstekens, die heerlikes en gevaarlikes, en hoe dit soms is, al sien ons dit glad nie, asof die heelal sy eie plan vir ons het.”
Aanhangers sê ’n mens moet haar lewend sien om haar regtig te waardeer. Vir haar konserte dra sy dikwels tradisionele kostuums en versier haarself met simboliese tatoeëermerke. Die verhoog is vol etniese dansers en musikante en sy gebruik die kans om meer oor haar mense te vertel en haar pleidooi vir meer begrip en verdraagsaamheid te lewer.
Met dié album het die bloulugvrou met die sterk, suiwer stem opgeskuif van “een om dop te hou” na ’n ster uit eie reg. Hoe wyd sy gehoor sal word, is ’n ope vraag. Maar sy verdien al die aandag wat sy kry.
*Soek op musiekstrome die album se naam eerder as iskwē s’n, want hulle spel haar naam op allerhande verkeerde maniere.


