Rachid Taha praat vir oulaas uit die hart

  • 0

Leuenaars, diewe, mense wat ander verneder, moordenaars, verdrukkers, bedrieërs, jaloerses, korruptes, winsjagters, is die mense teen wie hy opstaan, het Rachid Taha in sy liedjie “Hassbouhoum” gesing.

Die Engelse vertalings verskil taamlik, maar die sentiment bly duidelik. Vir meer as drie dekades was musiek die Algeryns-Franse sanger en liedjieskrywer se wapen teen alles wat die wêreld ondraaglik en die lewe ’n stryd maak.

Hy was so doeltreffend omdat hy dit altyd met styl en ’n bietjie versagtende humor gedoen het. Een klassieke voorbeeld: toe die Franse parlement in 1980 wette oor Franse burgerskap sou debatteer, het Rachid en sy destydse punkgroep Carte de Séjour (“verblyfpermit”)  ’n anargistiese weergawe van ’n ou Franse patriotiese gunsteling, Charles Trenet se “Douce France”, opgeneem. Lirieke: “Sweet France, dear land of my childhood, I have kept you, cradled with tender carelessness, in my heart …”

Rachid het nie die woorde verander nie, maar baie Franse was vies dat ’n Boheemse Algeryn hulle sentimentele gunsteling met soveel ironie kon sing. Die radio is verbied om die lied te speel, maar nie voordat Rachid kortspelers daarvan laat druk en dit aan parlementslede uitgedeel het nie.

Hy is in 1958 in Sig in Algerië gebore en was tien jaar oud toe sy gesin na Frankryk verhuis het. Sy pa het gaan werk soek, sou Rachid vertel, “maar hy het soos ’n moderne slaaf in ’n tekstielfabriek beland”.

In die 70's het hy sy eie nagklub begin waar sy unieke mengsel van invloede vorm gekry het: op sy speellys was Arabiese pop gemeng met enigiets van Led Zeppelin tot die Egiptiese legende Umm Kulthum. Sy solodebuut was Barbes in 1991. Hy het dadelik die stem van verdrukte, miskende Arabiere in Frankryk geword. Die Engelse kitaarspeler Steve Hillage van Gong-faam het hom later gehelp om grense oor te steek – saam met hom geskryf, vervaardig en met skroeiende kitaarspel sy klank ekstra vonk gegee.

Toe kom die 2001-fliek Black hawk down en Rachid se liedjie “Barra Barra” wat speel terwyl Amerikaanse troepe gereedmaak om in Somalië op eg-Amerikaanse manier “stabiliteit” te bring.

Barra Barra (Out! Out!)
Time has increased, there is no honour left
Barra Barra
Ruin and war and the blood is flowing
Barra Barra
There are only walls left, walls standing up
Barra Barra
Sadness, hate and the reign of arbitrary
Barra Barra
Destruction and jealousy; there is no trust left.

Of Amerikaanse kykers geweet het sy lied is ’n strydkreet teen geweld en verdrukking, is ’n ope vraag. Maar skielik was Rachid ’n internasionale ster van wêreldmusiek en in 2004 het hy die klubs laat kook met “Rock el Casbah”, sy verwerking van The Clash se “Rock the Casbah”.

World fusion kan ’n lelike ding wees – baie van dié genre is ’n geurlose brousel van instrumente en klanke uit ander kulture. Rachid het sy eie en sy aangenome kultuur gemeng sonder dat een van die twee verlore geraak het. Hy het graag dinge gesê wat chauviniste in albei kampe omgekrap het. “Ek hou van couscous, maar ek hou ook van baked beans.” Of: “Ek sê altyd ek lees Arabies van links na regs en Frans van regs na links”.  En: “Swart en wit dieselfde. Arabier en Jood – dieselfde.”

Sy konserte was skouspelagtig, sy lirieke altyd skerp, maar sy musiek, reken die meeste kenners, soms wisselvallig. Daarom is dit goed om te kan sê dat sy 16de en laaste album, Je suis africain, weer Rachid op sy beste is. ’n Paar dae voordat hy ’n video daarvoor sou opneem, is hy skielik aan ’n hartaanval dood. Byna presies ’n jaar later is die album nou uitgereik.

In die titelsnit noem hy Afrika-helde op: “Jimi Hendrix? Africain! Jacques Derrida? Africain! Nelson Mandela? Africain! Bob Marley? Africain!” Ewe treffend is “Wahdi”, met Marokkaanse ritmes, mariachi-trompette en ’n solo deur Flèche Love, ’n Algerynse Switser wat hier in Spaans sing.

Op “Aita”, oor die lot van vlugtelinge, raak hy ernstiger. Maar hy speel gou weer met “Like a Dervish”:  “This is my first song in English … I wanna turn like a dervish, travel the world with no backshish [’n fooi of omkoopgeld], swim like a goldfish.”

Die stem is so grof en warm, uitdagend en speels soos altyd. Dis die stem van iemand wat nie die wêreld wou aanvaar soos dit is nie, maar oortuig was dat dit beter kan word.

Elias Taha het vir Egypt Today vertel sy pa het twee jaar aan die album gewerk. “Dié laaste album is soos hy, in sy uniekheid, in sy waansin, in sy vryheid. Ek hoop julle help om Rachid Taha se lirieke en musiek harder en harder te laat weerklink.”

Kyk na die titelsnit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top