Hans Friedrich Heese, 1944–2024: ’n huldeblyk vir sy vakmanskap en menslikheid
Dit was ’n groot skok om te verneem van die oorlye van Hans Heese op 18 Maart 2024. Hans is gebore op 26 Julie 1944 te Kamieskroon en het sy skoolopleiding op Uniondale ontvang. Hy behaal sy BA-graad en onderwysdiploma (1966) aan die Universiteit Stellenbosch en later in 1974 en 1976 sy MA- en doktorsgraad in Geskiedenis aan die Universiteit van Kaapstad.
Ek het die voorreg gehad om Hans se vader, JA Heese, in die Kaapse staatsargief te ontmoet. Dit was ongeveer in 1965 en Heese senior was besig met omvattende genealogiese navorsing. Hy was toe reeds afgetree as skoolhoof en was op daardie tydstip tydelik aan die NG Kerkargief verbonde. Heese senior het my opgeval as ’n uiters hoflike persoon wat altyd tyd gemaak het om na ’n persoon te luister. Die jare daarna het hierdie indruk bevestig en ons gesprekke het my eie navorsing baie gehelp. Hy was ’n bekende opvoedkundige en bekroonde genealoog. Ek noem dit veral omdat Hans, soos sy vader, ’n hoflike luisteraar, geesdriftige historikus en genealoog was en altyd bereid was om te help.
Nadat Hans sy voorgraadse studie voltooi het, het hy sy loopbaan as onderwyser begin en by vier skole diens gedoen. Sy onderwysjare van 1970 tot 1974 op Windhoek het veral sy belangstelling in Namibië en buurlande se vroeë geskiedenis geprikkel. Van 1976 tot 1998 was Hans as dosent en navorser verbonde aan die Instituut vir Historiese Navorsing aan die Universiteit van Wes-Kaapland waar Leon Hattingh die hoof was. In hierdie jare het Hans sy indringende navorsing oor die rol en status van die gemengde bevolking aan die Kaap (1652–1795) onderneem en in die boek Groep sonder grense (1984/2005) gepubliseer. As ’n neweproduk van hierdie navorsing het hy in 1994 die boek Reg en onreg: Kaapse regspraak in die agtiende eeu die lig laat sien. Hans se deeglike en gedokumenteerde navorsing oor gemengde huwelike en verhoudinge oor die kleurgrens heen het die hewige reaksie van sommige persone weerstaan en die korrekte perspektief daaroor laat seëvier. Sy volgehoue belangstelling in die slawebevolking het ook tot uiting gekom tydens sy latere navorsing wat in 2016 geboekstaaf is onder die titel Amsterdam tot Zeeland: ’n Stellenbosse slawegeskiedenis 1679–1834. Uiteraard het Hans talle artikels vir tydskrifte en koerante gelewer en veral noemenswaardig is sy bydraes tot Kronos, ’n geleentheidspublikasie van die Wes-Kaaplandse Instituut vir Historiese Navorsing.
In 1999 het Hans argivaris van die Universiteit Stellenbosch geword en die volgende paar jaar hom veral toegelê op die digitalisering van die Edrich-fotoversameling. Hierdie skenking aan die Universiteit was ’n besondere en waardevolle aanwins van die Stellenbosse fotograaffirma wat deur die jare honderde foto’s van die publiek en studente geneem en bewaar het. Danksy hierdie nuttige werk is die versameling nou toeganklik en kan ’n foto binne ’n oogwink gevind word.
’n Groot stokperdjie wat eintlik as nog ’n beroep uitgebou is, was Hans se liefhebbery as motorjoernalis en om aan sy motors in sy vryetyd te werk. Elke week was daar in Hans se parkeerplek by die werk ’n splinternuwe motor wat hy vir ’n volle week vir die een of ander tydskrif moes toets en waaroor hy ’n verslag moes lewer. Enkele motors soos die Peugeot 504 was onder sy gunstelinge en Hans kon ’n boek oor alles skryf! Dit is nie so algemeen bekend nie dat Hans ’n geesdriftige bergklimmer was en onder andere die stigter en beskermheer van die bergklub van die Universiteit van Wes-Kaapland was. Hy was ook ’n erelid van die bergklub van die Universiteit Stellenbosch. Sy lidmaatskap van sowat agt vakverenigings moes heelwat tyd in beslag geneem het!
Bowe al was Hans, soos ’n vriend van my dit gestel het, ’n toeganklike mens by wie jy dadelik tuis gevoel het. ’n Mens kon oor enige onderwerp onder die son met hom gesels en natuurlik veral navorsing en motors. Sy seun Johan is vandag ’n geesdriftige nutsman en erken self dat sy pa dit by hom ingeskerp het. Sy kinders is duidelik godsdienstig grootgemaak en ’n plesier om mee te kommunikeer.
Aan sy vrou Melinda en die kinders wil ons, ons diepste meelewing betuig en alles van die beste vir die toekoms toewens.
Jan C Visagie
Somerset-Wes
Lees ook:
Onderhoud: Hans Heese oor Amsterdam tot Zeeland: Slawestand tot Middestand?
Kommentaar
Ik heb met veel instemming dit in memoriam gelezen. Ikzelf ben jaren geleden in het archief gekomen om materiaal over de ere-doctoraten van Stellenbosch te verzamelen. Hans was zeer geïnteresseerd in dit werk en hielp mij waar mogelijk. Ook toen hij niet meer archivaris was, hebben we kontakt gehad als ik in Stellenbosch was. Hij is mij zeer dierbaar. Ik hoop samen met Jan Botha het werk over de ere-doctoraten dit jaar te publiceren. Er is maar een persoon aan wie wij dit kunnen opdragen!