|
Opsomming
Tot 1970 het Afrikanerhistorici die mening gehuldig dat slawerny aan die Kaap ’n ongelukkige verskynsel was, maar dat dit plaaslik op ’n meer humanitêre wyse toegepas is. Om aan hierdie stelling geldigheid te verleen, is daar dikwels verwys na die skynbaar harde en wrede vorm van slawerny wat in die Britse Wes-Indiese Eilande geheers het. Die erge graad van wreedheid daar is toegeskryf aan die voorkoms van “afwesige” plantasie-eienaars wat in Brittanje gewoon het en die beheer op die plantasies aan opsigters oorgelaat het.
Volgens die Afrikanerdenkbeelde was die slawe-eienaars aan die Kaap meer besorg oor die wel en wee van hulle slawe omdat dit tot die eienaar se voordeel sou wees as sy slawe nie weens mishandeling sou dros of sterf nie. Talle slawe sou deel van die huishouding word, en sommiges is deur hulle eienaars vrygestel.
As vertrekpunt om die behandeling en lewensomstandighede van slawe in die Boland te bepaal is ’n databasis van al die slawe teenwoordig in die tydperk 1816–1834 in die groter Stellenbosch-distrik saamgestel. Hierdie databasis (die Boland-slawedatabasis) bevat inligting oor meer as 19 500 individuele slawe. Die inligting is onttrek uit die slaweregisters wat elke eienaar vanaf 1816 wetlik moes byhou en is aangevul deur die inligting van elke slaaf of slavin wat in 1834 nog geleef het en tot 1838 “ingeboekte” werkers in diens was. Die 1816–1834-lys is deur amptenare opgestel wat die slawe se waarde in finansiële terme moes evalueer met die oog op die vergoeding wat slawe-eienaars ná die algehele vrystelling van slawe in 1834 sou ontvang.
Ná 1970 het daar nuwe vertolkings van slawegeskiedenis in die VSA ontstaan, omdat historici kwantitatiewe metodes begin gebruik het om sinvolle gevolgtrekkings, gegrond op massa-inligting, oor die lewensomstandighede van slawe te maak. Van hulle bevindings oor geboortes, sterftes en vrylatings word in hierdie ondersoek vergelyk met die gegewens wat in die nuwe Boland-slawedatabasis gevind word.
Trefwoorde: behandeling van slawe; Boland; Boland-slawedatabasis; geboortes; Kaapkolonie; naamgewing van slawe; slawedatabasisse; slawerny; sterftes onder slawe; vrystelling van slawe
Abstract
Living conditions of slaves in the Boland (Western Cape), 1816 to 1834: a reassessment of currently held perspectives based on a new Boland slave database
For nearly a century the phenomenon of slavery in early South Africa has been a topic of interest for local historians as well as for students of the social sciences. J.L.M. Franken, professor in French at Stellenbosch University, published a series of articles dealing with slaves and their social conditions in a local weekly magazine, Die Huisgenoot, in 1928. A pioneer study in the field was the MA thesis (written in Afrikaans) by A. Janse van Rensburg at the University of Cape Town in 1935. In his thesis, “Die toestand van die slawe aan die Kaap, 1806–1834”, he discussed various aspects of slavery: the slave trade and the sale of slaves; the colonial British view on dealing with slaves and the institution of slavery; the education of slaves and how the Cape legal system dealt with slaves until emancipation in 1834.
In 1950 the Cape archivist Victor de Kock published Those in bondage, a book in which he frequently quoted ad verbum from archival documents dealing with the treatment and living conditions of slaves. Unfortunately he did not include the various sources he had consulted; neither did he make use of footnotes or endnotes for clarification. The most influential and widely read South African history books in the 1960s which touched briefly on slavery as a topic of interest were Geskiedenis van Suid-Afrika edited by D.W. Kruger (1965) and 500 Jaar Suid-Afrikaanse geskiedenis (1968) with C.F.J. Muller as editor. The chapters relevant to the topic, in both publications, had been written by prominent historians. In both works the authors mentioned that the treatment of slaves at the Cape had been more humane than in the West Indies, where plantation owners often lived in England (the so-called absentee landlords) and their estates were supervised by white managers and (often cruel) slave drivers who sought to gain the maximum profit for their landlords.
In 1979 the American historian Richard Elphick and his South African colleague Herman Giliomee, published The shaping of South Africa, 1652–1820. In the latter, American historian James Armstrong contributed a chapter dedicated to the treatment of slaves. A further chapter by Elphick and Robert Shell discussed inter-group relations in which slaves, free blacks, Khoikhoi and settlers featured. In the later Afrikaans edition of the above work (1990), in the revised chapter on slavery by James Armstrong and Nigel Worden, these two historians concluded that slavery in Cape Town was indeed “tempered”, but that this was not the case in rural farming districts in the Cape Colony. They suggested that these arguments should be thoroughly investigated.
What follows is an attempt to examine closely the living conditions of slaves in the rural Boland district, taking as a point of departure the well-documented period of 1816 to 1834, and presenting a reassessment of traditionally held perspectives, based on a recently constructed Boland slave database by this author.
In 1974 the American scholars Robert Fogel and Stanley Engerman published a quantitative-historical study, Time on the Cross, based on statistics from a wide range of databases available to them. One of their aims was to establish the truth of the general belief that “slave breeding” had existed in the USA – young slave girls had been encouraged to give birth at a very young age to increase the profits of the owners. Fogel and Engerman concluded that the existence of breeding farms as a typical phenomenon of USA slavery, had not occurred.
In 2016 the present author published Amsterdam tot Zeeland. Slawestand tot middestand? ’n Stellenbosse slawegeskiedenis, 1679–1834 in which he listed 8 450 slaves emancipated in the Boland. The list was published as an Excel spreadsheet on an accompanying CD ROM.
This dataset was utilised by the Departments of History and Economics at Stellenbosch University where a new study and the building of a new database was undertaken which included data on all the slaves in all the districts in the Cape Colony, including Cape Town. The project listing all the emancipated slaves in 1834 was led by Kate Ekama and was published in 2021 with the title When Cape slavery ended: Introducing a new slave emancipation dataset.
In the meantime the present author continued research on the Boland slaves. After 1816 slave owners were required to keep a precise record of all their slaves, which included details about the acquisition and transfer of slaves, as well as the deaths and births of all children. The entries in this new dataset number 19 500, thus containing sufficient data for a comparison with the findings of Fogel and Engerman as well as later similar studies by Steckel, Vinovskis, Koplan and Sheridan.
Thus the author’s new dataset, Boland-slawedatabasis (Boland slave database), is introduced and utilised in this article.
The method followed in compiling the Boland slave database comprised creating a number of categories/columns which included the following: slaves emancipated in 1834, name of slave, date of registration, age, gender, date of birth, names of mothers of infants, place of birth (e.g. Cape, Mozambique, Batavia), type of work performed, surname and name of owner, date of death, date manumitted, date of transfer and name of new owner, monetary value of slave in 1834 in pounds, and place of residence. Having this information available, it was possible to compare the living conditions of Boland slaves with those of slaves elsewhere as recorded by other, chiefly American, researchers of slavery.
The first comparison was based on the findings of Fogel and Engerman, analysing the age of slave women at the births of their firstborn children. The result was a very high correlation between the two sample groups.
This was followed by a comparison of the infant mortality rates expressed as percentages, and it was found that by far the highest number of deaths occurred during the child’s first year, followed by a slightly smaller number during the second and third years of age, before the percentage tapered off steeply and continued at a low rate until the age of 13.
Other findings dealt with the periods between the births of children of a single mother, the frequency of deaths during calendar months and seasons, the age at death according to place of origin or birth, the monetary value of individual slaves or by age group, the naming of slaves, the manumission of slaves and the various conditions attached to manumission, as well as ages at manumission.
In conclusion it may be stated that Armstrong and Worden were correct in their statement that “slavery in Cape Town was indeed ‘tempered’”, but wrong in their assumption that “it was not the case in rural, farming districts in the colony”. Their suggestion that “these arguments should be thoroughly investigated” was taken up by the present author. He suggests that their assumptions are proved to be wrong by offering a detailed analysis of the living conditions of 19 500 slaves in the Boland rural district; unless, he posits, this district is atypical and not reflective of other districts up country.
Keywords: births; Boland; Boland slave database; Cape Colony; emancipation of slaves; naming of slaves; slavery; slave databases; slave mortalities; treatment of slaves
1. Inleiding
Die afgelope twee dekades is gekenmerk deur periodieke opflikkerings in die skryf van plaaslike slawegeskiedenis. In 2016 is ’n bondige opsomming van die belangrikste publikasies oor slawerny aan die Kaap, wat tot op datum vryelik beskikbaar was, asook elektroniese databasisse wat ook deur die internet opgeroep kan word, gepubliseer (Heese 2016:iii–x). Die belangrikste van die vroeëre databasisse is veral dié van Rob Shell (2007).
2016 het saamgeval met die 100ste herdenking van die jaar waarin die Kaapse koloniale regering, ingevolge ’n afkondiging van 26 Augustus 1816, opdrag gegee het dat elke slawe-eienaar sy slawe by die plaaslike owerheid moet registreer en volledig moet boek hou van sy slawe ten opsigte van geboortes, sterftes en verkope. Hierdie en ander slaweverwante sake het later onder die toesig van ’n beampte, die inspekteur van slawe, geval. (Volgens Ordonnansie 19 van 19 Junie 1826 is hierdie sake onder die toesig van ’n registrateur van slawe en ’n voogdyskap-amptenaar geplaas, en daar is amptenare in al die verskillende distrikte hiervoor aangestel (Shell en Rugarli 2008:43).
Sedert 2016 het nuwe ondersoeke oor slawerny die lig gesien. Die Universiteit Stellenbosch (US) se Departemente Ekonomie en Geskiedenis het ’n belangrike bydrae gelewer met ’n gesamentlike projek oor die vrystelling van slawe in 1834 waarin die meeste ekonomiese aspekte rondom slawerny aangespreek is (Ekama, Fourie, Heese en Martin 2021). Hierdie publikasie, en die databasis waarop dit gebaseer is, berus op die volledige lys van slawe wat in 1834 geleef het en deur rondgaande waardeerders in al die verskillende landdrosdistrikte van die Kaapkolonie saamgestel is. Hierdie naamlys het inligting soos die ouderdom van slawe, hoe hulle arbeid aangewend is, en die finansiële waarde van die slawe vir die eienaars, bereken in ponde of riksdaalders, bevat en is na Londen gestuur. Die finale vergoeding wat aan die Kaapse slawe-eienaars toegesê is, was aansienlik laer as wat die voormalige slawe-eienaars oorspronklike verwag het.
My betrokkenheid by die Ekama-projek het die verskaffing van die gegewens oor slawe wat in 1834 in die Boland (Stellenbosch-distrik) vrygestel sou gewees het, behels. Hierdie digitale data, wat as addendum tot my publikasie Amsterdam tot Zeeland, slawestand tot middestand? (Heese 2016) gepubliseer is, is opgeneem in die groter Ekama-databasis, wat soortgelyke inligting uit al die ander Kaapse distrikte bevat. Na die publikasie van die 1834-databasis in 2016 het ek voortgegaan om die gegewens van tussen 1816 en 1833 by te werk, en so het die Boland-slawedatabasis ontstaan wat alle slawe in die Boland van 1816 tot 1834 omvat.
Die Boland-slawedatabasis kan beskou word as die resultaat van ’n opvolgstudie van die Amerikaners Robert Fogel en Stanley Engerman se publikasie Time on the Cross (1974). Fogel en Engerman het statistiek uit ’n verskeidenheid databasisse onttrek om die ekonomiese faktore van slawerny, en die talle tradisionele beskouings in die VSA rondom hierdie onderwerp, kwantitatief te ondersoek en te herevalueer. In Suid-Afrika het dit weerklank gevind by historici soos Leon Hattingh (1983), Nigel Worden (1985) en Rob Shell (2007).
Ekama en haar medewerkers (2021) het hoofsaaklik op die ekonomiese aspekte van slawerny gekonsentreer; so ook ander ondersoeke wat op die Ekama-studie gevolg het. Voortspruitend uit die inligting uit die Ekama-databasis het daar byvoorbeeld in die loop van 2022 ’n artikel deur Igor Martins, ’n medewerker van die Departement Ekonomie aan die US, en ander genote onder die titel “Legacies of loss: The health outcomes of slaveholder compensation in the British Cape Colony” verskyn. Hierin is die langtermyn-effek van vergoeding vir gewese slawe van slawe-eienaars ondersoek (Martins, Cilliers en Fourie 2022).
In die huidige artikel word gepoog om opnuut weer die “tradisionele” beskouing, naamlik dat die stelsel van slawerny aan die Kaap minder wreed was as byvoorbeeld dié in Wes-Indië, onder die loep geneem.
Anders as in die jongste ondersoeke oor slawerny wat die afgelope paar jaar verskyn het, en dikwels gebaseer was op die materiële en finansiële aspekte van slawerny, val die klem in hierdie ondersoek op die sosiale en familiale aspekte. Die huidige ondersoek is op die Boland-slawedatabasis gebaseer. Anders as die onlangse ondersoeke, waarin van kwantitatiewe metodes gebruik gemaak is om tot gevolgtrekkings te kom, is hier eenvoudige rekenkundige metodes gebruik om die tradisionele historiese sienings opnuut te ondersoek.
2. Nuwe slawedatabasisse
Die databasis van Ekama en haar medewerkers dek die gegewens van 37 411 individuele slawe en 6 215 eienaars wat oor al die distrikte in die Kaapkolonie versprei was (Ekama e.a. 2021:4).
In 2018 is begin om ’n nuwe slawedatabasis vir slawe in die Boland (die groter Stellenbosse-distrik) op te bou. Hoewel grootliks gebaseer op die databasisse van Heese (2016) en Ekama e.a. (2021), is daar in die Boland-slawedatabasis heelwat méér inligting as in die bestaande Kaapse databasisse ingesluit. Die slawe wat tussen 1816 en 1834 gebore is, reeds gesterf het, asook die talle gevalle waar slawe van eienaar verwissel het, is by die nuwe databasis geïntegreer. Op hierdie wyse het inskrywings in die databasis in Amsterdam tot Zeeland (2016) vanaf 8 450 inskrywings tot meer as 19 500 toegeneem. Hierdie getal is egter optimisties, omdat individuele slawe wat deur hulle eienaars verkoop is, ook as die eiendom van nuwe eienaars verskyn en hierdeur gedupliseer is. Die oorgrote meerderheid van verkoopte slawe is aan nuwe eienaars in die Bolanddistrik oorgedra, dikwels aan familielede, maar ook aan boere in die oostelike grensdistrikte. Verskeie slawe en slavinne is ook aan nuwe eienaars in Kaapstad verkoop. Verder is daar ook talle slawe en slavinne in die tydperk vóór 1834 deur hulle eienaars vrygestel en verskyn hulle name dus nie in die databasis nie.
’n Belangrike toevoeging tot die Boland-slawedatabasis is die invoeg van geboortedatums en sterfdatums van kinders van slavinne. So ook die soort werk wat jong slawekinders moes verrig terwyl hulle amptelik eintlik as kinders beskou moes gewees het. Verder is die groepe slawe en slavinne wat getroud is, asook die slawe wat deur hulle eienaars vrygelaat is, en die redes vir hulle vrystelling, ook ingesluit.
Op grond van die gegewens uit die Boland-slawedatabasis het daar reeds in 2020 ’n artikel oor die herkoms van Kaapse slawe die lig gesien (Heese 2020). Hierin is die persentasies van ingevoerde slawe vanuit Asië en Afrika vir die tydperk 1816–1834 weergegee.
3. Tradisionele beskouings oor slawerny aan die Kaap
Met die inligting wat uit die nuwe databasisse onttrek kan word, kan die geldigheid van die tradisionele beskouings wat tot die 1960’s deur Afrikanerhistorici gehuldig is, gekontroleer word.
Die algemene beskouing oor die toestand en behandeling van slawe aan die Kaap word deur Grundlingh (1965:176) verwoord:
Tog het die slawerny aan die Kaap in belangrike opsigte radikaal verskil van dié in ander dele van die wêreld.
En verder: Anders as in tropiese plantasiekolonies, soos die Wes-Indiese eilande, waar die winsmotief oorsaak was dat slawe-arbeid wreed uitgebuit is, het die Kaapse slawe in ’n aangename klimaat geleef en die werk van gewone plaasarbeiders en huisbediendes gedoen. Hier het die slawe nie, soos op die Wes-Indiese eilande, in spanne onder toesig van ’n drywer met ’n sweep geswoeg nie. Aan die Kaap was daar geen ryk plantasie-eienaars nie wat in weelde in die moederland geleef het onderwyl die plantasie-opsigters en hul handlangers na hartelus kon bak en brou. In die Kaapkolonie was die slawe-eienaar ook die slawe-opsigter en was dit in sy eie belang om sy slawe menslik te behandel.
Bostaande sienswyse is in essensie deur Kotze (1968:116–7) gedeel:
Die filantrope het die Kaap oor een kam geskeer met die Wes-Indiese kolonies waar slawerny in al sy onmenslikheid voorgekom het. Eintlik was die filantropiese veldtog teen die slawerny op die Wes-Indiese kolonies gerig, terwyl hul belangstelling in die welsyn van inboorlinge in hoofsaak op die Kaap gemik was. Terwyl die plantasieslawerny van Wes-Indië meegebring het dat slawe veelal soos diere behandel is, is dit in Brittanje deur die suikerbelange beskerm.
En verder:
Die Kaap is gevolglik getref deur ’n reeks slaweregulasies wat hoegenaamd nie rekening gehou het met sy groot afstande, met sy skrale bevolking en met menslikheid waarmee sy slawe as huisbediendes, plaas- en geskoolde arbeiders behandel is nie.
Die kwessie van die afwesige plantasie-eienaars in Wes-Indië, en die swak behandeling van hul slawe, is in 1964 deur ’n Karibiese historikus, Douglas Hall, beaam: “[T]here is hardly a commentator or a historian of the British West Indies who did not point to absentee-proprietorship as a major source of distresses of these colonies in the nineteenth century or earlier” (in Sheridan 2002:245, 261). Hall bevestig dus tot ’n groot mate die beskouings wat die Afrikanerhistorici oor slawerny in die Wes-Indiese eilande gehuldig het.
Die stellings van Grundlingh en Kotze oor afwesige eienaars is egter nie heeltemal korrek nie; welvarende boere in die Boland het meer as een plaas gehad en het wit opsigters vir hul bykomende plase gehuur. In een geval het die oudheemraad Johannes Louw van Babylonstoren reeds in 1760 twee plase by die Hantamberg besit: De Groote Vlakte en De Drie Kuijlen. Hier het vier slawe die beheer van die veeboerderye selfstandig bedryf: January en Anthony van Malabar, October van Bengale en Barcat van Boegies (Heese 2016:36, 134).
Die historici James Armstrong en Nigel Worden het later met ’n ander siening na vore gekom en verklaar:
Slawerny aan die Kaap is soms deur sowel tydgenote as latere historici as “getemper” van aard beskryf. Hierdie uitsprake is egter dikwels op foutiewe aannames gebaseer. Die een is dat huisslawe in Kaapstad tipies was van die hele kolonie. Klaarblyklik was dit nie die geval nie, en soos verskeie skrywers van die tydperk opgemerk het, was die behandeling van die verskillende klasse van slawe aan die Kaap, nie dieselfde nie en het die mense van Kaapstad hul slawe oor die algemeen goed behandel in vergelyking met die boere van die platteland.
Dan verder: “Hierdie argumente moet van naderby ondersoek word” (Armstrong en Worden 1990:153).
Laasgenoemde opmerking is ’n belangrike motivering vir die onderneem van hierdie ondersoek.
4. Die opkoms van kwantitatiewe metodes en slawedatabasisse in die VSA
Fogel en Engerman se Time on the Cross (1974) het statistiek uit ’n verskeidenheid databasisse onttrek om die ekonomiese faktore van slawerny, en die talle tradisionele beskouings in die VSA rondom hierdie onderwerp, kwantitatief te ondersoek en te herevalueer. Hulle bevindings het heelwat debat ontlok, omdat hulle die verskynsel van slawerny, volgens kritici, as minder wreed sou voorgestel het.
Ondersoekers soos Steckel (1979), Vinovskis (1979), Koplan (1983) en Sheridan (2002) het ook kwantitatiewe metodes gebruik om die lewenskwaliteit en behandeling van slawe, teenoor diegene in vrye gemeenskappe, te bepaal. So ook die onlangse publikasie van die ekonoom van slawe-afkoms, Trevon D. Logan (2022), wat uit sy ervaring as swart Amerikaner nuwe perspektiewe na vore bring oor die produktiwiteit van manlike en vroulike slawe. Van hierdie studies het verskillende aspekte van slawerny ondersoek. Die mees voor die hand liggende verskynsel van Amerikaanse en die Suid-Afrikaanse datastelle is die ongelyke getalsverhoudings tussen slawe en slavinne. Verder ook die aantal kinders van slavinne en die intervalle tussen geboortes. Ook die persentasie sterftes van suigelinge (“infants”) en kinders en die seisoenale voorkoms van sterftes oor ’n kalenderjaar het nuwe navorsing en resultate tot gevolg gehad.
In die ondersoeke is daar vergelykings getref wat die rol van verskillende soorte voeding op die lewensverwagting van slawe gehad het. Dit sluit ook die rol van die geografiese ligging van slaweplantasies in. In die Amerikas, met wisselende klimaatstoestande, was laagliggende streke en gebiede met hoë reënval meer bevorderlik vir tropiese siektes. Hierdie twee faktore was nie op die Bolandse slawe van toepassing nie; almal het in ’n matige Mediterreense klimaatstreek gewerk en gewoon en het basies dieselfde dieet as hulle eienaars gevolg.
Die Boland-slawedatabasis bied die geleentheid om die statistiek ten opsigte van geboortes en sterftes van suigelinge en die geboorte-intervalle van slavinne in die Kaapkolonie te vergelyk met bevindings in soortgelyke ondersoeke oor slawerny in Suid-Amerika, Wes-Indië en die suidelike state van die VSA (Koplan 1983; Steckel 1979). Die byhou van slaweregisters, soos aan die Kaap, het in 1817 in Grenada verpligtend geword en is ook tot 1834 bygehou.
Jeffrey Koplan, ’n medikus, kon die bronne in die Public Record Office in Kew, Londen in die argiefgroep Grenada Slave Registration, “Increase and Decrease”, 1817–1834, vir sy ondersoek gebruik. Die gegewens in die registers bevat belangrike inligting wat nie in die Kaapse registers voorkom nie, naamlik die siekte of omstandighede vir die dood van elke slaaf of slavin of slawekind (Koplan 1983:312). Ongelukkig het hy net die slawegegewens vir die jare 1817 (214 gevalle) en 1818 (1 040) in sy vergelykende ondersoek benut.
Die omvang van die plantasies van afwesige eienaars in Wes-Indië wat ná 1834 vergoed is vir hulle vrygestelde slawe, was soms enorm. John Gladstone, wie se kinders en nageslag prominente politici in Brittanje geword het, het nie minder nie as 11 plantasies in Wes-Indië en Brits-Guiana besit. Op sy plantasie Vreedenhoop (in ’n voormalige Nederlandse gebied) het sy 415 vrygestelde slawe aan hom ’n kontantbetaling van £22 443 19s 11d besorg. Volgens die University College of London se databasis by die Centre of the Study of the Legacies of British Slavery (LBS) het Gladstone, met sy slawe op die ander 10 plantasies ingereken, se totale vergoeding op £112 725 te staan gekom (https://www.ucl.ac.uk/lbs/estate/view/976). Die grootte van hierdie tipe plantasies, wat uitsluitlik op slawe-arbeid berus het, kan natuurlik nie met die voorkoms van die amper minuskule slawegetalle op die deursnee- Kaapse of Bolandse plase of dorpe vergelyk word nie.
Van die aspekte wat hulle as onderwerpe vir hul ondersoeke oor slawerny gekies het, was die beskouing dat talle eienaars van slavinne hulle slavinne vanaf ’n baie jong ouderdom op verskillende maniere aangemoedig het om aan slawekinders geboorte te skenk. Sodoende kon hulle hul aantal slawe vermeerder en dus hulle kapitaal op ’n “natuurlike” wyse laat toeneem. Hierdie beweerde verskynsel is deur Fogel en Engerman (1974:78) as die mite van “slave breeding” beskryf. In Kaapse terminologie sou dit beteken dat eienaars hulle plase as “teelkolonies” vir slawe sou benut het.
5. Ouderdom van slavinne by geboorte van hulle eerstelinge
Van Fogel en Engerman se eerste ondersoeke was om vas te stel of die tradisionele idee dat daar “teelkolonies” in die VSA bestaan het, op betroubare bronne gegrond was en nie slegs op enkele individuele gevalle nie. Hulle bevindings het kritiek uitgelok veral omdat hulle aangetoon het dat die winsmotief by hierdie misbruik afwesig was (Fogel 1974:138).
Hierdie Amerikaanse bevinding kan met gegewens en data uit die Boland-slawedatabasis vergelyk word. ’n Ontleding van geboortestatistieke van 8 904 slavinne in die Boland het geen ongewoon lae ouderdomme vir slavinne, van wie sommige op ’n baie jong ouderdom reeds kinders gehad het, getoon nie. Die Bolandse gegewens stem ooreen met dié van die Amerikaanse studie, met slegs geringe afwykings. Die grafiek van Fogel en Engerman word hier onder weergegee, gevolg deur drie grafieke om die plaaslike voorbeelde te illustreer.
Die indeling in ouderdomsgroepe is volgens die model van Fogel en Engerman gemaak: vroue jonger as 15, 15–19, 20–24, 25–29, 20–34 en ouer as 35 jaar.
Figuur 1. Ouderdomsgroepe uitgedruk volgens persentasies. Gebaseer op Fogel en Engerman (1974:138)
Vir die doel van hierdie vergelyking is talle slavinne op die Boland-slawedatabasis uit die datastel weggelaat omdat hulle self nog kinders was, of géén kinders gehad het wat in die slaweregisters aangeteken is nie. Gevolglik is die getal van 8 904 vroue verminder tot 1 808 om slegs slavinne en eerstelinge in te sluit. Die Bolandse patroon is soos volg:
Figuur 2. Verspreiding van slavinne se ouderdom by geboorte van eerstelinge. N=1 808.
Die grafiek kom grootliks ooreen met dié van Fogel en Engerman, met die enkele verskil dat daar in die groep 35 en ouer ’n afname is.
Met die deurgaan van die databasis is daar gevind dat daar duplisering van die name van slavinne plaasgevind het. Die rede is eenvoudig: Slavinne is deur hulle eienaars verkoop en dan verskyn hulle name weer as die eiendom van ’n ander eienaar. Die tweede of derde eienaar het dan slegs die kinders wat onder nuwe eienaarskap gebore is, in die registers aangeteken. Hierdie latere geboortes is dan as eerste kind vermeld, terwyl die vrouens intussen heelwat ouer geword het en kinders gehad het toe hulle by hulle vorige eienaars ingeskryf was.
’n Nuwe lys is daarom opgestel waarin die tweede eienaars geëlimineer is. Na hierdie eliminasie van dubbele inskrywings is die gevalle van 1 808 tot 1 614 verminder. Ten spyte van die verfyning van die data het die resultaat steeds dieselfde gebly.
Figuur 3. Verspreiding van slavinne se ouderdom by geboorte van eerstelinge nadat dubbele inskrywings geëlimineer is. N=1 614.
In bogenoemde gevalle is al die slavinne aan die Kaap gebore en het as “Van de Kaap” bekend gestaan. Daar was egter ook ’n groot aantal slavinne wat in Mosambiek gebore is. Omdat hulle almal voor die verbod op die invoer van slawe na Britse kolonies in 1806 aan die Kaap was, was hulle per definisie ’n heelwat ouer groep as die Kaapgeborenes. Boonop is daar vóór 1816 nie boek gehou van die name van slavinne nie, slegs die kinders s’n. Die name van die moeders van slawe is dus nie voor 1816 opgeteken nie. Weens die feit dat al die slawekinders van Mosambiek wat voor 1816 gebore is, uitgesluit is, verskyn daar geen data vir die ouderdomsgroep onder 15 nie. Vir volledigheid is die 98 Mosambiekse slavinne by hierdie ondersoek ingesluit. Anders as by die vorige twee grafieke is daar ’n daling en geen styging vir die groep ouer as 35 jaar nie – wat ooreenstem met die oorspronklike grafiek van Fogel en Engerman.
Figuur 4. Verspreiding van Mosambiekse slavinne se ouderdom by geboorte van eerstelinge. N=98.
Fogel en Engerman het nie spesifieke ouderdomme vermeld nie, slegs die gemiddeldes van die verspreidingsgroepe met vierjaarintervalle.
Steckel (1979) het uit ’n ondersoek van plantasierekords in die Amerikas bevind dat die gemiddelde ouderdom waarop ’n slavin aan haar eerste kind geboorte gegee het, 26,8 jaar is. ’n Ontleding van die Boland-slawedatabasis dui op ’n laer ouderdom, naamlik 24,2 jaar. Volgens Shell en Rama (2007:424–5) se berekening was die ouderdom by eerste geboortes vir die tydperk 1823–1830 19 jaar. Hulle het hierdie heelwat laer ouderdom as in ander vergelykbare voorbeelde toegeskryf aan die verbeterde omstandighede waaronder slawe en slavinne ná wetgewing in 1823 gelewe het. Hulle het egter ook die stelling dat daar teelkolonies aan die Kaap sou bestaan het, verwerp. Voorts het hulle ook kortliks verwys na geboorte-intervalle en die verkoop van slavinne, met of sonder hulle kinders.
In ’n verbandhoudende ondersoek (Cilliers en Mariotti 2019) met teikengroep wit Suid-Afrikaanse vroue aan die begin van die 19de eeu is die gemiddelde ouderdom by ’n eerste geboorte 20,91 jaar teenoor die 24,2 jaar by Bolandse slavinne.
’n Faktor wat verband hou met die aantal kinders aan wie slavinne geboorte geskenk het, is ook deur Cilliers en Mariotti (2019) vir wit vroue aangeraak. Hulle het bevind dat die gemiddelde aantal kinders uit huwelike vir die tydperk 1800 tot 1824 6,81 kinders per moeder was.
Om ’n meer statisties betroubare steekproef te verkry is ’n groep slavinne gekies wat almal ses of meer kinders gehad het. Uit die veel kleiner databasis is bepaal dat in 214 gevalle die gemiddelde aantal kinders per slavin 6,9 kinders was. Indien ál die kindergeboortes op die databasis in ag geneem word, is hierdie syfer natuurlik heelwat laer omdat daar by ’n groot aantal slavinne slegs een kind aangeteken is. Hierdie kleiner groep, met hulle veelvuldige kinders, stem ooreen met dié van wit vrouens.
Die gemiddelde ouderdom van slavinne by eerste geborenes in hierdie groep is 21 jaar teenoor die algemene gemiddeld van 24,2 jaar vir die groter Boland-slawedatabasis. Die slavinne met die meeste kinders het dus op ’n heelwat jonger ouderdom hulle eerste kinders gehad. Hierdie laer ouderdom stem ooreen met die bevinding van Shell en Rama (2007:424–5).
Steckel (1979:105) bevind dat hoe jonger die slavin is, hoe groter was die kans dat die eerste kind kon sterf. Slavinne jonger as 20 jaar se kans dat die eersteling binne die eerste jaar sou sterf, is volgens hom 34,6%; by slavinne ouer as 20 jaar daal die kanse tot 22,2%.
Volgens die gekose groep van 214 Bolandse slavinne het die eerstelinge wat gesterf het, 29% van die totaal uitgemaak. Die ouderdomme van die moeders in hierdie groep het tussen 12 jaar en 39 jaar gewissel. Daar is egter geen sterk verband tussen ouderdom en aantal eerstekindsterftes gevind nie. In die groep 12- tot 15-jarige slavinne is nie een enkele geval aangeteken waar ’n eersgeborene vóór 1834 gesterf het nie. In hierdie opsig is die sterftesyfer in die Boland laag en kan dit aanvaar word dat die lewensomstandighede van plaaslike slawe meer gunstig was as in Wes-Indië en die Amerikas. Dit kan moontlik toegeskryf word aan die Kaap se matiger klimaat en beter voeding.
’n Ontleding van al die slavinne wat op die nuwe databasis voorkom (N=1 767), met ouderdomme waarop die eerste kind gebore is, toon dat ’n slawekind van 10 jaar reeds geboorte geskenk het, asook vyf 11-jariges. Van hierdie groep besonder jong ma’s het hulle en hul kinders in 1834 nog almal gelewe en is hulle geldelike waardes deur die rondgaande evalueerders in 1834 bepaal. Hierdie gegewens verskil dus wesenlik van dié van Steckel (1979:105) se bevinding.
Aan die ander kant van die skaal is daar ’n groep van nege slavinne in die oorspronklike rekords opgeteken wat geboorte sou skenk op die skynbaar onmoontlike ouderdomme van tussen 50 en 57. Fisiek was dit onmoontlik en moet die blaam vir dié gegewens gelê word op die persone wat foutiewe inskrywings in die registers gemaak het.
’n Ander verklaring vir die onakkurate gegewens by hierdie hoogs bejaarde groep slavinne kan wees dat hulle wel kinders op ’n veel jonger stadium gehad het, maar dat dit nie aangeteken is nie omdat daar miskrame of doodgeborenes onder hulle kinders kon gewees het. Of dat hulle op ’n jonger leeftyd aan ander eienaars in ander distrikte behoort het.
6. Ander temas oor slawe, slavinne en slawekinders wat in vergelykende kwantitatiewe ondersoeke voorkom
Om die graad van lewenskwaliteit en behandeling van slawe te bepaal, is die kwantitatiewe ondersoeke van Steckel, Vinovskis, Koplan en Sheridan verder ondersoek en met die Boland-slawedatabasis vergelyk. Hierdie onderwerpe sluit in die voor die hand liggende verdeling tussen slawe en slavinne, die aantal kinders van ’n slavin en die intervalle tussen geboortes. So ook die persentasie sterftes van suigelinge en kinders en die seisoenale voorkoms van sterftes oor ’n kalenderjaar.
Die verhoudingsgetal tussen die totale aantal slawe en slavinne op die Boland-slawedatabasis is 11 240 manlik teenoor 8 786 vroulik, kinders ingesluit.
6.1 Intervalle tussen geboortes
Met die eerste oogopslag op die oorspronklike slaweregisters kry die leser die indruk dat daar, soos by wit Suid-Afrikaanse vroue tussen 1800 en 1824 (Cilliers en Mariotti 2019), ongeveer elke twee jaar ’n kind gebore is – totdat daar indringend na die spesifieke geboortedatums gekyk word om te bepaal hoeveel maande werklik tussen geboortes verloop het.
Cilliers en Mariotti bereken die geboorte-intervalle vir wit vroue as 2,44 jaar (27 maande) vir die tydperk 1800 tot 1824. Hiermee is daar ’n agtjaar-oorvleueling met dié tydvak van die Boland-slawedatabasis van 1816 tot 1834.
’n Ondersoek na die nageslag van ’n slawe-eienaar van Wagenmakersvallei, Francois Retief (1743–1807), toon ook die nagenoeg tweejaarintervalle tussen geboortes van sy kinders: 1765, 1777, 1768, 1770, 1772, 1775, 1776 en 1778. Twee van sy agt kinders is as suigelinge oorlede. Die dogter, Martha, getroud met ’n Naudé, het soos haar ouers agt kinders gehad van wie ses as jong kinders gesterf het (Retief 1971:6, 7). ’n Meer omvattende ondersoek mag ’n noue ooreenkoms tussen die sterftes van eienaars en slavinne se kinders bevestig.
Steckel (1979:112) bereken kindergeboorte-intervalle tussen 26,8 en 30,6 maande, wat ooreenstem met Cilliers se bevinding vir wit Suid-Afrikaanse vroue.
In hierdie bepaalde ondersoek is daar nie algemene berekeninge oor die hele spektrum gemaak nie, omdat sekere belangrike inligting ontbreek. In 1 764 gevalle word die naam van ’n moeder nie aangegee nie, ook nie ’n geboortedatum vir ’n kind nie. Omdat die verpligte, stelselmatige byhou van slaweregisters eers in 1816 begin is, is daar uiters selde geboortedatums of name van moeders aangegee. Verder is dit onmoontlik om soortgelyke berekeninge te maak waar daar slegs een kind gebore is.
Hier volg ’n paar voorbeelde van die spasiëring van geboortes uit slaweregisters wat uit die gekose groep van 214 gevalle onttrek is:
Johannes de Villiers se slavin, Eva, gee geboorte aan sewe kinders met die opeenvolgende datums en tydperke tussen geboortes: 1817.04.12 (eerste kind), 1819.06.13 = 26 maande, 1822.07.23 = 37 maande, 1823.12.25 = 17 maande, 1826.07.11 = 31 maande, 1828.10.01 = 27 maande en 1830.06.19 = 20 maande. Daar was tot vrystelling in 1834 geen sterftes onder Eva se kinders nie. Hoeveel van hierdie slawekinders volwassenheid bereik het, is nie bekend nie.
Nog ’n slavin wat reëlmatig kinders met tweejaargapings gehad het, en vir wie almal vergoeding ná 1834 betaal is, was Romana, slavin van Hendrik Ryk de Vos. Haar eerste kind is op 1818.08.16 gebore, die tweede na 28 maande op 1820.10.03, dan 29 maande later die derde op 1823.03.11, die vierde na 26 maande op 1825.07.08, en die vyfde na 29 maande op 1827.12.16. Die sesde kind maak na 35 maande sy opwagting op 1830.11.12 en die sewende kind na 22 maande op 1833.08.14. Die 35-maande-verloop tussen die sesde en sewende kinders kan moontlik daaraan toegeskryf word dat die ma dalk ’n miskraam gehad het of dat ’n kind doodgebore is.
Laudrina, slavin van Pieter de Villiers, was die moeder van (vermoedelik) 12 kinders. In die register is 11 kinders vermeld. Die maande wat tussen geboortes verloop het, is onderskeidelik 12, 21, 19, 11, 17, 27, 19, 14 en 11. Die interval tussen ’n kind wat in 1825 gebore is en die volgende een in 1828, is 39 maande. Indien die laasgenoemde geboorte-interval in die reeks uitgelaat word, is die gemiddelde interval 16,8 maande, ’n heelwat laer syfer as Cilliers en Mariotti se 27 maande vir wit vrouens. Die 39-maande-interval tussen twee kinders dui waarskynlik op ’n miskraam of doodgebore kind. Van die 11 kinders is sewe vóór 1834 oorlede, insluitende die eersgeborene. Indien hierdie ongewoon hoë aantal sterftes buite rekening gelaat word, is die gemiddeld 19 maande tussen geboortes.
Uit die 214 gevalle is ’n verdere keuse gemaak waar die kinders van slavinne van sewe eienaars onttrek is en van wie die moeders se gegewens oor geboortes onbetwisbaar is, omdat daar geen miskrame of doodgeborenes was nie. Hieruit word ’n geboorte-interval van 23,96 maande vir die tydperk 1816–1834 bereken, ’n getal wat laer is as die tydperke wat Steckel (1979:112) vir slawe (26,8 tot 30,6 maande) en Cilliers en Mariotti vir wit vrouens (27 maande) bevind het.
Hieruit kan afgelei word dat volgens die tradisionele siening van vóór 1970, daar ’n meer gematigde vorm van slawerny aan die Kaap bestaan het. Waarop die gegewens wél dui, is ’n reëlmatige en gesonde lewenswyse en geboortesyfer wat met dié van hulle eienaars se kinders vergelyk kan word.
6.2 Suigelinge, kinders en kinderarbeid
Slawekinders is vanaf die stigting van die slawelosie in Kaapstad as volg gekategoriseer: Kinders jonger as 12 jaar was bekend as “Schooljongen en Schoolmeijsjes” en dié in die ouderdomsgroep tot twee jaar oud as “Zuijgende jongens en meijsjes” (Cruse 1947:222; Shell 2014).
Uit die databasis kan afgelei word dat die beskouing van wat as die kinderouderdomsgroep onder slawekinders in die 18de eeu in die Kompanjieslosie gegeld het, in die praktyk anders gelyk het.
In 1834 het William Proctor in sy slaweregister aangedui dat die agtjarige slaaf Amor reeds ’n dakdekker was; in 1816 het Jan Roux ’n kinderslavin, ook agt jaar oud, as ’n huishulp (“house maid”) geregistreer.
Vanaf tienjarige ouderdom is daar talle seuns as arbeiders, huishulpe (“house boys”), skaap- en beeswagters geregistreer. Jong dogters van dieselfde ouderdom word ook as huisbediendes, “nursery maids” en een ook as ’n naaldwerkster (“seamstress”) beskryf.
Die 12-jarige slaweseun Hendrik, gebore 1804 en in 1816 die eiendom van Samuel Cats, is op die slaweregister as ’n kleremaker aangeteken; Petrus le Roux se 13-jarige Koeka was ’n wadrywer en die 14-jarige April ’n koetsier, ’n gesogte en gerekende werksaanwending onder senior slawe.
Vanaf ouderdom 12 was dit uitsonderlik as daar onder die slawekinders iets anders as ’n inskrywing soos arbeider, veewagter, of in die geval van meisies, huishulp of ’n dergelike werksaanwending was. ’n Slawemeisie van Anthon Coreejes, die 12-jarige Dorenda, se status of werksbeskrywing word in die slaweregister as “shepherdess” aangetoon. Die tradisionele take wat seuns en dogters, en ook volwassenes verrig het, is soms omgeruil en het meermale voorgekom. Daar is byvoorbeeld talle gevalle van slavinne wat skaap- en beeswagters was.
Die term suigeling vir kinders jonger as twee het egter onveranderd voortbestaan en kan dui op ’n langer periode as ’n jaar waarin ’n slavin haar kind gesoog het. Hierdie verskynsel word as die hoofoorsaak vir die verskille in die tydsverloop van geboorte-intervalle by slavinne, en ook vroue in die algemeen, beskou. Hoe langer die moeder ’n kind gesoog het, hoe kleiner was haar kanse op swangerskap gedurende hierdie tydperk (Shell 1997:304).
6.3 Sterftes onder slawekinders
Steckel (1979:89) het die slawerekords van 11 groot plantasies gebruik en bevind dat die sterftesyfer vir suigelinge tussen die slawegemeenskappe gewissel het van (volgens hom) ’n lae 17,6% tot so hoog as 39,2% vir ander plantasies. In die Boland het die sterftes onder suigelinge vanaf geboorte tot ouderdom twee jaar 18,7% van kindersterftes behels. Die Bolandse algemene sterftesyfer vergelyk dus gunstig met dié van die lae sterftesyfer op die een spesifieke plantasie wat Steckle ondersoek het. Die sterftesyfer vir Bolandse slawekinders is beduidend laer as die 39,2% wat op ander plantasies in die Amerikaanse ondersoek bevind is.
In die medikus Koplan (1983:312) se ondersoek oor sterftes onder slawesuigelinge en jong kinders onder die ouderdom van vyf op Grenada bevind hy ’n mortaliteitskoers van 23,6%, dus aansienlik hoër as dié in die Boland. Aan die ander kant is die sterftes vir suigelinge jonger as een jaar so laag as 15% en die groep een- tot vierjariges so hoog as 18,2%. Dit is in direkte teenstelling met die ander bronne wat geraadpleeg is. Hierdie afwyking kan te wyte wees aan die veel kleiner aantal gevalle wat hy bestudeer het: 71 gevalle teenoor die 1 250 in die Boland-slawedatabasis.
Figuur 5. Mortaliteitskoers vir suigelinge en jong kinders in die Boland
Die voorkoms van kindersterftes kan grafies ook soos volg uitgebeeld word:
Figuur 6. Mortaliteitskoers vir suigelinge en jong kinders in die Boland
Jaarseisoene is ook aangegee as redes vir hoër of laer sterftesyfers.
Steckel (1979:108) het die voorkoms van sterftes volgens seisoene statisties ontleed en tot die gevolgtrekking gekom dat in die ouderdomsgroep 15–49 30% van sterftes tydens oestye voorgekom het (in die Noordelike Halfrond die maande Augustus, September en Oktober).
’n Vroeëre artikel oor die seisoenale sterftes onder Kompanjieslawe in Kaapstad vir die tydperk 1720–1782 (Heese 1986:12) toon geen verband met oestye nie, maar wel met klimaat. Die koue en nat winters was verantwoordelik vir die hoë voorkoms van sterftes; ook het hierdie groep Kompanjieslawe uiters selde op graan- en wynplase gewerk.
Die voorkoms van kindersterftes volgens oesmaande vir graan en druiwe in die Boland, anders as die gewasse wat in die Amerikas en Wes-Indië geoes is, toon ooreenstemming met Steckel se waarneming, ten spyte van die feit dat hierdie maande se seisoene anders is as dié van die Noordelike Halfrond. Februarie is veral dié maand wat die wynoes in die Boland plaasvind en in Oktober–November is die graanoes ingesamel. Waar daar baie arbeiders nodig was, kan daar verwag word dat ook jong kinders ingespan sou word om ligte werk op die plase te verrig.
Sterfgevalle vir die hele jaar word in die volgende grafiek weergegee (N=889):
Figuur 7. Sterftes volgens kalendermaande in die Boland
Met die groot aantal gebiede waarvandaan slawe na die Kaap gekom het, kan daar gekyk word na die gemiddelde ouderdomme van slawe en slavinne uit ander oorde. In teenstelling met slawe wat aan die Kaap gebore is, het al die ander aangetekende gevalle uit ander gebiede ’n hoër ouderdom as die Kaapse slawe getoon.
Die reeks dek al die ouderdomsgroepe van Kaapsgebore slawe; ook ’n slaaf wat die ouderdom van 96 bereik het, die ou en afgeleefde April van Bengale. Die gegewens van die blinde slaaf Pedro van Bengale, wat volgens ’n oorspronklike inskrywing in die register 105 jaar sou wees, kan nie deur ander bronne bevestig word nie. Dit kan moontlik daaraan toegeskryf word dat toe hy gekoop is, sy ouderdom ’n foutiewe skatting was; hoe ouer ’n jong slaaf was, hoe groter was sy geldelike waarde.
Die volgende kurwe toon dat die Kaapsgebore slawe in verhouding met dié van ander immigrantgroepe, nie die hoër ouderdom van buitelandse slawe bereik het nie. Altesaam 14 slawe op die databasis was in 1834 ouer as 80 jaar.
Gemiddelde ouderdomme van slawe/slavinne bereik in jare en volgens plek van geboorte en wat vóór 1835 oorlede is:
Figuur 8. Ouderdom by sterftes volgens plek van herkoms
Anders as in die geval by Koplan, wat die redes vir sterftes feitlik volledig kon aantoon, ontbreek hierdie gegewens vir Kaapse slawe, behalwe enkele, toevallige aantekeninge in die slaweregisters.
Silvia van die Kaap is op 24-jarige ouderdom op 18 Mei 1818 tydens ’n geboorteproses oorlede. Dit was moontlik haar eerste kind, omdat sy nêrens anders op die databasis as ’n moeder van ’n ander kind verskyn nie. Dit kan wees dat daar doodgebore kinders was, of dat daar miskrame was. Ongelukkig is van sulke gevalle geen rekenskap gegee nie.
As rede vir die dood van twee slawe in 1818 is daar wel ’n aantekening gevind. Op 15 Oktober 1818 het die slawe van John Pigot Watney, Mazent en Michael van Mosambiek, by Saldanhabaai in die see verdrink. Hierdie slagoffers, respektiewelik 22 en 24 jaar oud, was waarskynlik vissermanne, hoewel daar na hulle as “arbeiders” verwys word in John Pigot Watney se slaweregister.
Thomas van die Kaap, gebore in 1799 en die eiendom van Daniel Mulder, is na ’n hofsaak skuldig bevind en die doodsvonnis opgelê. Die vonnis is op 1 Mei 1824 voltrek.
Francis van Mosambiek, gebore 1781 en die eiendom van Jan de Villiers, is in 1819 in die tronk as ’n bandiet oorlede. Die rede vir sy dood is egter nie genoem nie.
Klaarblyklik was die slaaf Adam van Mosambiek, eiendom van Carel van der Merwe, en oorlede in 1829, vroeër deur die burger D.B. Haupt erg mishandel. Daar is bepaal dat hy nooit aan Haupt verkoop mag word nie, ’n hofuitspraak wat telkemale in gevalle van mishandeling voorgekom het.
Sterfte-inskrywings is in die slaweregisters gemaak ook ná 1 Desember 1834, die dag waarop slawe amptelik vrygestel is, maar nog vier jaar langer tot 1 Desember 1838 as ingeboektes (“apprentices”) hanteer is. Verskeie sterfte-inskrywings is tussen 1835 en 1837 in die voormalige slawe-eienaars se registers aangeteken.
7. Nuwe gegewens oor slawe uit die Boland-slawedatabasis: geldelike, genealogiese en sosiale aspekte van slawe in die Kaapkolonie
7.1 Slawegesinne en geldwaardes
In die tradisionele sin kan daar streng gesproke van ’n slawegesin gepraat word slegs as daar ’n biologiese pa, ma en kind of kinders as ’n eenheid teenwoordig is.
In die verskillende databasisse en bronne wat plaaslik beskikbaar is, is daar slegs enkele gevalle waar die name van slawe en dié van hulle vrouens aangeteken is (Shell 1997; Ekama e.a. 2021).
In die pionierstudie oor die 17de-eeuse slawesamelewing het Böeseken (1977) verskeie voorbeelde van huwelike tussen Europeërs en slavinne, en ook slawe onderling, in ’n addendum vermeld; so ook Heese (1984). Al die verwysings na sulke huwelike van slawe en slavinne moet egter beter omskryf word. Formele huwelike kon plaasvind eers nadat al die betrokke partye vrygestel was en dus as “vryswartes” (bevryde slawe) bekendgestaan het. Om ’n wettige kontrak, soos met ’n huwelik, te kon sluit, moes beide “vryeluide” wees, dit wil sê vryswartes wat ná die doop en openbare belydenis van die Christelike geloof kon trou (Shell 1992:36–7).
Uit ’n regsoogpunt was daar alleenlik vanaf 1823 wettige slawehuwelike nadat die Britse koloniale regering ’n reeks regulasies afgekondig het om die lewensomstandighede van slawe, Khoikhoi en die sogenaamde prysnegers aan die Kaap te verbeter.
Daar het vroeër wel informele huwelike tussen slawe bestaan en slawegesinne het ontstaan. Margaret Cairns het breedvoerig hieroor navorsing gedoen en veral oor die verhoudings tussen Moslemslawe. Hierdie huwelike is egter nooit wetlik erken nie en Moslemhuwelike bly tot op hede ’n turksvy, met talle wetlike implikasies vir erfgename uit sulke verbintenisse (Bradlow en Cairns 1978:61–3).
Volgens ’n proklamasie van goewerneur lord Charles Somerset op 1 Augustus 1823 het slawe die reg verkry om wettig te trou (Theal 1903:174–5 (vol. XVI)).
Die name van slawe en slavinne wat in die Kaapkolonie getroud is, kom voor in die nuwe databasis waar hierdie status as notas by die inskrywings op die slaweregisters aangebring is. Hieruit blyk dit dat daar in 1834 nie minder as 42 getroude pare in die Boland was nie. Die meerderheid van hierdie huwelike was gevalle waar enkele getroude slawe op hulle eienaars se slaweregisters aangetoon is. In twee gevalle was daar twee getroude slawegesinne op hulle eienaars se registers aangeteken: Pieter Hamman en die weduwee van Jacobus Marais.
In die VSA was dit klaarblyklik die eienaar wat besluit het watter slawe met watter slavinne kon trou (of afgepaar is) en sou daar soms groot ouderdomsverskille tussen mans en vrouens voorkom, volgens Fogel en Engerman (1974:139). Hulle bevinding was dat die ouderdomme van die getroude pare óf dieselfde was óf met ’n paar jaar verskil waar die man ouer was as die vrou. Daar was slegs enkele uitsonderings.
In die Boland is 42 slawehuwelike geïdentifiseer waarvan die meeste se ouderdomsverskille ooreenkom met dié in die bevindings van Fogel en Engerman, naamlik pare wat naastenby ewe oud was of waar die man ’n paar jaar ouer as die vrou was. Dit is opvallend dat hierdie getroude slawepare eers so laat as 1831 tot 1835 as slawe by nuwe eienaars geregistreer is – hulle siviele status is nie vóór hierdie tydperk in die slaweregisters aangeteken nie.
Of die Amerikaanse gebruik, dat die eienaar besluit het oor wie met wie kon trou, ook in die Boland bestaan het, is onbekend. Die slaweregister vir 1832 toon dat Arend en Christina van die Kaap, slawe van Willem Jacob du Toit, vyf kinders gehad het tussen 1820 en 1832. As hulle nie in 1823 reeds getroud was nie, sou dit egter ’n de facto-huwelik gewees het – en uit vrye beweging. In 1832 was Arend 44 jaar oud en Christina 36 jaar.
Daar is egter een uitsondering onder die Bolandse slawe: Die ouderdom van die slaaf Daniel van die Kaap, ’n arbeider, was volgens die register 32 jaar oud; sy vrou, Regina van die Kaap en ’n huishulp, 57 jaar.
Die huwelikswetgewing van 1823 het nie gelei tot groot getalle slawe wat in die kerk op Stellenbosch getroud is nie. Die rekord van die slawehuwelik tussen A.F. Fick se slaaf David (56) en slavin Flora (63) in 1833 bevat ’n kantlyninskrywing dat hierdie egpaar reeds in 1823 en 1833 van hulle kinders daar laat doop het (Heese 2016:45). Hiervolgens sou die kinders vanaf die datum van die huwelik as binne die eg gebore gereken word.
Die bepaling dat slawehuwelike in ander Britse kolonies kon plaasvind, is eers in 1826 in Londen afgekondig. So ook die aanstelling van ’n Beskermer van Slawe in ander kolonies terwyl dit reeds in 1820 aan die Kaap die geval was (Sheridan 2002:254).
Lea, die slavinnetjie van Matthys Basson, seun van Johannes Basson, woonagtig op die plaas Leeuwenkopskloof in die Swartland, is op 15 Oktober 1826 as die kind van die slawepaar Philander en Regina gebore. So ook Eva in 1828, Philander in 1831, Isaac in 1832 en Adam aan die einde van 1833. Al hierdie kinders is wetlik binne die eg gebore. Eva is in 1833 as vyfjarige kind oorlede. Die geldelike waarde van die 36-jarige Philander is in 1834 op £105 vasgestel; sy jongste seun en sy naamgenoot op £7-10.
Die vrou en kinders van Philander sou ná vrystelling sy naam as ’n van of familienaam begin gebruik het – m.a.w. Philander. Hierdie gebruik van familienaam-naamgewing is deur alle slawegesinne gevolg en dit het aanleiding gegee tot die ontstaan van tipiese bruin Kaapse vanne, soos Hector, David(s), Mey, Willem(s), Adam(s), Abel(s) en Isaac(s), almal name van Basson se slawe.
Die bruin gesinne waar die pa se slawenaam nou ook ’n van geword het, toon in alle opsigte ooreenstemming met die lewenspatroon en gereelde geboortetussenposes van twee jaar soos dié van hulle eienaars tot 1834.
Die slaaf America is op 7 Februarie 1826 gebore as die enigste geregistreerde kind van Jason en Veya van die Kaap, slawe van Willem van Jaarsveld. America se waarde is in 1834 op £52-10 bereken.
Die meeste getroude slawe het egter reeds vóór 1823 kinders gehad wat vanselfsprekend buite die eg gebore is. In die geval van Europese mans wat tydens die 18de eeu met hulle vrygestelde slavinne getroud is, is die kinders wat hulle reeds verwek het, ná die kerklike troue as “geêg” beskryf. In die geval van Oltmann Ahlers, wat op 10 Desember 1780 met Dorothea van Bengale getroud is, is hulle kinders wat hulle voor die troue in die doopregister van die Lutherse Kerk in Kaapstad laat opneem het, as egtelik in die kerkregister beskryf (Hoge 1946:3).
In ’n poging om ’n tipe familiestruktuur tussen ma’s en kinders te behou, was dit volgens Ordonnansie 19 van 19 Junie 1826 verbied dat slawe wat getroud was, van mekaar geskei sou word indien hulle aan ’n ander eienaar verkoop word. Ook kon hulle nie van hulle kinders jonger as 10 jaar deur verkope geskei word nie (Shell 2008:43). Hierdie maatreël was tot die potensiële finansiële nadeel van die eienaar, omdat hy so ’n familie-eenheid moeiliker sou kon verkoop as hy finansieel in nood verkeer het; slawe was die grootste kapitaaluitleg van boere in ’n ekonomie wat grootliks gebaseer was op die uitreik van verbande wat gekoppel was aan die waarde van individuele slawe.
Hoe hoër die waarde van ’n slaaf of slavin was, hoe beter sou die kans wees om goed behandel te word. Die plek van herkoms van die verslaafde persoon kon ’n rol speel, hoewel dit skyn dat Kaapsgebore slawe en slavinne die hoogste waarde gehad het. Dit was egter die bekwaamheid van die individu wat deurslaggewend was, en ’n ambag soos timmerman of messelaar het die waarde van die slaaf verhoog. Deur op kontrak ook vir ander persone te werk, kon hulle in staat gestel word om kontantgeld te verdien en hulself vry te koop.
By geboorte was ’n slawekind, tot eenjarige ouderdom, volgens die vergoedingskommissie van 1634, £7-10 werd. Hierdie waarde was ongeveer dieselfde as dié van slawe ouer as 60 jaar. Slawe was vir hierdie doeleindes in groepe ingedeel en die bekwaamheid van individuele slawe is nie vermeld nie.
Die werklike waardes van slawe, volgens herkoms en vaardighede, het egter anders gelyk. Uit die boedeldokument van die weduwee Croeser in 1799 blyk die volgende voorbeeld die wisselende waardes van slawe en slavinne (Krzesinski-de Widt 2002:1371).
een Jonge genaamt Philip van Boegies zijnde een metzelaar | Rds 600 | |
Een dito genaamt Solon van dito een Timmerman | Rds 1000 | |
een dito genaamt Camies van dito [oud] | Rds100 | |
Een dito genaamt September van dito [oud] | Rds 100 | |
Een dito gent. Esau van mosambicq | Rds 333 | |
Philida van de Caap [gebrekkelijk] | Rds 250 |
Die volgende grafiek, waarin daar nie onderskeid tussen geslagte gemaak is nie, illustreer die toe- en afname van die waarde van slawe volgens ouderdom:
Figuur 9. Toename en afname van die waarde van slawe uitgedruk in terme van pennies (Heese 2016:78)
Met die skeiding tussen geslagte lyk die verspreiding van slawewaardes in terme van £–sjielings–pennies so:
Figuur 10. Waarde van slawe met 10-jaar-intervalle, 1816–1834. Die hoogste waardes in ponde per slaaf of slavin is gebruik.
Slavinne se hoogste monetêre waarde, £142-10, is reeds op die ouderdom van 19 bereik. Dit stem ooreen met die ouderdom waarop slavinne reeds geboorte aan kinders kon gee en dus behalwe verskeie funksies in die huishouding vervul, ook daartoe bydra om die eienaar se slawe op ’n natuurlike wyse te vermeerder. Hierdie waarde het slavinne tot op ouderdom 30 behou, waarna dit geleidelik afgeneem het. Die oudste lewende slavin op die databasis was Sara van die Kaap wat in 1834 die ouderdom van 95 bereik het en geen kontantwaarde meer gehad het nie.
Slawe was vanaf ongeveer 19 jaar reeds £150 werd, maar hulle waarde het op 30 jaar gemiddeld tot £182-10 gestyg; in enkele gevalle waar hulle mandoors (voormanne) geword het, tot ’n waarde van meer as £200. Die oudste lewende slaaf op die databasis was die 93-jarige Valentyn van Bengale, slaaf van Samuel Laubscher. Valentyn het, vanselfsprekend, in 1834 ook geen monetêre waarde meer gehad nie. Tog is Laubscher met £11-6-4 vergoed vir Valentyn, saam met sy ander “waardelose” slavin, die 76-jarige Sietje van die Kaap (Heese 2016:77).
7.2 Naamgewing en verwante gebruike by die slawegemeenskap
Die naamgewing van slawe is reeds indringend deur verskeie historici ondersoek: Böeseken (1977), Hattingh (1983), Shell (1997) en Ekama e.a. (2021). Hierdie navorsers het hoofsaaklik gekonsentreer op die name van die slawe wat aangekoop was. Van hulle kon by hul aankoms aan die Kaap reeds hierdie name gehad het, maar van hulle name is moontlik daarna deur die nuwe eienaar verander.
Böeseken het haar naamgewingstudie baseer op meer as 550 gevalle waar slawename in transaksies tussen die VOC en sy amptenary en vryburgers en vryswartes onderling voorkom. Sy het onder meer die afleiding gemaak dat slawe wat aan die Kaap geland het, reeds “Europese” name gehad het. Hierdie afleiding het Hattingh (1983) betwis met talle voorbeelde van slawename wat hoegenaamd nie as Europese name beskou kon word nie en het hy talle gevalle aangehaal waar die name van slawe telkens verander is as hulle nuwe eienaars gekry het. Hy het ook aangetoon dat die naam van die plek van herkoms van spesifieke slawe in verskillende dokumente wissel en noem die geval van die slaaf van Steven Vermeij, “Titus van Mallebaar, segge Bombaaij” (Hattingh 1983:1, 9).
Hattingh het ook vier kategorieë slawename saamgestel: Bybelse name, antieke Griekse en Latynse name, dié met Portugese/Spaanse herkoms, en die gebruik om die maande van die jaar as name te gebruik, van Januarie tot Desember. Hy het ook ’n paar beskrywende name aangehaal, maar nie daarvoor ’n aparte kategorie geskep nie. Voorbeelde hiervan is Slim, Slegt, Fluks en Bliksem.
Beide Böeseken en Hattingh het hoofsaaklik op naamgewing in die 17de eeu gefokus, maar Hattingh het ook voorbeelde uit die 18de eeu by sy navorsing gevoeg. Shell (1997:240–6) het vir sy kwantitatiewe ondersoek oor Kaapse slawe die tydperk 1656 tot 1784 onder die loep geneem. In die proses het hy nuwe kategorieë geskep: Ou Testament, Inheems, Klassiek, Kalender en grappige of beskrywende name.
In die omvattende ondersoek oor slawerny aan die Kaap het Ekama e.a. (2021) slawename in 11 kategorieë verdeel. Behalwe die bestaande kategorieë is nuwes geskep, soos die verkleiningsvorm vir name, soos Joost tot Joostje; “Engelse” name; “Europese” name en Nederlandse name; name wat verband gehou het met ’n ambag of verband hou met die Moslemgeloof. In hierdie ondersoek is gebruik gemaak van 37 411 slawe-inskrywings vir die jaar 1834. Die verklaring vir die uitgebreide klassifikasie hou verband met die naamgewing wat oor tyd verander het soos wat ambagsmanne en ander nuwe soorte werkers ook verskillende grade van geskooldheid bereik het. Tipiese Moslemname, soos Abdol, Amina, Slamat, Ismael, Jamodien, Joemat, Josop, Rajap, Salie en Slammat, kom in die Ekama-databasis voor.
In die Boland-slawedatabasis kom Bybelse name vir slawe die meeste voor: Adam (341), Jephta (330), David (297) Abraham (273) en Jacob (268). Die geografiese naam Afrika is selfs meer kere gebruik (213) as die name van maande en het nie noodwendig betrekking gehad op die oorspronklike herkoms van die slawe nie, al het talle van hulle uit Mosambiek gekom. Van die slawe wat die name van maande gedra het, was daar 191 met die naam April, 162 met die naam January en 153 genaamd September. Van die alledaagse Nederlandse name was daar 166 met die naam Jan en 152 met die naam Willem. Die Moslemnaam Joemat kom 29 keer voor.
By slavinne kom die Bybelse naam Rachel 308 keer voor, Sara 216, Lea 174 en Martha 115 keer. Die naam Spasie (ook gespel Spatie) behoort aan 258 slavinne en so ook Philida (ook gespel Filida) met 239 gevalle. Die Bybelse naam Maria kom slegs 19 keer voor, in teenstelling met die gewildheid van hierdie vrouenaam in die wit burgerlike samelewing.
Sommige slawe het waarskynlik hulle oorspronklike name wat hulle in hul plek van herkoms gehad het, behou. Die slawenaam Baatjoe duik telkemale op vir ’n slaaf wat van Boegies of Batavia afkomstig is. Dit kan met sekerheid aanvaar word dat dit ’n inheemse noemnaam is wat na die Kaap toe oorgespoel het.
John Pigot Watney se een slaaf wat verdrink het, Mazent, het nie ’n tradisionele Kaapse naam gehad nie. Watney het ook ’n ander slaaf, met die naam Mazingo van Mosambiek, ’n veewagter, besit. Mazingo kon, op die naam af, ’n slaaf uit die Niassa-gebied (Malawi) gewees het. Slawe wat later as Masbiekers bekend was, is deur swart Moslem Yao-stamlede en Arabiere na die Mosambiekse kus gebring om daar verkoop te word en uiteindelik die Kaap te bereik (Thieme 2022:67).
’n Amerikaanse ekonoom het hom ook oor tipiese slawename uitgespreek en noem byvoorbeeld die Ou Testamentiese naam Moses en die meer moderne name wat tans by Afro-Amerikane voorkom, soos Tyrone en Jamal (Logan 2002:87). Wat opvallend is, is dat tipiese Amerikaanse slawename ook aan die Kaap voorgekom het – name soos Bacchus, Hannibal, Jupiter, Titus, Hector, Cupid (do), Primus, Augustus, Scipio, Hercules, Caesar, Juno en Venus (laasgenoemde twee aan die Kaap as mansname gebruik), en vir vroue Diana, Daphne en Flora.
7.3 Naamgewing van medeslawe wat moontlik die vaders van slawekinders kon wees
In die Bolandse rekords blyk dit dat die slavinne moontlik ’n rol kon gespeel het by die naamgewing van hulle eie en ook medeslavinne se kinders. Ook is die Kaapse tradisie van Afrikanerfamilies gevolg om ’n kind wat vroeg oorlede is, se naam aan ’n volgende kind te gee. Hier volg enkele voorbeelde:
Madaleen, slavin van Hendrik Cloete, se seun Abraham is op 29 Februarie 1824 gebore, maar op 15 Oktober 1832 oorlede. In dieselfde jaar skenk sy weer geboorte aan ’n seun wat ook die naam Abraham kry. Dieselfde geld ook vir Jacomina van George Stephanus Malherbe. Haar seun Adam is op 7 Januarie 1822 gebore en sterf op 18 Desember van dieselfde jaar. Op 18 Februarie 1823 word weer ’n seun, wat Adam genoem word, gebore, maar ook hy sterf betreklik jonk op 15 Oktober 1829.
Amelie van Philippus Myburgh van die plaas Welgelegen in Hottentots-Holland se seun Adonis is in 1820 gebore, maar sterf vyf jaar later in 1825. ’n Volgende seun wat ook Adonis genoem is, word in 1832 gebore, maar sterf ook na ’n jaar.
Hierdie verskynsel het 18 keer in die databasis voorgekom. Indien slavinne wat aan ander familielede of vreemde eienaars verkoop is, in aanmerking geneem word, sal die frekwensie natuurlik hoër wees.
Leonora, slavin van Casparus Albertyn, is in 1791 aan die Kaap gebore en het in 1825 ’n seun wat sy Francois noem. Saam met haar is daar ook ’n slaaf, Francois van Mosambiek, in 1782 gebore en die seun is na hierdie slaaf vernoem.
Op die plaas van Hendrik Albertyn, Groenhof by Bottelary, noem Louisa haar kind wat in 1830 gebore is, Abram. Die slaaf Abram van Mosambiek, gebore in 1785, werk ook op die plaas.
Fleur van Madagaskar, gebore 1757, behoort aan Robert Aling van die plaas Bethel in Noorder Paarl. Die medeslavin Spatie, gebore in 1790, noem haar seun wat in 1828 gebore is, ook Fleur.
Alexander van Mosambiek, gebore 1777, is die slaaf van Hendrik Ballot van die plaas Rustenburg buite Stellenbosch. Ballot se slavin, Hanna, gee in 1831 geboorte aan haar seun Alexander.
Die voorkoms van die gebruik dat slawekinders ’n medeslaaf se naam kry, kom honderdvoudig in die databasis voor. Dit kan egter nie as klinkklare feit aanvaar word dat dit altyd die geval was nie, al bestaan daar so ’n vermoede.
7.4 Slawekinders wat name kry van die moeder of haar medeslavinne
Dit het dikwels gebeur dat ’n moeder aan haar kind haar eie naam gee, en hierdie verskynsel het telkemale voorgekom. Wat ook dikwels gebeur het, is dat ’n ouer slavin, moontlik ’n matriarg, deur haar medeslavinne se kinders na haar vernoem is.
Petrus Wessels van Weltevreden, van Agter Paarl, het ses slavinne besit wat almal vanaf 1816–1834 kinders gehad het. Die oudste slavin was Dina van die Kaap, gebore in 1777. Die tweede oudste slavin was Louise van Mosambiek, gebore 1782; daar is egter geen kinders op die register vir hierdie twee slavinne aangeteken nie. Twee medeslavinne het hulle kinders na hulleself vernoem: Marie, van Marie, gebore 1797, en Sanna, van Sanna, gebore 1833. Onder die ander slawe van Wessels word twee Galants genoem: die oudste gebore 1782 in Mosambiek en die jonger Galant in 1807 aan die Kaap. Aangesien daar eers vanaf 1816 volledige rekords van geboortedatums gehou is, is die naam van die moeder nie aangedui nie. Dit is nie onmoontlik dat een van die Galants die vader van ’n kind van Dina was nie.
Stephanus Walters van Brakfontein in die Swartland het vier slavinne gehad wat geboorte aan dogters gegee het. Die oudste was Aploon van die Kaap, gebore 1787, en haar dogter Aploon, gebore 1822. Nie een van die ander slavinne het egter aan hulle kinders die naam Aploon gegee nie. Hierteenoor is Regina, gebore 1791, deur die slavin Rosina, gebore 1811, vereer toe Rosina haar dogter wat in 1834 gebore is, Regina genoem het. Die senior Regina het drie seuns gehad wat in 1734 nog gelewe het. Regina se medeslaaf Moses was waarskynlik die vader van minstens één van die kinders van Regina. Moses, gebore 1787, was die koetsier op die plaas toe sy in 1816 geboorte aan haar seun, Moses, gegee het.
8. Slawe wat hulle vryheid bekom het vóór algemene vrystelling op 1 Desember 1834; ook tussen 1 Desember 1834 en 1 Desember 1838
Die vrylating (of manumissie) van slawe deur hulle eienaars, hetsy individue of eiendom van die Kompanjie, het reeds kort na die aankoms van die eerste besending slawe aan die Kaap voorgekom. Op 6 Julie 1658 is Maria, slavin van die sieketrooster Pieter van der Stael, deur Jan Sacharias van Amsterdam vrygekoop op die voorwaarde dat Sacharias haar sy wettige vrou sou maak. Die prys wat hy betaal het, is nie vermeld nie (Böesken 1977:124).
Die voorbeeld wat Jan Sacharias gestel het, is telkens tot aan die einde van die Kompanjiestydperk in 1795 herhaal. ’n Huwelik met ’n (wit) persoon was vir ’n slavin, ongeag haar plek van herkoms, ’n ontsnappingsmeganisme om, met haar kinders, in die breë burgerlike samelewing aanvaar te word (Heese 1984:14).
Shell (2007) het ’n uitvoerige databasis saamgestel van slawe en slavinne wat tussen 1658 en 1828 deur hulle eienaars vrygestel is en het vir sy ondersoek 1 751 individuele gevalle kwantitatief ontleed. Hierin het hy ’n onderskeid tussen die slawe in die kompanjie se slawelosie en dié wat in privaatbesit was, getref. Die slawe in die slawelosie het hy besonder goed gedokumenteer en vul vroeëre ondersoeke van die Kompanjie se slawegesinne aan (Heese 1984, 1987).
In Shell (1997) se vroeëre ondersoek het hy die frekwensie van vrylatings in die groter slawehoudende gemeenskappe nagevors en bevind dat in Brasilië (1684–1745) die hoogste persentasie vrylatings plaasgevind het, gevolg deur die Nederlandse slawegemeenskappe in Suriname (1760–1828) en Caraçao (1816–1838). In hierdie opsig het die Kaapse vrystellings (1658–1838) swak gevaar in vergelyking met die ander Nederlandse gebiede, maar beter as die gemiddeldes in die suidelike state van die VSA in die 1850’s. Wat Wes-Indië betref, het daar persentasiegewys aan die Kaap meer as dubbeld soveel vrylatings per eienaar as in Jamaika voorgekom. (Volgens die sensus van die algehele vrystelling van slawe in die Britse Ryk van 1833–1834 was daar 311 692 slawe in Jamaika teenwoordig, verreweg die grootste aantal in enige van die Britse kolonies.)
Shell (1997) het tussen die persone wat aan die Kaap, en dus ook in die Boland, slawe besit het, onderskeid getref tussen die eienaars se somatiese voorkoms en in die volgende kategorieë ingedeel: Chinese, Indonesiërs, Afrikane, Indiërs, Nederlanders, Skandinawiërs, Duitsers en Kreole, laasgenoemde persone van gemengde afkoms en aan die Kaap gebore. Die verskillende kategorieë het moontlik betrekking op die samelewing van 1658 tot 1750, maar daarna verval hierdie skerp grense wat betref die “wit of Europese” groep. Weens vermenging tussen wit mans en veral slavinne kan daar in die 18de eeu hoogstens verwys word na “burgers” in plaas van sulke streng, spesifieke etniese merkers soos wat Shell (1997:393) onderskei het.
Wat Shell wel in sy ondersoek bewys het, was dat die Chinese en vryswartesbevolking in die 17de en 18de eeue in verhouding veel meer slawe as die burgers vrygestel het. Shell (1997:393) se bevindings is egter tyd- en geografies gebonde en is nie noodwendig van toepassing op Bolandse slawe vir die tydperk 1816–1834 nie. Die meeste vryswartes en Chinese het in Kaapstad gebly.
In die Boland, waar daar slegs enkele vryswartes gewoon het, kom die verskynsel dat vrye gekleurdes ook hulle slawe in vryheid gestel het, of dat hulle die vryheid van ander slawe gekoop het, ook ter sprake. Vanweë hulle klein getal is hulle rol as vrylaters van slawe in die Boland uiters gering. Dit geld veral vir die tydperk 1816 tot 1834 wat aan die hand van die slaweregisters in hierdie ondersoek van toepassing is.
8.1 Vryswartes en persone van kleur wat vrystellings bewerkstellig het
Rachel van die Kaap, gebore 1766 en bejaarde en verswakte slavin van Pieter Ulrich, is op 12 Januarie 1830 deur Domingo van Bengale vir £7-10 gekoop en vrygestel. Dieselfde geld vir Adam van die Kaap, skrynwerker en slaaf van Jacob de Villiers van Buitenverwagting in Suider-Paarl. Op 10 Desember 1832 het die vryswart Faid Adam £125 aan De Villiers betaal om Adam vry te stel. Daar was geen aantekening dat Adam enige vergoeding aan sy weldoener Faid Adam verskuldig was nie.
Op 27 Mei 1833 het Frans van die Kaap die jong dogter van die slavin Sabina, eiendom van Pieter van der Byl en genaamd Rachel, vir £22-10 gekoop en in vryheid gestel. Moontlik was hy die vader van hierdie dogter en was hy bereid om die heersende markwaarde vir ’n vierjarige slavin te betaal.
Jan Jacob de Villiers van Rustenburg in die Hottentots-Holland-gebied het op 4 Desember 1829 ’n betaling van 400 riksdaalders van die vryswarte Paul Coridon ontvang sodat die 52-jarige slavin, Aploon, haar vryheid kon verkry.
Nog ’n vryswarte, Mey, het op 2 Junie 1832 die bedrag van £7-10 betaal vir die vrystelling van Festus, die sesjarige kind van Eva van die Kaap, slavin van Ryno de Korte wat in Ryneveldstraat in Stellenbosch gewoon het. Om ’n onbekende rede was die bedrag wat betaal is, buite verhouding laag as in ag geneem word dat die waarde van ’n sesjarige slawekind in 1834 op £45 bereken is.
Vryswartes wat die vryheid van slawe tussen 1816 en 1834 gekoop het, verteenwoordig 1,8% van die totale aantal vrystellers in die Boland.
Van 67 manlike vrygestelde slawe voor 1834 het nie een van hulle landbou beoefen nie en geen ander besittings as ses perde in die jaarlikse opgaafrol vir vrye persone opgegee nie. ’n Moontlike verklaring is dat hulle karweiers was en moontlik oor perdekarre beskik het. Twee van hierdie gewese slawe het elk twee perde besit (Stellenbosch Opgaafrol 1838).
Shell (1997:391) het ook die finansiële welstand van slawe-eienaars nagegaan en bevind dat ryk eienaars in verhouding tot gemiddeldes en armes, persentasiegewys min slawe vrygestel het. Van hierdie vrystellings was 25% testamentêr, en hulle slawe het eers na hulle dood vryheid verkry. Verder het hy (Shell 1997:381–2) vermeld dat daar gewoonlik twee partye was wanneer ’n slaaf vrygestel is, naamlik die eienaar en die persoon wat die slaaf vrystel, tensy die eienaar self die persoon vrygelaat het en geen ander party betrokke was nie. Gewoonlik was daar ander partye betrokke, soos genoem in die gevalle waar vryswartes, of burgers ’n bedrag geld aangebied het sodat die slaaf sy of haar vryheid kon bekom. ’n Ander moontlikheid was dat slawe of slavinne oor genoeg geld beskik het om self hulle vryheid te koop, of ook dié van ander slawe wat familielede was.
In die meeste gevalle is daar in die slaweregister slegs aangedui dat ’n slaaf of slavin op ’n sekere datum vrygestel is sonder enige verdere vermelding of dit die eienaar was wat uit welwillendheid die persoon in vryheid gestel het of nie.
8.2 Gevalle waar geld betrokke was by vrylatings
Uit die 259 gevalle van vrylating van slawe van Bolanders was daar 76 waarby geld betrokke was om die slaaf of slavin van die eienaar te koop en dan hulle vryheid te bewerkstellig. Hierdie soort vrylatings verteenwoordig 27,5% van sulke ooreenkomste. Inbegrepe is gevalle waar slawe, onafhanklik van ander partye, self vir hulle vrylating betaal het.
Die kantoor van die Beskermer van Slawe in Kaapstad het op 15 Januarie 1830 die bedrag van £18-15 betaal vir die vrylating van die driejarige Caatje, dogter van Seronie, die slaaf van Hendrik Dirk du Toit. So ook vir David, seun van Sabina en slaaf van Adriaan Cloete, vir wie £165 op 25 Junie 1830 betaal is. Hierdie bedrag het ook die vrylating van verskeie ander slawekinders en ouer slavinne verseker.
Ander welsynsorganisasies het ook op hierdie wyse slawe en slavinne hulle vryheid laat verkry.
Die Cape Philanthropic Society het op 30 Julie 1932 Manisa, die eenjarige dogter van Annet, slavin van Jacobus Fischer, haar vryheid laat kry.
Die Cape Town Orphan Board het die sewejarige seun Camies (van Francina) op 15 Januarie 1831 sy vryheid laat bekom. Camies was die slawekind van Anthony Alexander Faure, ’n gesiene inwoner van die Stellenbosch-distrik. Geen bedrag is genoem nie.
Die vrymesselaars se Free Mason Chamber in Kaapstad was verantwoordelik vir die vryheid van ’n ma en dogter, Roselyn en Lea van die Kaap, gewese slawe van Paul Jordaan. Met vrylating op 25 Maart 1831 was Roselyn 30 jaar oud en haar dogter 11 jaar en het die vrymesselaars £150 vir hulle vryheid betaal.
Coba, slavin van Arie Joubert, het op 15 Oktober 1827 haar eienaar £45 betaal om haar tweejarige dogter Francina vry te laat, asook die sesjarige Grietje. Haar eienaar het uit hierdie transaksie geen wins gemaak nie, omdat die kontantwaarde vir die sesjarige kind £45 was; die £11-5 vir die jonger dogter was nie ingereken nie.
Sommige slawe was na 1834 ongeduldig om hulle volle vryheid, wat eers op 1 Desember 1838 sou aanbreek, te verkry. ’n Ander rede kan wees dat die eienaar teen hierdie datum reeds sy vergoeding verkry het, wat hoegenaamd nie aan sy verwagting voldoen het nie. Op hierdie wyse was hy in staat om die finansiële verlies wat hy gely het, effens te verlig.
Adam, 51 jaar oud en slaaf van Pieter Grundlingh van die plaas Preekstoel, het op 17 November, minder as twee weke voor sy algehele vrystelling op 1 Desember, £7-10 aan sy eienaar betaal. Grundlingh het hierby gewen: Adam is in 1834 deur die Kaapse waardeerders ondersoek en hulle het sy waarde op £75 bepaal. Natuurlik het Grundlingh met die uitbetaling van die eise véél minder as die bepaalde bedrag ontvang. Boonop moes hy die uitbetaling met Adriaan de Waal deel.
Twee van Jan de Villiers van Rustenburg by Moddergat se slavinne, huisbediendes, het hulle volle vryheid onderskeidelik op 7 Augustus 1835 en 21 November 1837 ontvang. Caatje het in 1835 vry geword ná betaling van £27 aan haar eienaar, en ook Letje wat in 1837 haar vrygekoop het nadat sy £18 betaal het. Op daardie stadium was Letje se waarde ook reeds deur die Kaapse waardeerders op £120 vasgestel en sou, benewens haar betaling, ook kontant ontvang van die Britse regering. Dieselfde het ook gegeld vir sy slawe Coridon en Eva in 1836 en 1837 wie se waardes reeds in 1834 op £228-15 vasgestel was. De Villiers het waarskynlik, soos talle ander eienaars, slegs ’n gedeelte van die Kaapse waardes van hulle slawe as vergoedingsgeld ontvang (Ekama e.a. 2021:4, 14).
8.3 Vroegtydige vrystelling sonder geldelike vergoeding
Twee jong slawekinders is reeds op 3 Oktober 1823 as suigelinge deur die landdros van Stellenbosch vrygestel. Philip de Vos het versuim om die geboorte van Arend, die seun wat op 29 Augustus 1821 as die seun van die slavin Eva gebore is, by die owerheid te registreer. Dieselfde het gegeld vir Johannes Brand wat nie Spatie, gebore 22 Januarie 1822 en dogter van Hester van die Kaap, geregistreer het nie. Registrasie moes plaasvind volgens artikel 13 van die proklamasie van 26 April 1816 (dieselfde proklamasie waarvolgens die registrasie van slawe moes geskied en die aanhou en byhou van slaweregisters ’n verpligting geword het). In beide gevalle is die kinders by hulle eienaars, soos die vrye Khokhoi-werkers, ingeboek en op dieselfde wyse behandel.
Talle slawe-eienaars het hulle slawe en slavinne uit welwillendheid of op grond van getroue diens vrygelaat.
Catharina Maria Faure het met haar troue met Carl Friedrich Juritz, ’n Poolse apteker in Kaapstad (Heese en Lombard 1992:197, vol. 4), haar slavin Jamia en dié se seun Adam op 20 April 1831 sonder enige voorwaardes vrygestel. Jamia is op 24 April 1817 gebore en haar seun op 26 November 1830. Jamia was dus 13 jaar oud toe haar kind gebore is. Sy het ook haar naaldwerkster, Lea, gebore 1806, en haar dogter Laura, gebore 1825, hulle vryheid laat verkry.
Op 9 Januarie 1830 het die weduwee van Jacobus Faure, ’n familielid van Catharina Faure en woonagtig in Pleinstraat in Stellenbosch, haar slaaf, December van Madagaskar, as “a free gift” sy vryheid geskenk. December, ’n tuinier, was reeds ’n bejaarde man van 73 jaar en waarskynlik nie méér as £7-10 werd nie. Dieselfde geld ook vir haar slaaf, die 79-jarige veewagter Mey van Malabar, wat op dieselfde dag vrygestel is.
’n Delport, Petrus Jacobus, stel sy 27-jarige slawe-arbeider August sonder enige voorwaardes op 26 Oktober 1832 op sy plaas Mietjesvalley by Moddergat in vryheid. Na alle waarskynlikheid het August sy eienaar se van aangeneem en die stamvader geword van die Delportfamilie van Raithby. August is op 9 Mei 1867 oorlede en het sewe kinders nagelaat (Heese en Lombard 1992:55, vol. 2).
Gerhardus Delport, ook van Mietjesvalley, het drie verskillende slavinne en ’n slaaf sonder vergoeding in vryheid gestel. Eerste in gelid was die 23-jarige Hanna op 5 April 1832, gevolg deur die 14-jarige Rosina van Catharina op 15 Maart 1832 en toe die 48-jarige arbeider David van die Kaap op 20 Januarie 1838. Laasgenoemde vrystelling het plaasgevind nadat Delport sy vergoedingsbedrag reeds op 3 Maart 1837 toegestaan is. Al Delport se slawe se vrystellings was egter nie net onbaatsugtig nie. Sy slavin Lena, 22 jaar oud, moes hom op 26 Oktober 1832 £15 betaal om vry te word.
8.4 Die verspreiding van vrystellings in ouderdomsgroepe in die Boland
Om die verspreiding van vrystellings in ouderdomsgroepe op te deel is daar 259 individue betrek. Hieruit blyk dit dat die grootste aantal vrystellings gemaak is vir een- tot negejariges en is daar nie een ouderdom wat bo die ander uitstyg nie.
Dieselfde geld ook vir die ouderdomsgroep 10- tot 19-jariges. In die groep 20- tot 29-jariges is die grootste aantal in die ouderdomsgroep die 25-jariges met nie minder nie as11 gevalle. Die volgende grootste groep is dié tussen 40 en 49 jaar, met die grootste voorkoms 45-jariges.
Die vrystellings word grafies soos volg voorgestel:
Figuur 11. Vrystelling volgens ouderdomsgroepe. N=259.
Die plek waar die meeste slawe vrygestel is, is Kaapstad en die Kaapse distrik (Shell 1990:213–4). Shell het hierdie verskynsel vir die tydperk 1715 tot 1791 deeglik ondersoek en tot die slotsom gekom dat 1 075 van die vrygelate slawe wat aan die Kaap gebore is, 51% van die totaal uitgemaak het. Die res het bestaan uit Indiërs en Ceylonnese en persone van ander Oosterse gebiede.
Van die eienaars wat hulle 611 slawe vryheid verleen het, was 72% burgers (wit) en die res was hoofsaaklik Chinese en ander Oosterlinge soos etniese Indiërs en inwoners van die Indonesiese eilande.
Teen alle verwagting in is die grootte van die Bolandse groep wat die hoogste geldelike waarde gehad het, die 20-jariges, verbasend hoog (kyk Figuur 10).
9. Ten slotte
Die Bolandse slawe toon ooreenkomste, maar ook verskille, wanneer vergelykings getref word met die gegewens en statistieke van ander slawegemeenskappe uit groter internasionale databasisse. Een van die norme om ’n meer verligte graad van lewensomstandighede van slawe te meet, is die moontlikheid van slawe om vryheid te kan verwerf (Shell 1997:383). Shell meld dat die slawe in Brasilië persentasiegewys die hoogste aantal vrystellings gehad het, gevolg deur die Nederlandse kolonie Suriname. Die vrystellingsverhouding was meer as twee keer hoër as aan die Kaap. Dit is egter nie die enigste norm nie; die slawe in Suriname was blootgestel aan baie erger maatreëls vir slawe as wat aan die Kaap gegeld het, onder meer die feit dat alle slawe gebrandmerk is met die embleme of wapens van die verskillende plantasies. Indien die brandmerk onduidelik geword het, moes die brandmerkprosedure herhaal word (De Smit en Van der Lee 1973). Met hierdie Surinaamse regulasie in gedagte was die lewe van ’n slaaf aan die Kaap moontlik meer menslik en minder wreed.
Die stelling dat daar “slawe-teelkolonies” aan die Kaap en in die VSA bestaan het, is deur Fogel en Engerman (1974) weerlê; statistiek van die Bolandse slawe bevestig die bevinding van die genoemde Amerikaners. Die gemiddelde ouderdom van ’n Bolandse slavin by die geboorte van haar eerste kind versterk ook die Amerikaanse teorie: Slavinne het oor die breë spektrum nie op ’n baie jeugdige ouderdom geboorte geskenk nie. Cilliers en Mariotti (2019) het bevind dat wit vrouens in die vroeë 19de eeu hulle eerste kinders op die ouderdom van 20,91 jaar gehad het; die vergelykende syfer vir die Bolandse slavinne was 24,2 jaar.
Cilliers en Mariotti (2019) het ook die aantal kinders van wit moeders ontleed en gevind dat die gemiddelde aantal kinders op 6,81 te staan gekom het. By Bolandse slavinne was die getal veel laer, omdat by talle slavinne slegs een kind aangeteken is. ’n Gekose groep slavinne, met ses kinders of meer, is ontleed en daar is ’n gemiddeld van 6,9 kinders per slavin bereken – dieselfde as by wit vroue.
Daar het normaalweg twee jaar tussen die geboortes van kinders in die tradisionele wit, Afrikanergesinne in die 19de en vroeë 20ste eeu verloop. Hierdie waarneming word deur die Retief-geslagsregister ondersteun (Retief 1971:6, 7). Met die eerste oogopslag op die slaweregister kry die leser die indruk dat daar, soos by wit Suid-Afrikaanse vroue tussen 1800 en 1824 (Cilliers en Mariotti 2019), rofweg elke twee jaar ’n kind gebore is. Dit is totdat daar indringend na die spesifieke geboortedatums gekyk word om te bepaal hoeveel maande werklik tussen geboortes verloop het.
Cilliers en Mariotti (2019) het die geboorte-intervalle vir wit vroue as 2,44 jaar (27 maande) vir die tydperk 1800 tot 1824 bereken. Steckel (1979:112) het die kindergeboorte-intervalle op tussen 26,8 en 30,6 maande gestel − wat ooreenstem met Cilliers se bevindings vir wit vrouens en kinders. Hiermee vergelyk die verkleinde databasis, wat bestaan uit vrouens wat sewe kinders gehad het en nie onderbreek was deur miskrame en doodgeborenes nie, se intervalle van 23,96 maande tussen geboortes gunstig met dié van die Kaapse burgerlike bevolking.
Slawe en slavinne het hulle name van hulle eienaars ontvang – met die byvoegsel van die plek waar hulle gebore is, byvoorbeeld: Kaap, Mosambiek, Java of Bengale. Die slavinne het klaarblyklik die name van hulle kinders self bepaal en die algemene Europese-Kaapse tradisie van naamgewing gevolg waar die slawe-ouers hulle eie name aan die kinders gegee het. In hierdie proses het die gebruik van vanne ontstaan. Die slaaf Thomas se kinders en nageslag het byvoorbeeld die van Thomas ontvang. Dit verklaar ook waarom die vanne van bruin mense feitlik sonder uitsondering die name van manlike slawe is.
Die haglike toestande waaronder slawe op die plantasies van afwesige eienaars in die Amerikas en Wes-Indië geleef het, hetsy Britte, Nederlanders of Skandinawiërs, dien as geldige rede vir die voortbestaan van die tradisionele Suid-Afrikaanse beskouing van die “sagter” of meer milde behandeling van Kaapse slawe. Hierin word hulle siening van ’n meer gematigde vorm van slawerny wat aan die Kaap en ook in die Boland bestaan het, versterk deur die uitspraak van ’n Wes-Indiese historikus oor die euwel van afwesige eienaars (Sheridan 2002:245, 261).
Aan die hand van die Boland-slawedatabasis kan historici en ekonome wat kwantitatiewe metodes gebruik, nuwe vrae aan die verlede stel en ontleed. Hierdie databasis, en ander digitale data wat feitlik daagliks toenemend beskikbaar raak, kan navorsers in staat stel om nuwe lig op die tradisionele of huidige geskiedbeelde rondom slawerny aan die Kaap te bevestig, of bestaande sienings te weerlê.
Bibliografie
Armstrong, J.C. en N.A. Worden. 1990. Die slawe, 1652–1834. In Giliomee en Elphick (reds.) 1990:110–87.
Böeseken, A.J. 1977. Slaves and Free Blacks at the Cape, 1658–1700. Kaapstad: Tafelberg.
Bradlow, R. en M. Cairns. 1978. The early Cape Muslims. A study of their mosques, genealogy and origins. Kaapstad: A.A. Balkema.
Cilliers, J. en M. Mariotti. 2019. Stop! Go! What can we learn about family planning from birth timing in settler South Africa, 1800–1910. Lund Papers in Economic Demography, 2:1–35.
Cruse, H.P. 1947. Die opheffing van die Kleurlingbevolking. Stellenbosch: Die CSV Boekhandel.
De Smit, J.T. en T. van der Lee. 1973. West Indisch Plakaatboek. Plakaten, ordonnantiën en andere wetten, uitgevaardigd in Suriname 1667–1816. Amsterdam.
Ekama, K., J. Fourie, H. Heese en L.-C. Martin. 2021. When Cape slavery ended: introducing a new slave emancipation dataset, Explorations in economic history. https://www.sciencedirect.com/science/article/abs/pii/S0014498321000012?via%3Dihub (10 Desember 2022 geraadpleeg).
Fogel, R.W. en S.L. Engerman. 1974. Time on the Cross. The economics of American Negro slavery. New York: WW Norton and Company.
Giliomee, H. en R. Elphick (reds.). 1990. ’n Samelewing in wording, 1652–1840. Kaapstad: Maskew Miller Longman.
Grundlingh, M. 1965. Vyftig jaar Britse bestuur, 1806–1854. In Kruger (red.) 1965.
Hattingh, J.L. 1983a. Klagte oor W.A. van der Stel se slawebesit; ’n beoordeling met die hulp van kwantitatiewe data. Kronos. Mededeling van die Wes-Kaaplandse Instituut vir Historiese Navorsing, 7:13–41.
—. 1983b. Naamgewing aan slawe, vryswartes en ander gekleurdes. Kronos. Mededeling van die Wes-Kaaplandse Instituut vir Historiese Navorsing, 6:5–20.
Heese, H.F. 1981. Slawegesinne aan die Kaap, 1665–1720. Kronos. Mededeling van die Wes-Kaaplandse Instituut vir Historiese Navorsing, 4:38–48.
—. 1984. Groep sonder grense. Die rol en status van die gemengde bevolking aan die Kaap, 1652–1795. Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland.
—. 1986. Mortaliteit onder V.O.C.-slawe, 1720–1782. Kronos. Mededeling van die Wes-Kaaplandse Instituut vir Historiese Navorsing, 11:7–14.
—. 2016. Amsterdam tot Zeeland. Slawestand tot middestand? ’n Stellenbosse slawegeskiedenis, 1679–1834. Stellenbosch: SunMedia.
—. 2020. Cape of Good Hope? Meeting place of unwilling migrants from Africa, Asia and indigenous people. Insights in Anthropology, 4(1):268–79.
Heese, J.A. en R.T.J. Lombard. 1992. Suid-Afrikaanse geslagsregisters. Volume 2. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.
—. 1994. Suid-Afrikaanse geslagsregisters. Volume 4. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.
Hoge, J. 1946. Personalia of the Germans at the Cape, 1652–1806. Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis. Kaapstad: Die Staatsdrukker.
Koplan, J.P. 1983. Slave mortality in nineteenth-century Grenada. Social Science History, 7(3):311–20.
Kotze, C.R. 1968. ’n Nuwe bewind, 1806–1834. In Muller (red.) 1968.
Kruger, D.W. (red.). 1965. Geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: NASOU.
Krzesinski-de Widt, A. 2002. Die boedelinventarisse van erflaters in die distrik Stellenbosch, 1679–1806. Kompakskyf. Stellenbosch Museum.
Logan, T.D. 2002. American enslavement and the recovery of black economic history. Journal of Economic Perspectives, 36(2):81–98.
Martins, I., J. Cilliers en J. Fourie. 2022. Legacies of loss: the health outcomes of slaveholder compensation in the British Cape Colony. Explorations in Economic History. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0014498322000778?via%3Dihub (3 Januarie 2023 geraadpleeg).
Muller, C.F.J. (red.). 1968. 500 jaar Suid-Afrikaanse geskiedenis. Pretoria: Academia.
Retief, P.J. 1971. Die Retief-familie in Suid−Afrika. Pretoria. Privaat uitgegee.
Shell, R.C. en R. Elphick. 1990. Onderlinge verhoudings: Khoikhoi, nedersetters, slawe en vryswartes, 1652–1795. In Giliomee en Elphick (reds.) 1990:188–246.
—. 1991: Tender ties: the women of the Cape Slave Society. Collected Seminar Papers. The Societies of Southern Africa (17). Londen: Institute of Commonwealth Studies.
—. 1992: Religion, civic status and slavery from Dordt to the Trek. Kronos. Tydskrif vir Kaaplandse Geskiedenis, 19:28–63.
—. 1997. Children of bondage. A social history of the slave society at the Cape of Good Hope, 1652–1838. Johannesburg: Witwatersrand University Press.
—. 2007. Changing hands: a calendar of bondage in South Africa, 1588 to 1888. CD ROM. Kaapstad: Ancestry24.
Shell, R.C. en L. Mbeki. 2014. Paper presented at the David and Elaine Potter Foundation Seminar. Vrydag 16 Mei, T.B. Davey Seminar Room, Universiteit van Kaapstad.
Shell, R.C. en P. Rama. 2007. Breeders or workers? The structure of slave prices in the Cape Colony, 1823–1830. Safundi: The Journal of South African and American Studies, 8(4):413–33.
Shell, R.C. en A.M. Rugarli. 2008. Historical relevance?: ten sketches of women illegally enslaved at the Cape, 1823 to 1830, Contree, 55:42–64.
Sheridan, R.B. 2002. The condition of the slaves on the sugar plantations of Sir John Gladstone in the Colony of Demerara, 1812–1849. New West Indian Guide, 76:243–69.
Steckel, R.H. 1979. Slave mortality: analysis of evidence from plantation records. Social Science History, 3:86–114.
Stellenbosch Opgaafrol 1838. (Ongepubliseer.) J 308, Kaapse Argiefbewaarplek, Kaapstad.
Theal, G.M. 1903. Records of the Cape Colony, 1823–1824, XVl. Londen: The Government of the Cape Colony.
Thieme, A. en M. Donath. 2022. Augusts Afrika. Afrika in Sachsen, Sachsen in Afrika im 18. Jahrhundert. Bernstadt: Via Regia Verlag.
University College of London. s.j. Legacies of British Slavery (LBS). https://www.ucl.ac.uk/lbs/estate/view/976 (10 Desember 2022 geraadpleeg).
Vinovskis, M.A. 1975. Resensie van Fogel en Engerman, Time on the Cross (1974, New York). The Journal of Interdisciplinary History, 5(3):459–67.
Wegner, S. s.j. Classical Names and Concepts used in the service of slavery. Bowdoin College Museum of Art (BCMC). https://bcma.bowdoin.edu/antiquity/classical-names-and-concepts-used-in-the-service-of-slavery (1 Mei 2023 geraadpleeg).
Worden, N. 1985. Slavery in Dutch South Africa. Cambridge: Cambridge University Press.
- Die fokusprent deur Albrecht Fietz by hierdie artikel is op Pixabay verkry.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.
Kommentaar
Baie interressante onderwerp, hoop daar sal 'n boek uitgegee word.