In memoriam: Derick van der Walt

  • 3

Alle foto's van die omslae, asook van Derick van der Walt: NB-Uitgewers

Hy kon sy drome vlerke gee, sy gedagtes omsit in woorde wat gryp en goël. Derick van der Walt is weg, maar sy stories bly. Dit is die skat wat hy agterlaat: die wonderlike boeke wat ons steeds sal kan lees en weer lees en die lekkerte daarvan sal kan geniet.

Om totsiens te sê is sleg. Derick is hopeloos te vroeg weg. Op 63 het hierdie skrywer van aangrypende tekste soos Lien se lankstaanskoene (2008) en Torings van Jasmyn (2019) nog soveel gehad om vir sy aanhangers te bied; soveel stories wat ons aan sy lippe sou laat hang. Tog is ’n mens dankbaar vir dit wat steeds daar is en wat behoue gebly het van hierdie bedrewe skrywer.

Hy was ’n fliekvlooi, ’n leesvraat en lief vir kosmaak. Volgens vriende en kennisse het hy passievol geleef. Daardie passie is duidelik in sy skryfwerk te bespeur. Van Lien se lankstaanskoene is daar in 2012 ’n fliek gemaak en al sy jeugboeke is bekroon met pryse soos die Sanlam-, die MER- en die Scheeperspryse, en dit was beslis verdienstelik. Uit sy pen verskyn ook twee boeke vir volwassenes, Daan Dreyer se blou geranium (2012) en Tussen vriende (2017), en daar sou sekerlik meer gewees het in die toekoms.

Met Torings van Jasmyn het Derick op ’n droom gereageer. Hy het self na Turkye gereis om persoonlik te gaan ervaar en waar te neem en na die tyd het hy ’n boek geskryf wat opnuut ’n wenner was. Sy werk getuig van ’n vermoë om in die vel van sy jong karakters te klim, om hulle skoene vol te staan en van daardie verbeeldingskarakters werklike mense te maak. Hy kon weer tiener word en oortuigend en geloofwaardig die wêreld van jongmense weergee. Sy aanslag was vars en oorspronklik, sy taalgebruik vernuftig en sy dialoog skerp en treffend. So was dit telkens en met elkeen van sy werke.

Wees gegroet, woordkunstenaar. Die Afrikaanse literêre wêreld het ’n waardevolle jeugskrywer verloor, een oor wie daar nog lank getreur gaan word, maar jou nalantenskap is oneindig kosbaar en sal voortgaan om lesers, jonk en oud, te vermaak en te boei.

Lees ook:

Boekresensie: Bambaduze deur Derick van der Walt

Tussen vriende: ’n onderhoud met Derick van der Walt

Skrywersonderhoud: Derick van der Walt oor Toring van Jasmyn

 

 

  • 3

Kommentaar

  • Derick, jou liefde vir die lewe was aansteeklik. En die wat jou goed ken, sou weet: “Dis wat die actress vir die bishop gesê het.” Ek mis jou reeds.

  • Gerhardt Boshoff

    Ons innige simpatie. Dink baie aan jou, Lenie. Wat kan ek sê? Ek het nooit vir Derick ontmoet nie, en tog glo ek ons sal eendag! May God be with you and your family. Sterkte 🙏🏼

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top