Boekresensie: Bambaduze deur Derick van der Walt

  • 0

bambaduze650

Bambaduze
Derick van der Walt
Tafelberg, 2015
ISBN: 9780624069294

Derick van der Walt het geen bekendstelling nodig nie. Hy is immers die skepper van Lien se lankstaanskoene (2008), ‘n jeugboek wat diep spore getrap het en wat ook reeds verfilm is. Daarna het Willem Poprok (2010) en Hoopvol (2012) gevolg, asook ‘n eerste volwassene-roman, Daan Dreyer se blou geranium (2012).

Van der Walt se jeugboeke is treffers. Hulle wen pryse, want hulle is só goed. Elke een wat uit sy pen verskyn, raak ‘n nuwe senuwee, tref waar dit saak maak, en elke prys wat hy verower (Sanlam-pryse: goud en silwer, die MER-prys en die Scheepersprys) is welverdiend. Bambaduze sal sonder twyfel sy toekenning(s) ook gaan haal.

Van der Walt kies temas van bedrieglike eenvoud en juis daarin lê die slaankrag van sy werk. Dis met soveel deernis en empatie dat die menslike kondisie beskryf word dat dit aangryp en nie laat los nie. En dit is dan veral met sy begrip van die ontluikende jong volwasse self dat van der Walt telkens met ‘n barshou verras.

In Bambaduze smag Jurie Viljoen na ‘n bambaduze, ‘n drukkie, ‘n oomblik van koestering, om vasgehou te word in ‘n wêreld wat vir hom nie sin maak nie. ‘n Wêreld waarin hy so verward is oor sy eie gevoelens, vrese en woede dat sy enigste werklike ontvlugting kom wanneer hy iemand se motor ongesiens kan gaps en alle vorme van vóél uit hom kan uitjaag. Maar dan ontmoet hy die pragtige Nandi Ngobeni en sy lewe neem ‘n nuwe wending, want “alles is oukei by hierdie meisie”. Sy weet van ngibambel’eduze, van styf vashou totdat dinge beter voel.

Jurie het in sy broer se skaduwee grootgeword: “Hy het álles voor my gedoen. Toe dit my beurt was om goed te doen, was dit lankal last season. Hy was Mr Popular, by die skool en die huis.” Tog het dit hom nie jaloers op sy broer gemaak nie; inteendeel, sy broer het vir hom ‘n sagte pad berei – een waarin hy moeiteloos kon volg, want dit was cool om Daniël Viljoen se broer te wees. Maar toe kom die verlies en die gepaardgaande verwarring oor hoe hy voel na sy broer se dood. Is hy “de bliksem” in vir sy broer wat met ‘n “stuff julle, ek move nou aan sonder julle” weg is; vir sy ma wat vol pilletjies gepomp die pad gevat het oorsee om haarself te gaan vind; vir sy pa, die “wimp” van wie hy al verder wegdryf? Of is hy sommer net jammer vir homself? Voel hy dalk skuldig? Jurie is so sinies, so onbeskof ‘n mens wil hom skud. Hy maak die lewe vir homself so moeilik ‘n mens wil by hom pleit om homself reg te ruk, maar sy menslikheid is so eerlik en geloofwaardig dat die deernis vir die karakter net eenvoudig kom. Sy briefies aan sy ma, wat hy feitlik almal uitwis voordat hy dit stuur, is hartverskeurend. Sy pa se geduld met hom is roerend. Dit is juis hierdie voorstelling van die mens in al sy broosheid en kwesbaarheid waarmee van der Walt so goed is dat dit lank na die neersit van die boek nog by die leser bly spook.

Van der Walt gebruik onvolledige sinne, ‘n vertelstyl met woordgebruik wat wissel tussen tipiese tienertaal en woorde wat waarskynlik onbekend is aan die jeug. Dit is dinge wat uitgewers dwars in die krop mag steek, maar dit werk juis omdat dit so geloofwaardig is, omdat dit so ontstellend eerlik is. Die leser leef heeltyd in die hoofkarakter se kop. Jy lééf Jurie se verwarring, sy hopeloosheid. Jy kan voel hoe hy skietgee wanneer hy deur die water klief in die swembad, hoe hy loslaat wanneer hy in ‘n gesteelde kar jaag. Dit is tye wanneer dit net hy is, wanneer niks anders saak maak nie, geen ander karakters ter sprake is nie, maar dit is ook daardie tye wanneer die léser by is en Jurie se diepste emosies beleef.

Van der Walt tref met raak beskrywings, met liriese woordgebruik, soos byvoorbeeld in die aanspreekvorme van sy ma: Mammie Mooi en Maanskyn, waarin die smagting na sy ma deurbreek, en dan net feitlik onmiddellik uitgewis word deur die “delete”-knoppie. Hier val die skreiende kontras tussen die mooi benoemings en die felle realiteit op (die ma het hom verlaat op ‘n tyd toe hy haar nodig gehad het) en die leser besef dat dit juis hierdie teenstelling is wat die werklikheid van Jurie se verlies en sy versugtinge verwoord.

Derick van der Walt is ‘n suksesvolle skrywer van jongvolwassene-literatuur, want hy eer die energie van daardie emosiebelaaide oorgang tussen kind wees en volwassene wees. Daardie tydperk van verandering waartydens die individu gewikkel is in ‘n stryd met die self en met die verhouding tot andere. Literatuur vir die jong volwassene moet iets sê oor wat dit beteken om mens te wees. Dit is uiters moeilik, gegewe die teikengehoor, maar Van der Walt kry dit reg om suksesvol te skryf binne daardie “ridiculously raw period of a person’s life”, soos wat Markus Zusak van The Book Thief-faam adolessensie noem.

Met sy werke vir jong volwassenes is Derick van der Walt nie bloot besig om ‘n wortel voor die neus van potensiële lesers te hou nie. Hy is nie bloot besig om jong lesers te verlei tot die lees van meer gesofistikeerde fiksie nie. Hy skrýf dit reeds: goeie, betekenisvolle, literêre tekste, en hy skuur dus sodoende met gemak skouers met die grotes. Daarom sien ek reikhalsend uit na elke nuwe boek wat hy bydra.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top