Huldeblyk aan Matthys Strydom (1935 – 2022)

  • 2

Foto vanaf Facebook, met toestemming van die gesin

...
Met openingsaande was daar ’n tou voor die deur van gaste wat gretig was om binne te kom. Geen voorskoue is gehou nie en dit het twee weke geduur om die werke te hang en te plaas. Baie van die kunstenaars het ook die openingsaand bygewoon en die wedywering van die gaste om die werk te sien en die eerste te wees om te kan koop, was aansteeklik.
...

Met nabetragting oor die lewe en werk van Matthys Strydom is dit so maklik om bloot clichés in te span om iets oor die omvang te sê van sy ryk nalatenskap ten opsigte van Suid-Afrikaanse kuns, die boerdery en geneeskunde. Op elke gebied het hy ’n betekenisvolle bydrae gelewer wat hoog geag word. Vir my was dit sy meelewendheid en sy behoefte om werklik ’n verskil te maak wat ek met dankbaarheid onthou.

Vir baie kunstenaars was sy betrokkenheid met hulle ’n paspoort na ’n groter loopbaan en vir ander verdienstelikes ’n sekuriteit om ’n eerbare bestaan te maak uit die droom wat hulle gelewe het. Onbekende name het selfs huishoudelik geword. ’n Onberekenbare aantal mense het vir die eerste keer kunswerke aangekoop, baie het versamelings begin en enkeles het privaat versamelings opgebou wat Suid-Afrikaanse kuns internasionaal kompeterend gemaak het.

Strydom kon dit doen vanweë sy passie vir mense én vir kuns. Veral oor sy opregtheid, eerlikheid en integriteit. Hy was in elke opsig ’n eerbare man wat daarop ingesteld was om te gee eerder as te neem.

Kuns, veral die versamel daarvan, was vir hom ’n laat – en toevallige – ontdekking. Hy en sy vrou, Helene, was laat in 1967 in Kaapstad vir ’n operasie wat hulle jongste seun, Ludwig, in die Groote Schuur-hospitaal ondergaan het. Hulle was tuis in ’n hotel op Groentemarkplein en ’n klipgooi ver van die Ashbey Galery in Kerkstraat. ’n Kunsveiling was op hande en hulle besluit om twee skilderye waarvan hulle besonder baie gehou het, te koop. Albei toevallig boomlandskappe, een van George Enslin en die ander van Paul du Toit.

Dit geluk hulle nie om op die veiling die werke aan te koop nie, maar die gogga van opwinding en verwondering het gebyt. “Die opwinding en veral die besef dat dit wat ek nog altyd gedink het net in galerye te sien was, self aangeskaf kan word en aan ons eie mure geniet kon word, was ’n wonderlike ontdekking.” Hy vertel dat hy dae daarna nog “gedroom het oor kunsveilings en rond gesweef het op allerhande verbeeldingsvlugte”. Vir hom die voorspel tot sy latere betrokkenheid by die kunshandel.

Strydom het onthou dat hy en Helene tydens hulle studentedae aan die Universiteit van Kaapstad na ’n uitstalling van Gregoire Boonzaier gaan kyk het. Hy bel die kunstenaar, maak ’n afspraak vir ’n besoek by sy ateljee in Kenilworth en koop hulle eerste kunswerk by hom. ’n Pragtige olieverfwerk, Kaal eike en huisies, Suurbraak, 1966, destyds vir R400. Dit was ook sy eerste ontmoeting met ’n lewende kunstenaar.

Die  Ashbey-veiling en die ontmoeting wat tot die aankoop van sy eerste skildery gelei het, was, soos hy dit gestel het “die kieme wat gelei het tot my ongeneeslike ‘siekte’, die van fanatiese kunsversamelaar”.  Die “newe-effekte” was lewenslange vriendskappe met kunstenaars, ander kunsliefhebbers en ook sy latere sukses as kunshandelaar.

Net ’n jaar later sluit Strydom sy mediese praktyk in Heidelberg (Gauteng) op 20 Desember 1968 en neem ’n meubelsaak, Strydom en Jordaan, oor van sy pa. Op 23 Desember word hy die eienaar en stel een doelwit: om ’n jaar later, in Desember 1969, sy eerste uitstalling aan te bied. Dit was met kunswerke wat hy by gewillige lewende kunstenaars gaan uitsoek het, saam met enkele werke uit sy eie en ander privaat versamelings van Suid-Afrikaanse kunstenaars wat al oorlede was en wie se werke nie te koop was nie. Dit was bedoel as ’n eenmalige uitstalling om aan die Suid-Kaapse publiek ’n beskeie oorsig van Suid-Afrikaanse kuns te wys.

Hoewel nie baie werke verkoop is nie, was daar ’n gewaardeerde en entoesiastiese ontvangs wat gelei het tot die besluit om die Strydom-galery se Someruitstalling ’n jaarlikse instelling te maak.  Elke Desember en Januarie was die fokus op die uitstalling en die doel om kuns te verkoop en die avontuur om dit te versamel en te bemark.

Die besluit om alle kunstenaars wat genooi word om by hulle uit te stal, persoonlik te ontmoet, het ’n besonderse band meegebring tussen handelaar cum versamelaar en die kunstenaars en breë kunspubliek. Dit was nou in almal se belang om saam te werk. Die plaaslike kopers het jaarliks verdubbel; vakansiegangers aan die Suid-Kaap en internasionale toeriste het die mark – en aanvraag – verbreed. ’n Groot bate was dat Strydom altyd in die posisie was om eerstehandse inligting tussen kunstenaars en potensiële kopers te kon uitruil.

Na 20 jaar kon die galery wat aan die meubelsaak Strydom en Jordaan gekoppel was, uiteindelik wegbreek en onafhanklik as die Strydom Galery in Markstraat, George sake bedryf. Een van die kenmerke van die jaarlikse Someruitstalling was dat elke Desember ’n eenvoudige monochrome enkelvelalmanak versprei is met een van die grafiese werke van daardie jaar se uitstalling daarop. Mettertyd het dit ’n gesogte versamelstuk geword. Elke jaar is ook ’n openingspreker genooi wat nie ’n professionele kunstenaar was nie, maar op eie gebied presteer het en wel in kuns belang gestel het.

Onder die gesogte sprekers was, om ’n paar te noem, Hans Trümpelmann, Danie van Niekerk, Frik Scott, Dot Serfontein, Richard van der Ross, Hans Fransen, Stephan Welz, Martin Versveld, FA van Jaarsveld, Ferdinand Deist, Brian Gilbertson, Johan Degenaar, Piet Cillié, Ken Owen, Elizabeth Bradley, André P Brink, Frieda Harmsen, Elmari Rautenbach en Paul Cilliers.

Met openingsaande was daar ’n tou voor die deur van gaste wat gretig was om binne te kom. Geen voorskoue is gehou nie en dit het twee weke geduur om die werke te hang en te plaas. Baie van die kunstenaars het ook die openingsaand bygewoon en die wedywering van die gaste om die werk te sien en die eerste te wees om te kan koop, was aansteeklik. Goue reël nommer een was dat die uitstalling vir die duur van twee maande intakt sou bly. Daarna het Strydom al die verkoopte en geleende werke aan hulle eienaars (terug)besorg. Nog ’n goue reël was dat hy nie ’n eerste opsie sou uitoefen op wat te koop aangebied word nie. Hy sou koop alleen nadat die uitstalling verby is.

Na 30 jaar, in 1999, het Matthys die galery aan sy broer, Leon Strydom, verkoop, maar nog ’n jaar aangebly om met sy 31ste Someruitstalling in 2000 uit te tree.

Onder die belangrikste kunstenaars tel Gregoire Boonzaier, Erich Mayer, Adolph Jentsch, Maud Sumner, Eben van der Merwe, Christo Coetzee, Carl Büchner, Piet van Heerden, Judith Mason Rhona Stern, JH Pierneef, Jean Welz, Paul du Toit, Erik Laubscher, Claude Bouscharain, Stanley Pinker,  Alexis Preller, Fred Schimmel, Cecil Skotnes, Eleonor Esmonde-White, Leigh Voigt, Alice Goldin, Gunther van der Reis, Helmut Starcke, Alexander Podlashuc, Frans Claerhout, Beatrice Bosch, Hardy Botha en Robert Hodgins.

Onder sy gunsteling-keramiekkunstenaars is Konstanze Harms, Dina Prinsloo, Hyme Rabinowitz, Kim Sacks, Marietjie van der Merwe, Dirk Meerkotter, Esias Bosch en Tim Morris. 

Sy 31 jaar in die kunshandel het Strydom as “interessant, bevredigend en leersaam” beskryf. “Dis altyd lekker om andere tot ’n persoonlike passie te bekeer. Ek het dit geniet om iets wat ek beskou het as van blywende waarde te bemark, veral om dit nie aan te bied as belegging in die eerste plek nie.” Hy was van oortuiging dat as ’n mens kuns met jou hart koop en algaande meer daarvan leer, dit nie alleen jou lewe sal verryk nie, maar waarskynlik ook ’n goeie finansiële belegging sal blyk te wees.

’n Ander tendens wat Strydom in sy jare as kunshandelaar kon aanteken, was dat Afrikaners, veral in latere jare, die betroubaarste kunskopers was. Vandag is dit algemeen bekend dat die Suid-Afrikaanse kunsmark in hoofsaak deur Afrikanerversamelaars – oud en jonk – gedra word.

’n Teer puntjie waaroor Strydom uitgesproke was, was wat hy genoem het die “grootste wanbenamings in omloop, naamlik ‘kuns’ en ‘kunstenaars’”. In die beeldende kunste, het hy gemeen, “kwalifiseer min skeppings of skeppers wat deur toe-eiening of toedigting” naasteby die reg het om na hulle werk as kuns of hulle ambag as kunstenaars te verwys.

Uiteindelik moes Matthys en Helene Strydom ook die finale besluit neem oor die toekoms van hul kunsversameling wat oor vier dekades opgebou is.  Helene, ’n goed onderlegde argitek met veral ’n fyn ruimtelike aanvoeling, ontwerp toe ’n kunsskuur wat spesifiek vir die versameling gebou is. Vandag huisves die kunsskuur die kosbare versameling van Suid-Afrikaanse kuns, keramiek en kunsboeke. Dit bied ’n unieke oorsig oor die groei en ontwikkeling van Suid-Afrikaanse kuns en ’n waardevolle insig in die tendense wat oor ’n eeu ons kunstenaars gevoed het.

Matthys Strydom se bydrae is veral belangrik omdat dit uniek is. Uiteindelik ’n bydrae van die hoogste waarde.

Publikasies

Strydom het vier belangrike publikasies die lig laat sien:

  • Gerard de Leeuw, Suidkaap-Uitgewery, 1979
  • Francois Krige, Tekeninge. Human & Rousseau, Kaapstad, 1993
  • Stories teen my muur, Inset Uitgewers, Eversdal, 2016
  • Nog stories teen my muur, Inset Uitgewers, Eversdal, 2021.
Naskrif

Die Strydom-galery het Matthys Strydom, soos reeds genoem, in 1999 aan sy broer, Leon, verkoop, wat dit op sy beurt in 2011 aan Frank Kilbourn en Anton Taljaard verkoop het. Hulle het dit weer teen die einde van 2013 aan Stephan Welz se vorige onderneming, Stephan Welz & Co, verkoop ter wille van die voorraad. Die laaste uitstalling was die George 45, die 45ste Somertentoonstelling, in Desember 2013. Einde Januarie 2014 is die galery gesluit.

Bronne

Strydom, Matthys. 2016. Stories teen my muur, Inset Uitgewers, Eversdal.

—. 2021. Nog stories teen my muur, Inset Uitgewers, Eversdal.

Verskeie onderhoude en gesprekke met Matthys Strydom in George en in Kaapstad tussen 2016 en 2020.

Lees ook:

Stories teen my muur: ’n onderhoud met Matthys Strydom

Nog stories teen my muur deur Matthys Strydom: ’n resensie

Nog stories teen my muur deur Matthys Strydom: ’n lesersindruk

  • 2

Kommentaar

  • 'n Wonderlike mens en passievol oor die lewe, soos uitgebeeld deur talentvolle kunstenaars. Dit was 'n voorreg om Matthys te ken.

    Mag hy in vrede rus.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top