Nog stories teen my muur deur Matthys Strydom: ’n resensie

  • 1

Titel: Nog stories teen my muur
Skrywer: Matthys Strydom

ISBN: 978-0-620-93289

In “Unpacking my library, a talk about book collecting” (ek maak gebruik van die 1968-vertaling in Engels wat saam met ander opstelle in 1970 verskyn het as Illuminations) skryf Walter Benjamin nie net oor sy versameling boeke nie, maar oor versamelsin. Nadat hy twee jaar lank sonder sy boekery moes klaarkom, is hy verheug oor elke boek wat krat ná krat weer aan die lig kom. Nietemin besef ’n mens dat hy in dié 1931-essay eintlik oor homself skryf. As hy die proses van versamel beskryf as ’n dam teen die springgety van herinneringe wat opwel wanneer die versamelaar sy (of haar) eiendom betrag, benadruk hy die intieme band tussen die versamelaar en die versamelde items. Trek ’n mens dié argument verder sou dit kon blyk dat die versamelaar in wese hom- of haarself versamel. So ver gaan Benjamin dat hy aanvoer: “[T]he phenomenon of collecting loses its meaning as it loses its personal owner” (68).

Van persoonlike en private kunsversamelings is dit ook waar. ’n Versameling bestaan nooit op sigself nie, maar weerspieël – met al sy hoogtepunte, laagtepunte, hiate en doelbewuste weglatings – die idiosinkratiese versamelsin van die eienaar.

..........
’n Versameling bestaan nooit op sigself nie, maar weerspieël – met al sy hoogtepunte, laagtepunte, hiate en doelbewuste weglatings – die idiosinkratiese versamelsin van die eienaar.
............

Matthys Strydom is pront hieroor in sy twee boeke oor sy persoonlike kunsversameling, of dan ten opsigte van dié werke wat hy beskryf in twee boeke, Stories teen my muur (2016) en Nog stories teen my muur, wat einde verlede jaar verskyn het. “Baie van die genot wat ek uit ’n kunswerk kry, kom juis van die herinneringe en assosiasies wat dit oproep,” skryf hy in die inleiding, en soos die titel van albei boeke aandui, is dit die stories gekoppel aan kunswerke in sy private versameling wat die 87-jarige Strydom onder woorde bring en nie ’n akademiese besinning nie. “Ek probeer gewoonlik nie kunswerke ontleed nie, omdat ek eintlik nie kán nie en dit ook nie nodig het om dit te kan geniet nie,” skryf hy op bladsy 122. Die herinneringe en assosiasies waarna hy verwys, spruit nie net uit kosbare eerstehandse ervaring wat hy opgedoen het uit besoeke aan kunstenaars se ateljees nie, maar sluit ook stories in oor die manier waarop hy die werke bekom het, wat dit vir hom beteken en die spore wat hy geloop het om navorsing oor van die werke te doen.

Strydom is die man wat in 1968 sy praktyk as mediese dokter prysgegee het om die meubelsaak Strydom & Jordaan in George te gaan oorneem. Sedert 1969 het hy en sy vrou, Helene, jaarliks ’n uitstalling van Suid-Afrikaanse kuns in die meubelwinkel aangebied en so het die Strydom Galery tot stand gekom. Sy broer Leon (wat verlede jaar oorlede is en wat self ’n eie omvangryke kunsversameling tot stand gebring het) was van die begin af intiem betrokke met sy meer akademiese benadering tot kuns.

.............
In die 31 jaar waarin Matthys Strydom die Strydom Galery bedryf het, was hy sy eie grootste klant en het hy werk aangekoop wat ná twee maande nog onverkoop teen die galery se muur gehang het – dikwels nie die betrokke kunstenaar se sterkste werk nie, maar wel werk wat met Strydom gepraat het.
..............

In die 31 jaar waarin Matthys Strydom die Strydom Galery bedryf het, was hy sy eie grootste klant en het hy werk aangekoop wat ná twee maande nog onverkoop teen die galery se muur gehang het – dikwels nie die betrokke kunstenaar se sterkste werk nie, maar wel werk wat met Strydom gepraat het. “Vir my om ’n kunswerk innig te kan geniet, moet dit iets van die kunstenaar self bevat, ek moet voel dis nie net gemaak om den brode nie, maar dit kom uit die skepper se murg, been en hart” (69, 70). Die manier waarop Strydom die werke (netjies afgebeeld) in Nog stories teen my muur beskryf, gee ’n mens ook die idee dit is kunswerke wat resoneer met sy eie murg, been en hart.

Neem die Jean Welz-landskap (Landskap, 1953, ’n werk in olie op doek) wat hy in 1980 vir R3 800 aangekoop het as voorbeeld. Vir bykans 40 jaar het Strydom gewonder oor die landskap wat dié skildery geïnspireer het, totdat hy ná heelwat speurwerk in 2019 op die plek gestaan het waar Welz na die toneel op die doek gekyk het (en geslaap het in die ou opstal waar Welz ook oornag het). Benewens nalees en gesprekke met kennisse, vriende en familie van kunstenaars is die persoonlike navorsing, en tot ’n groot mate ontmoetings met die kunstenaars, die boustene vir Strydom se vertellings. Sy uitgangspunt was immers van meet af om ateljeebesoeke by kunstenaars af te lê met die oog op uitstallings in die galery. Die boek bevat ook die vertellings oor die kunstenaars wat hy misgeloop het – soos Alexis Preller. Maar dié teleurstellings gee eweneens aanleiding tot waardevolle inligting, soms aanvullend tot bestaande inligting oor betrokke kunstenaars.

As ’n mens Strydom se versamelsin in ’n neutedop moet opsom, sou dit saamgevat kon word in sy taksering van die skilderwerk van Clément Sénèque: “Geen getjommel met die kwas nie.” Eweso tjommel Strydom ook nie met woorde nie. Die siening van “ene NJ Coetzee” oor die ideologiese onderbou in JH Pierneef se landskappe maak hy in een sin af as “suiwer duimgesuigde snert” (14). En toe hy werk van Robert Hodgins nie in George kon uitstal nie omdat “Linda Goodman, sy agent (dit) nie sou toelaat nie”, is hy “opnuut gewalg deur die inhaligheid van handelaars wat kunstenaars as hul eiendom beskou” (282).

Die persoonlike en idiosinkratiese elemente wat deel is van eie versamelsin verwoord Strydom onder meer in sy erkenning dat hy nie aangetrokke is tot Cecil Skotnes se “abstrakte uitbeeldings van Afrika-figure en -kulture nie” (131), maar dan verwys hy wel na sy bewondering vir Afrika-beeldhouwerk. Oor ’n beeld in ciment fondu van Lyn Smuts sê hy: “Hierdie kop sê: ‘Ek kom uit Afrika.’ Waarskynlik een van die redes hoekom ek so baie daarvan hou” (185).

Strydom skryf reguit, sonder om doekies om te draai, soos iemand wat besef het “hoe het dit skielik laat geword?”, ’n reël uit ’n gedig van Olga Kirsch wat hy voor in die boek as motto aanhaal.

Hoewel Strydom aanvoer dat hy nie sy stories akademies benader nie, gee hy in sekere gevalle heelwat tegniese inligting oor veral grafiese drukwerk – soos oor houtsnee as reliëftegniek (148), oor serigrafie (167) en mezzotint (187).

Akademies

Sommige van die stories het meer om die lyf as ander – die kort vertelling oor Dirk Meerkotter is bra eina.  

Wat Strydom in hierdie boek benadruk, is die belang van inligting en veral die bewaring van inligting. Hy self gee in curricula vitarum (ná elke storie) soveel biografiese inligting moontlik, en verwys dan na iemand soos Stephan Welz wat dit “berou (het dat) hy nie betyds genoeg inligting van sy voorsate gekry en bewaar het nie” (89). Daarby spreek hy die jammerte uit dat die laaste eienaars van die Strydom Galery (nadat hy nie meer daarby betrokke was nie) “die 45 jaar se rekords van die galery verlore laat gaan (het)”.

............
Meer as blote rekord is Nog stories teen my muur, soos die eerste Stories teen my muur, die neerslag van ’n lewe met kuns – ’n seldsame soort boek in die tyd waarin ons leef – en aanduiding van een man se versamelsin. Oor die kuns kom die leser heelwat te wete, maar so ook oor die mens Matthys Strydom.
............

Meer as blote rekord is Nog stories teen my muur, soos die eerste Stories teen my muur, die neerslag van ’n lewe met kuns – ’n seldsame soort boek in die tyd waarin ons leef – en aanduiding van een man se versamelsin. Oor die kuns kom die leser heelwat te wete, maar so ook oor die mens Matthys Strydom.

Soos Benjamin opgemerk het: “[O]wnership is the most intimate relationship that one can have to objects. Not that they come alive in him; it is he who lives in them” (69).

Bibliografie

Benjamin, Walter. “Unpacking my library, a talk about book collecting”. In lluminations, Hannah Arendt (red). Vertaal deur Harry Zorn, 61–9. Londen: Pimlico, 1999.

Lees ook:

Nog stories teen my muur deur Matthys Strydom: ’n lesersindruk

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top