Stories teen my muur: ’n onderhoud met Matthys Strydom

  • 2

Matthys Strydom vertel vir Naomi Meyer van sy boek Stories teen my muur.

Matthys, jy was die eienaar van die Strydom-galery in George, wat nou gesluit is. Jou boek Stories teen my muur skop af met ’n inleiding oor jou persoonlike reis met kuns. Reg aan die begin vertel jy hoe die ontstaan van jou kunsversamelings te danke was aan jou seun se behandeling in Groot Schuur-hospitaal in Kaapstad. Wil jy kortliks iets hieromtrent vir ons lesers vertel?

Ek dink my belangstelling in kuns is geneties (soos by vele Suid-Afrikaners). Belangstelling moet egter wakker gemaak word deur blootstelling en stimulasie. Dít het eers vir my by die Universiteit van Kaapstad gekom, waar ek (medies) en my latere vrou, Helene Röll (argitektuur), albei eerstejaars was in 1953. Sy het ’n bietjie op skool in Wellington geskilder en ons het saam spontaan die behoefte gehad om na kunsuitstallings te gaan. Die stimulus om van blote belangstelling na die lus om kuns te besit oor te skakel, het eers gekom na die episode van ons seun se operasie wat ek in die boek se inleiding beskryf.

Jy is ’n mediese dokter. Waar het jou liefde vir visuele kuns begin?

Ons familiebesigheid, ’n meubelsaak met takke in Oudtshoorn en George, het ek einde 1968 om sentimentele redes gekoop, toe my vader nie daarmee kon voortgaan nie. Ons het dit geleidelik, oor jare, in ’n kunsonderneming omskep. Die primêre doel was om, met die hulp van Suid-Afrikaanse kunstenaars van wie se werk ons gehou het, die Suid-Kaapse publiek geïnteresseerd te maak in kuns. Dit was harde maar bevredigende werk. Dit het uiteindelik gelei tot ’n suksesvolle galery wat internasionaal bekend geword het.

In jou boek skryf jy oor kunswerke in jou versameling en noem name soos Boonzaaier, Irma Stern, Judith Mason, Bevans Mekhabele, George Ramagaga. Dalk kan jy kortliks vertel van ’n handvol maniere waarop hierdie mense se kuns jou galery betree het?

Na my uittrede uit die kunshandel (my jongste broer Leon het die galery na 30 jaar in 1999 oorgeneem) het ek besluit om stories gekoppel aan werke in ons privaatversameling neer te skryf – vir myself en my kinders. Ek het vir twee uitgewers van my voorneme vertel, maar albei het my laat verstaan dat dit nie vir hulle ’n proposisie sou wees nie. Ek het aanvaar dat dit vir hulle ’n groot waagstuk sou wees, met duur kleurwerk en ’n beperkte mark.

Ek het Braam de Vries deur die Strydom Galery leer ken. Toe hy hoor van die stories waarmee ek besig is, wou hy een daarvan lees. Dit het daartoe gelei dat hy en Wium van Zyl my arm begin draai het, en uiteindelik oorreed het om ’n privaat-gepubliseerde boek daarvan te maak. Die stories in die boek is dié wat klaar was toe ek daartoe ingestem het. Die werke en kunstenaars oor wie dit gaan is nie gekeur nie – bloot “herinneringe wat bo gedryf het in my kop”. Ek gaan maar voort met meer, soos die een oor Hardy Botha wat ek jou gegee het (daar is nog vyf ander “klaar”). Daar is nog meer as genoeg om oor te skryf vir ’n tweede volume, maar of ek dit op my ouderdom klaar gaan kry, weet ek nie.

Judith Mason se Leopard of Delight, soos afgeneem deur Matthys Strydom. Oor hierdie skildery skryf Strydom: "Dis die skildery waaraan ek Mason se storie gehang het. Haar storie is vir my een van die belangrikste in die boek. Ek was baie bang dat sy negatief daarop sou reageer, omdat daar onthullings in is wat sy nooit self sou vertel het nie. Ek het 'n e-pos van haar die oggend van haar dood ontvang, waarin sy sê hoe sy dit geniet het. Sy het die boek net twee weke voor haar dood ontvang en dit was die laaste boek wat sy gelees het."

Wie sluit mens in en wie laat jy weg? Dis die groot vraag in die gesprek rondom Suid-Afrikaanse kuns. Die waarde van so baie kunstenaars se werk is voorheen doelbewus nie erken nie, of is uitgesluit. En ook: Koop jy iets omdat dit vir jou mooi is, of tot jou spreek? Wat is jou maatstawwe as jy ’n kunsversameling aanhou en dan oor die stories van elke kunswerk skryf? 

My redes waarom ek die werke aangeskaf het, blyk duidelik uit die stories. Ek benader nie kuns uit ’n akademiese of ekonomiese oogpunt nie. Ek luister liewer na my binnegoed en probeer ook nie definieer hoekom ek van iets hou nie. Ek het werke by bekende en onbekende kunstenaars, selfs studente, uitgesoek om in die galery uit te stal, meesal werke wat ek graag self sou wou hê. Na twee maande se blootstelling aan die publiek het ek dan probeer om dit self te koop as ek dit kon bekostig. Die meeste van die werke in ons versameling was dus in die galery beskikbaar.

Tegnieke en jou eie kunsagtergrond: Jy skryf oor die tegnieke wat die kunstenaars volg - wat is jou eie kunsagtergrond en -opleiding?

Ek was vroeër ’n geesdriftige amateurfotograaf en het probeer om van elke foto darem ’n soort “kunswerkie” te maak. Die enigste skilderye wat ek self gemaak het, is twee klein olieverfskilderytjies wat ek gedoen toe ek ’n uitdaging van Judith Mason aanvaar het dat sy my oor een naweek kon leer skilder. Dit was nadat ek geargumenteer het dat mens eers oor ’n lang tyd moes leer teken voor jy probeer skilder. Ek het die weddenskap verloor (danksy ’n wonderbaarlike leermeester).

Jy het by die Richmondfees verlede jaar oor hierdie boek gesels. Is daar ander geleenthede waar mense jou kan nader om nog meer van die boek te hoor, of praat jy soms by kunskringe omtrent die boek of die kuns in jou versameling?

Ja, benewens die Bookbedonnerd-fees in Richmond (waar dit saam met een ander eerste geplaas is in die kategorie memoires vir private publikasies) het ek al oor die boek gepraat by by ’n kunsgalery (Art @ 39 Long), Groot Brak (in gesprek met Riana Scheepers, wat baie lekker was), in Durbanville by die Durbel Leeskring, die Oos-Kaapse skrywerskring in PE by ’n Skrywersaand op Koopmanskloof van Sybil Smit, en ’n klein leeskring in George.

’n Nuwe en bygewerkte oplaag van die boek is te koop by my of Johan, een van my seuns in Kaapstad. Die prys is R300 plus R40 geregistreerde pos of R100 per koerier. Kontak my by: mjstrydom2@gmail.com.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top