
Boekomslag: LAPA; foto van Cliffordene Norton: Menán van Heerden
Hoe haal ek nou asem?
Cliffordene Norton
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637008044
Cliffordene Norton praat met Naomi Meyer oor Cliffordene se jongste jeugboek, Hoe haal ek nou asem?
Cliffordene, baie geluk met jou volgende jeugroman: Hoe haal ek nou asem?. Eerste persoonlike vraag aan jou: Ek weet jy studeer ook, so waar het jy die tyd gekry om te skryf?
Gelukkig neem die uitgeeproses ’n lank tyd. Ek het Hoe haal ek asem? twee jaar gelede begin skryf en kon dit gelukkig klaar maak voor ek met my meesters begin het. Ek wou vanjaar fokus op my studies en ek het dit nodig. Die humoristiese meme wat uitbeeld wat dit verg om ’n nagraadse kwalifikasie te voltooi, het nie die moeite daarvan mooi vasgevang nie.
Tans skryf ek aan my kreatiewe projek en dit gee my grys hare. Ek skryf in die aande en oor naweke, en dit is ’n baie lekker manier om my tyd te spandeer.
En toe is dit profetiese woorde, Cliffordene. Hoe haal mens nou asem as mens die boek se eerste hoofstuk gelees het? Jy skryf baie stories; waar kom die idee vir hierdie een vandaan?
Ek is ’n pantser; ek verkies die beskrywing discovery skrywer. Ek ontdek soos wat ek skryf en dis ’n lekker proses vir my. As my karakters opdaag, daag hul storie saam met hulle op. Die eerste weergawe voel soos ’n maande lange eerste date. Ons leer ken mekaar.
Hulle vertel my hul stories en ek probeer justice doen. Ek skryf vir my karakters – indien hulle eg voel, vloei die storie opreg.
Kan jy die storie opsom sonder om te veel van die intrige te verklap?
Soms gebeur die ergste dag van jou lewe, en jy moet dit oorleef. Ethan moet oornag grootword, want hy beleef sy slegste en beste week. ’n Week waarvoor hy gebid het en een wat hy nooit verwag het sal kom nie.
In jou storie speel ’n ouer ’n baie belangrike rol. Veral: die afwesigheid van ’n ouer. Mens hoor dikwels dat mens nie te veel op ouers moet fokus in ’n verhaal vir kinders of jongmense nie. Ek het egter met die lees van jou storie gedink: ’n Ouer se afwesigheid veroorsaak dat hulle dalk juis ’n groter rol speel as wat hulle andersins sou speel as hulle nog daar was. Of wat praat ek alles? Hoe het jy dit ervaar, en wat is jou gedagtes oor wat ek hier skryf?
Ek dink ouers speel ’n belangrike rol in jeugverhale. Hulle is die grenslyne waarin die karakter kan ontwikkel. Ouers bepaal waar die karakters woon; watter tradisies vir hulle belangrik is; wat hul aanvanklike geloofsisteem is, al verander dit later; watter skool hulle bywoon; en soveel meer. Beide die teenwoordigheid en afwesigheid van ouers bepaal wat moontlik is vir die karakter en hul storie.
Ek onthou ’n skryfkunsklas van meer as ’n dekade gelede waar Franci Greyling gepraat het oor hoe maklik skrywers soms van ouers ontslae raak vir die plot sonder om die impak te oorweeg. En nie net op die plot nie, maar ook op die karakter.
In Hoe haal ek asem? wil Ethan sy pa trots maak teenoor Cazlee van Ek sal vir jou veg wat van haar haar pa wil ontsnap. Wie hulle ouers is, het baie invloed op wie hulle wil wees. Ouers is die blueprint wat kinders dikwels navolg of waarvan hulle wil wegbreek.
Hoe was dit vir jou om uit die perspektief van ’n seun te skryf?
Baie maklik en supermoeilik. Maklik, want Ethan het met sy storie opgedaag. Bitter moeilik, want ek wou eg aan Ethan – ’n seun van 16 – wees. Die hoofstuk oor die mannepot was vir my baie belangrik, want dis ’n tradisie van begrafnisse in ons dorp.
Ek weet jy is lief vir honde en die hond is nogal ’n belangrike karakter in jou storie. Vertel my van die hond in jou storie. Of die honde in jou lewe!
Aa, Nacho, almal se gunsteling! Nacho is die derde kind in Ethan se gesin en die gunstelingkind. Sy is bederf, maar almal kan haar dit vergewe, want sy is te oulik vir woorde. Nacho is ook Mason se hond – sy is gewoond aan princess treatment. Sy is bederf vandat Mason haar langs die pad opgetel het.
........
Aa, Nacho, almal se gunsteling! Nacho is die derde kind in Ethan se gesin en die gunstelingkind. Sy is bederf, maar almal kan haar dit vergewe, want sy is te oulik vir woorde. Nacho is ook Mason se hond – sy is gewoond aan princess treatment. Sy is bederf vandat Mason haar langs die pad opgetel het.
........
Die langs die pad optel is iets wat ek van my eie hond, Lola, se lewe gegaps het. Dis hoe ek haar gevind het en ek bederf haar soveel moontlik. Sy sit links voor in Ma se kar en ek maak die lewe vir haar so maklik as moontlik.
Verlies is ’n emosie wat mens ervaar vandat jy baie klein is. Jy moet afskeid neem van speelgoed, of van troeteldiere ... of mense! Was daar enige persoonlike verlies waar jy moes gaan soek toe jy hierdie storie geskryf het, as dit nie ‘n te persoonlike vraag is nie?
Hoe haal ek nou asem? het drie jaar gelede begin toe ons my ouma verloor het. Dit was die eerste keer in my lewe dat ek so diep betrokke was by die beplanning van ’n begrafnis.
........
Ons was een oggend besig om ’n kamer uit te pak. Ek het boeke van een plek na ’n ander gedra, toe ’n seun op ’n huis se dak in my gedagtes verskyn.
........
Ons was een oggend besig om ’n kamer uit te pak. Ek het boeke van een plek na ’n ander gedra, toe ’n seun op ’n huis se dak in my gedagtes verskyn.
Hy was vars gebad – ek kon die seep in die lug ruik – met ’n moeë liggaam wat uitkyk oor ’n wit tentdak. Die tent vir die nagwaak. Sy ma het hom geroep en sy eerste gedagte was: “So, begin dit.” Die storie het intussen verander, maar die hoofkarakter, Ethan, het dieselfde gebly.
Daar is ook veel meer as verlies wat in die boek gebeur. Daar is ’n nuwe begin ook - iets splinternuuts. Het jy dit beplan? Het dit net met jou karakters gebeur? En dit het niks met die ouers te doen nie!
Dit het net met Ethan gebeur! Soos ek sê, Ethan het met sy storie opgedaag en ek het die geskryf. Wie Ethan is, gaan baie verander, en hy gaan nog baie dele van homself ontdek.
Vertel hoe die hele proses gewerk het: Skryf ’n hoofstuk, beplan jy vooruit ...? Het jy geweet wat gaan gebeur? Wie gaan by mekaar uitkom?
My eerste weergawe begin baie organies. Ek skryf soms ’n paar paragrawe op my selfoon se Notes app, of werk tonele per hand uit. Ek probeer altyd met ’n proloog begin – raad van Brandon Sanderson – om die karakter se stem vas te vang. Ek probeer ’n hoofstuk of minstens 1 000 woorde per sessie skryf. Daarna laat ek die manuskrip rus vir ’n maand of twee voordat ek dit weer aanpak.
Hierdie proses werk tans nie vir die kreatiewe projek vir my studies nie, so ek leer nog ’n metode. Dit het geen struktuur tot dusver nie, so is maar ’n bid-en-skryf-saak.
Hou jou stories jou wakker in die aande? Wat geniet jy nog om te doen?
........
Ja, soms na middernag kan ’n toneel my wakker maak. Ek trek gewoonlik my selfoon onder die kussing uit en skryf tot die toneel opdroog. Dan spandeer ek die volgende uur om te dink hoe dit die storie sal beïnvloed.
........
Ja, soms na middernag kan ’n toneel my wakker maak. Ek trek gewoonlik my selfoon onder die kussing uit en skryf tot die toneel opdroog. Dan spandeer ek die volgende uur om te dink hoe dit die storie sal beïnvloed.
My proses sluit altyd ’n stap met my honde in, want hulle laat my ontspan. Ek geniet tyd met my honde, ek leer tans om te brei, en ek wil weer begin board games speel. Ek geniet dit ook om tyd met my vriende te bestee en ek lees soveel moontlik.
Lees ook:
Hartsmense, ’n kortverhaalbundel deur Cliffordene Norton: ’n resensie

