Cliffordene Norton se nuwe skryfwerk: ’n onderhoud

  • 2

Foto van Cliffordene Norton: verskaf

Cliffordene Norton, wat LitNet se nuwe skryfwerk hanteer, praat met Naomi Meyer oor Cliffordene se eie skryfwerk.

Cliffordene, baie geluk met al jou skryfsuksesse van die afgelope tyd! Wou jy nog altyd skryf?

Ja, Naomi. Ek kan eerlik nie onthou wanneer ek besluit het om te skryf nie, maar behalwe vir my tomboyfase was ek altyd lief vir stories. Ek geniet boeke en series, en maak gewoonlik baie notas oor wat ek geleer het en hoe ek dit in my eie stories kan invoer. Ek is ’n absolute storie-nerd!

Ek het op 15 jaar ’n liefdesverhaal geskryf, al was ek meer onbevoeg as ander tieners om oor romantiese liefde te praat. (Liefde was nie vir my ’n prioriteit nie.) My niggie was egter baie opgewonde oor die storie en van daar af het stories in my kop geleef. Dis seker die eerste keer toe ek gedink het: Ek wil hierdie doen.

.......

Dis seker die eerste keer toe ek gedink het: Ek wil hierdie doen.

........

Wat was die stories of boeke wat die grootste indrukke op jou gemaak het, op enige stadium van jou lewe?

Daar is drie boeke wat altyd ’n besonderse plek in my hart sal volstaan: Diekie vannie BoKaap deur Zulfah Otto-Sallies, Driehoek deur Sophia Kapp en The opposite of loneliness deur Marina Keegan.

Ek het Diekie vannie BoKaap in standerd 6 (graad 8) in Afrikaans by meneer Moses gelees. Ek onthou die mosterdgeel dun boekie en die titel wat so maklik op my tong geval het. Ek onthou die dag toe ons dit klaar gelees het, die stilte in die klas omdat ons (spoiler alert!) ’n goeie vriend in Diekie verloor het. Ek onthou hoe gretig ons almal was om dit op te voer, en hoe beïndruk ons was met ons klasmaat, Revine, se acting. Ek onthou dat ek en my vriendin, Nadia, “ouens op die hoek” was en terug na ons bank gestap het terwyl ons “Jaloersbokkie” gesing het.

Ek is baie lief vir Diekie en Ice om die volgende redes:

  • Dit was die eerste keer waar ek my alledaagse lewe in print gesien het.
  • Die karakters was bekend; mense wat ek ken en liefhet.
  • Die taal was bekend op my oor en tong – ek het nooit gesukkel om dit te lees nie. Ek kon ’n woord lees en die bedoeling, en hart, daaragter verstaan.
  • Dit was nie vir my ’n “mooi storie oor bruin mense” nie, dit was bloot ’n mooi storie.

Ek het Tessa Badenhorst in Die verhuising ontmoet. Sy was bekkig en ’n no bullshit-vrou, maar ek het nie gedink sy sal my gunsteling-Sophia Kapp-karakter word nie. Tessa is die vrou teen wie elke ma jou waarsku: Sy is seksueel vry, het ’n indrukwekkende vloekskat, is brutaal eerlik, skeer almal oor dieselfde kam en word ’n alkoholis gedurende die verloop van die storie. Op die bad girl-skaal weeg sy ’n solid 7, maar is ’n goeie vrou. Tessa is ook die vrou wat ek graag wil wees:

  • Wat verantwoordelikheid aanvaar vir haar eie lewe, foute en besluite.
  • Wat nie haar foute wegsteek nie.
  • Wat eerlik is met almal, maar veral met haarself.
  • Wat empatie met almal se omstandighede het.
  • Wat aan haarself werk, want sy weet sy is dit waardig.

In ’n wêreld waar Instagram so maklik as die waarheid aangesien word, is Tessa steeds ’n heldin na wie ek streef. Sy is ’n hot mess – op die beste manier – en deur haar het ek geleer daar is nie iets is soos perfeksie nie. 

In 2019 het ek deur ’n bietjie van ’n droë skryftydperk gegaan. Ek het vir ’n paar weke nie geskryf nie en ek het natuurlik baie (geldige) redes gehad vir hoekom ek nie kon skryf nie.

Ek het The opposite of loneliness deur Marina Keegan gelees. In die inleiding vertel Anne Fadiman die storie oor hoe Marina gereageer het toe sy nie vir een van Yale se geheime verenigings gekies is nie:

I ended up getting a bit screwed over on the secret society front so I’ve vowed to spend the 12 hours a week writing a novel. (Tonight is tap.) If I was willing to devote that much time chatting in a tomb, I should be willing to devote it to writing! 6–12 Sundays and Thursday. Might call it BOOK and BOOK.

Dit het my laat besef dat as skryf my passie is, sal daar tyd wees – ongeag of ek twee minute of 12 ure per week skryf.

Foto van Cliffordene Norton: Naomi Bruwer

Vertel my van jou Woordfeesstorie, wat nou opgeneem gaan word in die nuwe Woordfeesbundel?

Ek moes drie keer lees voor ek geglo het my naam is op die lys. Die storie speel al minstens twee jaar in my kop af. Ek was geïnspireer terwyl ek agter in ’n Uber gesit het. Ek kon hierdie statige ouer vrou sien sit, baie senuweeagtig vir haar laaste kans om weer haar passie op die verhoog uit te leef. Dan hierdie jong meisie, haar bestuurder, wat nie kon glo sy het haar hero op haar day job ontmoet nie en net nie kan ophou gesels nie.

........

Die storie speel al minstens twee jaar in my kop af. Ek was geïnspireer terwyl ek agter in ’n Uber gesit het. Ek kon hierdie statige ouer vrou sien sit, baie senuweeagtig vir haar laaste kans om weer haar passie op die verhoog uit te leef. Dan hierdie jong meisie, haar bestuurder, wat nie kon glo sy het haar hero op haar day job ontmoet nie en net nie kan ophou gesels nie.

..........

Ek kon dit nooit klaar skryf nie, maar toe ek besluit om vir die Woordfees-kompetisie in te skryf, het ek besluit om plak vas te maak en die storie klaar te maak. Daardie week was alle vlakke van loadshedding besig om amok te maak.

Jy het onlangs ’n Kuier-kortverhaalkompetisie gewen. Wil jy van daardie verhaal en die inspirasie daarvoor vertel?

Ek is baie lief vir Kuier – dis in ’n sekere sin die goue draad deur my skryfloopbaan. Dis waar ek my eerste kortverhaal, “Opoffering”, en my gunstelingverhale gepubliseer het. Ek was aanvanklik nie van plan om in te skryf nie, want ek het uitgebrand gevoel en ek het geen inspirasie vir ’n oorspronklike storie gehad nie.

Toe Jaydey Sass my kontak om te vra of ek al die kompetisie gesien het, het ek uit nuuskierigheid ’n Kuier gaan koop en gelees.

’n Week voor die kompetisie sou sluit, het ’n toneel in my kop opgespring. Dit was ’n ander begin as wat ek uiteindelik ingesluit het: Missy het van die werk gekom en die skokkende nuus gekry dat haar suster baie min tyd op aarde het en het besluit om haar ’n goeie Kersfees te gee.

Ek het ’n werksprojek gehad en skryftyd was baie skaars, en met loadshedding nog minder. ’n Uur en ’n half voor die spertyd het ek nog in die donker sit en proeflees, en toe ingestuur. My doel was nie om te wen nie, net om die verhaal klaar geskryf te kry en in te skryf. Ek wou die belofte aan myself nakom.

Die week toe Kuier laat weet ek het gewen, was ek siek. Ek het eers by my uitgewer, Miemie, gehoor en toe haastig my e-posse gekyk. Ek was so trots ek het onmiddellik my ma, aunties en beste vriendin laat weet.

En dan is daar nog ’n aap om uit die mou te laat. Wil jy vertel van ’n jeugboek waarvan ons lesers kan kennis neem ...?

Gabby en haar niggie Georgia lyk baie na mekaar met hulle krullerige hare, hoë wangbene en vol lippe, en toe hulle jonger was, was hulle onafskeidbaar. Maar iewers het hulle vreemdelinge vir mekaar geword en al wat hulle nou gemeen het, is die bloed in hulle are.

Toe die matriekgroep van Barkley op ’n toer na Kaapstad vertrek, ontdek Gabby dat Georgia se dagboek in haar rugsak is. Hulle ma’s het vir hulle identiese blou dagboeke vir hul verjaarsdag gekoop, en hulle deel ’n kamer, so dit kon maklik gebeur het dat sy die verkeerde dagboek ingepak het. Dit beteken waarskynlik ook dat háár dagboek in Georgia se besit is.

Kort voor lank kry Gabby se nuuskierigheid die oorhand en begin sy Georgia se dagboek lees. Wanneer Georgia daarvan uitvind, breek ’n volskaalse niggie-oorlog uit wat nie eens Kaapstad se besienswaardighede of hulle vriende se pogings om raad te gee, kan keer nie. Gaan Gabby se verraad die niggies nog verder uitmekaar dryf of sal dit dalk daartoe lei dat hulle mekaar beter begin verstaan?

Weet jy Naomi, hierdie boek het ek nooit beplan om in te stuur nie. Miemie het my gekontak vir ’n kortverhaal vir tieners. Ek het nooit voorheen vir tieners geskryf nie, al verslind ek YA-fiksie. Ek het agt kortverhale geskep wat ek tot twee gesny het.

Toe ek een van my beste vriendinne kontak om te vertel dat ek mal is oor jeugboeke, was sy soos: “Ek het nog altyd gedink dis ’n genre wat jou sal pas. Hoekom het jy nooit daarin geskryf nie?” Dis hoe Om jou te ken gebore is. Ek het dit hopend en biddend na Miemie toe gestuur, eintlik in die hoop dat sy my ’n ferm: “Jy mag of jy mag nie” sal laat weet. Sy het belang gestel en ek het dit geniet.

.......

Die storie gaan oor die verhouding tussen twee niggies wat soos susters grootword. Hulle is twee opposites, maar hulle het hierdie gedeelde ervaring, familie, en op ’n matriektoer leer ken hulle mekaar op ’n ander manier.

........

Die storie gaan oor die verhouding tussen twee niggies wat soos susters grootword. Hulle is twee opposites, maar hulle het hierdie gedeelde ervaring, familie, en op ’n matriektoer leer ken hulle mekaar op ’n ander manier.

Lees ook:

Die meisie met uitroeptekens in haar oë: Cliffordene Norton oor haar storie, "Die kind smaak jou"

  • 2

Kommentaar

  • Priscilla Norton

    Ek wou so graag hê sy moet vir 'n engineer of dokter gaan leer, maar sy was vasberade om joernalistiek te gaan doen. Ek is bly sy het by haar besluit gebly. Dis haar werk. Haar passie. Haar lewe is boeke. Sy het 'n foto in NWU se biblioteek tussen boeke. Haar HAPPY PLACE. Ek is haar BIGGEST FAN, GREATEST SUPPORTER & SUPER PROUD MOM. Dene, my hart swel van trots elke keer as ek 'n nuwe storie gepubliseer sien. Baie lief vir & trots op jou. MWAH!

  • Cecilia Slykhuis

    Ek is 'n romanza-skrywer en ek ken Cliffordene van Lapa se dae af. Interessante mens met hope talent, ek is bly sy gebruik dit. Goeie onderhoud, mens kan haar unieke stem hoor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top