
3I/ATLAS (Foto: NASA, ESA, David Jewitt (UCLA); Fotoverwerking: Joseph DePasquale (STScI)
...
Gaan Kersfees 2025 heeltemal anders wees as enige voorafgaande Kersfees in menseheugenis?
...
’n Paar weke gelede het ek ’n rubriek gestuur vir LitNet. Ek het toe geglo dit is dalk die mees opspraakwekkende stuk skryfwerk wat nog ooit uit my pen gekom het.
Kort daarna is ek oorval deur ’n gevoel van twyfel. Ek het hulle gevra om die stuk eerder nie te gebruik nie.
Die rubriek het gehandel oor ’n nuwe voorwerp – moontlik ’n komeet, of dalk nie? – wat besig was om in die rigting van die aarde te beweeg vanuit die buitenste ruimte.
Hier is een sinnetjie uit daardie kamtig “opspraakwekkende” rubriek:
Is dit moontlik dat ons nog binne hierdie jaar – 2025 – die eerste werklike kontak maak met ’n lewende kultuur van Iewers uit die buitenste ruimte?
Sjoe. Oukei, julle kry die idee.
Miskien moet ek duideliker wees. Ek haal nog ’n sinnetjie aan:
Ek praat van 3I/ATLAS, die voorwerp wat onlangs in ons sterrestelsel gearriveer het van iewers in die buitenste ruimte, en nou sterk op pad is om in Desember rakelings verby die aarde te beweeg.
Nou goed. Voel vry om dit te google: 3I/ATLAS. Dit is nou ewe skielik, weke later, letterlik orals op die internet, veral op YouTube. Daar is letterlik honderde video’s hieroor.
Vir dié wat te lui is om die moeite te doen, hier is een van die meer geloofwaardige skakels na die Engelse Daily Mail.
Die vraag het ontstaan – en ek moet erken, die moontlikheid het my nou al weke lank erg geprikkel en selfs ontsenu – oor wie of wat presies hierdie sogenaamde “interstellar visitor” by name 3I/ATLAS dan kon wees.
In elk geval. Dis al wat ons vir seker weet op hierdie stadium. Hierdie ding kom van elders, iewers buite ons sonnestelsel. Hy is onlangs naby aan Mars verby en het nou om die son beweeg, op pad in die rigting van die aarde. Iewers vroeg in Desember gaan hy baie naby aan ons verby beweeg voor hy hopelik weer sy koers kry, terug na die buitenste ruimte. Volgens sommige webruimtes is hy besig om gekodeerde inligting uit te stuur iewers heen, inligting wat klink of dit werklike feite bevat. Waarheen sou hy sulke inligting stuur, wonder ’n mens onwillekeurig?
In al die jare waarin wetenskaplikes die buitenste ruimte dophou, is dit maar omtrent die derde keer dat ’n buiteruimtelike voorwerp soos hierdie een naby aan ons verby beweeg in die afgelope jare.
Daar was die langwerpige voorwerp, genaamd Oumuamua, enkele jare gelede. Daar was ook op ’n stadium ’n ander voorwerp, genaamd 2I/Borisov.
Nie een van hierdie voorwerpe het mense egter heeltemal so gaande gehad soos 3I/ATLAS nie.
Dit is ’n komeet, sê party sterrekundiges. Maar ander vra: Hoekom tree 3I/ATLAS nie op soos ’n tipiese komeet nie?
Die berigte oor 3I/ATLAS sê nie almal dieselfde ding nie.
Dit het dan nie ’n stert nie, sê sommige waarnemers. Het komete nie gewoonlik sterte nie?
Of wel, oukei, dit het glo ’n tipe stert, maar anders as by ander sulke voorwerpe, strek die stert nie agter hom aan nie, maar voor hom uit.
Soos ’n motor wat deur die nag jaag met kopligte wat brand ...
In die tweede plek, 3I/ATLAS het enkele weke gelede klaarblyklik van koers verander. Sonder rede. Dis iets wat ’n komeet nie veronderstel is om sommer te doen nie.
Nog iets klaarblyklik ongewoon van die voorwerp is sy vorm. Soos Oumuamua, is hy klaarblyklik langwerpig, feitlik silindries, en moontlik selfs egalig. Die struktuur daarvan herinner meer aan ’n ruimteskip as aan ’n stuk klip.
Dit lyk ook asof 3I/ATLAS die afgelope paar weke in twee dele opgebreek het. Dit het nie in die proses rommel veroorsaak soos wat normaalweg gebeur wanneer ’n komeet of asteroïde opbreek nie; die breek was egalig, byna klinies.
Enkele weke gelede was 3I/ATLAS een voorwerp. Dit is nou twee.
O, en nog iets: Waarvan is die ding – ek bedoel, die DINGE – gemaak? Bestaan dit uit rots en klippe, soos wat mens sou verwag?
Blykbaar nie! Dis gemaak van metaal.
Nie sommer gewone metaal nie. Nikkel.
Nikkel, nie yster nie.
In die natuur, so hoor ek, kom nikkel nooit alleen voor nie. Dit is altyd gemeng met yster.
Slegs mensgemaakte voorwerpe kan gemaak word van suiwer nikkel. Altans, in ons ervaringswêreld ...
Slegs mensgemaakte voorwerpe ... en 3I/ATLAS.
Oukei, oukei. Daar is skielik soveel teenstrydige inligting oor 3I/ATLAS in die nuus, dis moeilik om te onderskei wat is waar en wat is spekulasie, of suiwer fantasie. En kan ’n mens regtig al die twak glo waarvan jy hoor op YouTube?

Skets: Pete Linforth | Pixabay
NASA het blykbaar darem al amptelik erken – en dit klink nie soos fopnuus nie – dat die voorwerp ’n reëlmatige pols uitstraal, iets wat mens ook nie sou verwag van ’n doodgewone stuk klip nie. Die polse bevat inligting wat verstaanbaar word as jy dit dekodeer.
Met ander woorde, 3I/ATLAS kommunikeer.
En dit het energie.
Dit het ook iets soos ’n reisplan, as mens dit so kan noem.
Kom ons probeer dit in ’n historiese perspektief plaas.
Die mensdom is nou al so lank besig om tuie die buitenste ruim in te stuur op soek na tekens van lewe. In die laat sewentigerjare al is een van die eerste Voyagers uitgestuur met sekere inligting om oor te dra vir ingeval hy ooit iewers daarbuite tekens van ekstra-terrestriële lewe teëkom.
Daar is nou selfs sogenaamde kundiges wat beweer dat 3I/ATLAS na ons toe gestuur is in reaksie op een van die Voyager-boodskappe.
Een naam wat aanhoudend opkom – mense is lief daarvoor om sy opinie te vra, want hy is glo die hoofekspert – is ene Avi Loeb, ’n bekende astro-fisikus.

Avi Loeb (Skermgree)
Ene Loeb se reputasie, helaas, is ongelukkig nie vlekkeloos nie ...
Ek haal aan uit Wikipedia:
Since 2017, Loeb has argued that alien space craft may be in the Solar System, arguing that Oumuamua and other interstellar objects, including the reputedly interstellar meteor CNEOS 2014-01-08, are potential examples of such craft. These claims have been widely rejected by the scientific community. In 2023, he claimed to have recovered spherules formed by the impact of CNEOS 2014-01-08 that he alleged could be evidence of an alien starship, but the location in the ocean where he recovered the spherules was based on mistaking a seismic signal from a truck for the impact of the meteor.
Daar is ander vrae ook wat ontstaan.
Indien 3I/ATLAS wel ’n gefabriseerde voorwerp is en nie slegs ’n stuk ruimterommel nie, is dit beman of onbeman?
En waar kom dit presies vandaan?
Nog net een klein-klein verandering van rigting, nog een klein verandering van spoed, en die ding land dalk een van die dae hier op die aarde! Sommer hier tussen ons!
Dis natuurlik uiters, uiters, uiters, uiters onwaarskynlik!
Maar nou ja, indien die ondenkbare gebeur en hierdie ding regtig van ’n ander beskawing af gestuur is om vir ons te kom kuier, is dit gewaarborg om alle ander nuusgebeure en alle ander groot historiese oomblikke van die afgelope klompie eeue te verdwerg.
Stel jou so-iets voor! Dit sal groter nuus wees as die Beatles in die sestigs. Groter nuus as beide Wêreldoorloë. Groter nuus selfs as die bewering dat “Hop hop spinnekop” een van die mees gewilde Afrikaanse liedjies is wat ooit geskryf is ...
Hel, blikskottel! Niks sal ooit weer dieselfde wees nie.
As NASA se berekeninge korrek is, sal 3I/ATLAS vroeg in Desember baie naby aan die aarde verby beweeg.
Ons hoop maar hy hou verby ...
Dog: Wie weet! Gaan Kersfees 2025 heeltemal anders wees as enige voorafgaande Kersfees in menseheugenis?
Wat is die kanse?
O wel, as niks gebeur nie, sal ons ten minste teen Kersfees weet of al hierdie stories slegs YouTube-foefies, fopnuus, samesweringsteorieë is wat handuit geruk het.
Ons kan maar net wag ...
Lees ook:
Op dees aarde: ’n Blitsige besoeker uit die buitenste ruimte


Kommentaar
Jislaaikit, Koos! Ek gaan sommer aan die bewe van pure opwinding. Dit is mos Einstein wat gesê het: ‘Logic will get you from A to Z. Imagination will get you everywhere.’
Dalk het jy ook lank gelede “The Day of the Triffids’ gelees? 🌾 As ek teen Kersfees nog nie weggeraap is nie, kyk ek beslis nie boontoe nie. 😎 (Wegraping soos, ‘beam me up, Scotty.’)
Terence McKenna was nogal interessant, vrek slim en het met behulp van DMT-reise voorspel die ruimtewesens is moontlik op pad. My gevoel is hulle sal vanweë ‘n hoër bewussynsvlak nie vleis eet nie, wat nogal gerusstellend is.
Ag, en as dit net 7 miljard jaar oue ys en klip is, is dit seker ook orraait. 😴
Die mensdom darem. Wel...ek wil my eier in Koos se mandjie insit. Is dit ‘n komeet wat van 'n ander sterrestelsel (buite die melkweg) afkomstig is, of is dit iets meer bevreemdend?
Hoe ook al, dit is die onderwerp van bedwelmende, ongeverifeerde spekulasie, dit inspireer wetenskaplikes en samesweringsteoriste tegelyk.
My ouma (“1892-1970, bless her soul”) het, wanneer sy deur ons gestonk is met ons skoolkennis van die buitenste ruim, die palm van haar regterhand skuins oor haar neus gevee: “Julle moet die dinge van die Here uitlos.”
Die Japanese lek 'n videogreep wat 'n silindriese voorwerp, 0.32-5.6 km wyd en lank met 'n geskatte gewig van 33 triljoen ton, aantoon.
Inteenstelling met gewone komete wat 'n groot yster- en nikkelsamestelling het, soos hierbo aangedui, is daar geen ysterstofvrystelling nie.
Daar word gefluister dat NASA stilletjies sy “planetary defence network” geaktiveer het. Hoekom? - hulle het dan vanaf die eerste waarneming geweet die ding gaan ons nie raak vlieg nie.
Die "grysmanne" wat daai ding "pilot" weet vir seker ook van ons skietlustige klomp hieronder. Onthou, ons kan ver met ons blitskanonne (lekker woord vir 'n "raygun") by kom, nè! Vra maar die Chinese, dis die dat die ding se "pilots" 270 miljoen kilometer van die aarde af, byna tweekeer die afstand tussen aarde en son, verby gaan hou. Hierdie naaste punt sal op 19 Des wees.
Die ding het 'n hiperboliese vlugplan en is al anderkant die son. Hy kom nie aarde toe nie, dis as’t ware die aarde wat na hom toe "vlieg" soos ons om die son beweeg. Ons gaan inteenstelling met die ding nêrens heen nie, net om en om die son.
Sewe triljoen jaar oud en is blykbaar net solank oppad – en hy het niks anders raak gevlieg nie? Hy kan maneuvreer want hy het anderkant die son sy rigting met 2° verander, nou wel effentjies, maar hy het.
En dis nie al nie, op pad duskant Mars verander hy van kleur, van rooi-oranje na groen, oppad son toe trap hy briek deur sy stert om te swaai, en raak blou, sy stert is nou voor – sy "reverse thrusters" is geaktiveer. Dis om lekker stadig, so teen 207,000 km/h, rustig by die son te kan energie-aanvullings doen. Klaar daarmee kry hy 'n "blue hue", sit sy “anti-matter propulsion" aan en versnel tot 'n gemaklike 244,000 km/h (68km/s).
Prof Loeb gooi 'n klip in die bos met die stelling dat die voorwerp se inkomende rigting net 'n 9° afwyking toon met die rigting van die 1977 "WOW Signal", soos aangeteken deur Seti destyds. HY verklaar dat dié toevalligheid statisties onwaarskynlik is.
Maar hy erken darem dat sy vermoedens blote teorieë is, met sy ander 10 anomalieë en al.
Maar wees gerus.
Nugtere navorsing stel dit duidelik en onomwonde dat die voorwerp van natuurlike, hoewel hoogs ongewone, oorsprong is.
Dit is 'n komeet.
Daar is tekens dat die kern omhul word met 'n dik organiese kors wat beskerming bied (aan wat wonder ek) en wat oor miljoene jare deur kosmiese bestraling tot 'n gladde oppervlak aanleiding gegee het.
Iemand skinder iewers dat (natuurlike) radioseine waargeneem word.
Wonder waarheen is hy oppad – wonder of hy die 'Hitchhiker’s Guide' se 42 najaag?
Take me to your leader!
Raed-na-Gael
Jô. Genugtig. Dit raak besig daar bo. Of onder. Gelukkig is Borisov oppit.
https://www.livescience.com/space/comets/new-nearly-interstellar-comet-wrongly-linked-to-3i-atlas-will-reach-its-closest-point-to-earth-on-tuesday-nov-11?utm_source=chatgpt.com
Groter as die Beatles? NOOIT!!
Dis 'n lekker braai-onderwerp hierdie:
Die ouens by NASA sê dis 'n komeet – finish en klaar: https://ts2.tech/en/interstellar-comet-3i-atlas-nasa-confirms-natural-visitor-as-un-turns-it-into-a-planetary%E2%80%91defense
Ander prominente wetenskaplikes sê weer aikona: https://www.ibtimes.co.uk/3i-atlas-reveals-impossible-anti-tail-new-image-challenges-comet-physics-1759039
Is dit 'n Nasa-toesmeerdery soos daardie ander groep die ‘Ancient Aliens community’ dit het, of is dit lg se ‘fakenews’?
(Let op beide se https)
Lekker wonder
Raed-na-Gael
En daar gaat hy - vaarwel ou grote - jy't die ou mensies laat regop sit. Een ou met baie verstand het gesê ons moet maar liewer nie laat weet van ons bestaan nie. Wat sou 'n ander ou met net soveel verstand beweeg het tot senutergende bespiegelings - lees hier :
https://www.google.com/search?q=Why+then+does+Avi+Loeb+postulate+the+possibility+that+3I+atlas+has+technological+propulsion%3F&rlz=1C1OKWM_enZA966ZA974&oq=Why+then+does+Avi+Loeb+postulate+the+possibility+that+3I+atlas+has+technological+propulsion%3F&aqs=chrome..69i57.198470j0j15&sourceid=chrome&ie=UTF-8
Moet ons koes of nie?