Komeet ISON

  • 3

Die komeet ISON nader die son tans vinnig en perihelion en sy draaipunt om die son is reeds 28/29 November waarna dit sal begin om die binnekring van die sonnestelsel te verlaat. Ek is nie seker of ons dit later in die aandhemel op sy uittog sal sien wegkwyn nie.  As enigeen vir ISON nog wil sien moet dit maar sommer hierdie komende week gedoen word. Ek sluit ’n sterrekaart in wat van hulp kan wees. Op die inlas op die kaart dui ek die baan van ISON, wat sy oorsprong in die Oortwolk het, aan.

ISON kom kort voor sonsopkoms as volg oor Suider-Afrika op: Durban. 02:21; Pretoria, 02:38; Bloemfontein, 02:41; Kaapstad, 03:05 en Windhoek, 04:27.

Daar is talle webwerwe met inligting oor ISON. Die volgende twee betroubare webwerwe kan besoek word vir vollediger inligting: http://en.wikipedia.org/wiki/C/2012_S1 en http://earthsky.org/space/big-sun-diving-comet-ison-might-be-spectacular-in-2013

Daar word natuurlik, soos dikwels, ook ’n spul nonsens op sommige ander webwerwe soos dié: http://www.youtube.com/watch?v=7NcTLmEhp40

kwytgeraak deur doemprofete en diegene wat hulle as wetenskaplikes en kenners voordoen. Om meer geloofwaardigheid aan hulle verdigsels te gee, is daar selfs beweer dat die bron daarvan, lekkasies vanuit NASA-geledere sou wees. Aanvanklike doemvoorspellings het beweer dat ISON 15 keer helderder as die maan en selfs in helder daglig sigbaar sou word en sou dan kwansuis in werklikheid ’n stelsel, soortgelyk aan ons sonnestelsel wees, met ISON omring deur ’n klomp planete en dat die spulletjie besig is om met verwagte katastrofiese gevolge, op ons af te storm. Niks daarvan is natuurlik bewaarheid nie.

Dit herinner nogal sterk aan die pragtige komeet Hale-Bopp van die 90’s toe daar deur die Heaven’s Gate kultus onder leierskap van Marshall Applewhite beweer is dat die komeet vergesel word deur ’n ruimtetuig wat ondersteuners van die groep sou kom oppik en wegvoer hemel toe. ’n Groep van Heaven’s Gate, het ‘ruimtepakke’ aangetrek en gif gedrink en gaan slaap in afwagting op die ruimteskip. Op 26 Maart 1997 is op 39 lyke insluitend die van Applewite, geklee in hulle kamstige ruimtepakke, afgekom.

Hoop die weer gun almal ’n geleentheid om ISON onder oë te kry. Gebruik maar ’n sterk verkyker of teleskoop. Die glans daarvan word alreeds deur sy nabyheid aan die son deur die gloed daarvan verdof.

Groete

Panda

  • 3

Kommentaar

  • Of die weer gaan saamspeel sal ek maar moet sien. Ons het nogal bewolkerige weer hier gehad. Vandag is daar feitlik nie 'n wolkie in die lug nie, so dalk is ek môre-oggend gelukkig. 

  • Panda

     
    Dankie weereens vir nuttige inligting. Jy sal maar vir my moet kom kuier in die Kaap om my te help om my nuwe teleskoop onder die knie te kry. 
     
    Terloops, as jy gewonder het oor die krag van gebed. Juju se saak is vir 'n jaar uitgestel nadat sy volgelinge deurnag gebid het!!
     
    Groetnis
    Thomas
  • Thomas —
    Ek het al gewonder of jy klaar verhuis het. Ek sal jou beslis een of ander tyd kom opsoek. Ek weet nie of Juju se ondersteuners heelnag gebid of partytjie gehou het nie?
    Groetnis
    Panda

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top