
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Hell of a country
Skrywer: David Cornwell
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795711138
As jy nie kan wegbly van ’n dokkie of reeks oor ander mense se donker gedoentes en geheime nie, gaan Hell of a country jou bladsy vir bladsy gevange hou. David Cornwell se Hell of a country is ’n skerp, ontstellende, maar meesterlik geskryfde herverbeelding van een van Suid-Afrika se mees berugte moordsake uit die 1970’s – die sogenaamde “skêrmoord”. Hierdie roman vat die leser diep in die psigologiese en morele donkerte van sy karakters in, terwyl dit terselfdertyd ’n spieël hou teen die samelewing van die apartheidsera.
Die hoofkarakter, Lorraine van Niekerk, is ’n 18-jarige meisie wat vasgevang is in ’n eensydige liefdesverhouding met haar ouer, getroude baas, André Bekker, wat in werklikheid net seks by haar soek. Wanneer André weier om sy vrou, Sunette, te verlaat, dryf Lorraine haar passie en jaloesie tot ’n gevaarlike uiterste. Haar ontmoeting met Alfie Geemooi, ’n desperate, werklose en hawelose man wat pas sy been verloor het, lei tot ’n dodelike sameswering – ’n plan om Sunette te verwyder om plek te maak vir Lorraine in André se lewe. Sy is nie meer tevrede met die gesteelde tydjies saam met hom nie en besef dat sy self iets moet doen om die situasie in haar guns te kry.
Wat my omvergooi, is die absolute oorgawe van die meeste Lorraine’e. Wat is dit wat hulle siende blind laat vir die feit dat hulle net gebruik word vir ’n paar minute of ure se plesier? Hoe is dit moontlik dat die waarheid van hierdie geriefsverhoudings nie voor die hand liggend is nie? Ek besef dat seks vir ’n vrou baie meer is as vir die manlike geslag. Die ontwerp van die liggaam moet dit seker verduidelik in die sin dat die vrou haarself moet beskikbaar stel, oftewel oopmaak sodat haar binneste vir alle praktiese doeleindes binnegedring kan word. Die man aan die ander kant hoef niks af te staan in hierdie proses nie. Luister maar hoe die manne na hul geslagsorgane verwys. Dis hy, hom, die of ’n verwysing na iets wat nie deel is van die man self nie. Verwyderd, met ’n onafhanklike wil. ’n Vrou, en veral die onvolwasse en onervare vrou, se hele binnewêreld word oorgegee en geoffer aan die persoon wat daarin toegelaat word. Ek glo dat hierdie beskikbaarstelling van persoonlike heilige grond meer as net liggaamlik is.
Die meeste vroue wil die enigste vrou wees. En dit kan ongetwyfeld lei na abnormale gedrag. Sit ’n klompie chemiese middels in hierdie kookpot, en jy het ’n emosionele brousel wat moet ontplof. Dit kan die persoon self vernietig, wat ek vermoed in 99% van die gevalle gebeur, of lei tot die vernietiging van ’n sogenaamde gesonde verhouding of huwelik.
Bitter min Andrés is van plan om hulle geliefde te verlaat vir Lorraine. Die storielyn is gewoonlik presies dieselfde, met ’n paar variëteite. My vrou is nie meer lief vir my nie. Ons verhouding is sonder opwinding. Sy versorg haarself nie meer nie. Ons is maar net bymekaar vir die kinders se onthalwe. Ons is al lankal van bed en tafel geskei. My vrou is ’n tiran en regte feeks. Al hierdie fiksie word as waarheid geabsorbeer, sodat die Lorraine’e kan regverdig waarom hierdie verhouding bestaan. En om haarself natuurlik onskuldig te laat voel oor haar aandeel in die skelm vryery.
Die vraag wat egter gevra moet word, is: Wie pleeg werklik die moord? Is dit Lorraine, die persoon wat fisies die daad gepleeg het, die samelewing, Alfie in hierdie geval, wat dit sien gebeur en niks daaromtrent doen nie, of André, die persoon wat sy of haar geliefde in die eerste plek verloën?
Cornwell se styl is tegelykertyd poëties en ongenaakbaar. Hy gebruik verskeie vertellers om die verhaal vanuit verskillende hoeke te belig, wat die leser toelaat om die komplekse emosionele landskap van elke karakter te verstaan – van Lorraine se wanhopige liefde tot Alfie se vernedering en André se morele swakheid. Hierdie veelvlakkige benadering maak die roman meer as net ’n misdaadverhaal; dit word ’n ontleding van mag, begeerte en ongelykheid binne die Suid-Afrika van daardie tyd.
Wat Hell of a country besonder indrukwekkend maak, is hoe Cornwell die ware geskiedenis gebruik as raamwerk, maar dit vul met soveel menslikheid en empatie dat die boek lees soos ’n tragedie eerder as ’n blote misdaadverhaal. Die spanning bly deurgaans tasbaar, en die prosa is ryk, beeldend en dikwels liries.
Vir lesers wat hou van waremisdaad, historiese fiksie en stories wat diep delf in die menslike psige, is Hell of a country ’n onmisbare boek. Dit laat jou met vrae oor skuld, manipulasie en die grense van menslike drange – en herinner jou daaraan dat die “hel” waarvan Cornwell skryf, dikwels nie ’n plek is nie, maar ’n toestand van die menslike hart.



Kommentaar
Dit lyk vreeslik interessant. Dankie vir jou bespreking.