Life is ’n biets deur Faeed Amardien: ’n lesersindruk

  • 0

...
As Life is ’n biets jou nie gaan aanraak nie, is jy óf harteloos óf sonder gewete.
...

Titel: Life is ’n biets
Skrywer: Faeed Amardien
ISBN: 9780624093374
Uitgewer: Tafelberg

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

As jy dink die wêreld vergaan as jy jou Wi-Fi-konneksie verloor net toe jy besig was om jou TikTok te upload, moet jy Life is ’n biets van Faeed Amardien lees. Leonardo Blood se storie gaan jou in die maag tref soos Dricus du Plessis se vuis. Want glo vir my, Leonardo se omstandighede maak mens vinnig stil en meer as net dankbaar dat jy ’n dak oor jou kop het en ’n yskas, al raas die ding as jy die deur oopmaak. Jy sien, load shedding is nie ’n issue waar daar nie elektrisiteit is nie.

Life is ’n biets vat jou aan die hand, en hart, na die Cape Flats toe. Leonardo kom uit ’n arm, maar liefdevolle huis. Sy ma is werkloos en sy pa ’n car watch. Die kans dat sy ma ’n werk gaan kry is ’n ronde nul. Toe sy pa en kleinboetie in ’n ongeluk sterf, word sy hele wêreld onderstebo gegooi. Constable Julies se geld en aandag troos sy ma, maar hy kan nie oor sy seer kom nie, en Catheryn May sien nie dat die wolf in skaap se klere loop nie. Hy hardloop weg van die pyn af en bevind hom tussen die straatmense van die Kaap – mense wat elke dag sukkel net om aan die lewe te bly. Maar hulle is daar vir mekaar. Hier ontmoet hy vir Rodger, ’n ou Engelse man wat soos ’n pa-figuur vir hom word. En soos dit maar gaan, die lewe is nie net ’n biets nie – dis ’n helse klomp bietse gelyk. Wanneer Rodger siek word, ontdek Leonardo in die hospitaal iets wat sy idee van familie en oorlewing heeltemal verander.

Aanvanklik het ek gedink ek gaan moeilik aan die boek lees, omdat ek nie Afrikaaps vreeslik goed ken of kan praat nie. Maar dit het die boek besonders gemaak. In Amardien se Kaaps hoor jy die mense praat, voel die strate onder jou voete en ruik sommer die braaivleis van ’n Saterdagmiddag in Parkwood. Dit gee die boek ’n rou, egte geur wat jy nie maklik vergeet nie.

Die humor in die titel steek ’n waarheid weg: Die lewe is wreed, maar jy kan óf weghardloop en ondergaan, óf jy kan leer lag, huil en aanhou probeer – al voel dit of die lewe jou met ’n baksteen onder die arm laat swem.

Jy kies nie altyd wat met jou gebeur nie, maar jy kies hoe jy daarop reageer. En soms, net soms, is jou grootste familie die mense wat jy langs die pad optel – nie net dié in jou bloed nie.

So ja, Life is ’n biets, maar as jy mooi kyk, is dit ook ’n kans om jou eie innerlike muscles te oefen.

Lees hierdie onpretensieuse debuutroman van Faeed Amardien en gee dit vir ’n vriend, vriendin en daai tiener wat dalk net hormone, knieë en elmboë is, sodat ons saam kan besluit dat die lewe waaragtig nie fair is nie, en dat elkeen sy eie spoke moet besweer. Sien, hier’s die ding! Daar is altyd ’n afdraande wat wag voor in die lewe se onverbiddelike opdraande pad en al is daar nie ’n Rodger in jou storie nie, kan niemand die vrede en vreugde in jou hart se binneste steel sonder jou toestemming nie.

As Life is ’n biets jou nie gaan aanraak nie, is jy óf harteloos óf sonder gewete.

Lees ook:

Life is ’n biets: ’n onderhoud met Faeed Amardien

Cliff-hanger: Life is ’n biets deur Faeed Amardien

Nuut by Tafelberg: Life is ’n biets deur Faeed Amardien

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top