
Foto’s van Heimwee en Sophia Kapp: Boekdiva; foto van Leonie van Rensburg: https://www.litnet.co.za/author/leonie-van-rensburg/
Die nuwe uitgewery is ’n Boekdiva!
As jy “Boek en Koek” hoor, dink jy aan Leonie van Rensburg. As jy “Graffiti Boeke” hoor, dink jy aan Leonie.
Leonie, of die “boekdiva”, is ’n bekende en geliefde figuur in die Suid-Afrikaanse boekewêreld. Sy is die eienaar van Graffiti Boekwinkel en organiseerder van Boek en Koek-boekbekendstellings. Leonie het in 2022 Boekdiva Uitgewers gestig waaronder Sophia Kapp se jongste roman, Heimwee, verskyn het. Cliffordene Norton gesels met Leonie om meer uit te vind.
“’n Boekdiva en ’n Bedonnerde Diva in een stal kan mos net vuurwerke voorspel!”
Leonie, jy is ’n bekende figuur in die Suid-Afrikaanse boekemark. Geliefde eienaar van Graffiti Boeke en organiseerder van die Boek en Koek-bekendstellings. Uitgewer voel soos ’n natuurlike volgende stap vir jou. Het jy dit ook so ervaar?
...........
Na meer as 40 jaar in die bedryf was hierdie loshande die grootste en mees angswekkende besluit wat ek in my lewe geneem het.
.............
Na meer as 40 jaar in die bedryf was hierdie loshande die grootste en mees angswekkende besluit wat ek in my lewe geneem het. Alhoewel ek die bedryf baie goed ken, is die uitgewersbedryf tog anders as die kleinhandel. En op 60 jaar begin die meeste mense aftrede beplan, nie om ’n nuwe besigheid op die been te bring nie.
Wanneer en waarom het jy besluit om ’n uitgewershuis te skep?
Ek speel al baie lank met die idee, maar het nooit so ver gekom nie. Sophia Kapp het na die fiasko met die onwettige verspreiding van Kanaän op groepe besluit sy gaan nie weer skryf nie. Dit het baie ure se gesels en liters wyn gekos om haar so ver te kry om weer te skryf. Toe sy uiteindelik aan die skryf kom, het ek aan haar voorgestel dat ek ’n uitgewery op die been bring en gesê dat ek haar boek soos my baba sal oppas en versorg.
..........
Sophia Kapp het na die fiasko met die onwettige verspreiding van Kanaän op groepe besluit sy gaan nie weer skryf nie. Dit het baie ure se gesels en liters wyn gekos om haar so ver te kry om weer te skryf. Toe sy uiteindelik aan die skryf kom, het ek aan haar voorgestel dat ek ’n uitgewery op die been bring en gesê dat ek haar boek soos my baba sal oppas en versorg.
............
My jare lange vriendin Marlize Cloete het ingespring en my finansiële ondersteuning aangebied sowel as haar raad en bystand, wat van onskatbare waarde is.
Wat het die naam Boekdiva Uitgewers geïnspireer? Ek het dit onmiddellik aan Sophia Kapp se Bedonnerde Diva-blog gekoppel.
My vriende verwys al baie jare na my as die Boekdiva. ’n Boekdiva en ’n Bedonnerde Diva in een stal kan mos net vuurwerke voorspel!
Baie geluk met Boekdiva se eerste boek, Heimwee, deur Sophia Kapp. Wat is volgende vir die uitgewershuis? Wat hoop jy om binne die volgende twee tot vyf jaar met Boekdiva Uitgewers te bereik?
Ek wil met Boekdiva ’n alternatiewe opsie skep vir skrywers. My hoofdoel met Boekdiva is om oorhoofse kostes so laag moontlik te hou om sodoende ’n wen-wen vir beide skrywer en uitgewer te skep.
Hoe verskil Boekdiva Uitgewers van die ander uitgewershuise? Wat kan dit skrywers bied?
Die enigste verskil is dat Boekdiva klein maar gefokus is. Ek beplan om nie meer as ses boeke per jaar te publiseer nie. Dit sal my tyd gee om behoorlike aandag aan elke boek te gee. Boekdiva Uitgewers se boeke sal ook slegs by boekwinkels en hulle aanlyn winkels beskikbaar wees. As uitgewer en ook boekhandelaar is dit vir my uiters belangrik om boekwinkels te beskerm.
Die groot aanlyn verkopers is nie primêr op die belange van die boekbedryf gefokus nie en verkoop dikwels onder die markprys om kopers te lok. Boeke word gebruik as sogenaamde loss leaders om ander verkope te stimuleer. Dit is baie nadelig vir die boekbedryf en kan op die lang duur die einde van boekwinkels beteken. Die sukses van Heimwee tot dusver is ’n duidelike bewys dat lesers steeds tradisioneel boeke by boekwinkels koop.
...........
Die groot aanlyn verkopers is nie primêr op die belange van die boekbedryf gefokus nie en verkoop dikwels onder die markprys om kopers te lok. Boeke word gebruik as sogenaamde loss leaders om ander verkope te stimuleer. Dit is baie nadelig vir die boekbedryf en kan op die lang duur die einde van boekwinkels beteken. Die sukses van Heimwee tot dusver is ’n duidelike bewys dat lesers steeds tradisioneel boeke by boekwinkels koop.
............
Ons gaan ook nie op die oomblik ons boeke as e-boeke beskikbaar stel nie.
Watter genres publiseer Boekdiva Uitgewers en hoe kan skrywers hulle manuskripte voorlê?
Ons gaan vir eers konsentreer op fiksie. Skrywers kan my kontak by leonie@boekdiva.co.za.
Lees ook:


Kommentaar
Ek dink hierdie twee Divas in een kamp kan 'n wen kombinasie wees. Ek wens julle alle sukses toe, en mag jul goeie vooruitsigte vele skrywers se skryflus aanwakker!
Ek is 'n groot aanhanger van Sophia - lekker middelmootboeke! Kantelpunt steeds my gunsteling. Het dit by ons Leeskring bespreek. Wonder oor die fiasko met Kanaän?
Ek het Heimweë so geniet. Dit het lekker gelees ek kon nie wag om in die "tyd" terug te gaan elke keer om te sien wat gebeur met die mooie soldaat en toe die boer en die liefde nie. Wonderlik - elkeen se verbintenis met hul ma.
Twee wonders van vroue. Groot respek!