Heimwee: ’n onderhoud met Sophia Kapp

  • 2

Foto van boekomslag en van Sophia Kapp: http://boekdiva.co.za/

Boek: Heimwee
Skrywer: Sophia Kapp
Uitgewer:
Boekdiva Uitgewers
ISBN: 9780639704494
Koop hierdie boek by Graffiti

Heimwee is die storie van Mart-Mari wat moet terugkeer na die familieplaas sodat sy haar ma kan begrawe en finaal kan afskeid neem van die familie by wie sy nooit tuis gevoel het nie. Maar in ’n ondeurdagte oomblik betaal sy die knutselaar-nutsman-van-langsaan, Anton Nieuwoudt, om saam te gaan omdat sy vir haar susters gelieg het oor ’n man in haar lewe. Gou besef sy dat hy hom nie laat gebruik nie. Hy is die alles-of-niks-tipe, wat haar dwing tot emosionele eerlikheid en die spieël voor haar ophou sodat sy bewus kan word van haar aandeel in haar gekompliseerde familieverhoudinge.

Dit is ook die storie van Liesbet Vermaak wat in die nadraai van die allergrootste vernedering alleen moet omsien na haar broers: Andries, die dromer, en Benna, die kind wat alles verstaan, maar nie met die wêreld kan kontak maak nie. Wat die foto van die soldaat steel sodat sy kan voorgee sy is getroud, maar dan op ’n dag in Humansburg se hoofstraat opkyk in die helder heuning van Gert Niemand se oë en besef haar leuen het haar ingehaal.

Dis ’n storie wat strek oor geslagte, van mense wat so seergekry het dat hulle swerf, maar dis ook ’n storie van heling. Boweal is dit die storie van moederskap, van die verskriklike prys wat dit soms vra, en van ma’s wat bo-oor die ewigheid sal reik om seker te maak hulle kinders is geborge.

Cliffordene Norton gesels met Sophia Kapp oor haar jongste roman, Heimwee.

Sophia, baie geluk met Heimwee! Dit is ’n dik boek, ’n 2-in-1-liefdes-/familieverhaal. Hierdie is jou tweede roman met ’n geskiedkundige storielyn. Hoe het jy Heimwee beplan?

Ek het ná Kanaän geweet ek wil graag nog ’n historiese roman skryf, maar ek wou ook die verlede en die hede by mekaar laat aansluit. Dit is hoekom ’n mens die geskiedenis ondersoek – jy gaan soek daarin die patrone waarin mense verval en jy leer daaruit sodat jy nie die foute herhaal nie en jy uit die voorouers se wysheid kan leer. Ek het daardie idee in Heimwee probeer vaslê: dat daar niks nuuts onder die son is nie, en dat jy uit die verlede die goeie gaan haal sodat jy dit kan bewaar.

............
Ek het daardie idee in Heimwee probeer vaslê: dat daar niks nuuts onder die son is nie, en dat jy uit die verlede die goeie gaan haal sodat jy dit kan bewaar.
...............

Heimwee speel in twee periodes af: die huidige tydperk en net na die Tweede Wêreldoorlog. Het jy die twee storielyne in die boek apart geskryf en later verbind of was die twee vanaf die begin verweef?

Ek skryf altyd ’n boek in dieselfde volgorde as wat ’n leser die boek lees. Ek skryf nie rond en bont aan tonele en ryg hulle later aanmekaar nie, en ek skryf ook ’n toneel heeltemal klaar voordat ek die volgende een aanpak.

Dit gebeur dikwels dat ek iets skryf, partykeer sommer net ’n woord of ’n uitdrukking, wat ek dadelik besef met ’n ander deel van die storie kan skakel. As ’n mens nie sistematies skryf nie, loop jy die geleentheid mis om sulke skakels organies in jou skryfwerk te laat gebeur. Dan moet jy dit later gaan insit, en ek verbeel my altyd ’n oplettende leser gaan weet dit is kunsmatig geskep.

Jy noem in jou onderhoud met Boekemakranka dat jy ’n jaar neem om ’n boek te skryf, want die storie “moet werk in jou kop”. Wat doen jy as ’n storie nie werk nie?

As ek myself in ’n hoek ingeskryf het, is dit baie dikwels omdat ek ’n toneel of ’n karakter laat loop het buite die beplanning vir die storie. Dis dan wanneer ’n mens moet amputeer.

.............
Dit kan Nobelprysgehalteskryfwerk wees, maar as dit nie reg is vir die storie nie, moet jy uitvee.
..............

Dit kan Nobelprysgehalteskryfwerk wees, maar as dit nie reg is vir die storie nie, moet jy uitvee.

Dis pynlik, maar hoe gouer ’n mens daardie paragraaf of bladsy of toneel skrap en weer by die oorspronklike plan uitkom, hoe vinniger vloei die storie weer. En dis presies hoekom jou kop baie langer met die storie moet werk as jou vingers. Hoe beter jy die storie bedink en hoe langer jy in jou kop uitpluis aan die verloop van gebeure en die ontwikkeling van die karakters, hoe minder hoef jy uit te vee en oor te skryf.

Hoe het jou ervaring as ma die gebeure van Heimwee beïnvloed?

Ek dink ek is meer beïnvloed deur my ervaring as kind. My ma was ’n baie bekwame mens – hardwerkend, prakties, pragmaties, pligsgetrou – maar sy was ook rigied en voorskriftelik, en dit was nie altyd maklik om met haar saam te leef nie. Haar standaard was hoog, en jy het geweet as jy nie daaraan voldoen het nie. (Sy het haar bitterlik vir my skryfwerk geskaam!) Tog was sy baie lief vir my, en sy het my altyd ondersteun. En dis mos altyd eers ná ’n mens se ma dood is dat jy besef hoeveel sy vir jou opgeoffer het, en hoe baie jy haar mis.

..............
Hou ouer ek word, hoe meer besef ek ook hoe die band tussen ma en kind die kind se hele lewe onderlê. As daardie verhouding skeefloop, is ’n mens se hele lewe ’n stryd om aanvaarding.
.................

Hou ouer ek word, hoe meer besef ek ook hoe die band tussen ma en kind die kind se hele lewe onderlê. As daardie verhouding skeefloop, is ’n mens se hele lewe ’n stryd om aanvaarding.

Mart-Mari, die moderne hoofkarakter in Heimwee, is ’n baie onderdrukte karakter. Van waar het jy inspirasie vir Mart gehaal? (Ek vra dit as iemand wat jou al ’n bietjie ken en weet jy is die teenoorgestelde: eerlik en reguit.)

Dit was bitter moeilik om Mart-Mari te skryf, juis omdat ons so verskillend is. Sy het soveel goed so lank weggebêre dat sy amper nie meer weet hoe om aan haarself te erken dat sy ’n emosionele reaksie op gebeure het nie.

Maar ek ken sulke mense, en ek weet dat hulle net so diep voel sonder dat hulle die vermoë het om hulle emosies te verwoord. Dit maak hulle kompleks, en natuurlik uitstekende materiaal vir ’n karakter in verhoudingsfiksie. Dis regtig net die dapperstes en die koppigstes wat hulle uiteindelik uit hulle doppe getrek kry.

Die tweede hoofkarakter, Liesbet Vermaak, se verhaal weerspieël die lewensgebeure van Louisa Louw, Mart se ma. Het jy dit doelbewus gedoen? Is Liesbet se verhaal ’n rimpeleffek wat op een of ander wyse deur al haar nageslagte se lewens sal kring? Of is dit jou hoop dat lesers dalk deur Liesbet meer waardering vir Louisa sal hê?

Louisa is op ’n sekere manier ons almal se ma. Sy het ’n klomp foute gemaak, maar alles wat sy gedoen het, het sy eintlik maar gedoen om seker te maak haar kinders is geborge. Sommige van die besluite wat sy geneem het, het ’n enorme impak gehad, veral op Mart, maar niks daarvan was gemeen of selfsugtig nie.

Mart se reis is om tot daardie besef te kom, en om in te sien dat moederskap nie gaan oor reg of verkeerd nie, maar om die situasie wat jy gekry het om te leef, na die beste van jou vermoë te hanteer. Soms is daardie beste nie wonderlik nie, maar dis steeds die beste. En daarvoor moet ’n mens dan nou maar jou ma vergewe.

............
Ja, daar is herhaling. Dis die patrone waarvan ek gepraat het. Ons kom almal op een of ander tydstip voor sulke onmoontlike keuses te staan. Al waarvoor ons kan hoop, is dat ons kinders ons sal vergewe as ons beste dan nou nie wonderlik is nie.
..............

Ja, daar is herhaling. Dis die patrone waarvan ek gepraat het. Ons kom almal op een of ander tydstip voor sulke onmoontlike keuses te staan. Al waarvoor ons kan hoop, is dat ons kinders ons sal vergewe as ons beste dan nou nie wonderlik is nie.

Ek kan altyd op jou staat maak om ’n wonderlike held te skep, en Heimwee is geen uitsondering nie. Ek is mal oor die kwesbaarheid in Gert Niemand, die historiese held, maar ek was verbaas oor Anton Nieuwoudt. Anton is sensitief, opreg, maar laat nie oor hom loop nie. Hy het ook menings wat hy nie op Mart afdwing nie, maar het haar geïnspireer om haar familie in ’n ander lig te sien. Wat het hierdie tweede helde geïnspireer?

Ek skep altyd baie versigtig aan my helde. Hulle is nie noodwendig perfek nie, maar hulle is perfek vir die heldin saam met wie hulle aan die einde van die boek lank en gelukkig moet saamleef.

Gert was die dwalende een, wat op Heimwee (die plaas) ’n tuiste gekry het. In die moderne storie is Mart die dwalende een. Die parallel is dus eintlik tussen Mart en Gert, nie tussen Anton en Gert nie. Maar ja, Anton is die dapper, koppige een wat Mart uit haar dop trek. Soms ‘n bietjie onhandig, omdat hy ook maar nie verstaan hoe haar kop werk nie, maar altyd met deernis en altyd met onbetwiste lojaliteit.

Ek dink as ek een eienskap moet uitsonder wat my helde moet hê, is dit daardie een: Hulle is lojaal. Al verstaan hulle nie die heldin altyd nie, al maak hulle soms droog, is hulle lojaal. As ’n man lojaal is, kan ’n mens hom eintlik maar enige ander tekortkoming vergewe.

Jy noem in ’n onderhoud met Maroela Media dat “dit broodnodig is om hierdie deel van die geskiedenis neer te pen”. Is my aanname reg dat jy as skrywer nie net inspirasie uit die geskiedenis put nie, maar dat jy jouself ook sien as ’n “boekhouer” van historiese gebeure en die impak daarvan op alledaagse mense? Help ’n storie jou om die waarheid en geskiedenis te verwerk?

Ek dink nie noodwendig ek is ’n neerpenner van die geskiedenis nie; dit is ’n geskiedskrywer se werk. Ek dink wel as ’n mens stories oor daardie deel van die geskiedenis wil skryf, moet ’n mens dit nóú doen, terwyl daar nog mense is wat daardie tyd kan onthou.

Geskiedskrywing is gewoonlik gefokus op die optekening van gebeure, nie op die bewaring van ’n soort leefwyse nie. Inligting oor hoe ’n Zoeloelandse plaashuis in 1945 gelyk het, gaan jy byvoorbeeld nie in ’n geskiedenishandboek opspoor nie.

Ek het hierdie inligting nog, want my ouma het my vertel hoe sy en my oupa geleef het (hulle is in 1936 getroud). Maar sy is oorlede, en as ’n mens dit nie nou skryf nie, gaan daardie inligting verlore. Dan moet ’n mens inligting oor die omgewing uit jou duim begin suig, soos mense deesdae met ou Kaapse verhale maak, waar ’n mens as leser dikwels voor jou heilige siel weet die Kaap het nie toe so gelyk nie. Dit maak dit vir my moeilik om so ’n boek net te geniet.

Heimwee is deur Boekdiva Uitgewers gepubliseer. Jy het voorheen ’n Facebook-blog, “Bedonnerde diva”, gehad. Is die uitgewer se naam deur hierdie blog geïnspireer?

Nee, Boekdiva is geskep deur Leonie van Rensburg, die eienaar van Graffiti Boekwinkel. Haar bynaam in die boekbedryf was al die jare Boekdiva.

Jy het onlangs ’n gesprek oor boekpryse ontlok en ’n baie eerlike en ingeligte mening daaroor gegee. Hoe belangrik is lesersopvoeding oor die publikasie van boeke?

Ek is nie mal oor daardie woord “opvoeding” nie. Dit laat dit altyd klink asof die mense met wie jy praat, onopgevoed is, en Afrikaanse lesers is dit allermins! Selfs sogenaamde ongeleerde lesers is dikwels baie belese, en hulle is ryk aan lewenswysheid, al het hulle dan nou nie materiële rykdom nie.

Maar ja, ek dink dis belangrik dat die inligting omtrent boeke en die boekbedryf meer openlik bespreek word. Ek het met die gesteel van boeke op WhatsApp en ander sosiale media besef mense dink skrywers rol in die geld – ons is almal net een trappie onder JK Rowling en Danielle Steele en woon in huise met marmervloere en vyftig skoorstene.

..............
Intussen is die meeste van ons in die wolke as ons ’n kind se skoolgeld met ons tantième kan betaal. Vir die meeste skrywers is skryf liefdeswerk, wat ons doen vir ons eie kreatiewe siele, vir die lesers en vir Afrikaans.  
.............

Intussen is die meeste van ons in die wolke as ons ’n kind se skoolgeld met ons tantième kan betaal. Vir die meeste skrywers is skryf liefdeswerk, wat ons doen vir ons eie kreatiewe siele, vir die lesers en vir Afrikaans.

  • 2

Kommentaar

  • Elize Engelbrecht

    Ek het die boek baie geniet - soos elkeen van haar ander boeke. Dankie vir goeie verhale met geskiedkundige feite vervleg in die hedendaagse lewe!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top