
http://boekdiva.co.za/
Boek: Heimwee
Skrywer: Sophia Kapp
Uitgewer: Boekdiva Uitgewers (http://boekdiva.co.za/)
ISBN: 9780639704494
Koop hierdie boek by Graffiti
Heimwee se storie wat strek oor geslagte, van mense wat so seer gekry het dat hulle swerf, is ook ’n storie van heling. Boweal is dit die storie van moederskap, van die verskriklike prys wat dit soms vra, en van ma’s wat bo-oor die ewigheid sal reik om seker te maak hulle kinders is geborge.
Heimwee (of By my is jy veilig soos wat ek dit gedoop het) is Sophia Kapp se jongste roman. Dit vertel die storie van Mart-Mari Louw, die moderne hoofkarakter, en Liesbet Vermaak, een van haar voormoeders. Dis ’n roman waarin twee verhale, ’n historiese en ’n moderne verhaal, tegelyk in die huidige en in 1944/45 afspeel.
Heimwee is net soveel ’n liefdesverhaal as wat dit ’n familiedrama is. Die boek is in ’n sekere sin kenmerkend van Sophia Kapp se skryfstyl. Die verhouding tussen Mart-Mari en Anton Nieuwoudt, die held, het my herinner aan Tessa Badenhorst en Hertzog van der Walt in my gunsteling-Sophia Kapp-boek, Driehoek. Soos by Tessa en Hertzog is daar ’n gevoel van geborgenheid tussen die paartjie, maar hulle hou mekaar ook verantwoordelik vir hul foute.
Die verhouding met Mart en haar pa, Hans Louw, herinner my ook aan die verhouding tussen Charl Nienaber en Luca in Waar die hart is. Dus is Heimwee ’n bekende vir Sophia-ondersteuners, maar die boek is ook ’n voortsetting van haar skryfstyl.
Heimwee is ’n boek wat jou laat voel!
..............
Frustrasie, pyn, liefde en woede is maar net ’n paar emosies wat jy tydens Heimwee ervaar. Dit is ’n boek wat krap in ’n bekende maar komplekse omgewing: familieverhoudinge. Die boek fokus spesifiek op die verhouding tussen ’n ma en haar kinders, asook die opoffering wat ’n ma vir haar kinders maak.
................
Frustrasie, pyn, liefde en woede is maar net ’n paar emosies wat jy tydens Heimwee ervaar. Dit is ’n boek wat krap in ’n bekende maar komplekse omgewing: familieverhoudinge. Die boek fokus spesifiek op die verhouding tussen ’n ma en haar kinders, asook die opoffering wat ’n ma vir haar kinders maak.
Mart-Mari moet haar ma, Louisa Louw, se begrafnis gaan bywoon. Sy sien daarteen op, want om deel van die Louw-gesin te wees, vereis wilskrag, hoofpynpille en wyn. Mart en haar sibbe se verhouding is kompleks, en die gom wat hul gewoonlik bymekaar hou, hul ma, is weg.
Dit vertel ook Liesbet Vermaak se verhaal van oorlewing en die belofte wat sy aan haar ma gemaak het. ’n Belofte om haar broers op te pas.
Die parallelle storielyne het my aanvanklik ’n bietjie verwar. Ja, hulle is verbind aan mekaar, maar hulle knoop eers aan die einde van die verhaal saam. Na ’n bietjie betragting het ek besef die verbintenis tussen Mart en Liesbet strek dieper as familiebande. Dit gaan ook oor die verpligting wat hul ma’s voor hul deur lê: om die familie te bewaar deur na hulle om te sien soos in Liesbet se geval of om stil/minder te wees soos met Mart. Beide se groei kom aan die hand van hul helde, wat in plaas van plig, eer sien en dus verandering in hierdie vroue meebring.
Dit het my ook getref dat beide Liesbet en Mart se ma’s hul kinders as goeie mense grootgemaak het, maar hulle nie voorberei het vir ’n lewe sonder hulle nie.
Liesbet was vir my ’n realistiese karakter, hoewel sy ’n bietjie in die skadu van haar ma staan.
Mart het my by tye frustreer. Sy is baie passief oor wat met haar gebeur en sy aanvaar gelate wat haar familie aan haar doen. Vir ’n briljante vrou van 38 is haar selfkennis verstommend min. In ’n sekere sin maak haar besluite vir my sin aan die einde van die verhaal, maar ek sou wou gehad het sy moet meer aktief aan gebeure deelneem.
Mart se ma, Louisa Louw, word sterk beleef deur haar kinders, maar sy word nooit vir my ’n volledige persoon nie.
Die moderne held, Anton Nieuwoudt, was vir my ’n lekker verrassing – en my gunsteling-Heimwee-persoon. Hy gee vir Mart die geleentheid om haar familie in ’n ander lig te sien, sonder om sy menings op haar af te dwing. Anton is presies wat Mart nodig gehad het – sy kon agter hom skuil en tog daag hy haar siening oor haarself uit.
Anton se ma, Antoinette, is ’n karakter wat my oorweldig en beïndruk het. Sy is ’n breukdeel in die verhaal, tog is sy onvergeetlik. Antoinette konfronteer Mart as ’n oorlogsgodin, en groet haar as ’n ondersteunende skoonma. Dit alles in minder as drie bladsye. Antoinette se karakterisering was besonders – van die oomblik dat Mart volledig kennis van haar neem, kan die leser sien waarom Anton die held is wat hy is, en waarom hierdie vrou bereik het wat sy bereik het. Ek hoop Sophia skryf ’n kort novella van haar reis, want ek dink dit kan ’n besonderse storie wees.
Heimwee was vir my, ’n Sophia Kapp fan, ’n boek wat my diep geraak het. Waar ek dikwels ’n Sophia-boek toemaak met net ’n gevoel van tevredenheid, het hierdie boek my aan die dink gesit.
............
Dit is ’n wonderlike getuigskrif van ’n ma, nie die stereotipiese goeie of slegte moederfiguur nie, maar van ’n vlees-en-bloed-ma. Met al haal foute en haar tekortkominge. Dit maak Heimwee besonders.
..............
Dit is ’n wonderlike getuigskrif van ’n ma, nie die stereotipiese goeie of slegte moederfiguur nie, maar van ’n vlees-en-bloed-ma. Met al haal foute en haar tekortkominge. Dit maak Heimwee besonders.
Lees ook:



Kommentaar
Ai, wee' jy, ek kan myself geensins as ’n "fan" beskou nie, omdat ek eintlik niks weet van die skrywer se boeke nie. Nog nooit een van haar boeke gelees nie. Is natuurlik wel deeglik bewus van die fanfare met elke boek van haar wat verskyn. En hierdie nuutste een gaan my nog tot oorgawe dwing. Ek hou vreeslik baie van wat ek sien. Ek hou ook van hoe jy die idees in die boek bespreek en ook nie oordele terughou nie. Jou sieninge van die karakters liberaal deel. Wel gedaan.
Ek wil graag die boek lees op my Kindle, maar kry dit nie op Amazon nie. Help asb.