Heil die Leser!: Oor die poëtika van seine, tekens en simbole

  • 1

  • Nini Bennett skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.

Titel: Seine
Digter: Koos de Wet
Uitgewer: Naledi, 2025
ISBN: 9 781067 2350086

1

Danksy uitgewers soos Naledi kry heelparty digters die geleentheid om te debuteer – en elke debuut is soos ’n verrassingspakkie. Want digters en hulle onderskeie agtergronde verskil wesenlik. Só het die afgetrede regsadviseur en finansiële beplanner Koos de Wet, ’n blinknuwe ster op die horison, se debuut getitel Seine onlangs by Naledi verskyn.  

In De Wet se digbundel vorm die konsep van seine (sinjale, tekens en simbole) die sentrale metaforiese en strukturele raamwerk. Die bundel gebruik verskillende soorte seine, nie net as tematiese onderafdelings nie, maar as ’n diepgaande simbool vir hoe mense probeer kommunikeer en betekenis skep in ’n wêreld vol onsekerheid, verganklikheid en stilte.

Die gebruik van seine in die mensdom vorm die kern van menslike kommunikasie en betekenisvorming, waar tekens nie bloot arbitrêre merkers is nie, maar ’n brug vorm tussen die tasbare wêreld en die intellektuele of emosionele ervarings daarvan. De Wet se bundel is inderdaad ruig aan filosofiese subteks.

........
Die gebruik van seine in die mensdom vorm die kern van menslike kommunikasie en betekenisvorming, waar tekens nie bloot arbitrêre merkers is nie, maar ’n brug vorm tussen die tasbare wêreld en die intellektuele of emosionele ervarings daarvan. De Wet se bundel is inderdaad ruig aan filosofiese subteks.
.........

Om enkele filosowe en literêre teoretici te noem en by te haal: Ferdinand de Saussure, as grondlegger van die semiotiek, het tekens (seine) beskou as ’n tweeledige entiteit – die betekenaar (signifier, die vorm of klankbeeld) en die betekende (signified, die konsep of idee) as die struktuur wat taal en die samelewing onderlê, om sodoende die mens in staat te stel om abstrakte idees soos vryheid of identiteit te deel en te vorm. Volgens De Saussure is die verband tussen die betekenaar en betekende arbitrêr.

Charles Sanders Peirce het die beskouing rondom tekens (seine; semiotiek, wat hy ook as semeiotic gespel het) uitgebrei met sy drieledige model waar ’n teken (vehicle of sein) deur ’n objek bepaal word en só ’n “interpretant” in die gees van die waarnemer skep, wat impliseer dat seine nie staties is nie, maar dinamies en afhanklik van interpretasie vir hul betekenis.

Suzanne Langer het verder beklemtoon dat simbolisering die essensiële taak van die menslike verstand is wat ons verhef bó diere deur ons in staat te stel om ’n wêreld vol betekenis te skep, waar tekens en simbole (seine) nie net inligting oordra nie, maar ook kulturele identiteit en kollektiewe begrip bou.

Hierdeur word tekens (seine) nie as neutrale merkers beskou nie, maar as kragtige meganismes wat die menslike samelewing se transendensie van die onmiddellike werklikheid moontlik maak, soos Alfred Schutz in sy fenomenologiese benadering tot tekens en simbole dan ook argumenteer.

Koos de Wet se debuutbundel skep nie ’n lawaai nie – dit stuur seine uit. En dié seine kom in verskillende gedaantes voor in die gedigte, wat as uitgebreide metafoor staan vir byvoorbeeld semafoorflitse, morsekodes, rookseine en selfs die onuitgesproke seine tussen twee mense wat al lank saam is. Semafoorseine (ligseine of vlagseine van verskillende kleure) simboliseer duidelike, maar rigiede besluite – rooi vir stop, groen vir gaan en geel vir wag en onsekerheid. Dit word ’n metafoor vir verhoudings, lewenskeuses en die onvermydelike oorgange van die lewe sonder dat jy gereed is daarvoor. Die simboliek lê in die meganiese, onpersoonlike aard: seine wat werk sonder emosie, maar tog op menslike vlak ’n diep emosionele resonansie vorm deur laasgenoemde liminale oorgange.  

Morsekodeseine (punte en strepe) verteenwoordig die minimalistiese, ritmiese aard van verlange of noodsaaklike boodskappe. Die kort-lank-patrone boots die hartklop na, of die stadige opbou van emosie in stilte. Heelparty van De Wet se gedigte is dan besonder metries en wys hoe betekenis gebore word uit herhaling en stilte – seine wat meer sê in hul afwesigheid as in woorde.

Dan is daar rookseine, waarskynlik die mees verganklike en poëtiese seine wat daar is. Rook dryf weg, word verstrooi deur die wind en het ’n betreklik kortstondige bestaan. Dit simboliseer die broosheid van alle kommunikasie: woorde, herinneringe, liefde – alles dryf uiteindelik weg. Tog is daar ’n dieper aanvaarding daarin, amper heilig: Dié seine is kosbaar juis omdat dit tydelik is. Dit word geassosieer met temas van veroudering, aftrede en die soeke na sin in die verganklike, soos De Wet se bundel ook aantoon.  

En hiér skyn die digter se filosofiese ondertoon die helderste deur: die wete dat alle seine tydelik is, dat enige verbintenis of verbondenheid altyd die risiko van moontlike misverstande dra. Tog is daar geen swaarmoedigheid in die verse te bespeur nie – eerder ’n gelate aanvaarding. Al die gedigte in Seine het ’n Christelike onderbou as subteks.

Tematies handel die gedigte onder meer oor poësie (waar taal as sein optree), maar ook die seine van die liefde, gedenktekens, geografie, geskiedenis, evolusie, reise, medemenslikheid, intertekstuele seine, die natuur, en so meer. Elke gedig word as’t ware ’n sein (of stel tekens) wat gedekodeer moet word. Onder die huid van dié gedigte skuil die simboliese ladings van talle onderskeie seine.

Seine verteenwoordig in wese pogings tot verbintenis – dit is brose, tydelike boodskappe wat uitgestuur word met die hoop dat iemand dit ontvang en verstaan. Seine is nooit perfek of permanent nie; hulle kan verdwaal, misverstaan word, vervaag, of heeltemal verlore gaan. De Wet benut voorts seine om te skryf oor temas soos verlange en afwesigheid (die pyn van onbeantwoorde seine); die heiligheid in die alledaagse (die nederige seine in verhoudings, die natuur en geloof); en die filosofiese aanvaarding van seine (dat alles tydelik is, maar die pogings om sélf seine uit te stuur, betekenisvol is).

Die bundel skep ’n gevoel van intieme, amper fluisterende kommunikasie. De Wet se taal is ekonomies en plek-plek amper klinies, maar juis daarom “dringend”, net soos sommige seine.

Die digter se seine (gedigte) is dus nie net letterlike metodes van kommunikasie nie, maar ook ’n filosofiese lens waardeur hy die menslike kondisie beskou: Ons stuur seine uit omdat ons alleen is, maar die uitstuur self vorm die betekenis.

De Wet se stem is volwasse, sonder die jeugdige drif van baie debutante. Hy skryf oor veroudering, oor die stilte ná aftrede, oor liefde wat nie meer “skree” nie, maar in stille verwondering tussen twee geliefdes voltrek word.

Kortom: Seine simboliseer die mens se ewige, dikwels vrugtelose, maar noodsaaklike poging tot konneksie, of verbintenis – 'n getemperde, volwasse erkenning dat betekenis nie in die perfekte antwoorde lê nie, maar in die uitstuur van die seine – en die wisselwerking tussen die sender en ontvanger van boodskappe. Dit maak van die bundel ’n rustige, maar diep resonerende ervaring vir lesers wat poësie soek wat suggereer, eerder as poësie wat alles uitspel.

Seine is ’n intelligente en netjies deurgekomponeerde digbundel, bedrieglik eenvoudig, maar dit sal met ’n wye lesersgehoor resoneer. Die gelade gedigte en simboliese onderhuid van die gedigte sal insgelyks spreek tot die fynproewers van poësie. Let op die programgedig (bl 13):

Seine

Langs die Andes sein
Inkas se rookwolke dit,
    in Afrika se bos
  rommel tromme dit,
heliograwe het dit iewers

  van bulte af gekaats, en
   soos Samuel Morse se
   “arrangement of dots
      dashes and spaces”
      skryf digters dit in
      kortes en langes –
   vers, gedig of geskrif
   word ’n boodskap in
woorde, grepe, en tekens verklap:

    Seine tussen lyne.                     

Nadat ek dié opwindende debuut onder oë gehad het, het ek besluit om ’n bietjie kers op te steek by die digter.

2

Koos, baie dankie dat jy ingestem het tot ’n onderhoud. En baie geluk met jou debuutdigbundel, Seine, wat onlangs by Naledi verskyn het.

Vertel die lesers meer van die mens, Koos de Wet. Jy was ’n finansiële en regsadviseur wat in 2020 afgetree het. Watse invloed het jou loopbaan op jou skryfwerk gehad?

Dankie Nini. Die mense wat op my pad gekom het op pad na Seine het my aangespoor om van die skryf van blote versies en gedagtes as ’n stokperdjie te laat groei na hierdie publikasie, maar dis ’n interessante vraag om te beantwoord as mens verwys na jou beroepslewe en die invloed daarvan. Vir seker het die regsblootstelling my sterk beïnvloed om sake tussen mense van twee en soms drie kante te beloer, te weeg, alvorens korrek geadviseer kan word. Dit leer mens luister met meer as net jou ore. Aan die ander kant het my blootstelling as finansiёle adviseur, veral by sake soos aftrede- en beleggingsbeplanning, my geleer om te ontleed tussen feite en mense se emosies as dit by geldsake kom. Dit vind beslis neerslag in my skryfwerk.   

In die binneflap van jou bundel verneem die leser dat jy al sedert laerskooldae af skryf en dat jy in 2024 met die ATKV-digigedigte ’n A++-simbool vir ’n gedig behaal het. Daarna het jy jou toegewy aan die skryf en saamstel van jou debuut. Met ander woorde, daar het dekades verbygegaan voor jy gepubliseer het. Was daar enige mentors op jou pad wat jou aangemoedig het om te skryf? Hoe lank het jy met die idee geloop om daadwerklik oor te gaan tot publikasie?

Indien omstandighede van so ’n aard was dat ek vroeër meer gefokus sou kon skryf, het dinge dalk vinniger gebeur, maar die lewe werk mos nie altyd in reguit lyne nie. Ek het dus eers na my aftrede so ses jaar gelede besluit om wel eendag te publiseer. Alhoewel my skryfpaadjie vroeg reeds, op laerskool, begin het, het my gedigte, of sal ek sê my pogings, eers veel later in my lewe beter gestalte begin kry.

My wyle moeder was lief vir lees en ek het dit aangeneem. My biblioteekjuffrouens op laer- en hoёrskool sou daarvan kon getuig. Cor Dirks se Uile-reeks en Topsy Smith se Trompie-boeke was al vroeg verorber. Mens moet lees voor jy skryf. My Afrikaanse onderwysers, veral die een toe ek in graad 9 was, het my aangevuur deur die manier waarop hy letterkunde, veral poësie, aangebied het. En dan het ek in my eerste jaar se regstudies op Tukkies by Rena Pretorius Afrikaans I gedoen. Sy was ’n briljante mentor op ’n wyse eie aan haar besondere persoonlikheid. Dit was my laaste akademiese blootstelling voordat ek so twee jaar gelede, hopeloos verroes, met Seine se manuskrip begin het en uitstekende aanlyn poёsielesings bestudeer het.

Watter digters en skrywers se werk lees jy graag? En wie is vir jou ’n bron van inspirasie? Watter boek onthou jy uit jou jeugjare wat die vonk in jou aangesteek het en jou laat besef het: Ek wil ook so skryf?

Enige gedig uit ’n gedugte pen maak vir my saak en help gedagtes en styl vorm, maar my inspirasie oor die jare was die ouer digters. Seker maar omdat mens dit in jou skooldae so geniet het. Groot verseboek is ’n soort bybel vir my nog oor al die jare. NP Van Wyk Louw is my held en ek sonder hom graag uit. DJ Opperman, Elisabeth Eybers, Breyten, Ingrid Jonker en vele ander. Later: digters soos Daniel Hugo, Johann de Lange, Johann Lodewyk Marais. Dan geniet ek ook skryfwerk van Pablo Neruda, Koos Kombuis en Koos du Plessis. Ja, eintlik onbegonne om uit te sonder.

Wie is jou persoonlike muse(s) as jy skryf, en waarom?

Daar moet ’n muse wees. Kunssinnige mense moet uit ’n soort sesde sintuig hulle talent pleeg. Wat help dit jy sien, ruik en proe en tas rond in die see, maar daar is niemand wat vir jou kan vertel hoe ’n brander klink of smaak of selfs voel as hy breek nie – dit is wat ek glo die muse doen vir die sanger en die skilder en die digter. ’n Geheimsinnige mentor wat inspireer. In jou gees eerder as jou verstand. ’n Ander mens kan dit nie vir my doen nie. Die muse help met die nuanses van gevoel, as ek dit so mag stel, en dit kom vir my uit ’n Bron wat oor alles beskik. Ek vra Hom vir hulp.   

Die makro- sowel as die mikrokonsep van Seine is weldeurdag en goed deurgekomponeer. Wat het jou op die idee gebring om verskillende seine, as simboliese subteks, vir jou debuutbundel in te span?

’n Gedig kan bloot net plesierig wees, ’n storie vertel, idees deurgee of dalk dieper betekenis hê. Of ’n kombinasie. My inspirasie was om gedigte in Seine te bundel wat iets aan die leser sal deurgee wat inspireer, raadgee of aanmoedig. Om ’n boodskap aan die leser te stuur met die inhoud van die gedig wat as seiner ageer. Ek is lief vir die natuur, die Skepper, mense en die fasette van menswees, en wou graag sover moontlik die boodskap wat in my gedigte te vinde mag wees, kombineer deur die subteks simbolies op dié wyse aan te bied – as seine uit te stuur. Baie keer is die een wat in moeilikheid verkeer die een wat ’n sein stuur en nie die een wat dit ontvang nie. Dit kan dus retories werk ook.

Vertel vir die lesers ’n geheim omtrent jouself?

Dis maklik. Al my geheime is alreeds uitgelap. Nee, dis sommer op ’n ligte noot. Daar is inderdaad iets wat ek met jou kan deel waarvan net my vrou sal weet, en dit is dat ek soms saam met haar haar klere en so meer kies. My vroulike kant het seker meer “kant” as die gemiddelde man s’n, of dalk nie, maar vrouens se goedjies, parfuum, grimering en juwele, is vir my mooi. Ek sien dit. Wil dit beslis nie dra nie, maar verstaan die vreugde wat vroue daaruit put. Iets waaroor ek nog nooit gepraat het nie. Dit is, nee was, ’n geheim!

Wat doen jy graag in jou vrye tyd?

Die geykte lees, stap en skryf. Maar ek ry graag gereeld kort en lang afstande met my motorfiets. Ontbytsessies saam my vrou of vriende, veral naweke.

Ons reis graag oral rond en 4X4-roetes wink ook altyd. Die Kgalagadi. Ons was al baie in die Namib en dan besoek ons graag die Krugerwildtuin en die Oos-Vrystaat.

In die winter gaan jag ek graag so ’n slag of drie vir biltong. Daar is baie bosveld om ons. 

Hoe skryf jy – met die hand, of is jy ’n tegnokraat ? tegnofiel? wat direk op ’n toestel tik?

My regterwysvinger is vereelt van al die skryf en krap. Ek hou van papier en die rol van ’n penpunt daaroor. Die gevoelentheid van skryf met die hand is prysloos en onvervangbaar. Ek hoef nie iets ander as ’n sakboek by my te hê nie. Slaggereed as die muse fluister.

Jou gedigte het ’n subtiele filosofiese en Christelike onderbou. Vertel ons asseblief meer?

Ek is nogal mal daaroor om filosofies te raak indien die geleentheid daarvoor opduik – en in die regte geselskap, want minder mense blyk daarvan te hou. Alhoewel die lewe prettig behoort te wees, bly dit in wese ’n ernstige ding. Filosofie is ernstig en vir diegene wat dit insien, verstaan en debatteer kan dit prettig wees, maar baie mense vlug daarvoor. Die invloed van regsfilosofie as vak op universiteit het my aangegryp. Goed soos genadedood, aborsie, doodsvonnisse en so meer. Dit laat mens dink en afweeg. Maar ja, en dis waar die kruks vir my persoonlik lê: Hoe skei jy dit waarin jy glo van filosofieё? Mens kan ’n laslappiekombers hiermee hekel. Wat doen jy met liefde en haat, reg of verkeerd, skoon of vuil? Vir my het dit maklik geword toe ek alles op ’n dag aan God oorgegee het toe ek sy Seun ontmoet het. Daarom het Seine ’n Christelike register.  

Het jy enige stokperdjies om die lui uurtjies te verwyl? En indien wel, vul hierdie stokperdjies jou skryfproses aan?

Goeie vraag, dankie Nini. Ons het vroeër oor vryetydsbesteding gesels en ek sal dit hier wou herhaal met die klem daarop dat dit vir seker invloed op my skryfwerk het. Daar is uitdagings, genot van hoё snelhede, die wind en krag wat motorfietsritte bied. En 4X4-ryery, stap en reis bring my tot binne-in die natuurlewe waar mens groot inspirasie vind. Ook in die stilte. Stiltetyd. Lees spreek vanself, want dit beïnvloed skryfwerk meestal. 

Met watse skryfprojek is jy op die oomblik besig? Waarna kan die lesers volgende uitsien uit die pen van Koos de Wet?

’n Tweede manuskrip gedigte is so pas gekeur vir publikasie. Vir die poësieleser wat dit gaan lees vir die genot sonder om te diep te delf, sal die metafore en insig in die normale gang van menselewens waarde bied. Dit krap so ’n bietjie rond en uit en dit “krapook oop. Ek vertrou die bundel.

Waar kan lesers Seine bestel?

www.naledi.co.za

+27 78 648 8616
Of bestel direk by my: dewetco@mweb.co.za 

Baie dankie vir ’n prikkelende onderhoud, Koos!

Dit is ék wat jóú moet bedank, Nini. Dankie vir die voorreg!

Lees ook:

Heil die Leser! Oor prikkelpoppe en oeroue entiteite

  • 1

Kommentaar

  • Sandra Pretorius

    Ek weet nie meer wie om te glo nie. Hierdie resensie is basies die teenoorgestelde van wat Joan Hambidge op Versindaba oor die bundel te sê het. Sal maar wag om te sien wat sê Netwerk24 en Maroela Media se resensies voor ek die boek koop.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top