
- Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
1
Titel: Doller as kopaf
Skrywer: William Oosthuizen
Uitgewer: Naledi, 2025
William Oosthuizen is ’n afgetrede regspraktisyn van Houtbaai in die Wes-Kaap. Gedurende 2012 is sy radiodrama, Ons gaan huis toe, aangewys as die wendrama in die RSG/Sanlam se radiodramaskryfkompetisie.
Nog vyf van sy radiodramas word daarna op RSG uitgesaai: Een voet in die graf (2017), Die voëlhok (2018), Doller as kopaf (2019), Daar’s iets omtrent Daisy (2020) en Sorg tog mooi vir Buks (2022). In 2019 word sy debuutroman, Die dame met die hondjie (Naledi), en daarná in Engels as The lady with the dog (ook Naledi), gepubliseer. Sy twee jeugromans, Die lewe volgens Wim Vermaak en Wim Vermaak maak ’n plan, word onderskeidelik in 2020 en 2023 deur Human & Rousseau uitgegee. Hy is ook die skrywer van verskeie kortverhale, onder andere in African Pens (2011) en meer onlangs as deel van die ImagiNation Project.
’n Paar jaar gelede het luisteraars geskater tydens die uitsaai van die komiese RSG-radiodramas, Doller as kopaf en Daar’s iets omtrent Daisy. Heerlik vertolk deur verhoogveterane soos wyle Louis van Niekerk, Tobie Cronjé, wyle Paul Lückhoff, Rina Nienaber, Ria Smit, wyle Elize Cawood, Rika Sennett, Heidi Mollentze, Bettie Kemp, Lochner de Kock en Elzabé Zietsman, onder regie van onderskeidelik Kobus Burger en Denver Vraagom.
Nou is hierdie dramas saam verweef in boekvorm, met nuwe (en meer gewaagde) kinkels vir ’n lekker lag- en leesavontuur.
Doller as kopaf bied ’n knipoog-kykie na die doen en late van ’n groep afgetredenes in ’n luukse, maar uiters saai aftreeoord. Freek se pretprojek – geloods teen die advies van sy vriende, die bek-af Dawid en die skatryk alleenloper Hardus – beloof om dinge bietjie op te kikker en om vooropgestelde idees te beproef. Want Freek het begin popspeel ...
Dit is die spreekwoordelike neergooi van die strydbyl vir Mara, selfaangestelde sedebewaker van die oord. Sy kommandeer die vroue van die oord op om laer te trek. En met die skielike opwagting van die voormalige model Daisy – pas uit rou, as ’n korttermyn huurder en mannejagter – begin die ou manne se asems jaag, veral met die vooruitsig van ’n kaalbasgroepfoto vir ’n internasionale kalender om geld in te samel vir liefdadigheid. Vele kinkels lei tot dramatiese en dikwels absurde gevolge.
Humor kan baie gedaantes aanneem. Ons is almal bekend met Britse humor se droë spitsvondigheid, understatement en ironie. Mens kan die afleiding maak dat humor ’n kultuurgebonde ding is; elke land beskik oor sy unieke blik as dit by humor kom. En Suid-Afrika – wat is die stand van sake met ’n “eg” Suid-Afrikaanse humor(sin)?
Op die keper beskou, is Suid-Afrikaanse humor met sy dapper, onverskrokke en veerkragtige styl ’n uitdrukking van die land se komplekse geskiedenis, kulturele diversiteit en alledaagse absurditeite. Hierdie humor put uit satire, selfspot, stereotipering (oor ras-, taal- en klasseverskille heen), slapstick en die vermoë om te lag vir uitdagings soos loadshedding, politieke onrus of sosiale eienaardighede as ’n manier om mee te cope. Anders as die meer ingetoë Britse benadering, is Suid-Afrikaanse komedie geneig om harder, riskanter en meer konfronterend te wees – dit spot met vooroordele, vrese en gedeelde ervarings om mense deur humor te verenig.
Suid-Afrikaanse humor kom duidelik na vore in byvoorbeeld Leon Schuster se flieks, wat candid-kamera-pranks, oordadige slapstick, vermommings en aktuele satire meng, omdat dit grense verskuif – almal word ewe hard geteiken in chaotiese scenario’s wat Suid-Afrikaners herken en liefhet. Nog ’n voorbeeld is Trevor Noah se Suid-Afrikaanse optredes wat swaar steun op stereotipering.
Net so beklemtoon Afrikaanse klugte en absurde komedies, soos Jeanne Goosen se Kopstukke (’n skerp, groteske huweliksklug wat ’n verlamde egpaar uitbeeld wat in die bed vasgevang is en bitter beskuldigings na mekaar slinger), die absurditeite van verhoudings in ’n donker, spitsvondige verhoogstuk. Stukke soos Rob Becker se Groet die grotman en Doller as kopaf maak gebruik van burleske karakters en humor wat herinner aan ’n Men-are-from-Mars- en Women-are-from-Venus-mentaliteit, en ja, óók seksistiese en onder-die-belt-humor. Wel, laasgenoemde is inderdaad eg Suid-Afrikaanse humor, en selfs al neem mense aanstoot, lag hulle steeds. Suid-Afrikaners is ’n robuuste nasie ... En moenie ’n fout maak nie: Suid-Afrikaanse satire beskik oor ’n goeie skeut donkerhumor.
William Oosthuizen se verwerking van die twee radiodramas, Doller as kopaf en Daar’s iets omtrent Daisy, is vernuftig gedoen. Waar hy met die dramas staatgemaak het op dialoog en byklanke, het hy nou die twee tekste verweef in ’n prosaverhaal met 35 kort hoofstukke. Uiteraard is die skuif van drama na verhaalkuns nie maklik nie; ek sou dié teks nie as ’n roman tipeer nie, eerder as ’n vertelling, bestaande uit sketsagtige vertellings. Hoofstuk 10, “’n Mooie (jonger) dame”, kondig dan die oorgang na die tweede hoorspel, Daar’s iets omtrent Daisy, in die prosateks aan. En is die oorgang geslaagd? Ja; die spot met die (letterlike) Franse prikkelpop en met Daisy lé Toit, voormalige model en mannejagter, vloei naatloos ineen. ’n Mens sien nie die lasmerke van die twee hoorspele in die vertelling nie. As dit by die literêre herwinning van tekste kom, verdien Oosthuizen ’n pluimpie.
Die humor is inderdaad onder-die-belt, maar die bittersoet hunkering van die ou mans na hul jeug en viriliteit is nie bloot oppervlakkig en dekoratief nie; eerder ’n lag met ’n traan. Die teks het my plek-plek herinner aan die twee jarige mans in die kunsfilm, Youth (2015), en hulle openlike verwondering vir ’n jong vrou. Die ontknoping aan die slot sorg, soos die flapteks belowe, vir ’n paar onvoorsiene verrassings.
Oosthuizen verdien lof vir die woordspel wat dikwels op traak-my-nie-agtige wyse ingespan word, nie aspris of opsetlik nie, bloot dubbelsinnighede of idiomatiese kwinkslae wat “terloops” gebeur, meesal as deel van die dialoog.
Hierdie vertelling is nie afgestem op ’n wye lesersgehoor nie, eerder op middeljarige en ouer lesers wat die frustrasies en vreugdes van ’n aftreeoord met hulle verveelde inwoners sal verstaan. Die taalgebruik is menigmaal argaïes; frases en woorde wat nie bekend mog wees aan jonger lesers nie. Die boek lewer implisiet kritiek op egpare waar verál mans deurloop onder ’n pantoffelregering – en die wanopvatting dat mense in ’n aftreeoord se lewens oor en verby is.
Is jy op soek na ’n lekker en ligte lees om ’n Sondagmiddag te verwyl ... of soek jy ’n wegbreek van swaarwigtige letterkunde? Doller as kopaf is die boek vir jou.
2
Titel: Die Oeroue
Skrywer: Etienne Lombard
Uitgewer: Naledi
Naledi het inderdaad ’n wye verskeidenheid boeke in hul stal en is besig om naam te maak as een van ons heel voorste uitgewers. Nou, van ligte satiriese leesgenot na iets heeltemal anders: ’n bonatuurlike spanningsverhaal.
Ek het, sover ek kan onthou, nog altyd ’n belangstelling in esoteriese en in bonatuurlike literatuur gehad.
As hoërskoolkind het ek die baanbrekerswerk, Die raaisel hiernamaals (1967) deur BJF Laubscher, op my ma se rak ontdek en etlike weke spandeer om die boek indiepte deur te lees (eerder: deur te werk). In ’n sekere sin kan Laubscher beskou word as die vader van die parapsigologie; hy het insgelyks ook die leksikon vir die paranormale / parapsigologiese / bonatuurlike in Afrikaans gemunt. Laubscher was ’n psigiater (en word soms die Afrikaanse ekwivalent van Elisabeth Kübler-Ross genoem) wat sy professionele ervaring gebruik het om verskynsels soos nabydood-ervarings, geesteskommunikasie, heldersiendheid en ander paranormale verskynsels te ondersoek en te beskryf. Hy het wegbeweeg van die suiwer teologiese of dogmatiese diskoers van sy tyd en gepoog om ’n empiriese en waarnemingsgebaseerde benadering te bied, gewortel in gevallestudies uit sy eie praktyk en ander navorsing.
Die werk bevat talle outentieke vertellings en getuienisse van mense wat bonatuurlike ervarings gehad het, soos mediumisme, outomatiese skryfwerk en voorspellings, voorkennis en ander psigiese fenomene.
In die 1960’s was daar wêreldwyd ’n herlewing van belangstelling in die parapsigologie (dink aan boeke soos The Tibetan Book of the Dead, of Ian Stevenson se werk oor reïnkarnasie). In Suid-Afrika, binne die Afrikaanse gemeenskap, was sulke onderwerpe nog sensitief en omstrede weens die sterk Calvinistiese en Christelike agtergrond. Laubscher se boek was dus gewaagd: Hy daag die tradisionele siening uit dat die hiernamaals slegs deur die Bybel en kerk verklaar kan word, en stel voor dat wetenskaplike waarneming ook ’n rol kan speel. Nodeloos om te sê: Binne die benouende tydsgewrig van die sestigerjare het Laubscher nooit die erkenning geniet wat hy vir sy baanbrekerswerk verdien het nie. En dít was my eerste kennismaking met die bonatuurlike ...
Daarna het fiksie gevolg: C Louis Leipoldt, Eugène Marais, ID du Plessis, Edgar Allan Poe, François Bloemhof, Etienne van Heerden, Horace Walpole, Ingrid Winterbach en Reza de Wet, om net enkeles te noem. In die Afrikaanse letterkunde word die bonatuurlike nie altyd as skrikwekkend voorgestel nie, maar eerder as deel van die alledaagse lewe, dikwels met ’n poreuse grens tussen die natuurlike en bonatuurlike. Carl Jung se erkenning van die paranormale as empiries onbewysbaar, maar tog wérklik in die menslike psige, beïnvloed hierdie benadering.
In Suid-Afrika neig onlangse bonatuurlike literatuur meer na magiese realisme, waar die bonatuurlike geïntegreer word sonder sensasie, en waarin misterie, voorbodes, verlate landskappe, drome en visioene ’n rol speel om gefolterde karakters met ’n obsessie oor die dood uit te beeld.
Die teenwoordigheid van bonatuurlike elemente in die Afrikaanse letterkunde dien voorts as ’n spieël vir sosiale angs, kulturele identiteit en die menslike kondisie.
So ’n week gelede was daar ’n klop aan my voordeur. Die koerier het my jongste boeke gebring. Heel bo in die pakkie was Die Oeroue deur Etienne Lombard. Die agterflap het belowe: “’n Asemrowende novelle wat ’n nuwe standaard stel vir bonatuurlike spanning in Afrikaans.”
Die res is geskiedenis.
*
Ek het besluit om te gaan kers opsteek by die skrywer en ’n paar vrae aan hom gestuur.
Nini Bennett-Moll: Etienne, die lesers is nuuskierig: Vertel ons asseblief meer van jouself, jou agtergrond, loopbaan en stokperdjies. Wie is Etienne Lombard? Is daar iets interessants omtrent die man en skrywer wat lesers nie weet nie?
Etienne Lombard: Ek is ’n praktiserende prokureur in Kaapstad wat sedert 2018 publiseer – beide formele poësie en fiksie, eers kortverhale op LitNet en in Huisgenoot. Die kontras tussen regswerk en kreatiewe skryf hou my in balans. Gholf bied ’n totaal ander soort presisie as woorde. Wat lesers dalk nie weet nie: Ek het eers laat begin skryf, maar toe dit gebeur het, was dit met ’n intensiteit wat my verras het.
Vertel ons gerus meer van jou debuut, The keepers of Pinelands.
The keepers of Pinelands was my eerste kennismaking met die verweef van gewone mense se lewens met die bonatuurlike. Ek is ook ’n stedelike byeboer, en toe ek saam met ’n kundige byeboer van Pinelands gaan bye soek vir my tweede korf – in bome, onder brandkrane, in versteekte plekke – het dit my laat dink: Wat lê nog verborge onder hierdie stil voorstad se strate?
Jou tweede boek, Die Oeroue (’n bonatuurlike spanningsverhaal), het verlede jaar by Naledi verskyn. Hoe het jy besluit op die tema? Vertel ons asseblief meer.
Die Karoo het my altyd gefassineer – daardie uitgestrektheid waar geskiedenis en spookstories letterlik uit die grond opkom. Ek wou ’n kosmiese gruwel skryf wat eg Suid-Afrikaans voel, waar koloniale skuld en oeroue wesens mekaar ontmoet. Die verhaal volg ’n dokter wat in die fiktiewe dorpie Kraaineshoogte met iets baie ouer as die mensdom te doen kry. Dit is ’n karaktergedrewe verhaal oor keuses – transformasie eerder as vernietiging.
Jy is duidelik deeglik geskool in esoterika. Die gebruik van die simboliek in jou werk getuig daarvan – ook dat jy jou vergewis van ander bonatuurlike tekste, mites, die geskiedenis, volkskuns en dies meer. Vertel ons meer hiervan. Ook: Watter skrywers lees jy graag?
Ek lees wyd: HP Lovecraft vir kosmiese gruwelverhale, Stephen King vir karakterontwikkeling, Márquez vir magiese realisme. In Afrikaans inspireer Marlene van Niekerk en Etienne van Heerden my – veral hoe hulle landskap en geskiedenis as integrale storie-elemente gebruik. Die simboliek spruit voort uit bogemelde.
Op watter ouderdom het jy besef jy het skryftalent? Was daar enige mentors wat jou aangemoedig het? Hoe lank loop jy al met die droom om skrywer te word?
Laat – eers in my laat vyftigs. Ek het ’n paar skryfkursusse bygewoon. Die Afrikaanse literêre gemeenskap op LitNet en skryfwerkswinkels het ook gehelp. Die droom het eintlik begin met die daad: Ek het begin skryf en toe besef dis wat ek wil doen noudat ek meer tyd het. Die regsloopbaan het my presisie met taal geleer; skryf het my die vryheid gegee om daarmee te woeker.
Na watter boeke kan lesers volgende uitsien uit die pen van Etienne Lombard?
My Sonnetkrans is onlangs vir publikasie aanvaar. Verder werk ek aan ’n Romanza, Ubuntu tussen woorde. Daar is ook nog ’n gruwelfiksiestorie op pad, Rooidors. Ek bly geïnteresseerd in hoe gewone mense reageer wanneer die onverklaarbare hulle lewens binnedring.
Baie dankie vir ’n prikkelende onderhoud, Etienne!
*
In die afgesonderde dorpie Kraaineshoogte arriveer Sandra Venter, hoopvol op ’n nuwe begin na ’n traumatiese verlede as forensiese patoloog. Maar onder die stil oppervlak van hierdie Karoo-dorpie skuil ’n eeu-oue geheim. In ’n land waar die Karoo se vlaktes dikwels as stil en leeg beskou word, bewys Lombard met Die Oeroue dat daardie stilte nie leeg is nie – dit is gevul met iets ouer as tyd self, iets wat wag om wakker gemaak te word.
Wanneer inwoners begin verdwyn, laat hulle slegs vreemde swart as op hul lakens agter, of hulle gemummifiseerde oorskot word ontdek – en Sandra besef dat haar voorouers diep verweef is met ’n oeroue entiteit wat elke 30 jaar uit sy sluimering ontwaak om sewe siele te eis.
Saam met die argeoloog, Elsabé Marais, en die geheimsinnige Tannie Griet, volg Sandra die spoor van haar ouma se leidrade, wat lei na sewe vreemde artefakte – skerffragmente van ’n entiteit wat ouer as menslike heugenis is. Die artefakte roep haar, die Oeroue fluister in haar drome, en die antwoorde lê verborge in die ou dorpie met sy koloniale wortels en geboue.
Maar die tyd raak min. Die Oeroue se siklusse word korter, die binding verswak en Sandra staan voor ’n onmoontlike keuse: Moet sy die volmaakte sirkel voltooi en iets prysgee wat dieper – hoër en verder – as haar eie lewe strek?
In hierdie meesleurende bonatuurlike riller word oeroue volkskuns, geskiedenis en moderne persepsies verweef tot ’n verhaal wat uiteindelik handel oor opoffering, verraad en die prys wat mens betaal om die duisternis te bind.
Lombard se prosa is skoon en ekonomies, tog skep hy ’n atmosfeer van beklemming wat stadig, byna ongemerk, toeneem. Die boek se krag lê in die subtiele opbou van onheil. Lombard speel met die grense tussen die psigologiese en die bonatuurlike, en negeer vir geen oomblik die rasionele nie. In dié opsig herinner die boek aan die televisiereeks, The X-Files, met sy skitterende draaiboek en die opbou van ’n rasionele betoog (versus ’n bonatuurlike een). Maar Die Oeroue is volledig geanker in ’n Suid-Afrikaanse landskap met sy eie mitologie – die spoke van ou rituele, die rimpeleffek van koloniale en inheemse konflik en die prys wat betaal word om donker kragte, ook van oudsher, in die hede te bedwing. Bonatuurlike verhale lewer sosiale kritiek; in hierdie geval, kritiek teen ’n koloniale familie wat die Oeroue verraai het.
Die ondersteunende karakters – die ou dominee wat die sewe artefakte toeskryf aan die duiwel, en die stil, maar bedreigende dorpsoudstes – is eg en realisties. Die einde is nie net bevredigend nie, dit is ontstellend en bly sluimer: ’n herinnering dat sekere bindings nooit heeltemal verbreek word nie, en dat die prys vir vrede soms hoër is as wat ’n mens kan, of wil betaal.
Lombard se omgang met esoteriese simboliek is outentiek en op die merk: eerstens, die rol van okkultiese bindings.
In die wêreld van die esoteriese – daardie geheime, verborge kennis oor die spirituele realm – speel bindings ’n sentrale rol. Hierdie bindings verwys na die onsigbare bande of verbintenisse wat tussen mense en hoër entiteite gevorm word, of dit nou goddelik (soos engele of godhede), of diabolies (soos demone of donker geeste) van aard is. Sulke bindings kan beskou word as kontrakte, pakte of spirituele bande wat ’n invloed uitoefen op die individue se lewens, gedrag en selfs lot. Die rol van offers in hierdie proses is kritiek, en dien as ’n medium om hierdie bindings te vestig, te versterk, of te verbreek, deur die vrystelling van spirituele energie of mag.
In Die Oeroue word ’n spanning tussen diaboliese en goddelike bindings gevind. By die Oeroue, wat sy slagoffers absorbeer, is ’n meer sinistere dinamika betrokke, soos die besetting en psigiese en fisieke skade aan die slagoffers. Die verhaal het ’n oop einde: Watter prys het Sandra (regtig) betaal vir die binding én bevryding van die donker entiteit? Weer eens: Hierdie grens is poreus, en die leser slaap nié rustig nie. Die boek lewer bewys dat die grens inderdaad in ’n grys area lê en dat Lombard die newe(l)wêreld van die esoteriese goed verstaan. Bindings kan oorgeërf word deur bloedlyne, waar voorouers se pakte die nageslag bind. En Sandra is die sewende draer. Bindings kan insgelyks gesien word as ’n vorm van spirituele slawerny, en vanuit ’n sielkundige oogpunt geïnterpreteer word as die projeksiestelsels van die onderbewussyn, maar in esoteriese kringe is dit werklike entiteite wat voed op menslike energie. Want uiteindelik dui esoteriese bindings, soos verteenwoordig deur goddelike of diaboliese entiteite, op die ewige spanning tussen lig en duisternis.
Tweedens is Lombard se gebruik van numerologie “korrek”, byvoorbeeld die getal sewe, wat volop voorkom in die verhaal.
Die getal sewe word beskou as ’n heilige en een van die kragtigste getalle in die numerologiese siklus. Dit dui op volmaaktheid en voltooiing, byvoorbeeld God se skepping het ses dae geduur, en op die sewende dag het Hy gerus. Ander voorbeelde: Daar is sewe chakras, sewe kleure in die reënboog, sewe note in die musikale skaal, sewe dae in ’n week, sewe klassieke planete en sewe seëls in die Bybelboek, Openbaring. Dit is die universele patroon van heelheid.
Die getal sewe simboliseer insgelyks die onsigbare, die misterieuse en die verbinding met hoër kragte/magte, asook die brug tussen die fisiese en die goddelike.
Dan, derdens, gebruik Lombard die simbool van ’n spiraal, of konsentriese sirkel – ook die simbool van die Oeroue in die verhaal. Spiraalsirkels is antieke esoteriese simbole en is duisende jare gelede gevind op grotmure en tempels, en as graverings in klip. As verborge simbool, het dit sy merk gelaat in Egipte, Peru, China, Tibet, in Keltiese, Polinesiese en Kabbalistiese tradisies, en dui dit op siklusse van lewe, dood en hergeboorte, oftewel die ewolusie van die fisiese na die spirituele.
Lombard se debuut is inderdaad indrukwekkend. Vir lesers wat moeg is vir voorspelbare spoke en zombies en eerder ’n stadige, intelligente gruwelverhaal wil lees wat diep in die Suid-Afrikaanse psige begrawe lê, is dié ’n moet-lees. Die verhaal – en onheil – kruip onder jou vel in en blý daar.
Lees ook:
Heil die Leser!: Die rol van erfskuld en geheue in twee romans

