
Boekomslae: Naledi
- Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
1
Titel: Die skuld wat bloed betaal
Outeur: Sandra Skinner
Uitgewer: Naledi, 2025
Daar het onlangs twee soortgelyke en noemenswaardige romans by Naledi verskyn, boeke wat tematies handel oor die verwerking van die kollektiewe, persoonlike, kulturele en politieke skuld van die verlede.
Reeds met die titel van Sandra Skinner se lofryke debuut, Die skuld wat bloed betaal, word die simbool van bloed geaktiveer. “Blut ist ein ganz besondrer Saft,” het Mephisto (Mefistofeles) in Goethe se Faust tereg beweer. Of: “Bloed is ’n baie spesiale vloeistof.” In letterkunde is bloed nooit bloot ’n biologiese verskynsel nie. Dit is ook ’n sigbare teken van die onsigbare. Die lewe, dood, verwantskap, skuld, ’n verbond, offers, vloeke en erfenis vloei almal deur dié rooi stroom. As argetipe is bloed uiteindelik ’n veelsydige en robuuste simbool: Dit kan in dieselfde asem seën én vervloek.
As voorbeeld: Die bloed van Abel roep uit die grond (Genesis 4:10) en vestig bloedskuld as ’n ontologiese vlek wat aan die moordenaar kleef en die aarde self besmet. Kain se straf is nie net ballingskap nie, maar die wete dat die grond sélf sy aanklaer geword het. In Eksodus keer die motief om: Die Paaslam se bloed wat aan die deurposte gesmeer is, word ’n simbool van uitverkiesing en beskerming. Dieselfde stof wat Kain veroordeel, red Israel. Bloed word insgelyks die heilige medium van versoening in die Nuwe Testament. Die nagmaal, die bloed van die nuwe verbond, integreer offers, verwantskap en verlossing in een begrip.
Ook in antropologie en mitologie vorm bloed twee onuitwisbare argetipes: bloed as skuld wat betaal móét word (deur wraak of versoening); en bloed as die seël van verbondenheid, soos ’n familie of stam. Baie verhale speel af as ’n teenstrydige diskoers tussen hierdie twee pole. Daar is bloed as ’n historiese vloek, of ’n noodlottige erfenis. En op universele vlak: Nasies word, net soos families, agtervolg deur bloedskuld.
Verder is ’n dominante tema in Skinner se roman dié van intergenerasie trauma. Laasgenoemde is ’n belangrike en een van die mees ondersoekte temas in die hedendaagse letterkunde, veral in post-koloniale, post-apartheid en post-Holocaust-literatuur. Dit verwys na die wyse waarop die skuld, geweld en onverwerkte pyn van een geslag, wat nie bloot verdwyn nie, onbewustelik oorgedra word na die volgende geslagte – dikwels na die kinders of kleinkinders van vorige oortreders én slagoffers. In werke soos Bernhard Schlink se Der Vorleser dra die jong Michael Berg die juk van sy ouer minnares se Nazi-verlede, terwyl hy self nie eens gebore is tydens die oorlog nie. In Suid-Afrikaanse letterkunde sien ons dit byvoorbeeld in Eben Venter se Horrelpoot, waar Marlouw die kollektiewe wit skuld en plaaslike geweld van apartheid in sy eie liggaam en psige moet dra. Hierdie trauma manifesteer selde direk, maar eerder as stiltes, herhalende gedragspatrone, onverklaarbare depressie, skuldgevoelens sonder oënskynlike oorsaak, of ’n onmoontlikheid om vooruit te beweeg. Letterkunde bied só ’n ruimte waar die ongesêde, die onsegbare, uiteindelik uitgespreek kan word, en waar die leser saam met die karakters die pynlike taak van herinnering, erkenning en moontlike versoening vierkantig in die oë moet kyk.
Die skuld wat bloed betaal se sentrale leitmotief is bloedskuld as biologiese en geografiese erfskuld. “Onder die grond bly bloed en beendere die aarde voed,” skryf Skinner in die proloog. Hierdie stelling is nie bloot poëties nie; dit is ’n letterlike stelling oor hoe geweld soos grondwater deur geslagte bly syfer. Die twee hoofkarakters, Madelee (wit) en Karools (bruin), word groot in dieselfde dorp, Kempsdrif – ’n fiktiewe plek wat Skinner saamgestel het, moontlik uit elemente van die klein dorpies in die Noord- en Wes-Kaap. Die een familie het die grond besit en die ander het dit bewerk, sonder om ooit ’n titelakte te sien. Skinner skep heelparty karakters: vriende van Madelee, gesagsfigure, familie en die afstammelinge van Trekkergesinne en plaaswerkers. Die onderstrominge in die roman is verbysterend – die karakters se wel en weë strek oor dekades, soos risome, sonder dat die outeur één draad verloor. Reeds aan die begin van die roman word die kousaliteit van mense se lot beskryf as ’n onafwendbare domino-effek; van karma en van bloedskuld wat om vergelding roep.
Wat die skrywer besonders goed doen, is om te wys dat die geweld van apartheid nie net rassegeweld was nie, maar ook geslagsgeweld, klasgeweld en, bowenal, gesinsgeweld, in alle rassegroeperinge in Suid-Afrika. Maar verál die geweld van swye ... Niemand word gespaar nie, en die oortreders wat ander leed aangedoen het, word ook uitgelewer aan boetedoening, al is dit psigies. Hierdie twee vorme van geweld – die openlike en die verborge – loop parallel en kruis uiteindelik op ’n manier wat die leser tot selfkonfrontasie dwing.
Die kritieke oomblik in die roman is die toneel waar Madelee en Karools, nou tieners, se paaie kruis, met vernietigende gevolge. Dit is nie bloot ’n dramatiese hoogtepunt nie; dit is die uitvloeisel van dekades se opgehoopte haat, magmisbruik en versweë geslagsgeweld. Skinner beskryf dié pynlike toneel onder bespreking sonder sensasie, maar ook sonder genade. Die besonderhede word klinies, byna forensies aangebied, en juis dáárom ondraaglik. Na hierdie insident bly albei karakters met ’n skuld wat nie afgewas kan word nie – of kan dit?
Die donker tematiek is nie nihilisties nie; dit is diagnosties: Die skrywer gebruik die rou liggaamlike realiteit van geweld om die leser te dwing om nie weg te kyk nie.
’n Belangrike kenmerk van die roman is dat dit geen maklike katarsis bied nie. Daar is geen Waarheid-en-versoeningskommissie in Kempsdrif nie. Die implikasie is egter duidelik: Solank die strukturele instellings van ongelykheid, armoede en kulturele minagting bly bestaan, sal daar altyd nuwe Madelees en Karoolse wees.
Die taalgebruik in die boek is Spartaans, op-die-man-af en plek-plek poëties, met dialoog wat soos werklike mense s’n klink. Dit is nie die Afrikaans van grootse epiek nie, maar van plaasopstalle en stofstrate. Die landskap self word ’n karakter, ’n getuie, ’n medepligtige van hierdie bloedskuld.
Interpersoonlike verhoudings bly disintegreer en uiteindelik word feitlik alle karakters slagoffers van die disfunksionaliteit van die “regte lewe” – en dié vraag: Betaal hulle nou die skuld vir ander se sondes, of het hulle self reeds nuwe skuld geskep?
Die roman weier om gerusstellende antwoorde te gee. Daar is geen maklike versoening, geen ontroerende epifanie waar die karakters mekaar vind nie. In stede hiervan laat Skinner die leser met die ongemaklike besef dat baie van die traumapatrone wat sy beskryf, nie in 1994 met die nuwe bedeling afgesterf het nie. Hulle het net nuwe name en moderne adresse gekry.
2
Titel: Die spoegvanger
Outeur: Stefanus S Vivier
Uitgewer: Naledi, 2025
Volgens Afrika-oorlewering mog ’n koning se spoeg nie op die grond geval het nie – só het Dingaan byvoorbeeld ’n spoegvanger gehad wat die koning se speeksel opgevang en aan sy eie lyf gesmeer het as teken van onderdanigheid aan die koning. Reeds met die titel word temas van outoritêre en patriargale mag geaktiveer.
Die narratief word aangebied as ’n tipe belydenis waarin die verteller ’n naamlose aangesprokene aanspreek – heel waarskynlik die (naamlose) leser van die roman self. Die verhaal begin wanneer die tienjarige seun, slegs bekend as Boesman (sy troetelnaam), sy storie vertel. Hy is die seun van ’n onderwyser, politikus-in-wording en boer; sy vader boer op die plaas Wittedrift in die Potchefstroom-distrik op die walle van die Vaalrivier.
........
Die narratief word aangebied as ’n tipe belydenis waarin die verteller ’n naamlose aangesprokene aanspreek – heel waarskynlik die (naamlose) leser van die roman self. Die verhaal begin wanneer die tienjarige seun, slegs bekend as Boesman (sy troetelnaam), sy storie vertel. Hy is die seun van ’n onderwyser, politikus-in-wording en boer; sy vader boer op die plaas Wittedrift in die Potchefstroom-distrik op die walle van die Vaalrivier.
........
Ongelukkig is sy vader ’n hopelose boer en eksperimenteer om die beurt met saadmielieboerdery, tabak en grondbone – en die pa se onbeholpe pogings sorg vir hope humor in die roman. ’n Mens lei af dat die vader baie begaafd was met ’n kunstenaarstemperament.
Die verhaal skop af in die vyftigerjare met die vooruitsig van ’n republiek. Die verteller is ’n sensitiewe seun en fyn waarnemer, en beluister die politieke praatjies van die grootmense wat wemel van Anglo-Boereoorlog-retoriek, die Smutse en Hertzogge, die Afrikaner-Golgota en die Afrikaners as God se uitverkore verbondsvolk. En dan natuurlik die Slag van Bloedrivier en die Gelofte, wat ’n sentrale posisie in die boek inneem. Die naïewe vertellerstem is skreiend eerlik, maar Vivier skryf met ’n dubbellensfokalisator – sy belewenisse as kind, gemeng met ’n sardoniese en selfironiserende inslag as volwasse man. Die boek is by tye skokkend, ontroerend, skreeusnaaks. Aan patos ontbreek dit nooit.
Binne die konteks van die dehumanisering van ander rassegroepe, segregasie en die apartheidsera, word daar vir die jong seun vertel dat hy ’n “joiner” en ’n “banggat” is, omdat hy bloot menslik optree en verwys na “Bantoes” as mense – met ander woorde, die humanisering van ander rassegroepe, wat ongehoord was vir daardie tyd. Die vertellerseun se beste maat was immers ’n Xhosa-seun met die naam “Hotnot” (eers ná sy inisiasie het hy die moed gehad om sy naam te noem: Mehlomakhulu Zukhanye). Die wit seun bly deurgaans naamloos, net herkenbaar aan sy pa se troetelnaam vir hom, naamlik “Boesman”.
Na ’n Geloftefees wou Boesman ’n offer aan die Here bring (na analogie van die Slag van Bloedrivier), en ’n verrotte vlakhaas vol maaiers, wat die hond uitgesnuffel het, word dan die offer wat God “voorsien” het (let op die Bybelse konnotasies). Maar toe die seun en sy maat die offer aan die brand steek, het hulle per ongeluk die buurplaas se weiding afgebrand – en moes hulle buk vir ’n loesing. Met dié offer is die Afrikaner se uitverkorenheid as God se verbondsvolk simbolies debunk – en verdiep die verteller se ontgogeling met Calvinistiese godsdiens ook verder. Verskeie temas kom aan die bod: Die seun se seksuele ontwaking word met humor geskets, asook ánder seuns se bakhandgesprekke oor die onderwerp; die swaarkry van die plaaswerkers; die skynheiligheid van Calvinistiese Afrikanergodsdiens; die Sharpeville-slagting en Coalbrook-mynramp; die patriargale mag en onderdrukking by name van skoolhoofde, predikante en ander manlike gemeenskapsleiers; en die kinders se Bloedrivier-speletjie, waar daar na ’n “wit skat” gesoek is, maar wat ook gemitologiseer word, simbolies aan die apartheidsregime.
Aan die einde van die verhaal, na ’n groot tragedie, keer die verteller terug na die gewese familieplaas, na ’n hoop klippe, wat ’n simboliese altaar vorm. Die politieke onrus van die nuwe tydsgewrig noop hom tot pynlike selfkonfrontasie. Die verteller noem aan die polisieman dat hy nie ’n naam het nie – hy is met ander woorde gesigloos, net soos die indoktrinasie van apartheid soveel wit mense insgelyks met ’n verlies aan identiteit gelaat het.
........
Die slot het ’n oop einde en dis vir die leser om te besluit wat uiteindelik gebeur het. Alhoewel Die spoegvanger ’n knap roman is, is die laaste hoofstuk ongelukkig net té obskuur, té melodramaties en word dit ontsier deur ’n oordaad simboliek.
.........
Die slot het ’n oop einde en dis vir die leser om te besluit wat uiteindelik gebeur het. Alhoewel Die spoegvanger ’n knap roman is, is die laaste hoofstuk ongelukkig net té obskuur, té melodramaties en word dit ontsier deur ’n oordaad simboliek.
Hierdie roman sluit aan by ander post-apartheid- Afrikaanse letterkunde wat verskillende fasette van geheue, geskiedenis en skuld weerspieël en wat op ’n palimpses-agtige spanning tussen geheue en geskiedenis dui. Dit wys ook hoe geheue sosiaal en histories gekonstitueer word binne verskillende kontekste. In Die spoegvanger word die post-apartheid-verlede allegories in die beskuldigdebank geplaas.
Die verteller se binnereis, terug in die vyftigerjare en daarná, word ’n Jungiaanse reis na individuasie. Uiteindelik herinner die roman ons daaraan dat in die moderne tydsgees waarin ons leef en waarin dinge so gou vergete raak, die geheue steeds bly bestaan. So kan Die spoegvanger moontlik ook ’n kollektiewe reis wees wat wit Suid-Afrikaners noop om hulle eie diep en donker verlede, en die gruwels wat aan die onderkant van hul geskiedenis skuil, in die oë te kyk. Die roman lewer inderdaad heelwat meta-kommentaar oor die gevoelens van ontheemding en vervreemding van wit Afrikaners wat sukkel om hulle eie identiteit te herbevestig.
Voor in die roman verneem die leser: “Veritas Libere”, oftewel: “Die waarheid maak jou vry”. En wie kon dit beter verwoord as Joseph Conrad in The heart of darkness?
The mind of man is capable of anything – because everything is in it, all the past as well as all the future. What was there after all? Joy, fear, sorrow, devotion, valour, rage – who can tell? – but truth – truth stripped of its cloak of time.
Lees ook:


Kommentaar
Dankie, Nini! Altwee resensies baie insiggewend.