Heil die Leser!: die rol van vrede en oorlog in twee romans

  • 1

  • Nini Bennett skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.

1

Titel: Duifblou
Skrywer: Mariane le Roux
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781067234959

Duifblou, Mariane le Roux se debuut, is ’n ontroerende jeugverhaal met ’n besonder sensitiewe fineer.

Le Roux het as maatskaplike werker gekwalifiseer, maar daarna ’n BA-graad met Sielkunde en Kriminologie as hoofvakke, asook ’n nagraadse onderwyskwalifikasie verwerf. Sy het graag poppeteater in haar klaskamer ingespan en in die verlede ’n ATKV-kinderboekskryfskool bygewoon.

Met die lees van dié jeugverhaal het ek dadelik gedink aan die beskouing van die weg van die natuur (the way of nature) versus die weg van genade (the way of grace). Laasgenoemde filosofie vind beslag in die Middeleeuse geestelike werk, The imitation of Christ (De Imitatione Christi), geskryf deur Thomas à Kempis (circa 1418–1427). Hy was ’n Duits-Nederlandse monnik en mistikus.

Oor die teenoorgestelde werkinge van die natuur en van genade, kontrasteer hy hierdie twee weë: Die natuur soek selfbevrediging, beheer en reageer met aggressie en brutaliteit. Genade, daarteenoor, aanvaar lyding, vergewe en onderwerp ditself aan ’n hoër wil. Die priester en geestelike, Thomas Aquinas, beweer egter dat genade die natuur omarm en vervolmaak, eerder as om dit te kontrasteer. Die groter debat oor die natuur en genade is egter veel ouer as bogenoemde outeurs se werk, en het reeds begin by Augustinus van Hippo in die 4de–5de eeu.

Nou kan die leser tereg vra: Waarom die verbandlegging van antieke mistieke beskouings en ’n jeugverhaal? Waarskynlik omdat dit helder as subteks figureer in hierdie jeugverhaal wat oor ’n sterk spirituele karakter beskik.

Die titel is ’n mooi en poëtiese neologisme en verwys na die slotgedeelte waar Duif wegvlieg: “Op daardie oomblik weet Alwyn die hemel sal altyd vir hom duifblou wees. ’n Somerblou waarin sy en Duif se harte weer kan vlieg” (127).

Die protagonis, die veertienjarige Alwyn de Waal, en sy ouers, pa Simon (’n veearts) en ma Alet (’n maatskaplike werker), voer ’n gelukkige bestaan in ’n boomryke en stil voorstad. Alwyn het sy liefde vir diere by sy pa geërf en versorg ’n hele paar troeteldiere, insluitend honde, silkies, ’n tierslang, ’n budgie genaamd Agie en Pennie die hamster. Laasgenoemde drie woon in sy kamer. Hy merk met groot dankbaarheid dat duiwe ’n nes in ’n groot akkerboom op hulle erf bou, en sien uit na die koms van die kuikens.

Alet is egter bekommerd oor Bill Lange, ’n werklose man: Sy moes noodgedwonge in haar amp as maatskaplike werker sy kinders in pleegsorg plaas, omdat die ouers nie meer vir hulle kon sorg nie. Bill het haar gedreig dat sy dit gaan berou en sy het nog nooit voorheen só ’n dreigement ontvang nie.

Jong Alwyn en sy ma se lewens verander onherroeplik nadat die gesin een aand terugkeer van ’n restaurant, hulle voertuig gekaap word en pa Simon deur die kapers doodgeskiet word. Te midde van ’n uitmergelende polisie-ondersoek, hofsaak en druk op Alwyn om in atletiek te presteer, het hy net sy diere om hom te vertroos. En hierdie diere, soos Duif, raak karakters in eie reg in die sonderlinge verhaal.

Duif (’n beseerde duif wat teen die kombuisvenster vasgevlieg het) tree op as Alwyn se spirituele gids of begeleier. Hy versorg en verpleeg vir Duif, soos sy pa hom geleer het, en deel al sy persoonlike wroeginge en seer met die voël. Deur Duif te verpleeg, verpleeg Alwyn ook sy eie sielkundige letsels na sy pa se dood. Duif sterk geleidelik aan en word heeltemal mak, en Alwyn besef dat hy met hom kan “kommunikeer”: Duif knik sy kop wanneer Alwyn sekere goed sê en vryf sy snawel saggies teen Alwyn se wang wanneer hy bedroef raak oor sy pa. Hierdie tonele, wat met soveel teerheid beskryf word, maak van die boek ’n ware juweel. Die band tussen mense en duiwe is magies en duiwe is ook ryk aan simboliek. In Duifblou figureer die duif/Duif dan ook as simbool van vrede, vergifnis, heiligmaking, die Heilige Gees, hoop, ’n nuwe begin en die siel (meesal van ’n oorledene; in hierdie verhaal as Alwyn se oorlede pa).

Hierdie sonderlinge jeugroman het nie ’n eksplisiet Christelike karakter nie, maar beskik oor ’n diepsinnige spirituele kwaliteit. Die werk is ook vry van die dikwels voorspelbare tematiek, soos maatskaplike uitdagings, ideologiese kwellinge, selfone en tipiese tienerproblematiek wat in soveel jeugverhale voorkom – wat aan dié verhaal eerder ’n klassieke kwaliteit verleen. (Die rol van ’n selfoon word wel vernuftig as polisiebewysstuk ingespan, maar Alwyn self is nie ’n tiener wat hom bemoei met ’n selfoon nie.)

Uiteindelik sit Alwyn, sy ma en sy vriend, Hugo, koppe bymekaar en die kapings- en moordsaak word vinnig opgelos. Le Roux vervleg “terloopse” detail keurig deur die roman, wat later inderdaad blyk om leidrade te wees.

Maar om terug te keer na my verwysing na die weg van die natuur versus die weg van genade in die begin. Alwyn volg die weg van genade en besef dat heling slegs kan geskied deur vergifnis. Maar dis aanvanklik ondenkbaar om sy pa se moordenaar te vergewe. Interessant genoeg, is dit juis deur die (letterlike, konkrete) natuur (sy diere) dat hy hierdie weg kan bewandel. Dit onderstreep Aquinas se beskouing dat genade die natuur omarm en vervolmaak – maar in hierdie geval ook dat die liefde vir die natuur uiteindelik Alwyn se spirituele katarsis omarm en hom bevry van sy gevoelens van wraak. Hier tree Duif op as engelagtige, mitiese wese wat vir hom genesing en berusting bring.

In teenstelling met Alwyn, volg die antagoniste, William (aka Bill) en Tike, die weg van die natuur, wat gekenmerk word deur wraak, gierigheid, brutaliteit en misdaad.

Duifblou is nie ’n boek oor vergelding nie (alhoewel die gereg sy gang gaan). Deur Alwyn (en sy ma) se verklarings wat hulle in die hof voorgelees het, het hulle vergifnis vir die twee kapers hulle ironies met groter skaamte gelaat as wat wrokkigheid sou.

Lesers se interpretasies mag verskil. Vir my het Duifblou amper ’n mistieke kwaliteit. As jeugverhaal is dit verfrissend anders binne die tydsgees waarin ons leef en getuig van ’n diepgang wat mens nie aldag in ’n jeugverhaal teëkom nie.

En ja, die boek sê dis oukei vir tienerseuns om sensitief te wees, te huil, openlik lief te wees vir hulle moeders en om hulle emosies te wys.


2

Titel: Die vrywilligers
Outeur: Malene Breytenbach
Uitgewer: LAPA (LUCA), 2026

Die skrywer Malene Breytenbach het geen bekendstelling nodig nie.

Na skool behaal sy ’n BA-graad met Frans en Engels as hoofvakke en daarna ’n honneursgraad in Engels aan die Universiteit van Pretoria. Sy was werksaam as vertaler by onder meer Krygkor, waar sy haar aanstaande man, Willie Breytenbach, wat een van haar dosente was, ontmoet het. In 1985 verhuis die egpaar na Stellenbosch, waar haar man ’n professoraat aan die US aanvaar het.

Malene self was van 1990 tot 2008 betrokke by die US, eers in openbare betrekkinge, later in kommunikasie, asook by die Stellenbosch Stigting. Sy behaal ’n honneursgraad met lof in joernalistiek en later ook ’n MA en DPhil in hierdie rigting. Ná laasgenoemde doktorsgraad behaal sy ’n MA in Ou Nabye-Oosterse Studie en ’n MPhil in Antieke Studie. Sy skryf voltyds sedert haar aftrede in 2008. Breytenbach is ’n produktiewe skrywer en meer as 50 romans het reeds uit haar pen verskyn, asook talle kortverhale en resensies.

Ek het dikwels gewonder: As dit kom by boeke – topverkopers en groot letterkundige romans – wat sou die “bestanddele” wees om van dié boeke ’n onvergeetlike leeservaring te maak? Ek het besin oor ’n magdom goeie romans wat ek oor die jare gelees het, en die volgende het uitgestaan:

Die verhaal se primêre milieukleding is dikwels ’n oorlog of maatskaplike onrus. Dit skep spanning en relevansie – met historiese of sosiale kommentaar by – wat die verhaal anker, maar ook ’n universele aantrekkingskrag daaraan verleen.

Topverkopers betrek ook romantiese elemente, dikwels verbode of kompleks in die gedaante van passie, verdriet, of onbeantwoorde gevoelens. Dit trek lesers in, want almal verstaan liefde – selfs as dit eindig in pyn.

Dikwels word ’n skeut verraad ingebou om die spanningslyn te behou en die karakters te toets. Dit voeg ’n laag kompleksiteit by só ’n verhaal en maak die plot meer onvoorspelbaar.

Dood, as ’n katalisator vir verandering, wraak of refleksie, voeg gravitas by ’n sterk roman.

Temas wat ’n geheim, misterie of ’n komplot bevat, hou die leser se aandag gevange.

Die teenwoordigheid van diversiteit, byvoorbeeld verskillende rasse, geslagte, volke, kulture of agtergronde, wat diepte en inklusiwiteit skep, maak só ’n roman vir ’n moderne leser steeds relevant.

Geen “suiwer” helde of skurke nie; grys areas en morele dubbelsinnigheid maak ’n werk intellektueel stimulerend. Dan natuurlik ’n sterk slot wat eindig in ’n ontknoping, hetsy ’n triomf, tragedie of ambivalensie wat lesers laat nadink.

Nee, dit is nie die een of ander resepmatige idee, soos ’n kosresep, nie; dit is werklik die kenmerke van knap romans wat ek al oor ’n geruime tyd bestudeer het. (Ek probeer met bogenoemde geensins die individuele outentisiteit van uiteenlopende romans betwis nie.)

Die vrywilligers, Malene Breytenbach se lofryke jongste roman, beskik inderdaad oor al die eienskappe van ’n goeie roman. Dit is eerstens ’n liefdesverhaal, maar insgelyks ook ’n vernuftige historiese roman met ’n Christelike karakter sonder om ooit prekerig of dweperig te raak.

In die erkenning agter in die roman meld die skrywer dat sy geïnspireer is deur A Russian on commando: the Boer War experiences of Yevgeny Avgustus, geskryf deur Boris Gorelik. Die Anglo-Boereoorlog as historiese narratief word verruim in Breytenbach se werk deur die fiksionalisering van Russiese vrywilligers wat aan die kant van die Boere geveg het.

Met die aanvang van die Anglo-Boereoorlog besluit Robert Campbell, ’n dokter in Pretoria, en sy aptekersvriend, Thomas Fraser, om ’n ambulans na die gevegsfront te stuur. Campbell se dogter, Eleanor, saam met Thomas se dogter, Mary, en hul buurvrou, Martha, sluit aan as verpleegsters. Dokter Campbell se seun, Rory, onderbreek sy mediese studies in Skotland om by die oorlogsambulans aan te sluit. Op pad na Pretoria ontmoet hy drie Russe wat as vrywilligers aan die Boerekant gaan veg, insluitend luitenant Ivan Mikhailov van Sint Petersburg. Soos die oorlog groei en baie gewondes in Eleanor se sorg kom, begin haar geloof te wankel met al die gruwels van die oorlog, die geweld en die pyn: Hoe kan God soveel lyding toelaat? Wanneer Ivan in die Slag van Elandslaagte gewond word, versorg Eleanor hom. Gedurende hierdie tyd raak hulle verlief, maar hulle besef gou dat daar te veel struikelblokke tussen hulle liefde staan. Tydens die onrus van die oorlog word Eleanor mislei en sy glo dat Ivan gesterf het. Ná die oorlog bly Eleanor ongetroud en help sy haar moeder as vroedvrou in haar praktyk. Maar in 1919 verskyn Ivan weer ...

Breytenbach is by uitstek ’n kenner van geskiedenis en van die Anglo-Boereoorlog, en huiwer nie om historiese kritiek te lewer nie. Byvoorbeeld: Die ZAR is nie naastenby toegerus vir die oorlog nie, nie met wapens, hospitale of mediese voorrade nie. Logistieke probleme, op alle vlakke, was van die begin af ’n uitdaging vir die Boere.

Nadat die drie Russiese vrywilligers vir Paul Kruger (en Pretoria) gesien het, was hulle dadelik geskok; skepties oor die Boere se vermoë om die oorlog teen die magtige Britse Ryk te wen, al het dié drie tot die bitter einde lojaal en dapper aan die Boerekant geveg. Op bladsy 19 verneem die leser:

Die Rus frons verontwaardig vir hom. “Ons is hier omdat ons die Boere steun. Baie mense in Rusland is aan die Boere se kant. Almal praat van dié oorlog. Sing selfs liedere daaroor, soos ‘Transvaal, Transvaal, my land’. Ons verfoei die Britse Ryk wat al weer iemand se land wil inpalm en hulle grondstowwe wil vat. Engeland is ons vyand.”

Breytenbach skryf met deernis oor al die karakters, want in ’n oorlog is álmal slagoffers, ongeag aan watter kant jy veg.

........
Breytenbach skryf met deernis oor al die karakters, want in ’n oorlog is álmal slagoffers, ongeag aan watter kant jy veg.
........

Die leser raak werklik geheg aan die karakters: aan Martha, die dwergie; Mother Merle; Father Robert; Josef en Job; die tweeling, Sarel en Soois; die verpleegsters wat meeding om Rory Campbell se aandag; luitenant Desmond Evans ...

’n Gerespekteerde en geliefde protagonis sterf, maar die oorlog gaan aan, met ondenkbare geweld, spanning, voorrade wat opraak en verlies aan menselewens. Die skrywer berig realisties oor die gewonde soldate wat bly instroom – en sy draai nie doekies om oor hoe wreed en ontwrigtend die Boereoorlog was nie. Geen versuikerde tonele hiér nie.

Die skrywer noem elders dat mense hulle ware kleure tydens ’n oorlog wys. Wat as jou beste vriendin ’n verraaier is? As eens geliefde huisvriende se eweneens verraderlike optrede uiteindelik rugbaar word? En as leuens, waninformasie en spioenasie ’n onverwagse kinkel aan die verhaalgebeure gee?

Ek voorspel dat Die vrywilligers lank bo-aan boeke se topverkoperlyste gaan boer. Eintlik moet hierdie roman verfilm word, want dit is reeds só filmies geskryf met ’n besonder boeiende intrige, dat ek letterlik die film in my geestesoog sien afspeel.

Die karakters is werklikheidsgetrou, die verhaal beweeg teen ’n vinnige tempo en vloei vlot. Daar is heelwat aangrypende tonele, soos die dood van klein Pietie van Zyl wat saam met sy pa gaan veg het. Dan uiteindelik: Wat word van jou geloof in God na so ’n oorlog? Nadat jy die liefde van jou lewe verloor het? En liefde – hoe sterk en lankmoedig kan dit werklik wees?

Ek het al voorheen van Breytenbach se romanses met ’n historiese konteks soos die Anglo-Boereoorlog gelees, maar wrintiewaar – met dié roman oortref sy haarself; in haar hele ruim oeuvre is dit een van haar bestes nóg. Dit is sonder twyfel ’n moet-lees – en resoneer met ’n wye lesersgehoor.

Lees ook:

Duifblou deur Mariane le Roux: ’n lesersindruk

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top