
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Duifblou
Skrywer: Mariane le Roux
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781067234959
...
Hy voel die veersagte beweging van Duif se snawel op sy wang, amper asof dit nie gebeur het nie. (Duifblou, 2025)
...
1. Inleiding
Alhoewel die blouselblou voorplat die eerste indruk is waarmee die leser gekonfronteer word, is dit bloot ’n gedeeltelike refleksie van die inhoud van die jeugverhaal, Duifblou. Die onweerswolke op die horison en die flitsende noodligte berei die leser subtiel voor op die trauma wat in hierdie verhaal opgesluit lê. Mettertyd ontvou dit egter ook in ’n verhaal van heling en vergifnis. Blou ís immers die kleur van vrede en geregtigheid: vrede met God en sy oordeel, vrede met jouself en met ander. Die afbeelding van die tienerseun wat die duif vrylaat, vorm nie net die fokuspunt van die voorplat nie, maar is ook ’n toespeling op die universele temas van vergifnis en bevryding: kwessies waarmee die veertienjarige hoofkarakter Alwyn de Waal worstel.
Die duif word onvermydelik in die sentrum van die verhaal geplaas en vervul ’n unieke rol in die lewe van die protagonis. Volgens die radikale ekologie, wat die beginsel van biosentriese gelykheid voorstaan, is die lewe ’n interkonnektiewe web (Lemmer 2006:283). Een van die manifestasies van die beginsel van biosentriese gelykheid is die moontlikheid van kriptowesens/kriptiede wat as dierlike siele teenhangers vorm vir die menslike siel. Volgens die Meso-Amerikaanse geloof is die menslike gees eksplisiet met dié van ’n eksterne dierlike teenhanger verbind. Dié verbintenis tussen mens en dier is tweeledig van aard: die transformasie van mens na dier, of dié van pasmaat vir ’n spesifieke mens. Hierdie konsep word soos volg deur die K'iche'-kultuur, waarin die interafhanklike verhouding tussen mens en dier benadruk word, verwoord: “Every child is born with a ‘nahual’. The ‘nahual’ is like a shadow, his protective spirit who will go through life with him” (Malamud 2003:52).
Op magiese wyse kruis die lewenspad van die veertienjarige Alwyn in Duifblou, Mariane le Roux se debuut-jeugverhaal, met dié van Duif. Duif vlieg onverwags met ’n harde slag teen die kombuisvenster vas en trek sodoende Alwyn se aandag. Daar ontstaan ’n spontane simbiotiese verhouding tussen hierdie twee karakters. Die term simbiose kan gedefinieer word as ’n intieme saamleef-verhouding tussen twee organismes van verskillende spesies. Dis afgelei van die Griekse woorde syn (saamwees) en bios (lewe) en beskryf die voordelige verhouding tussen twee organismes. Dit is gou duidelik dat Duif se teenwoordigheid in Alwyn se lewe tweeledig van aard is: as dierlike begeleier en pasmaat, maar ook as beseerde dier. Duif weet instinktief dat hy by Alwyn kan hulp soek vir sy beserings en in ruil daarvoor begelei Duif vir Alwyn tydens ’n baie traumatiese tydperk in sy lewe.
2. Inhoud
In 45 bondige hoofstukke bied Le Roux in Duifblou die lewensverhaal van die De Waal-gesin in chronologiese volgorde aan. Die perspektief wissel tussen die karakters, sodat die leser ’n kykie in die lewens van die onderskeie menslike en dierlike karakters kan verkry.
Die leser ontmoet die De Waals waar hulle as doodgewone gesin in ’n boomryke voorstad woon. Hierdie rustige voorstedelike bestaan word egter op ’n traumatiese wyse versplinter. Die storielyn van die De Waals vervleg met dié van die werklose William Lange, alias Bill, en sy gesin wanneer Alet de Waal as maatskaplike werker belas word met die welstand van die Lange-gesin en sy noodgedwonge in belang van die kinders moet optree.
Le Roux verwissel vernuftig van taalregister wanneer Bill aan die woord kom: “Dis daai damn social worker wat op my nerves werk,” spoeg hy (12). “‘Jy gaan dit berou,’ het hy dreigend geskree.” Alet dink by haarself dat hierdie geval beslis anders as vorige gevalle is: “Sy het nog nooit so ’n dreigement gekry nie en dit maak haar onrustig” (17).
Bill en sy vriend Tyke begin bose planne van weerwraak teen Alet de Waal smee en hulle soek in die proses na vuurwapens en balaklawas, terwyl hulle Alet se gesin dophou. Tyke raak onrustig oor Bill se wraakgierigheid en hy waarsku tydig: “[D]ie ‘guns’ is net vir bangmaak. Ek soek nie ’n geskietery nie” (23).
Alwyn en sy vriend Hugo se paaie kruis vlugtig met dié van Bill Lange. Die twee vriende is vroegoggend met hul fietse op pad skool toe, terwyl Bill te voet in dieselfde gebied is. Bill trap onverwags van die randsteen af en beland voor Hugo, wat hom rakelings mis en in die proses teen die randsteen vasry. In ’n breukdeel van ’n sekonde sien Hugo die litteken op die swetsende Bill se hand. Een middag op pad huis toe gewaar Simon de Waal ’n verslonste man by die vierrigtingstop naby sy huis. Alhoewel hy stilhou en vra of die man hulp nodig het, vertrou hy nie die vrede nie. Op die man se hand is ’n duidelike litteken (in die vorm van ’n vraagteken) sigbaar. Hierdie brokkie inligting word later ’n belangrike leidraad in die uiteindelike ontknoping van die verhaal.
Intussen is Duif en sy lewensmaat op soek na ’n geskikte plek om nes te bou. Duif sien gou dat hulle veilig in die De Waals se erf sal wees en boonop ook genoeg kos en water by Alwyn sal kry. Spoedig neem hulle hul intrek in die groot akkerboom. Hulle teenwoordigheid gaan nie ongesiens verby nie en Alwyn verwelkom die duiwe met vreugde: “Hy steek sy hand hoog uit in ’n groetgebaar en fluister sag: ‘Baie welkom’” (21). Kort voor lank broei Duif se kuikens uit en Alwyn wys hulle opgewonde vir sy pa Simon.
Alwyn boekstaaf getrou die verwikkelinge in sy lewe deur gereeld dagboekinskrywings te maak. Dit is hierdie detail van die verhaal wat minder geloofwaardig by die leser aandoen, omdat die moderne tiener hoogs onwaarskynlik steeds van ’n papierdagboek gebruik sou maak. Die byhou van dagboekinskrywings word deur Le Roux regverdig as terapeutiese handelinge vir Alwyn. Alhoewel die tieners in die verhaal bittermin gebruik maak van hulle slimfone, speel dit uiteindelik ’n belangrike rol in die vastrek van die booswigte.
Die De Waals gaan onverwags deur ’n traumatiese ervaring waarin Simon tragies sterf. In die nadraai van die dramatiese gebeure sit Alwyn, Hugo en Alet koppe bymekaar om na leidrade te soek. Alwyn word deur nagmerries oor sy pa se dood geteister. Hy dokumenteer sy nagmerries in sy dagboek deur gereelde inskrywings waarin hy sy hart uitstort. Ma en seun lê verklarings by die polisie af en gaan deur ’n proses van rou wat gekenmerk word deur wisselende emosies en ontkenning.
Dit is juis in hierdie dae van rousmart dat Duif sy rol as begeleier en pasmaat vir Alwyn begin uitleef. Terwyl Alwyn Duif se beserings verpleeg, deel hy sy emosies met die voël en begin Duif, as kriptowese, spontaan met Alwyn kommunikeer. Hy besef gou dat iets merkwaardigs met hom gebeur wanneer hy met Duif werk: “Sodra hy vir Duif in sy hande neem, daal ’n kalmte oor hom” (90). Tot sy ontsteltenis ontdek hy die liggame van Duif se kuiken en sy lewensmaat. Hy dra die twee liggame na Duif toe en Duif knik sy kop in erkenning. Die ritueel van die duifbegrafnis bring vir Alwyn verder heling en die gedeelde verlies versterk die band tussen mens en dier.
3. Slot
In die ware tradisie van ’n goeie jeugverhaal neem die twee tieners, Alwyn en Hugo, self die hef in die hand deur doelgerig leidrade op te volg. Alhoewel volwassenes ook ’n bepalende rol in die verhaal speel, is dit die optrede van die twee tieners wat tot die klimaks van die verhaal lei. Met hulle speurvernuf en goeie waarnemingsvermoëns word die skuldiges gou aan die kaak gestel en kan Alwyn en Alet stelselmatig weer die drade van hulle lewens optel.
As protagonis vind daar innerlike groei by Alwyn plaas. Sy rol as versorger van diere lei daartoe dat hy ’n spesiale band met Duif vorm. Hierdie verhouding maak die moontlikheid ’n werklikheid dat Duif as pasmaat vir Alwyn kan optree en sodoende tot emosionele ontwikkeling en heling by Alwyn lei. Ek beveel Duifblou aan as ’n nuttige gids in die helingsproses van tieners wie se lewens deur trauma ontwrig is.
Geraadpleegde bronne
Lemmer, E. 2006. Ekokritiek: mens, teks en omgewing. In: E. Lemmer (red.). Afrikaans sonder grense. Enigste studiegids vir AFK823N. Pretoria: Unisa.
Malamud, R. 2003. Poetic animals and animal souls. New York: New York University Press.
Roothman, L. 2015. Transliggaamlikheid, kriptosoölogie en dieresiele in Kikoejoe (Etienne van Heerden, 1996), Die olifantjagters (Piet van Rooyen, 1997) en Dwaalpoort (Alexander Strachan, 2010). MA-verhandeling, Unisa.


