Heil die Leser! Naledi se ster skyn al helderder

  • 0

Boekomslae: Naledi

  • Nini Bennett-Moll skryf gereelde boekrubrieke vir LitNet.

Naledi Uitgewers het die afgelope tyd op astronomiese wyse boontoe geskiet as een van Suid-Afrika se top- onafhanklike uitgewers, wat op ’n konsekwente basis ’n stroom kwaliteitboeke bly uitgee wat letterlik in die smaak van alle lesers val. En neem jy ’n Naledi-boek in die hand, is dit gewaarborg om ’n mooi publikasie te wees; die omslae en afwerking is, as ’n reël, ’n fees vir die oog.

En ja, ’n mens kan skaars voorbly om hierdie boeke te bespreek. Daarom is my fokuspunt vandag drie literêre tekste; ernstige lektuur, alhoewel dit steeds genietlike boeke is. Weer eens, iets in ieder se smaak: vertaalkuns, ’n lekker roman en ’n digbundel. En wat hierdie trio so merkwaardig maak, is dat al drie skrywers jarig is, onderskeidelik 93, 85 en 76 jaar.

1

Titel: Van die Appennynse berge tot Sisilië: Italiaanse kortverhale
Vertaler: Rina Cascione
Uitgewer: Naledi, 2026

Rina Cascione is op 12 Oktober 1933 gebore op die dorpie Middelpos in die Calvinia-distrik. Sy het musiek op Stellenbosch en in Europa studeer en was tot en met haar aftrede klaviersdosent aan die Musiekdepartement van die Technikon Pretoria – tans die TUT. Sy het die afgelope jare gewy aan haar passie vir tale en letterkunde deur haar gedigte en vertalings.

Van die Appennynse berge tot Sisilië: Italiaanse kortverhale is haar vierde publikasie sedert sy op 88-jarige ouderdom met die digbundel Meer as woorde (Naledi, 2021) gedebuteer het. Dié bundel, wat vir die Ingrid Jonker-prys benoem is, het vertalings uit gedigte in Italiaans, Engels en Spaans ingesluit. Sedertdien het sy haar hoofsaaklik op vertalings toegespits.

Haar tweede bundel Kliniek van verlatenheid (Naledi, 2022) is ’n vertaling van die Italiaanse digter Alda Merini se laaste digbundel. Merini het onder andere die Guggenheim-prys ontvang en is twee keer vir die Nobel-prys vir letterkunde aanbeveel.

Twee jaar later het die vertaling van die roman Pater meus deur Mario Relandini (weer Naledi, 2024) gevolg. Relandini se Pater meus is in 2014 die Internasionale Letterkunde-prys toegeken en Cascione se vertaling was die eerste om, soos in die geval van Merini, hierdie Italiaanse skrywer aan ’n Afrikaanse gehoor bekend te stel. Beide Kliniek van verlatenheid en Pater Meus is besonder gunstig deur kritici ontvang.

Die Italiaanse kortverhaaltradisie is een van die oudste en rykste in die Westerse letterkunde. Van Giovanni Boccaccio se Decameron (middel 14de eeu, met sy 100 novelle), tot die realistiese verhale van Giovanni Verga in die 19de eeu, tot Luigi Pirandello se modernistiese en dikwels absurde kortprosa in die vroeë 20ste eeu, tot die meer moderne Cesare Pavese: Die Italiaanse kortkuns bied ’n skatkis van menslike ervaring, humor, tragedie en sosiale kommentaar. Tog was die direkte vertaling van hierdie ouer Italiaanse kortverhale in Afrikaans opvallend afwesig.

Vertalings van Italiaanse kortverhale was beperk tot dominante tale soos Engels, Frans, of Nederlands, en waar Boccaccio se Decameron al sedert die 16de eeu bestaan (met Coornhert se gedeeltelike bewerking), was daar in Afrikaans geen spoor van sistematiese vertalings van hierdie genre nie. Die Afrikaanse letterkunde het wel sterk bande met Italiaanse kultuur – mens dink byvoorbeeld aan die teenwoordigheid van Italiaanse immigrante in Suid-Afrika.

Die mees noemenswaardige Afrikaanse toe-eiening van ouer Italiaanse literatuur is nie die novelle nie, maar Dante Alighieri: Cas Vos het in die afgelope jare ’n indrukwekkende reeks rymende versvertalings gelewer uit Die goddelike komedie (2017); Il Paradiso (2018) en Inferno (2021).

Ek moet dalk allereers noem dat Rina Cascione haar uitmuntend van haar taak gekwyt het as vertaler van haar seleksie Italiaanse kortverhale, en ’n broodnodige leemte gevul het.

Die uitdagings aan die kant van die vertaler was egter groot: Ouer Italiaans (veral 14de-eeuse Toskaans by Boccaccio) is dig, idiomaties ryk en vol kulturele verwysings wat moeilik direk oorgedra kon word na Afrikaans sonder om óf te verouderd óf te modern te klink.

Die Middeleeuse of 19de-eeuse Italiaanse sosiale wêreld moes vir ’n Afrikaanse leser toeganklik gemaak word sonder om die vreemdheid daarvan “te alledaags” te maak – die kulturele afstand moet sinvol oorbrug word.

Rina Cascione se vertalings bewys dat Afrikaans ’n taal is wat die gewig van klassieke Europese literatuur kan dra; ’n taal wat soepel, idiomaties ryk en genuanseerd genoeg is om Italiaans in Afrikaans te laat sing. Om die warmte, humor, skerpsinnigheid en eindeloos-deurleefde wysheid, wat mens mis by so baie moderne kortkuns, op outentieke wyse van die brontaal in die teikentaal, Afrikaans, oor te dra, is gewis ’n fyn kuns. En daarin slaag die vertaler.

Elke skrywer se verhaal of verhale word vergesel van ’n biografie, wat die kortverhale laat lewe, asook ’n lys van laasgenoemde se werke en toekennings, en ’n handige bibliografie vir studente, akademici en nuuskierige lesers.

Die 15 gekose Italiaanse kortverhale strek oor ’n tydperk van 600 jaar – van Giovanni Boccaccio in die 14de eeu tot Cesare Pavese in die 20ste eeu. Kortverhale van Italiaanse skrywers aan wie die Nobel-prys vir letterkunde toegeken is, naamlik Grazia Deledda en Luigi Pirandello, is by hierdie versameling ingesluit.

Hierdie bloemlesing verteenwoordig ’n eerste poging tot ’n toegewyde versameling ouer Italiaanse kortverhale wat in Afrikaans vertaal word, sélf ’n taal waarin transformasie, kulturele samesmelting, eenwording en migrasie resoneer met aspekte van Suid-Afrika se komplekse verlede en die soeke na nasionale identiteit. Soos Italiaans, beliggaam Afrikaans ’n diepgaande verbintenis met die vertelkuns.

’n Sorgvuldige vertaling van ’n keur uit die ouer Italiaanse kortkuns vul nie net ’n literêre gaping vul nie, maar verryk ook die Afrikaanse leeservaring met die Italiaanse skrywers se vertelkunsvermoë om die alledaagse en die metafisiese saam in bondige verhale te verweef.

Cascione vertaal met ’n stabiele en konsekwente vertalershand, maar pas haar vertaalstrategie aan by die skrywers se style, tydregisters en temas van die verhale. Wat in haar guns getel het, was dat Italiaans ’n huistaal van haar was en sy vir lang tye gewoon het in Italië (sy was getroud met ’n Italianer). Die voetnote wat deel vorm van elke verhaal, was ook deel van haar eie leefwêreld. Rina Cascione as vertaler is die ware Jakob; sy is nie ’n tweedehandse soekenjin- of KI-vertaler nie. Want ’n mens kan met vertaalkuns ’n egte diamant onderskei van ’n sirkonium of ’n moissaniet.

“Jare” deur Cesare Pavese word op ’n gestroopte, sober en poëtiese wyse vertaal, waarin die eksistensiële leegheid van die karakter ook resoneer in Afrikaans:

Sedert daardie oggend het soveel tyd verloop en nou weet ek dat daardie stil trane die enigste manlike iets was wat tussen my en Silvia gebeur het: Dat ek nie oor Silvia gehuil het nie, maar omdat ek besef het wat my lot sou wees. Want van wat was, het niks oorgebly nie. Daar was slegs die besef oor wat in die toekoms op my sou wag.

[…]

Ons was al twee gelyk uit die bed. Ek het haar nie sien aantrek nie, want ek was vinnig op my voete en by die venster. Ek het gekyk hoe deurskynend die plante lyk. Agter die mis was daar son, die son wat soveel keer hierdie kamer verwarm het.

[…]

Ek het alles in my tas gepak en my probeer forseer om die onaangename van Silvia te onthou – die futiliteit, haar slegte buie, irriterende woorde en haar plooie. Dít sou ek met my saamneem. Wat ek agterlaat, is net ’n mistigheid. (162–3)

Van die Appennynse berge tot Sisilië: Italiaanse kortverhale is sonder twyfel ’n belangrike toevoeging tot die Afrikaanse vertaalskat.

2

Titel: Wonderwater
Outeur: Johannes Hamman
Uitgewer: Naledi, 2026

Johannes Hamman is in 1941 in Rustenburg gebore in die skadu van die Magaliesberg waar groot dele van sy roman Wonderwater afspeel. Na ’n LLB aan die Universiteit van Pretoria en toelating as advokaat, begewe hy hom in die korporatiewe wêreld.

Ná sy eerste roman Ysterklou Beperk (Wenakker Boeke, 2021) op die ouderdom van 79, is hy na die Vrystaatse Universiteit om beter te leer skryf. In 2025, op 83, is die prestige Jaap Steyn-beurs aan hom toegeken as die beste eerstejaarstudent vir ’n MA-graad in kreatiewe skryfwerk. Hy het self genoem dat die klasomgewing saam met studente wat sy kinders of kleinkinders kon gewees het, vir hom ’n absolute inspirasie en ’n nuwe lewe bied.

Wonderwater, sy tweede roman, is die resultaat van ’n MA-graad in skeppende skryfkuns. Sy studieleiers was Henning Pieterse en Francois Smith.

Hamman was 60 jaar getroud met Lorenza, wat hom onlangs ontval het; hy het drie kinders, ’n klomp oulike kleinkinders en ’n skattige agterkleinkind.

Hy wil nog baie boeke skryf.

“As Wonderwater vir my, Farkie en Poppetie weer bymekaarbring, sal ek vir die eerste keer waarlik glo natuurgenesing is meer as kwaksalwery.

“Wonderwater is eintlik ’n liefdesverhaal wat sukkel om gelukkig te eindig. Dit gaan oor my, dokter Farkie Hartwig en Poppetie.”

Só sê die hoofkarakter Farkie Hartwig.

Die roman is ook die storie van Wonderwater, die kliniek in Zandfontein aan die voet van die Magaliesberg, waar Hartwig-kruiedokters geslagte lank reeds mense se mankemente regsien. Die bakermat van die besigheid was stamvader Pokkie Geswind se kennis van veldmedisyne. Pokkie het wit getrou en die eerste Hartwig geword. Ses geslagte later dreig die dinastie om uitmekaar te val.

Op ’n manier herinner die verhaal aan ’n pikareske roman: kleurvol en vol humor, met burleske karakters.

Die verhaal spil rondom Farkie Hartwig: Hy poog met die skryf van dié boek om sy geliefde Poppetie terug te kry nadat hy haar verneuk het. Maar sal sy hom kan vergewe? Die teks is fiksie, maar versny op dié wyse in die sogenaamde “werklikheid”. In die begin van die verhaal begin Poppetie die manuskrip – Farkie se olyftakkie aan haar – te lees. Hierdie sentrale gebeurtenis dien as infleksiepunt tussen die hede en die verlede in die verhaal, wat alle verhaalgegewens saambind.

Wonderwater oorspan Farkie se kinderjare, terugflitse na die Hartwig-familietradisie as kruiedokters en intriges met die Hammans, Gillilands en Mokwenas. Daar is die ontdekking van diamante op Vrischgewaagt, Smart Gilliland se plaas, en groot finansiële omwentelinge wag op die dorp. “Die grootste nuus is die diamantmyn op Smart Gilliland se Vrischgewaagt! Zandfontein gaan wen, die dorpenaars ook, maar die Hammans, Gillilands en Mokwenas gaan vreeslik baie ryker word as wat hulle reeds is” (97). Farkie onderhandel met die formidabele Erika Hamman, en die kliniek op Wonderwater kry ’n finansiële inspuiting. (En natuurlik ontgaan die humor, dat die skrywer se van ook Hamman is, die leser nie.)

Wonderwater is ’n ryk toevoeging tot die Afrikaanse verhaalkuns. Dit is interessant dat die figuur van die kruiedokter of volksgeneesheer nie baie prominent in die Afrikaanse romantradisie voorkom nie. Dit was wel ’n belangrike deel van die Suid-Afrikaanse plattelandse kultuur, veral onder Griekwa-, Khoi-, San- en Karoo-gemeenskappe, maar die onderwerp is meer dikwels in memoires, kontreiverhale en niefiksie opgeteken as in romans. ‘n Voorbeeld is die volgende: Kruidjie roer my deur Antoinette Pienaar. Laasgenoemde is nie ’n roman nie, maar ’n mengsel van herinneringe, stories en volkswyshede oor die legendariese natuurgeneser Johannes Willemse en die Karoo se kruiekennis. Dit is waarskynlik die bekendste Afrikaanse boek oor tradisionele genesing. In sommige van Dalene Matthee se bosromans, soos in Kringe in ’n bos en Moerbeibos, kom volkswysheid, kennis van plante en tradisionele leefwyses voor, hoewel daar nie noodwendig ’n sentrale kruiedokterkarakter is nie. Baie van die ou kontreiverhale uit die Karoo, Noord-Kaap en Namakwaland verwys na “bossiedokters”, “toordokters” en “kruievroue”. Hierdie figure verskyn in kortverhale en streeksliteratuur eerder as in romans.

“Die Bakwena-afvaardiging word gelei deur die vorstelike kgosi Magata, met ngaka Modise op sleeptou. Die BBC se televisiespan loop slaafs agter hulle aan” (150). Die karakter Shelly Hollis is besig om ’n dokumentêr oor Wonderwater se natuurgenesers te maak, en soos die aanhaling inderdaad bevestig: Dit is ’n belangrike tema in die roman, aangesien kruiedokters ’n eg Suid-Afrikaanse karakter onder verskillende bevolkingsgroepe het. Wat verder interessant is, is die kompetisie tussen die onderskeie kruiedokters en die rate en kure wat hoogs geheim bly. Ek haal ook die volgende gedeeltes aan:

Die wortel is self ’n geheim, dit kom uit die Wolkberg, waar die reënkoningin se snaakse bome groei. Modise het gesukkel tot hy dit hier aan die groei gekry het. As jou pa regtig soos skoon wasgoed ruik, móét hy die wortel hê, én weet hoe om die stroop te kook. (156)

En:

Soms was oupa se vriend, die veel ouer Modise, ook daar. Hy is die Bakwena se ngaka, soos hulle medisyneman bekend is. Die gebruik om so saam berg toe te gaan en hulle kennis vryelik met mekaar te deel, kom ’n lang pad; hulle pa’s en oupas het dit al gedoen. Modise was verstom oor pa se omvattende kennis van elke bruikbare blaar, pit, saad, bol en wat nog, maar hy leer gou dis beter om die nukkerige seun met rus te los. (27–8)

Daar is talle humoristiese elemente in die roman: Large White se stinksiekte; Modise se geheime stroop en die wonder van die gifbossie; die Dogters van Eva, en dan verdien die skrywer krediet vir sy fyn woordspelings wat kort-kort voorkom (byvoorbeeld die woord baldadig in ’n erotiese konteks). Ook die name van onderskeie karakters is slim en fyn bedink. Ek het by tye hardop gelag vir die komiese dele in die verhaal.

Farkie se ouma en oupa was dubbel neef en niggie: Dit is ’n heerlike gespot met heilige koeie en die ondertrouery onder Afrikaners; ook voorsate wat nie wit was nie.

Vandag, baie lank later, is die trekleier se nasate die vetste katte hier rond, baie van die dorp se gewone mense is agter-agter-agter-kleinkinders van die gewone trekkers, en hier en daar is iemand wat afstam van die volk en oud-slawe wat saam op trek was. Dis hieroor wat ons Hartwigs stilbly. (12)

Asook, met verwysing na die Statebybel met die geslagsregister voor in: “Daardie einste Pokkie Geswind is die bossiedokter-stamvader van ons Hartwigs. Hoe hy, ’n vrygestelde slaaf, wit getrou het en Hartwig word, is ook daarin” (13).

Ek voorspel dat Wonderwater ’n literêre én kommersiële treffer gaan wees. Dit is egter meer as ’n lekkerleesroman: Deur die satire word sosiale kritiek op ’n magdom temas gelewer, van ’n komplekse familiedinamiek, tot die wedywering tussen sakelui op ’n klein dorpie, asook die mentaliteit van klein dorpies se inwoners. Die roman ontbloot ook die skynheiligheid van die karakters, of wys hulle eg menslike kant. Dis ’n boeiende verhaal oor onder meer die lotgevalle van ’n oorlewingskunstenaar (Farkie), wat raakpunte met die pikareske roman toon. Maar Farkie is ’n gebore survivor en so glad soos ’n paling; op ’n manier herinner hy aan die argetipiese trieksterfiguur.

Ernstige literatuur? Ja – en nee. Goeie letterkunde – maar wat ure se genot aan lesers sal verskaf. Bestel vandag nog.

3

Titel: Apofatiese lens
Digter: Dietloff van der Berg
Uitgewer: Naledi, 2026

Dietloff van der Berg is op 30 Maart 1950 in Germiston gebore waar hy grootgeword en gematrikuleer het.

Nadat hy ’n jaar in die Valskermbataljon gedien het, behaal hy ’n BA(Hons) aan die Universiteit Stellenbosch, ’n MA oor Hans Lodeizen aan Rhodes-Universiteit en ’n PhD aan die Universiteit van Natal. Van der Berg het as senior akademikus die kursus in skeppende skryfwerk aan die universiteit in Pietermaritzburg ingestel, waar hy 40 jaar lank letterkunde doseer het. Hy het ook boeke oor letterkunde geskryf en vir meer as 20 jaar Die Skrywerskring in Maritzburg gelei. Sedert 2010 kon hy hom net op sy digkuns toespits.

Hy debuteer met die suksesvolle vertaalbundel Rumi: liefdesverse en aanhalings (Naledi, 2024) en digbundel Feesmaalgang (Naledi, 2025). Apofatiese lens, sy tweede digbundel, is ’n beduidende stap vooruit in Van der Berg se oeuvre. Dit is inderdaad ’n ryk bundel met ’n ruie intertekstuele, religieuse en mistieke lading. Die toonaard wissel tussen die majeur- en mineursleutels, maar heelwat verse is geestig, spottend, lig en ironies, of self-ironiserend. Die digter wys sy vakmanskap, ook met reekse kwatryne, wat eweneens prikkelend is. Sy kennis van mitologie, geskiedenis, die Afrikaanse taal en 14 onderwerpe waarvolgens die bundel gerubriseer is, is boeiend, maar nie swaarwigtig nie.

Dié heg gestruktureerde nuwe bundel getuig van sensitiewe en geslypte woordvernuf en skeppingskrag.

Die kwatryn – daardie bondige, vierreëlige gedig waarin die maksimum betekenis in die minimum woorde verpak word – het ’n ryk, hoewel dikwels diskrete, tradisie in die Afrikaanse digkuns. Dit is nie die mees opvallende vorm nie, maar juis sy beknoptheid en epigrammatiese krag wat digters genoop het om ’n bonsai-agtige kuns daarvan te maak.

Die vroegste belangrike Afrikaanse beoefenaar van die kwatryn was ID du Plessis. Lesers sal veral hierdie treffende pragkwatryn onthou:

Duiwe

Bali se singende duiwe
Omsingel die maan in hul vlug
En hang, ’n tros donkerblou druiwe,
Aan die hoë prieel van die lug.

Ook Hennie Aucamp, wat drie volwaardige kwatrynbundels die lig laat sien het, word as een van die groot meesters van die Afrikaanse kwatryn beskou.

Johann de Lange het hierdie kwatryntradisie bewustelik – en ongeëwenaard – voortgesit. Hy het self drie bundels kwatryne gepubliseer, waarvan Miniatuur (2024) die mees onlangse bundel is. In die openingsgedig noem hy die vorm inderdaad “bonsaikuns” – die kuns om ’n boom tot sy essensie terug te snoei sonder om dit van sy wese te ontneem. De Lange tree voortdurend in gesprek met sy voorgangers: Hy bring hulde aan Du Plessis en Aucamp, en skryf selfs elegiese kwatryne vir sy mentor en vriend Aucamp. Sy kwatryne is dikwels intertekstueel, sensueel en skerp.

Dan: Daniel Hugo is die ander groot kontemporêre naam. Hy is veral bekend vir sy voorliefde vir die Persiese kwatryn, ’n vorm wat hy al van sy vroegste bundels af intensief beoefen het. Hugo het ook 50 van Omar Khajjam se beroemde Roebaijat in Afrikaans vertaal – ’n werk wat die Oosterse wortels van dié vorm weer lewendig gemaak het. Sy eie kwatryne is speels en word gekenmerk deur woordspel; dis dikwels eroties of metafisies en hy bly (steeds) aktief betrokke by dié digvorm, onder meer deur kompetisies en openbare voorlesings.

Die kwatryn is ’n uitdagende (!) versvorm vir digters wat weet hoe om stilte, ironie en presisie in vier reëls te laat sing. En dis by hierdie tradisie wat Dietloff van der Berg aansluit. Joan Hambidge het dan besondere lof vir Van der Berg se hantering van die kwatryn (sien haar onderhoud met die digter op Versindaba in die verband).

Die vergrootglas op die voorblad van Apofatiese lens funksioneer as ’n treffende, uitgebreide metafoor vir die kwatryn as digvorm, veral binne die apofatiese verband (van negatiewe teologie) en die mistieke raamwerk van die bundel. Apofatiese teologie beskryf die goddelike deur wat dit nie is nie – die onsegbare; die afwesigheid; die grense van taal. Die vergrootglas “sien” nie die geheel direk nie; dit vergroot ’n fragment sodat die groter, onsigbare waarheid indirek sigbaar word. Die kwatryn word só ’n apofatiese instrument: deur presisie, ironie, humor, of ontkenning vergroot dit die gaping waar die mistieke of goddelike deurskemer, sonder om dit vas te pen of te definieer.

Let byvoorbeeld op die volgende kwatryn:

Liefdesom

Die mens is nie ’n som nie, maar veel meer
as ’n moeras van selle wat bly beur
om voort te plant of aansien te verwerf:
wat tel, is in watter mate liefde bly regeer. (51)

Elke afdeling word ingelui deur ’n programgedig gevolg deur ’n reeks kwatryne. Die bundel word ook gekenmerk deur intertekstuele verwysings na figure, soos onder meer Sheila Cussons, Thomas Merton en Rumi.

’n Vergrootglas (as lens) neem ’n wye, diffuse veld en fokus dit tot ’n verskerpte, vergrote fokale punt. Die kwatryn doen dieselfde met taal en ervaring: Dit snip die wye, chaotiese of metafisiese werklikheid tot vier reëls, vergroot die detail (’n emosie, paradoks, of alledaagse waarneming) en bring dit in fokus. Wat met die blote oog vaag of onbeduidend lyk, word intens en betekenisvol.

Binne die konteks van mistieke verse vergroot die kwatryn dit wat “klein” is (menslike grense, liefde, sterflikheid, of taal se tekortkominge) sodat dit wat “groot” is (die vereniging met God, die oneindige, die onvaspenbare) helderder word. Dit is nie ’n kamera wat die hele landskap vasvang nie, maar ’n handlens wat die leser nooi om self te kyk, te fokus en te ontdek.

Van der Berg se spel met lense en met die gedistilleerde versvorm is sinvol: Die kwatryn ís die apofatiese lens – ’n instrument van fokus, vergroting en indirekte openbaring wat die onsigbare of onuitspreekbare nader bring sonder om dit te reduseer. Dit pas by hierdie bundel wat die mistieke tradisie, die grense van taal en die rykdom van menslike ervaring in kompakte, deursigtige vorme verken. Wat ek werklik geniet het van hierdie gedigte, is dat Dietloff van der Berg ’n digter – en meester – van die paradoks is: Hy is tegelykertyd doodernstig én geestig/gevat, ’n ongewone ambivalensie wat soos ’n vars bries deur sy digkuns waai.

Afrikaans – waarvoor wag ons nou?

Hebban olla uogala nestas hagunnan hinase hic enda thu uuat
unbidan uue nu.

Uit ou Amsterdam en verskeie Europese streke
het Johann en ander saam met Jan,
hier voor die wind aangeland
met Hollandse laarse op die strand
waar kaalvoet Krotoa en Khoi en San
met beeste toe al staan en kyk.
Hul moes leer om saam te praat vir vleis,
want sonder ruil sou ’n Kaapsche halfweghuis
vinnig faal met net stamppot
of Maleis-Portugese bredie uit die kombuis.

Vryburgers het geleidelik uitgebrei
en kon eers wel net wys
hoe uit of op dezen aarde,
dinge gekweek of geteel kon word
om te ruil vir iets van waarde,
maar daar was te min werkers om in te val
dus was hul aangewese op slaaf en slavin
uit Afrika, Bengale of vanwaar ook al.
Hul was baijang bly om uit Maleisië
ook geskoolde Moslem-hulp te kry,
met ghoema wat geloofbarig aanhou klop
dat lekka Kaaps nog steeds die hart verbly.

Die Hugenote het in Franschhoek ingetrek,
die kerk versterk en wingerde bewerk,
en gou in die Nederduytsche taal gesing,
maar ons mee chardonnay van Viljee gegee.

Veeboere het oor berge en in dale verkas,
waar droge voeten geen gelukwensing was,
maar versengend met ghaap en kambro
en biltonge hul daarby aan moes pas.

Toe die Khoi-veeboere oor grondgebrek,
met hul moedertaal verruil vir Afrikaansch
hoeka begin noustrop trek, het hulle hul noordwaarts
uit die voete gemaak na die Gariep
en later Namibië in getrek waar daarmee
ma-goed steeds hul kjinners ook met gesange voed.

Die Oos-Kaap-boere het afgesonder ook begint
’n ander deuntjie sing en was agint vir die Groot Trek
wat toe oor Oranje vlaktes ook Natal oor berge
en deur dongas binneval om verenig uit Transvaal
Zuid-Afrikaansche singende grensdrade weg te haal.

So fluit elke voël verjongend voort soos hy gebek is
van Oud-Vlaams tot Afrikaans se afgeronde koor
wat jy op RSG en verder met ons versamelsang
deurdringend op alle vlakke oral oor kan hoor,
want deur die eeue het ons wewervoëls hieraan gebou
kom laat ons dan jubelsing “Waarvoor wag ons dan nou?” (23–4)

Toe die uitgewershuis in 2005 tot stand gekom het, is dit gedoop as Naledi, wat “ster” in Noord-Sotho beteken. Die naamgewing was profeties, want dié uitgewery se ster skyn inderdaad al helderder.

Al die Naledi-boeke genoem in die artikel kan bestel word by: www.naledi.co.za

Lees ook:

Heil die Leser! Bybelfiksie: van antieke aardbewings tot geurige salwings

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top