Heil die Leser! Bybelfiksie: van antieke aardbewings tot geurige salwings

  • 0

Boekomslae: LUCA Penguin Random House South Africa

 

  • Nini Bennett-Moll skryf gereelde boekrubrieke vir LitNet.

1

Titel: Pompeii
Outeur: Bets Smith
Uitgewer: LAPA (LUCA), 2026

My smaak in boeke is wyd, diep en genuanseerd. Dit is inderdaad so dat ’n mens elke boek moet takseer volgens sy onderskeie genre, mark en funksie. En ja, smaak verskil, en tereg so.

Ek het vir die eerste keer kennis gemaak met Christelike romans toe ek in die negentigerjare in my prille jeug werksaam was as boekassistent in ’n esoteriese boekwinkel iewers in Pretoria-Oos. Ons winkel het enige lesers van Boheme, New Agers tot die akademiese mark bedien, en ons werk was onder meer om te lees, lees, lees; om ons te skool in die eindelose nuwe besending boeke van die dag. Daar, tussen die rakke, het ek op so ’n plastiekstoeltjie sonder rugleuning gesit: my eerste kennismaking met skrywers soos Frank Peretti en Rebecca Brown se boeke. My mond het letterlik oopgehang, want dit was pure swael en vuur: die onsigbare leërs van engele en demone wat baklei om siele in klein dorpies, en ander donker geestelike magte of demoniese aktiwiteite, heksery en hoe Christene hierteen (moet) veg. Beide skrywers se werk dien as leidingsboeke, met agtergrondkleding Efesiërs 6.

En toe ontdek ek historiese Christelike fiksie: baie meer verteerbaar en genietlik. Daar is byvoorbeeld Francine Rivers, bekend vir die Mark of the Lion-reeks (wat handel oor die vroeë Christene in Romeinse tye); Lynn Austin, bekend vir Ou-Testamentiese verhale; en ander, soos Mesu Andrews en Jill Eileen Smith, wat Bybelse vroue die spilpunt van hul fiksie maak.

Danksy LAPA Uitgewers, onder die druknaam LUCA, verskyn daar van tyd tot tyd historiese Bybelse fiksie, soos die twee romans wat ek in hierdie rubriek bepreek.

In die ouer Afrikaanse literêre tradisie staan FA Venter se bekendste Bybelroman Man van Ciréne (1957) steeds as baken in dié genre, as ’n bekeringsverhaal met ’n sterk historiese Bybelse agtergrond. Ook DF Malherbe het verskeie Ou-Testamentiese romans geskryf, onder meer Die hart van Moab (1933), Saul die worstelheld (1935), Die profeet (1937) (wat handel oor die profeet Jeremia) en Boerprofeet (1953) (wat handel oor die profeet Amos). Hy gebruik die Bybelse karakters dikwels simbolies en sy romans beskik ook oor ’n sterk nasionaal-patriotiese karakter.

Bets Smith skryf sedert 1996 vir LAPA Uitgewers en het al meer as 43 boeke gepubliseer, waaronder rillers, romanses en liefdesverhale. Sy woon in die Suid-Kaap en glo dat liefde ’n genesende krag het; dit deurdring talle van haar stories.

In die persverklaring van Pompeii verneem die leser:

Voor die uitbarsting van Vesuvius word Aeliana en haar moeder uit Jerusalem as slavinne na Pompeii weggevoer.

Ná haar moeder se dood moet Aeliana haar plek vind in ’n stad vol afgodery, terwyl sy saam met ander Christene in die geheim aanbid. Balthus, ’n voormalige gladiator wat belowe het om haar te beskerm, wek gevoelens wat sy nie maklik kan vertrou nie.

Eeue later probeer Liana ná die plaasmoord op haar ouers sin maak van haar pyn terwyl sy restourasiewerk in Pompeii doen.

Daar ontmoet sy dokter Ulrich Balth, wie se vriendelikheid haar help om haar hart weer oop te stel.

Terwyl hulle die verhale van die verlede ontbloot, ontdek hulle ook genesing, hoop en liefde.

Hierdie dik lekkerleesroman speel in twee dele – in tandem – uit: In die hede bevind Liana haar in Pompeii, waar sy restourasiewerk doen aan fresko’s in die luukse Priscus-villa om die emosionele verwonding van haar ouers se grusame plaasmoord te probeer verwerk. Deur die muurkuns te restoureer, probeer sy indirek heling vir haar eie pyn en verbittering vind.

Die gebeure word afgewissel met die historiese terugflitse (65 AD–79 AD) in Pompeii; die vulkaniese uitbarsting van Vesuvius was in 79 AD.

Die historiese posisionering van die verhaal begin in 65 AD met ’n verwysing na apostel Paulus se omsendbrief uit Efese. Die vroeë Christene is onder heerskappy van keiser Nero genadeloos vervolg, en Ana, ’n slavin en kunstenaar in die Priscus-huishouding, is tereggestel. Die vroulike protagonis Aeliana was haar dogter wat wees gelaat is, maar wat haar moeder opgevolg het as slavin en muurskilder in laasgenoemde rykmanshuishouding. Sy het aan vervolging ontkom, want Balthus die Barbaar, op daardie stadium ’n sestienjarige gladiator, het hom oor haar ontferm met die belofte dat hy altyd oor haar sou waak. Maar sou hy?

Pompeii bied ’n eerlike en skokkende blik op die behandeling van sommige slawe in die Romeinse tyd: op hulle ontbering, hoe hulle verhonger en mishandel en met swepe geslaan is ... Smith werk slim met parallelle in haar verhaal. Sy jukstaponeer onder meer die mishandeling van hierdie slawe met die lot (goed of sleg) van hedendaagse plaaswerkers in Suid-Afrika.

........
Pompeii bied ’n eerlike en skokkende blik op die behandeling van sommige slawe in die Romeinse tyd: op hulle ontbering, hoe hulle verhonger en mishandel en met swepe geslaan is ... Smith werk slim met parallelle in haar verhaal. Sy jukstaponeer onder meer die mishandeling van hierdie slawe met die lot (goed of sleg) van hedendaagse plaaswerkers in Suid-Afrika.
.........

Wie is die skadufigure wat Liana opmerk terwyl sy aan die 2000 jaar oue muurkuns werk? Waarom lyk haar baas Ulrich Balth dan nes die gladiator Balthus wat sy op die sketse gewaar? En sy sélf – waarom het sy so ’n besondere affiniteit vir Aeliana? Waarom voel sy die karakters en hulle lotgevalle so sterk aan; is daar iets meer, iets metafisies onder die huid van hierdie verhaal aan die broei as die blote voor die hand liggende? En natuurlik sal die ooreenkomste in name die skerpsinnige leser nie ontgaan nie: Balthus die gladiator vs Balth die dokter en Aeliana die slavin/skilder vs Liana die navorser. Op p 119 is daar ’n beskrywing wat inderdaad blyk dat Liana dalk ’n soort empatis (empath) of hoogs sensitiewe persoon/HSP (highly sensitive person) is.

Die naderende Fees vir Vulkanus, god van vuur en grofsmede, boesem vrees by die slavinne in, want al word dit nie uitgespel nie, word hulle tydens hierdie fees verkrag deur mans wat te veel gedrink het. Aeliana is lugtig, maar so óók haar vriende wat deel is van die binnekring wat Christus in die geheim aanbid.

Smith speel met enigmas en parallelle narratiewe en simboliek wat die wakker leser ryklik beloon. Die verwoestende krag van die natuur word teenoor die geweld van die mens gestel (plaasmoord, vernietiging). Daar is deurlopende verwysings na as, vulkaan-as, maar ook die kruik met Liana se ouers se as wat sy op die hoogste punt van Vesuvius, naby die vulkaankrater self, uitstrooi. Dit het simboliese waarde, want daardeur toon Liana dat sy deur dié daad ook ’n geestelike “hoogte” bereik het deur haar ouers se moordenaars te vergewe en haar emosies van bitterheid te oorwin. Die krater, wat enersyds die oorsprong van verwoesting was (’n vulkaan in die verlede), word nou ’n seëvierende simbool (in die hede). Die subteks van die verhaal is die broosheid van die menslike kondisie, die onvoorspelbaarheid van die noodlot – in ’n oogwink kan alles argeologiese artefakte en relieke word – maar dan óók: Al verloop daar 2 000 jaar, beskik die mens oor die mag van vertelling om die verlede weer tot lewe te wek en te laat herleef deur verhale.

Ek het die spel met kodes en enigmas in Pompeii se parallelle verhaallyne (hede/verlede) geniet, byvoorbeeld die Ichtus-kode, of die simbool van die vis wat die vroeë volgelinge van die Weg gebruik het, asook die Rotas-Sator-vierkant, wat ’n palindroom is. Dit funksioneer as antieke kodes wat deursuur na leidrade in die hede en betekenisvolle antwoorde vir argeoloë en ander navorsers bied om die gebeure in Pompeii 2 000 jaar gelede te vertolk.

Smith span dialoog as literêre instrument in om by wyse van haar karakters ’n ryke lading sosio-politieke, filosofiese, argeologiese, kunsteoretiese en mitologiese kommentaar te lewer, sonder dat dit steurend raak. Die verhaal is in alle opsigte werklikheidsgetrou en die bibliografie agter in maak mens lus om verder na te lees oor hierdie fassinerende onderwerp. ’n Bonus is dat hierdie boek ook vertroosting aan slagoffers en naasbestaandes van plaasmoorde en -rowe bied.

Ek wil nie te veel verklap nie, maar uiteindelik is Pompeii ’n wonderwerk van ’n verhaal, van karakters wat ontkom aan ’n ramp en die sentrale rol wat ’n blinde bedelaarsmeisie in die gebeure speel.

2

Titel: Om weer te dans
Outeur: Frenette van Wyk
Uitgewer: LAPA (LUCA), 2026

Waar Pompeii ’n sober aanslag het, is die toonaard van Om weer te dans liries.

Frenette van Wyk is ’n bekende en geliefde Suid-Afrikaanse skrywer wat gereeld gewilde historiese liefdesverhale en Bybelse romanses by uitgewers soos LAPA publiseer. Sy woon in Pretoria saam met haar man en is ’n trotse ouma.

Die protagonis Zivah werk op Ezra se plaas in Galilea waar sy leer om geurige olies te meng en parfuum maak. Sy dra swaar aan ’n verlore liefde en is ’n gevangene van ’n donker geheim uit haar verlede, maar hoop dat haar stukkende emosies weer heel sal word terwyl sy haar passie uitleef. Die maak van olies bring immers heling vir ander; dalk sal dit haar ook help om háár verwonding te verwerk.

Barabbas, met sy charismatiese persoonlikheid, onwrikbare avonturiersgees en vreeslose najaag van sy ideaal om die Jode van Romeinse heerskappy te bevry, vergestalt vir haar die vryheid en geluk waarna sy verlang. Maar sy obsessie om die Jode van Romeinse onderdrukking te bevry dryf hom al dieper die verderf in, en verder van Zivah af weg. Die flegmatiese, wyse Ezra ontferm hom toenemend oor Zivah, maar sy is vasgevang in haar pyn en hoop op ’n tweede kans met Barabbas toe Pontius Pilatus hom vrylaat in stede van die misterieuse Messias-man ... Maar selfs al is Barabbas die doodstraf deur kruisiging gespaar, verander dit steeds nie sy verterende haat, wraaksug en begeerte om vir sy mense ’n held te wees nie. In ’n wêreld verskeur deur bloedvergieting, verlies en onvervulde hoop soek Zivah en Barabbas elkeen na heling, liefde en ’n tweede kans. Hul paaie kruis telkens, maar net Adonai se belofte van herstel – om weer te dans, soos die profeet Jeremia belowe het – kan vir hulle ware vryheid bring. Sal Sy liefde genoeg wees om twee gebroke siele te heel en hul verledes in hoop te omskep? Of is die goedgeaarde Ezra ’n beter keuse vir ’n lewensmaat as Barabbas?

Van Wyk beeld die Zeitgeist en gebruike in die tyd en leefwêreld van Jesus op realistiese wyse uit, en die leser raak geheg aan die karakters: die kinderlose Miriam wat smag na ’n kind van haar eie; Zivah se vader Eliezer, die (tipiese Bybelse) patriarg en Romeinse simpatiseerder wat die teenpool van Barabbas, die Seloot, is; die kinderhuis; en dan antagoniste, soos die gevreesde Fabius ...

Die leser dubbelklik op die talle mooi en poëtiese natuurbeskrywings, asook Zivah se vriendskap met Maria Magdalena, wat by haar kom olie koop en vertel van Jesus, die langverwagte Messias wat wonderwerke doen (p 31). Die boek wemel van ontroerende tonele, byvoorbeeld Zivah se ontmoeting met Jesus self wanneer Hy háár met haar eie olie salf.

In hoofstroomfilms word Barabbas gewoonlik as ’n onbeskaafde en afstootlike misdadiger uitgebeeld om ’n kontras met die onskuldige Jesus te bewerkstellig. In Mel Gibson se The passion of the Christ (2004) word hy deur Pietro Sarubbi voorgestel as ’n eenogige, vuil en wrede figuur met deurmekaar hare, ’n litteken, verrotte tande en wilde houding: Hy word soos ’n dier aan ’n ketting na vore gebring, waarna hy waansinnig lag en sy tong uitsteek. Sy houding is triomfantelik en spottend wanneer die skare hom kies om vrygelaat te word. In ander bekende produksies, soos Richard Fleischer se Barabbas (1961) met Anthony Quinn in die hoofrol, is hy ’n growwe, gewelddadige rower en rebel wat wel menslike diepte en ’n mate van innerlike konflik toon, maar steeds as ’n onbeskaafde karakter oorkom. Ten laaste, in Franco Zeffirelli se Jesus of Nazareth (1977) en soortgelyke Bybels-epiese films word Barabbas meesal eendimensioneel as ’n gedugte misdadiger of rebel voorgestel.

Hierdie uitbeeldings beklemtoon dus sy agterlike en barbaarse karakter om die ironie van die skare se keuse in terme van sy vrylating te bevestig.

Alhoewel daar bitter min oor Barabbas se karakter in die Bybel voorkom, is hierdie stereotipering ongegrond, of blote Hollywood-projeksies. Daarom is Van Wyk se invalshoek vir haar verhaal so ’n interessante en prikkelende een; al Barabbas se misdrywe word wel genoem (p 89), maar dit word ingespan om van hom ’n oortuigende, volronde karakter, wat ’n kentering ondergaan het, te maak. Nêrens negeer die skrywer dat hy ’n rowwe jafel was nie, en die beroep as grofsmid is immers ’n goeie keuse as dit kom by die vervaardiging van wapens in Jesus se tyd. Die uitbeelding van Barabbas as beskaafde, gekultiveerde (en aantreklike) jongman, weliswaar met sterk politieke aspirasies, is dus ’n welkome een.

Om weer te dans lees soos ’n salwing self – en Van Wyk wy die leser in in die antieke kuns van ’n parfumier se beroep.

In die tyd van Jesus Christus (die eerste eeu nC in Judea en die omliggende Romeinse provinsies) was die maak van geurige olies en parfuums ’n hoogs ontwikkelde en ekonomies belangrike kunsvorm, en parfumiers was ’n gerespekteerde beroep. Hierdie produkte is nie net vir persoonlike skoonheid en verleiding gebruik nie, maar ook vir godsdiensrituele, medisinale doeleindes, begrafnisse en as statussimbole. Die Bybel noem verskeie hiervan, soos die duur nardusolie waarmee ’n vrou Jesus se voete gesalf het (Johannes 12), die mirre en aalwyne wat vir Sy begrafnis gebruik is (Johannes 19), asook die heilige salfolie van die Ou Testament, soos dit in die Joodse tradisie bekend was.

Op p 57 meld die skrywer byvoorbeeld dat Moses in die Torah noem dat “die sitroen vrugte van sierlike bome is” en dat die hartvorm van die vrug ’n simbool van toewyding aan God is. Daar is talle verwysings na die meng van sitroen in die olies (laasgenoemde vrug is nie dieselfde as ’n suurlemoen nie).

Die basisbestanddeel vir hierdie olies en parfuum was byna altyd olyfolie wat as “draer” gedien het. Hierin is aromatiese stowwe uit plante onttrek.

Die produksiemetodes was relatief eenvoudig, maar arbeidsintensief, aangesien ware distillasie soos ons dit vandag ken, nog nie wyd in gebruik was nie. Die algemeenste tegnieke was: weking, uitkoking, uitpersing en die meng met hars.

Die eindprodukte is in klein glas- of albasterbotteltjies bewaar, wat die geur lank behou het. In die Romeinse tyd was van hierdie olies so waardevol dat 330 gram suiwer nardusolie ongeveer ’n jaar se loon vir ’n arbeider kon kos. Só het die geurige olies van Jesus se tyd nie net die liggaam en tempels gevul nie, maar ook die ekonomie, handel en geestelike lewe beïnvloed.

’n Ander interessante tema wat Van Wyk belig in haar roman, is die rol van die Selote (soos Barabbas).

Die verhouding tussen die Romeine, Jode en die Selote in die tyd van Jesus was gespanne en vol konflik.

Die Romeine het Judea as ’n besette provinsie regeer. Hulle het swaar belastings ingestel, Romeinse soldate in Jerusalem geplaas en die Joodse godsdiens en tradisies verontagsaam. Baie Jode het die Romeinse heerskappy as onderdrukking ervaar en na ’n Messias verlang wat Israel sou bevry.

Die Selote, op hul beurt, was ’n radikale Joodse groepering wat geweld as oplossing gesien het. Hulle het die Romeine aktief teengestaan, belasting geweier en soms opstande en sluipmoorde georganiseer. Hulle het geglo dat God net die Joodse volk as heersers oor die land wou hê en dat enige samewerking met die Romeine verraad was.

Jesus self het nie by die Selote aangesluit nie. Hy het ’n ander weg verkondig – een van liefde vir jou vyande en die koninkryk van God wat nie met swaarde beslis word nie. Dit het hom in opposisie geplaas met sowel die Romeinse owerheid as die meer militante Joodse groepe.

Barabbas was ’n Joodse rebel wat saam met ander gevangenes in die tronk was. Volgens die Evangelies (soos Markus 15:7) was hy betrokke by ’n opstand teen die Romeine en het hy tydens daardie opstand moord gepleeg. Daarom is hy saam met ander gevangenes vir kruisiging bestem – dieselfde straf wat die Romeine gewoonlik vir rebelle en rowers toegepas het.

Toe die skare die keuse gekry het tussen Jesus en Barabbas, het hulle gevra dat Barabbas vrygelaat word en Jesus gekruisig word. Barabbas was dus ’n politieke rebel en moordenaar, nie net ’n gewone dief nie.

***

Beide Smith en Van Wyk se romans is ’n plesier om te lees. So, waarom bibfic?

Die waarde van Bybelfiksie lê in sy vermoë om die verlede as ’n morele en geestelike landskap te ontsluit. Wanneer skrywers Bybelse figure of historiese tydperke herskep, doen hulle meer as om net die geskiedenis te laat herleef; hulle toon hoe geloof in konkrete omstandighede – oorlog, ballingskap en vervolging – gestalte kry. Die leser word nie bloot ’n toeskouer nie, maar genoop om empatie te ontwikkel met mense wie se keuses, twyfel en standvastigheid vandag nog relevant is.

Hierdie genre speel uit tussen twee ekstreme: die verromantiserende nostalgie wat die verlede as ’n goue era verheerlik, maar ook ’n nihilistiese relativering in die hede wat ’n morele oordeel oor die geskiedenis vel. Deur geloofwaardige historiese navorsing met teologiese insig te kombineer, help dit lesers om die kontinuïteit van die menslike kondisie te herken – sondigheid, genade, hoop en versoening – sonder om die spesifieke konteks te verloor. Dit skep ’n vorm van historiese bewustheid wat nie net intellektueel prikkelend is nie, maar ook vormend.

Verder bied sogenaamde bibfic ’n “skoon” alternatief in ’n literêre mark wat toenemend eksplisiete geweld, seksualiteit en morele dubbelsinnigheid as norm voorstel.

Bybelse fiksie blaas ook lewe in Bybelfigure wat lesers andersins as “plat” tydens hulle Bybelstudie kan ervaar. Dit vul die openinge tussen die Bybelse reëls met menslike kompleksiteit sonder om die teks self te verdraai.

Terselfdertyd bied dit ’n apologetiese funksie. In ’n post-Christelike kultuur waar die Christelike verlede soms as onderdrukkend of irrelevant voorgestel word, skep hierdie stories ’n teennarratief. En andersins – sonder enige vingerwysing na morele pedanterie – kan mens dié boeke net geniet, omdat dit heerlike ontvlugting bied.

Lees ook:

Heil die Leser! Natuurkundige boeke en die tasbare bewaring van kennis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top