
Alle boekomslae: Penguin Random House SA (Struik Nature)
- Nini Bennett-Moll skryf gereelde boekrubrieke vir LitNet.
In die tyd voor die digitale era is kennis nie as data oorgedra nie, maar dikwels as tasbare en swaar voorwerpe van papier, ink en leer. Outydse ensiklopedieë was die konkrete boekomslae waarin die mensdom se versamelde kennis bewaar is. Elke band was ’n fisiese erfenis: die gewig daarvan op die rak, die verkleurde bladsye, die handgeskrewe aantekeninge in die kantlyn en die reuk van ou papier en stof. Kennis is oorgedra deur die handeling van bladsye omblaai, die oorerwing van boeke in ’n testament en die stilte van ’n biblioteek waar generasies dieselfde bladsye in ensiklopedieë gelees het. Bewaring was ’n ambag: Uitgewers en bibliotekarisse het die boeke teen vog, vuur en vergetelheid beskerm. So het die ensiklopedie nie net feite bevat nie, maar sélf ’n erfenis geword – ’n analoogketting wat kennis van een geslag na ’n volgende oorgedra het, stewig, tasbaar en onuitwisbaar.
Vir baie Suid-Afrikaanse gesinne was dit in die 1970’s en 1980’s ’n bekende gesig: ’n netjies geklede verkoopsman met ’n aktetas vol voorbeeldboeke wat van deur tot deur gestap het om ensiklopedieë te verkoop. Hierdie verkoopsmense het dikwels vir maande lank woonbuurte besoek en aan huiseienaars se deure geklop met die vraag: “Het julle kinders op skool?”
Die agent het die boeke in die sitkamer uitgestal, die swaar hardebanddele oopgeslaan en die pragfoto’s, -kaarte en -illustrasies gewys. Daarna het hy verduidelik hoe belangrik dit vir ’n kind se opvoeding is om betroubare naslaanwerke by die huis te hê – lank voordat die internet bestaan het.
Reekse soos die Kennis-ensiklopedie, die Afrikaanse Kinderensiklopedie, die Wêreldspektrum-ensiklopedie en verskeie internasionale stelle was gewilde produkte. Vir baie Afrikaanse gesinne was die Afrikaanse Kinderensiklopedie ’n trotse besitting wat dikwels ’n hele rak in die boekkas gevul het.
Die boeke was duur, daarom is hulle selde kontant gekoop.
Ouers is daaraan herinner dat hulle kinders ’n voorsprong op skool sou hê, dat die boeke ’n belegging in hul toekoms is en dat kennis iets is wat niemand van jou kan wegneem nie.
In ’n tyd sonder Google, Wikipedia, slimfone en KI was ’n ensiklopedie dikwels die eerste plek waar ’n mens antwoorde gaan soek het. Skooltake, toesprake en algemene nuuskierigheid het by ’n boekrak begin. En die kinders wat nie die luukse van ensiklopedieë tuis gehad het nie, moes maar smiddae in ’n biblioteek by die naslaanafdeling deurbring om dit te raadpleeg.
Teen die laat 1990’s en vroeë 2000’s het die internet die mark vir gedrukte ensiklopedieë vinnig laat krimp. Deur-tot-deur-verkope het al hoe skaarser geword en baie van die maatskappye het hul bedrywighede gestaak of na digitale produkte oorgeskakel.
Vandag wek daardie stelle nog nostalgie. In baie huise staan die swaar volumes steeds op ’n boekrak – nie meer as die vinnigste bron van inligting nie, maar as herinneringe aan ’n tyd toe kennis letterlik van deur tot deur afgelewer is. (Ek is nog in besit van die groen Die skatkis-reeks, saamgestel deur Roy E Stevens. En put steeds genot uit die vertaling van kortverhale uit verskeie tale in Afrikaans. Een ding is vir seker: Ons het eens wêreldklas-vertalers in bykans alle tale van die wêreld in Suid-Afrika gehad, en dié ensiklopediese reeks is waaragtig sy naam waardig en haas onvervangbaar – in vandag se terme kan mens sê dis ’n jammerte en verlies dat dit nooit gedigitaliseer is nie. Maar so is dit met die hele Die skatkis. Geskiedkundige en sosio-politieke perspektiewe het nou wel dateer in die geval van ouere ensiklopedieë, maar party velde bly tydloos en universeel, soos laasgenoemde.)
Tog is hierdie bron van tasbare, konkrete kennisoordrag nie heeltemal verlore nie. Vir die jonger generasie, wat nie vertroud is met die “ooms” wat huishoudings besoek het met hulle ensiklopedieë nie, is daar nog die Struik Nature-reeks, wat ’n druknaam is van Penguin Random House South Africa.
Struik Nature is ’n toonaangewende spesialis-uitgewer en fokus spesifiek op natuurboeke oor Suider- en Oos-Afrika (en Afrika in die breë). Hulle katalogus bevat volkleur- geïllustreerde werke oor voëls, soogdiere, reptiele, bome en blomme, die mariene-omgewing, geologie, sterrekunde, algemene wildlewe en kindernatuurboeke. Die boeke word geskryf deur gerespekteerde kundiges in hul onderskeie vakgebiede en verskyn in verskillende reekse wat van beginners tot ernstige entoesiaste bedien – van kompakte veldgidse tot omvattender naslaanwerke.
Baie van hierdie titels is luukse, pragtig geproduseerde boeke met hoëgehalte-fotografie en -illustrasies. Hulle dien dikwels as aantreklike koffietafelboeke wat die ryke biodiversiteit van die betrokke streke vier, maar funksioneer terselfdertyd as betroubare, outoritêre naslaanwerke of “ensiklopedieë” wat mense help om spesies te identifiseer en meer te leer oor die natuurlike wêreld. Bekende voorbeelde is die Sasol-voëlgidse en ander klassieke veldgidse wat al jare lank standaardwerke is.
Daar is iets besonder magies aan die genre van gebruikersvriendelike, opvoedkundige koffietafelboeke oor fauna en flora – veral dié wat Struik Nature so kundig uitgee. Dit is nie vervelige veldgidse met klein lettertjies en wetenskaplike jargon nie, en ook nie net fotoboeke wat mooi op ’n koffietafel vertoon nie; dit volg die goue middeweg. Dis boeke wat jou uitnooi om te leer, die grafika te bewonder en bladsy-vir-bladsy in ’n verbeeldingsvlug jou huis of studeerkamer tydelik in ’n stil natuurreservaat kan laat verander.
.........
Hierdie boeke speel met ’n fyn balans. Hulle is toeganklik genoeg vir die beginner wat net ’n blom of voël wil herken, maar kompleks genoeg vir die kenner wat die agtergrond wil verken – die biologie, geskiedenis, konserveringstatus, etimologie, ensovoort. Die fotografie is helder en kleurvol; die teks toeganklik en warm.
.........
Hierdie boeke speel met ’n fyn balans. Hulle is toeganklik genoeg vir die beginner wat net ’n blom of voël wil herken, maar kompleks genoeg vir die kenner wat die agtergrond wil verken – die biologie, geskiedenis, konserveringstatus, etimologie, ensovoort. Die fotografie is helder en kleurvol; die teks toeganklik en warm.
Wat hierdie genre so interessant maak, is dat dit in ’n digitale era juis die teenoorgestelde van ’n toep of ’n vinnige soektog is. Dit vra jou om stadig met kennis om te gaan. Om te sit. Te kyk. Om die gewig van die papier te voel en die kwaliteit van die drukwerk te bewonder. In ’n land so ryk aan biodiversiteit soos Suid-Afrika – met byvoorbeeld die Kaapse florastreek as een van die wêreld se brandpunte – is hierdie boeke nie net ’n luukse nie; hulle is ’n stil vorm van aktivisme. Hulle maak die natuur persoonlik en toeganklik.
Die ensiklopediese aard van hierdie natuurkundige boeke herinner ons daaraan dat, ten spyte van toeps wat vinnig fauna en flora kan identifiseer, daar nog sentiment in die konkrete oordrag van kennis is. Struik Nature se nismark bevestig dat kennis steeds op ’n tasbare, ouwêreldse manier oorgedra kan word as koffietafelboeke en versamelstukke.
Titel: African snakes: behaviour and biology
Outeur: Marcel van Driel
Uitgewer: Penguin Random House SA (Struik Nature), 2026
Van alle diersoorte is daar waarskynlik geen spesie waaroor soveel mites, wanopvattings en bygelowe bestaan as juis slange nie. Hulle stil, glibberige beweging, giftande en die vermoë om skynbaar uit die niet te verskyn, het deur die eeue heen vrees, respek én bygeloof by die mens gewek.
In talle kulture word die slang as simbool van die bose gesien – dink maar aan die slang in die tuin van Eden wat Eva verlei het. In die antieke Griekse mitologie het Medusa se hare in slange verander as straf, en die slang word dikwels met bedrog en gevaar geassosieer. Terselfdertyd is daar ook positiewe assosiasies: In sommige antieke kulture was die slang ’n simbool van genesing, wysheid en wedergeboorte (vanweë die vel wat hy afgooi).
Die wanopvattings is ewe wydverspreid. Baie mense glo steeds dat alle slange giftig is, terwyl die oorgrote meerderheid onskadelik is. Ander dink slange “jag” mense doelbewus, dat hulle melk uit koeie suig, of dat hulle hul prooi hipnotiseer met hulle oë. Daar is selfs bygelowe dat ’n slang wat jy doodmaak, reën sal bring – óf dalk juis slegte geluk.
Hierdie miteryke simbool van die slang hou stand, juis omdat hulle so anders as ons is: stil, koudbloedig en dikwels onsigbaar tot op die laaste oomblik. En solank die mens se vrugbare verbeelding en oerbewuste aan slange dink, sal dit waarskynlik die dier bly waaroor die meeste stories – waar en onwaar – vertel word.
Maar, kennis is mag, en in African snakes: behaviour and biology word die mens se mees gevreesde spesie gedemistifiseer.
Marcel van Driel is ’n meesterherpetoloog en gerekende ofiologie- en slangbytkenner wat in Zambië werksaam is. Hy dien as die direkteur van Snake Safety Zambia en word regoor Afrika gerespekteer vir sy werk in reptielbewaring, professionele veiligheidsopleiding in slange en die ontwikkeling van kliniese protokolle in die behandeling van giftige slangbyt.
Afrika is die tuiste van meer as 700 slangspesies, van massiewe luislange wat in staat is om antilope in te sluk tot miniatuurslange wat op miereiers voed. Hierdie toeganklike, gebruikersvriendelike boek verken die fassinerende lewens van ons kontinent se slange en behandel hulle anatomie, gif, sintuie en gedrag, asook algemene mites en wanopvattings. Dit sluit in van bosadders tot sypikslange – slange floreer letterlik in elke habitat op die Afrika-kontinent.
Lees hierdie boek en ontdek self hoe hierdie dikwels misverstane reptiele hulle wêreld waarneem, hulself verdedig, voed en voortplant. Hierdie gids behandel die volgende onderwerpe: die evolusionêre geskiedenis van slange, met profiele van die agt families wat vandag in Afrika voorkom; gedetailleerde notas oor hul innerlike en uiterlike anatomie, wat verduidelik waarom hierdie ledemaatlose wesens in elke hoek van die kontinent floreer; diepgaande verduidelikings van slanggedrag, soos diverse jagtegnieke en verdedigingsmeganismes; profiele van besonder interessante spesies, soos die hoogs gespesialiseerde eiereter en die geelpensseeslang; antwoorde op dosyne vrae wat gereeld opduik: Watter spesie is die gevaarlikste? Hoe sluk slange prooi wat groter as hul kop is?
Dan is daar ook ’n ontleding van nuttige diagnostiese kenmerke om te help om slange in die natuur te identifiseer.
Die boek bevat voorts belangrike inligting soos hoe om op te tree wanneer jy deur onderskeie giftige slange gepik is. Die talle glossaria agter in maak die gids ideaal vir naslaandoeleindes. En as koffietafelboek? Absoluut! Die grafika is verstommend helder en gedetailleerd; dis een van daardie boeke wat jou gaste dadelik sal optel en deurblaai ...
Ek het Van Driel se gids uiters boeiend gevind – en ja, ’n mens het uiteindelik simpatie met slange!
Titel: South African birds by name: origins and meanings
Outeur: Eddie Germiquet
Uitgewer: Penguin Random House SA (Struik Nature), 2026
Eddie Germiquet het sedert sy vroeë kinderjare ’n liefde vir voëls gehad en sy onlangse aftrede het hom in staat gestel om terug te keer na sy ou stokperdjies. Deur gebruik te maak van interpretatiewe vaardighede wat hy tydens sy doktorale studies verwerf het, het hy ’n persoonlike projek aangepak om die oorsprong en betekenisse van voëlname te verken – ’n onderneming wat hierdie boek geword het.
Wat is in ’n naam? Soos voëlkyk al hoe gewilder raak, begryp al meer mense dat voëls nie net ’n ekologiese betekenis het nie, maar ook unieke stories verteenwoordig wat ingebed is in die name wat hulle gegee is. South African birds by name bied insig in die oorsprong en betekenisse van hierdie “wetenskaplike” name, wat meestal in Grieks en Latyn gewortel is, en help lesers om sin te maak van die spesies waarna hulle kyk.
Eddie Germiquet het noukeurig historiese ontdekkingsreisigers se verslae, inheemse name, antieke mitologieë en vroeë wetenskaplike geskrifte nagevors om die nomenklatuur te demistifiseer en te vereenvoudig. Waar ’n naam afgelei is uit ’n fisiese kenmerk van die voël, het hy ’n boeiende illustrasie geteken om dit uit te beeld. Waar die name van ontdekkingsreisigers, bioloë en ander historiese figure ter sprake kom, word dit ook verduidelik en bring dit insgelyks fassinerende geskiedenis aan die lig.
Hierdie boek is ’n kosbare kleinood, ’n luukse koffietafelboek en ’n nuttige metgesel vir ornitoloë en voëlkykers, maar ook ’n heerlike bron van ontdekking vir nuwelinge. Al gewonder wat jy as geskenk vir iemand gaan koop?
Titel: Bulbs of the fynbos
Samestellers: John Manning en Dee Snijman
Uitgewer: Penguin Random House SA (Struik Nature), 2026
In ’n land wat reeds bekend is vir sy buitengewone plantdiversiteit, staan die Kaapse floraryk (fynbos) uit as een van die ses mees indrukwekkende blommeryke op aarde. John Manning en Dee Snijman, twee van Suid-Afrika se voorste botani en spesialiste in dié streek se flora, lewer met Bulbs of the fynbos ’n welkome bydrae tot die groeiende reeks fynbosveldgidse. Met meer as 1 200 natuurlike bolspesies, is die Kaapse florastreek die onbetwiste bolplanthoofstad van die wêreld, en die bron van baie spesies wat nou in ander dele van die wêreld groei, insluitend Europa, die VK en die VSA.
Die boek fokus op bolplante – wat van die mees dramatiese en kleurvolle blomvertonings in die fynbosgebiede oplewer. In botanie verwys bulbs of bolplante na ’n spesifieke tipe ondergrondse stoororgaan wat plante gebruik om voedingstowwe en water op te gaar. Dit help die plant om te oorleef deur droë seisoene, brande of koue periodes, en dan in die regte seisoen vinnig te groei en te blom.
Die gids dek 345 van die meer algemene, opvallende en soms unieke spesies, wat ’n goeie verteenwoordiging gee van die ongelooflike diversiteit in families soos Iridaceae (irisse en gladioli), Amaryllidaceae, Hyacinthaceae en vele ander.
Die gids bied ’n praktiese kategorisering van die plante. Spesies word in groepe en subgroepe verdeel wat identifikasie makliker maak vir veldgebruikers, eerder as ’n streng taksonomiese volgorde. Dit is ideaal vir stappers, natuurliefhebbers, tuiniers, studente en leerders, en estete en poëte. Verskoon die rym, liewe leser, maar inderdaad: Digters en ander liefhebbers van estetika sal óók baat vind by die boek, juis omdat dit so mooi en poëties is.
Soos mens kan verwag van Manning en Snijman (Struik Nature), is die boek pragtig geïllustreer met hoëgehalte-kleurfoto’s en anatomiese sketse wat die diagnostiese kenmerke van die bolplante duidelik uitwys. Daar is ook nuttige glossaria in die gids.
Die boek begin met ’n interessante inleiding oor die biologie, morfologie, bestuiwing, ekologie, habitat, blomtye en bewaringstatus van fynbosbolplante. Dit help lesers om nie net spesies te herken nie, maar ook te verstaan waarom hulle spesifiek by die fynbos aangepas is.
Die gids is wetenskaplik akkuraat sonder om te akademies te word – perfek vir die ernstige amateur, sowel as studente. Die risiko van so ’n veldgids is inderdaad dat dit in akademiese pedanterie kan vervaag, of dat elke blombeskrywing voel soos ’n les in botanie. Nee, die samestellers het net die noodsaaklike inligting, bondig saamgevat en vergesel van helder foto’s, gebruik.
Bulbs of the fynbos is ’n moet-hê vir enige iemand wat die Wes-Kaap se berge, vlaktes en kusgebiede verken. Dit vul Manning se vorige suksesse (byvoorbeeld Field guide to fynbos, Proteas of the fynbos, ensovoort) pragtig aan en beklemtoon weer waarom die Kaapse bolplante van die rykste en mooiste ter wêreld is.
Koop dit saam met jou stapstewels en ’n goeie kamera – jy sal nie spyt wees nie. Dit is ’n belangrike toevoeging tot die Suid-Afrikaanse botaniese literatuur en ’n viering van een van ons kosbaarste natuurerfenisse.
Lees ook:

