Heil die Leser! Om fyn te luister en lekker te lees

  • 0

Boekomslae: erkenning aan die uitgewers, onderskeidelik Turksvy Publikasies en LAPA; grafiese elemente verskyn onder die gratis lisensievoorwaardes van Canva: https://www.canva.com/policies/content-license-agreement/

  • Nini Bennett-Moll skryf gereelde boekrubrieke vir LitNet.

1

Titel: Lyfluister
Outeur: Gretha van der Merwe
Uitgewer: Turksvy Publikasies, 2026
ISBN: 978-1-0492-3262-1

Die skrywer Gretha van der Merwe is ’n leierskap- en lewensafrigter. Sy het ’n honneursgraad in Rekeningkunde, ’n meestersgraad in Sielkunde en het die Internasionale Federasie van Afrigters se hoogste vlak as meesterafrigter (MCC-ICF) verwerf. Sy werk saam met privaatkliënte en sakeleiers wat bereid is om ’n innerlike reis aan te pak, hul “heel self” te laat leef en meer harmonieuse verhoudings te ervaar. Haar korporatiewe kliënte sluit in die Verenigde Nasies en die Europese Unie. Haar navorsing is in verskeie vakwetenskaplike joernale gepubliseer. Sy bly in Kaapstad tussen die hange van Tafelberg en die see.

Lyfluister broei al vir 40 jaar in Gretha van der Merwe. Sedert haar kinderdae het sy dagboek gehou van dinge wat haar opval en wat voorlopers was van uitdagings soos depressie, teleurstellings en angswekkende toevalle wat aanvanklik verkeerdelik as epilepsie gediagnoseer is. Op bladsye 73 en 74 vertel sy van die konversiesteurnis en psigogene nie-epileptiese toevalle waarmee sy eindelik gediagnoseer is. Sy is deur skokterapie (elektrokonvulsiewe behandeling) en die ontnugterende ervaring van ’n staatshospitaal soos Stikland.

Totdat sy na haar lyf begin luister het.

Lyfluister is ’n ontdekkingstog deur die sielkunde, meditasie, joga, liefde vir die natuur, godsdiens en Oosterse filosofieë, met deurleefde wysheid en gedigte wat Van der Merwe aanhaal, vignette van ander, asook haar eie. Die boek bevat praktiese raad en oefeninge van ’n ervare lewensafrigter vir diegene wat nadink oor die lewe se grootste vrae: Wie is ek? Wat is die lewe? Wat is liefde? Wie is die Goddelike? Wat is my doel op aarde?

In hierdie boek deel sy haar reis – van spirituele ontwaking, van emosioneel volwasse word, van die taal van haar lyf wat sy moes leer vertrou – om nie net te oorleef nie, maar werklik te leef.

Dit is ’n projek wat die siel se roeping verken deur die verwonding van die lyf om só die lewe op ’n egte manier te beliggaam en met ’n liefdevolle hart te dien.

Die antwoorde op die eksistensiële vrae – wat uiteindelik ons almal se vrae word – ontvou mildelik, met ’n dieper inluister na die lyf. In die persverklaring vra die skrywer:

Wat is die lewe as dit nie broos is nie, as daar nie verbrokkeling is nie, as daar nie plek vir pyn of hartseer is nie? Wat is die mens sonder ’n lyf wat onseker tas, woorde wat oor mekaar val, gevoelens wat woel? Is dit nie juis die kaleidoskoop, die polariteit, die wisselwerking van kragte, die wrywing wat die skoonheid na vore bring nie? Wat die voetwerk van die liefde is nie?

Die boek se oorhoofse raamvertelling ontvou as ’n memoires, verdeel in agt hoofstukke. Onderaan elke hoofstuk is daar enkele vrae; agter in die boek is daar die aanhangsel met die “Lyfluisteroefeninge”, soos van toepassing op elke hoofstuk. Dis met ander woorde nie net ’n boeiende verhaal nie, maar ’n interaktiewe werkboek (ook), berei deur ’n wêreldklas-lewensafrigter. In elke hoofstuk val die klem op hoe om te luister: na jou lyf, na die stilte, die natuur, na God se stem ... Wat my getref het, is die magdom kennis en wysheid waaroor Van der Merwe beskik en wat sy mildelik deel binne die bestek van 281 bladsye. Dit sluit ook, naas akademiese verwysings, dinge in soos letterkunde, musiek en interessante anekdotes oor alles en nog wat.

Die memoires betrek die skrywer se geboorte in ’n trotse en vooraanstaande familie, met gepaardgaande prestasiedruk van kleins af; haar skooljare; studentejare; eerste kennismakings met depressie en angs; epileptiese toevalle (aanvanklik verkeerd gediagnoseer); skokterapie; haar eerste kêrel; oorsese reise; liefdesontgogeling; beroepskeuses wat nie uitwerk nie; nuwe studierigting; huwelik; egskeiding; kinderloosheid; oorsese werksaanbiedinge en so meer. Ek het selde ’n boek gelees waarin die skrywer só volgehoue bemoeienis met die sin van die lewe het – en nou verwys ek nie na filosowe nie – maar na Van der Merwe se vermoë om disparate brokkies kennis via assosiasie uit verskillende kennisvelde binne die konteks van haar vertelling te betrek en vernuftig deur die memoires te weef. En dit te doen in toeganklike taal. By tye verras sy met die mooiste metafore en ’n vloeiende, digterlike styl. Hierdie eksistensiële bemoeienis oor vier dekades reflekteer so: Om waarlik outentiek te leef beteken mens het nie ’n statiese identiteit nie, maar een wat voortdurend verander. Sy wys dan ook op die drie stappe van die transformasiesiklus wat gereeld herhaal, naamlik konneksie, integrasie en vernuwing.

Met Lyfluister plaas Van der Merwe haar volledig op die lesersaltaar: Dit is haar persoonlike reis na individuasie. Haar invalshoek is ’n holistiese een wat die liggaam, gees, siel, emosies en Westerse en Oosterse geloofsbenaderings en filosofieë integreer. Hiermee lewer Van der Merwe ’n memoires en selfhelpgids wat met ’n seldsame kombinasie van kwesbaarheid en intellektuele diepte die donkerste hoeke van die menslike psige verken. Die boek is nie bloot ’n persoonlike verhaal nie; dis ook ’n emosionele katarsis. Sy skryf met ’n eerlikheid wat soms ongemaklik is; juis dáárom het dit soveel krag. Die skrywer vermy die versoeking van kitsoplossings of goedkoop inspirasie. In stede daarvan vertel sy van haar eie struikelpad, wat lesers dwing om ook hul eie verhoudings met geloof, verlies en herstel te konfronteer. Die leser leer om waarlik na sy/haar liggaam te luister – en ek het dit fassinerend gevind en my eie notas gemaak oor die liggaam as kompas, argief, verraaier, raadgewer, toevlug ...

In ’n tyd waarin geestesgesondheid dikwels in kliniese terme bespreek word, herinner Gretha Van der Merwe ons dat lyding ook ’n narratief is – ’n storie wat gedeel moet word. Deur haar ervaring te verwoord, skep sy ruimte vir erkenning: Jy is nie alleen in jou Donker Nag van die Siel nie (aka St Johannes van die Kruis). Memoires soos hierdie een dien as brug tussen die persoonlike en die universele/kollektiewe. Dit normaliseer swaarkry en verlig die stigma verbonde aan psigiatriese steurnisse. Lyfluister is daarom soveel meer as net (nog) ’n “selfhelpboek”; dit is ’n bemoedigende metgesel vir enige iemand wat al in stilte geworstel het.

 

2

 

Titel: ’n Skuilplek vir Sofie (Romanza-spanning)
Outeur: Elsa Winckler
Uitgewer: LAPA, 2026
ISBN: 9-78-1-77987-147-3

Aanhangers van Elsa Winckler sal onthou dat Om Karolien te beskerm, Om Isla op te pas en Om Leah veilig te hou drie romanses uit Winckler se pen is wat spil rondom die Bosman Sekuriteite-reeks. As spin-off van Om Karolien te beskerm, werk die vertakkingselement uitstekend, want lesers kan hulself steeds verlustig in die subtiele verwysings na vroeëre karakters. Newekarakters word nou hoofkarakters en (vorige) hoofkarakters tree terug, maak kameevertonings en gee die newekarakters kans om volronde personasies te word.

Elsa Winckler is ’n bekende en geliefde skrywer en het meer as 60 liefdesverhale en romans die lig laat sien vir die plaaslike, sowel as die internasionale mark. Vier van haar boeke, naamlik Tussen jazz en rock (2009), Te eenders, te anders (2014), Liefde in laslap (2015) en Blameer die skoenlapper (2019) is met die ATKV-Woordveertjie bekroon. Haar romanses is ook verfrissend veelsydig en haar oeuvre oorspan Romanza-spanning-, Romanza-stoom- en Romanza-modern-verhale. Winckler het insgelyks twee kinderboeke en talle kortverhale agter haar naam.

Romanses as subgenre van prosa (liefdesverhale) is ontvlugtingsliteratuur en moet as sodanig getakseer word. Daar is mense wat dié subgenre beskuldig van resepmatigheid, maar dit is ironies dat dié beskouing nie van toepassing is op ander literêre of skrywerstemplate nie, terwyl resepmatigheid oor ’n wye front in die letterkunde voorkom. Uiteindelik is daar net twee tipes verhale, om Chris Barnard aan te haal: goed geskrewe of swak geskrewe verhale. En Winckler se verhaal is ’n goed geskrewe een.

Die romanse beklee ’n belangrike plek binne die populêre leeskultuur en boei miljoene lesers, oorwegend vroue, wêreldwyd. Die volgehoue gewildheid van hierdie genre bevestig die vermoë daarvan om fundamentele menslike begeertes na liefde, romantiese verhoudings, emosionele vervulling en ontvlugting te bevredig.

Die romanse dien ook as ’n kragtige en moderne medium om temas van vroulike selfbeskikking en bemagtiging te ondersoek. Waar vroeëre liefdesverhale tradisionele geslagsrolle bevestig het, beeld kontemporêre romanses al hoe meer sterk, onafhanklike, vroulike hoofkarakters uit wat aktief hul eie lot in die lewe navigeer. Hierdie karakters tree selfgeldend op in komplekse verhoudings, hulle streef hul ambisies na en daag sosiale verwagtinge uit, gevolglik kan hulle vir hul lesers as inspirerende rolmodelle voorgehou word. Voorts bied die genre ’n veilige ruimte waarbinne lesers hul eie emosies kan verken. Die klem op emosionele verhoudings, liefde en kwesbaarheid laat lesers toe om op ’n persoonlike vlak met karakters te identifiseer en hul vreugdes en hartseer indirek te beleef. Hierdie emosionele katarsis kan besonder terapeuties wees en bied aan lesers ’n gevoel van begrip en aanvaarding. In kort: Romanses vier vroulike agentskap wat ’n goedvoel-reaksie by die lesers daarvan veroorsaak en stres op ’n natuurlike manier verlig. Voorin elke Romanza neem die leser onder die hofie “Het jy geweet?” kennis van die unieke sielkundige voordele wat die lees van romanses aan lesers bied – en as sulks, die eiesoortige plek wat hierdie verhale in die globale literêre landskap inneem.

Kolonel Jordaan Wessels word gekonfronteer met Denitsa Bantikov wat die dwelm- en steroïedesindikate in die Kaap oorneem. Nagklubeienaars word ook gedwing om van korrupte sekuriteitsmaatskappye gebruik te maak wat by hierdie aktiwiteite betrokke is.

Jordaan se kollega by Bosman Sekuriteite Sofie Olivier is ’n tawwe koekie, en soos hy, baie goed opgelei. Maar tydens ’n skermutseling met die skurke skop Jordaan se beskermingsdrang teenoor Sofie in en vat hy ’n koeël vir haar – en word in die skouer gewond. Of voel hy meer vir haar as wat hy wil erken? Hy wil tog nie ernstig betrokke raak by ’n vrou nie ...

Van Jordaan wil Sofie niks weet nie. Sy gaan bedags werk toe met ’n stywe bolla, sonder grimering en met dungarees. Bowendien het Jordaan ’n reputasie as ’n player.

Winckler se helde is warmbloedige, manlike – sou ek sê: macho? – mans. Ja. Genugtig. Met wokeness weet mens nie meer wat gee wie aanstoot nie. Die manlike protagoniste is soos ouwêreldse kavaliers: goeie bakleiers, waaksaam, hiperbeskermend teenoor kinders en vroue, dapper en met hulle libido skort daar niks. Dodelik aantreklik ook. En – hulle het waardering vir ’n mooi vrou in die omtrek.

Tydens ’n operasie om die skelms vas te trek en hulself te beveilig, moet Jordaan en Sofie saam in ’n woonstel bly; hulle maak of hulle verloof is. In dié tyd begin hulle te wonder of hulle emosies jeens mekaar nie “eg” is nie. Tog blyk dit die teendeel te wees.

Sofie se beskermende broers, albei dokters, lees vir hom die leviete voor om nie met haar te mors nie. En net toe dinge lyk of dit wil vlot tussen die twee, toe boemerang dit met ’n seksistiese ding wat Jordaan kwansuis gesê het – maar neerkom op ’n misverstand, naamlik dat hy ’n skuilplek vir Sofie wil wees.

Die romanse bestaan uit die primêre liefdesverhaal, en as subteks, die spanningsverhaal waarin Bosman Sekuriteite met die skelms gemoeid is en blootgestel is aan misdaad en gevaar. Bosman Sekuriteite is immers ’n hoëprofiel-sekuriteitsmaatskappy wat wêreldwyd werk doen en ook skakel met die FBI.

Die aksiebelaaide tonele beweeg vinnig en filmies en soos in ’n Hollywood-film loop die twee protagoniste se verhoogde adrenalien en erotiek hand aan hand (byvoorbeeld bladsy 98).

Ongelukkig is die subteks te passé, te voorspelbaar en lewer dit geen verrassing op nie. Die leser kan dadelik raai wie die skurke in Jordaan se binnekring is.

Maar dis nie werklik ’n verlies nie: Dis allereers ’n liefdesverhaal, en werklik ’n aangrypende verhaal in sy menslikheid, sy misverstande en onverbloemde kwesbaarheid wat die leser sal geniet – en sal onthou. As dit by Romanzas kom, is Elsa Winckler ’n betroubare handelsmerk, soos dié lekkerlees-verhaal weer eens bewys. Mag daar nóg titels onder die vaandel van Bosman Sekuriteite verskyn!

Lees ook:

Heil die Leser!: Hannes Visser in die kollig

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top