Heil die Leser!: Hannes Visser in die kollig

  • 0

 

tussen asem
Hannes Visser
Naledi
ISBN: 9781997476238

Toestemmings is vir alle kopieregdraende werke in hierdie rubriek verkry.

  • Nini Bennett skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.

Die foto van Hannes Visser is verskaf en verskyn met toestemming

Die prysbetuigings stroom in vir die digter Hannes Visser se tweede digbundel tussen asem. Ek het die voorreg gehad om ’n onderhoud met hom te voer – en tekenend van die warmte en menslikheid wat in sy oeuvre te bespeur is, het hy my verras met dié heerlike en gulhartige terugvoer. Elders spot Hannes tereg dat hy skryf tot sy storie klaar is ...

Nini Bennett-Moll:

Hannes, baie dankie dat jy ingestem het tot ’n onderhoud. Vertel ons asseblief meer van die mens agter die boek tussen asem, ’n opspraakwekkende nuwe digbundel van jou wat onlangs by Naledi verskyn het. Die bundel kry goeie resensies. Maar wie is Hannes, die mens: sy agtergrond, loopbaan of enige ander interessante inligting?

Hannes Visser:

Dankie, Nini. Net ’n waarskuwing: Ek is soos daai Duracell Bunny – as iemand my aanskakel, hou ek nie op met praat nie. Ek is in Roodepoort gebore in ’n tweeslaapkamerhuis met ’n buitetoilet waar alkohol ’n permanente loseerder was. Ek het ’n broer wat sewe jaar ouer is en wat soos ek redelik ongeskonde anderkant uitgekom het. My pa is dood op 42 toe ek 10 was. My ma is weer getroud met nog ’n drinker en die kring het sy loop geneem. Ek het ’n onderwysbeurs gekry – net die hemel sal weet hoe, want ek was nie lief vir skool nie; net vir lees.

Na 10 jaar in die onderwys het ek in 1992 bedank as skoolhoof van ’n klein skooltjie in die Vrystaat nadat kollegas by ander skole my skool by alle sportgeleenthede verbied het, omdat ek in 1992 gedurf het om ’n bruin seuntjie by my skool in te skryf. Ek dink ons was omtrent die eerste model C-skool in die Vrystaat wat ’n eie toelatingsbeleid kon bepaal. Ek was verstom dat grootmense en geleerde mense en leiers in die omliggende dorpe bedreig gevoel het deur ’n bruin seuntjie in standerd 2. Ek is deur die beheerraad versoek om die ouers in kennis te stel dat die seun nie langer in die skool kan bly nie. Ek het toe gesê hulle moet maar self die taak verrig en bedank. (Ek het geleer dat beginselbesluite selde finansieel voordelig is, maar as ek vandag moes, sou ek dieselfde gedoen het.)

Ek en my gesin, Manda en ons twee voorskoolse kinders Tanya en Anton, het na George verhuis waar ek vir 10 jaar uit kuns en interessante werke ’n inkomste probeer verdien het. Ons het ’n kunsgalery en prentraamwinkel gehad. Ek was bestuurder by KFC, eiendomsagent, versekeringsagent en selfs die direkteur van ’n nuwe maatskappy wat in 2000 gevou het nadat my vennoot en die sekretaresse ’n onweerstaanbare aantrekkingskrag vir mekaar ontwikkel het.

In 2002 het ek ’n onderwyspos in Pacaltsdorp gekry. Na vier jaar se kunsonderrig is ek in 2006 net buite George by ’n landelike skool as skoolhoof aangestel. In 2011 het ek finaal besluit ek hou regtig nie van skole nie en het toe ’n aanbod aanvaar as redakteur by Oudtshoorn Courant waar ek tot 2021 was. Ek is steeds by die koerant op vryskutbasis betrokke.

Ek het Turksvy Publikasies in 2020 gestig om skrywers ’n platform te bied om hulle eie werk professioneel uit te gee. Ek het my aandeel in 2023 aan my vennoot Marlene Malan oorgedra. Ek het daarna Kersligmedia begin as fasiliteringsdiens vir skrywers wat hulle eie werk publiseer – basies dieselfde konsep as wat ek destyds met Turksvy beoog het.

Tussen al my omswerwinge en avonture het ek ter oorlewing altyd geskryf en kuns geskep. Aanvanklik kortverhale en later gedigte. As kind was boeke vir my, om die cliché te gebruik, ’n manier van ontvlugting uit die tweeslaapkamerhuis en disfunksionele gesin. As grootmens het ek gevind dat skryfwerk steeds dieselfde doel dien – maar hierdie keer nie om te ontsnap nie. Ek het ’n wonderlik geduldige vrou en skryf het vir my noodsaaklik geword om te reflekteer, om vrede te maak, om te verken en om Afrikaans te gebruik. Met my eerste digbundel Die jaar toe Pa ... het ek my kinderdae – my agtergrond – vir mense oopgevlek en wonderlike terugvoer gekry van mense wat om een of ander rede sukkel om te aanvaar wie hulle is. Dit was goeie terapie. Ek sukkel steeds om te verstaan waarom mense dikwels hulle herkoms probeer versteek – elkeen van ons is mos hier as gevolg van ons ouers, nie omdat ons voor geboorte kon besluit het waar ons wil grootword nie.

Hannes en Manda (foto verskaf en verskyn met toestemming)

NB-M:

Wie of wat was die inspirasie vir tussen asem?

HV:

Ek het heeltyd geweet ek wil graag nog ’n digbundel publiseer, maar die resep van Die jaar toe Pa ... is mos klaar gebruik. Die vrees was dat ek nie daarin sou kon slaag om ’n bundel saam te stel wat getrou aan myself sou wees en ook gunstig ontvang sou word nie; dit het my gepootjie. Ek het gedigte wat ek geskryf het, op ’n manier georden. My deelname aan kompetisies, Versindaba en die Avbob Poetry Project het gesorg vir gereelde gedigte. Op ’n stadium was ek selfs betrokke by ’n kompetisie wat deur die berugte Louis Liebenberg bedryf was met ’n enorme prysgeld. Daardie jaar het ek en wyle Johan Jack Smith mekaar min of meer aan die bopunt van die weeklikse keurings bevind. Ons het gereeld gespot oor wat ons met die prysgeld sou maak, want ons was seker (en nie sonder rede nie) dat ons eerste en tweede plek sou inpalm. Toe begin Louis se streke op die lappe kom en ek en van die ander digters en beoordelaars het onttrek.

Met ’n hoop gedigte in die spreekwoordelike laai, het ek nie ’n idee gehad van ’n tema vir ’n volgende bundel nie. Die kunstenaar Lourens Oosthuizen was ’n goeie vriend van my. Ons vriendskap het hy beskryf as een van wisselende intensiteit, omdat hy ’n swerwer was en nie altyd maklik opspoorbaar nie. Oor die bestek van bykans 30 jaar het ons mekaar op die vreemdste plekke raakgeloop en dan eenvoudig ons gesprek wat dalk twee of drie jaar tevore gevoer is, weer voortgesit. Enkele dae voor sy dood het hy vir my ’n stemboodskap gestuur wat ek, tot my spyt, nie behou het nie, maar wel duidelik onthou. Hy was so siek dat hy skaars kon praat, maar in die kort boodskap het hy gesê: “Hannes, ek wil dankie sê vir ons vriendskap van wisselende intensiteit. Jy is ’n besonderse mens. Dan wil ek jou groet, want die begin van my heel eerste asem was onafwendbaar die begin van hierdie, my heel laaste asem.” Hy is ’n paar dae later oorlede.

Die aand nadat sy dogter my gebel het om te laat weet, het ek die gedig “Laaste asem” vir hom geskryf en toe het ek ook die tema van ’n moontlike digbundel gekry – Die reis tussen twee asems, wat toe verander het na tussen asem.

Ek het deur die dosyne gedigte wat ek gehad het, begin grou en uiteindelik omtrent 50 gekies wat ek oor ’n tydperk van meer as twee jaar weer herwerk het. Na keuring en redigering het 45 oorgebly.

NB-M:

Tussen asem is jou tweede digbundel. Jou debuut was die wydgeloofde Die jaar toe Pa ... wat in 2019 verskyn het. Hoe het die goeie resepsie van jou debuut – wat met ’n groot lesersgehoor geresoneer het – jou beïnvloed met die skryf van tussen asem? Het dit jou aangespoor, of was jy meer senuweeagtig met die skryf van jou tweede? Vertel ons gerus meer.

Foto verskaf en verskyn met toestemming: Hannes en Frieda van den Heever tydens ’n Vers & Klank-produksie: Die jaar toe Pa ...

HV:

Ek het hieraan geraak in die vorige antwoord, maar ek was regtig huiwerig met ’n tweede bundel. Ek het geweet Die jaar toe Pa ... het groot byval gevind, goed verkoop en goeie resensies ontlok, omdat dit in die eerste plek kinderlik eerlik was. Dit was gestroop en dit het eintlik soos ’n vreemde kortverhaal my storie vertel. Die bundel het spontaan ontstaan nadat die sentrale gedig oor die aand van my pa se dood die eerste prys in ’n kompetisie gewen het. Ek het nog gedigte oor daardie tyd geskryf en vir Nuwe stemme 6 voorgelê. Die opname van daardie gedigte het my aangespoor om nog te skryf en stelselmatig het die stories uit die jare rondom 1967 by my aangemeld.

Daniel Hugo het van die gedigte gesien en my aangemoedig om nog te skryf – so het Die jaar toe pa ... ontstaan.

Vir ’n tweede digbundel kon ek nie lesers weer verveel met my eie stories nie, maar hoe harder ek probeer het om weg te kom van myself, hoe meer het my eie ervaring kom aanklop. Ek kon toe daarin slaag om buiten ’n klomp outobiografiese gedigte ook gedigte te skryf van dinge wat ek waargeneem het, wat nie noodwendig my eie ervarings reflekteer nie.

Toe my vrou die manuskrip lees – sy is altyd my heel eerste leser – het sy opgemerk dat sy vier keer in die bundel doodgaan, want daar is vier gedigte in die eerstepersoon oor die verlies aan ’n lewensmaat. Dis ’n klinkklare bewys dat al die gedigte nie oor my handel nie, want dis nog 46 jaar later dieselfde liefde.

Ek het my gedigte in drie afdelings georden wat die reis tussen die twee asems uitbeeld: eerste asem, asemhaal, tweede asem. Toe het ek diep asemgehaal, die manuskrip ingestuur, asem opgehou vir die redigeringsproses en toe sonder asem gesit en wag vir die eerste resensie. Nou haal ek weer asem.

Hannes en Petronel Baard waar sy die gedig “asemhaal” sing. Foto is verskaf en verskyn met toestemming.

NB-M:

Die omslagkuns van die bundel is deur Lourens Oosthuizen gedoen en toon ’n groep mense wat wag, waarskynlik op ’n dorp by ’n plek soos ’n bushalte. Die anomie en vervreemding tussen die mense is duidelik sigbaar. Daar is twee figure wat opval: ’n man in somersklere met ’n pyp (al die ander het wintersklere aan) en ’n figuur met ’n bladspieëllyf – een van jou gedigte. Dis ’n besonder mooi en treffende ontwerp. Wel, dis bloot my vertolking; dis egter oop vir interpretasie. Vertel ons asseblief meer.

HV:

Die omslagkuns is ’n skildery van Lourens Oosthuizen en beeld mense by die Grahamstadfees uit waar hy elke jaar op die sypaadjie gaan sit het en portretstudies gemaak het. Die hooffiguur met die kortbroek is Ben Dekker. Toe ek Lourens ’n aantal jare gelede op Prins Albert raakloop, het hy dié skildery vir my gegee. Hy het verskoning gevra dat hy die skildery se maatjie ongelukkig verkoop het, en dit eerder vir my sou wou gee. Daardie een het my by die fees uitgebeeld. Hoekom hy my en Ben Dekker op twee skilderye ingevoeg het, weet ek nie, maar hierdie skildery het vir my groot betekenis – al het ek Ben Dekker net een keer vlugtig ontmoet.

Ek het die omslagontwerpers gevra om die figuur uit sny en te vervang met die woorde van die gedig “Laaste asem”, wat ek vir Lourens geskryf het. Die skildery met Ben daarin is op die agterblad van die bundel.

Ek het nog ’n skildery van Lourens – ’n dikwielfiets wat teen ’n sypaadjie in Prins Albert staan. Sy kinders het dit aan my geskenk na sy dood. Die aanvanklike gedagte was om daardie skildery vir die voorblad te gebruik, want dit dui op die tema van reis en die fiets is ook in die slotreël van Lourens se gedig:

en toe jou dogter my vanoggend laat weet, was ek saam met haar bly
jy het jou dikwiel opgesaal en in ’n nuwe skildery van hier af weggery
Met die verandering van die titel, het ek egter besef die tema is asem eerder as reis.

Hannes se studeerkamer met Lourens Oosthuizen se skildery tussen asem. Foto is verskaf en verskyn met toestemming.

NB-M:

Op watter ouderdom het jy begin skryf? Was daar mentors langs die pad? Watse pryse en toekennings het jy vir jou skryfwerk ontvang?

HV:

Ek was nie lief vir skoolwerk nie – ek het so min moontlik in alle vakke gedoen, behalwe Afrikaans en Engels. Opstelle, gedigte en voorgeskrewe werke was my gunsteling. Ek het my glad nie aan onderwysers se voorskrifte van “skryf ’n opstel van twee bladsye” gesteur nie. Ek het geskryf tot my storie klaar was, en gewoonlik het die onderwyser na bladsy twee bloot ’n streep getrek en gesê: Ek merk net tot hier. Ek het in standerd ses ’n klein transistorradio by die skool gewen vir ’n skryfkompetisie. Dit was een van net twee pryse op skool ooit. Die tweede was ’n boekprys, Van jagter tot wildliefhebber, wat ek in standerd 7 gewen het vir uitstekende vordering. Ek het twee kwartale totaal gedop, die derde een net-net deurgeskuur en toe met die eindeksamen ’n A vir Afrikaans en Engels gekry.

Ek het my heel eerste kortverhaal iewers rondom 1982 vir Keur ingestuur. As ek reg onthou, was François Bloemhof die verhaleredakteur. Hy het gesê ek skryf uitstekend, maar my tema is nie vir dié tydskrif nie. Ek dink dit was ’n vreeslike tragiese verhaal van ’n boer in die dorre Karoo wat homself tussen sy dooie skape skiet. Ek het nooit weer iets vir ’n tydskrif gestuur nie, want ek kan om die dood nie liefdesverhale skryf nie.

Ek het gereeld vir kompetisies van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging ingeskryf. Daar het ek oor die bestek van omtrent agt jaar eerste, tweede en derde prys vir kortverhale ontvang. Die kortverhaal waarvoor ek eerste prys ontvang het, was die basis van my misdaadroman Voorblad, wat in 2023 verskyn het.

Ek het ook eerste plek ontvang vir twee gedigte waarvan een aangewys is as die vereniging se beste skryfsel van die jaar. Een van my gedigte het derde plek in die Avbob-poësiekompetisie gekry. Daar is nie enige toekennings wat as ’n bekroning sal kwalifiseer nie.

Ek het aan die begin nie mentors gehad nie. Ek het maar net soveel moontlik probeer lees en waar ek die geleentheid gekry het, het ek skrywers se aanbiedinge bygewoon.

Die een persoon wat vir my van onskatbare waarde was, was Annelie Botes. Ek het haar in Oudtshoorn by haar broer Coen Basson se huis ontmoet en om een of ander rede het ons groot aanklank gevind en sy het haar oor my ontferm. Ek het die voorreg gehad om saam met my vrou twee keer by haar en Chris te gaan kuier waar sy my onder hande geneem het en touwys gemaak het. Sy was reguit, brutaal eerlik en het vir langer as twee jaar glad nie met my gepraat nadat ek Turksvy Publikasies begin het nie. Sy het haar redes gehad, maar sy het my na twee jaar een aand laat per stemboodskap laat weet dat sy my integriteit nie moes betwyfel het nie en my ’n onreg aangedoen het. Die eerlikheid en opregtheid van daardie boodskap het my onbedaarlik aan die huil gesit, maar ek het toe opnuut besef: Skrywers moet eerlik wees en Annelie was altyd eerlik – dikwels tot haar eie nadeel. Sy het lank aan my gekarring om Die jaar toe Pa ... eerder as ’n roman te skryf. Daar is waarskynlik honderde skrywers in wie se skryfwerk sy ’n groot aandeel gehad het.

NB-M:

Watter skrywers en digters se werk lees jy en waarom?

HV:

Ek moet erken dat ek die afgelope vier of vyf jaar hopeloos te min vir ontspanning lees. Ek is pal besig met ander mense se manuskripte of met my eie skryfwerk. Ek het nie spesifieke skrywers en digters nie – ek lees wat my boei, ongeag die tema of die skrywer. Ek is tot ’n groot mate aandagafleibaar en my gunstelingboeke is dié wat nie dikker as wysvingerdikte is nie. Of kortverhaalbundels. Dik boeke is ’n reuse-uitdaging – dalk omdat ek reeds in standerd 8 Papillon deur Henri Charrière en die verbande weergawe van When the lion feeds van Wilbur Smith gelees het. Dit was nie dun boeke nie. Boeke wat my bybly, is byvoorbeeld Ek wens, ek wens van Zirk van den Berg en Die buitekant van Meneer Jules wat deur Christine Barkhuizen le Roux vertaal is. Dan ook Mister God, this is Anna deur Fynn (Sydney Hopkins), The boy in the striped pyjamas deur John Boyne en The curious incident of the dog in the night-time deur Mark Haddon.

Wat digkuns aanbetref, het ek bykans 200 digbundels, maar ek sukkel werklik met akademiese gedigte en lang gedigte. Ek kom telkens terug na gedigte van enkele digters wat die kuns vervolmaak het om met min woorde en met die spasies tussen woorde verhale te vertel. Digters soos Daniel Hugo, Gert Vlok Nel, Gisela Ullyatt en Johan Jack Smith (dit is ’n tragedie dat sy bundel nooit gepubliseer is nie), om net enkeles te noem.

NB-M:

Het jy enige stokperdjies? Wat doen jy in jou vrye tyd en het dit ’n invloed op jou skryfwerk?

HV:

Ek het te veel. Ek werk graag met my hande om iets nuuts te skep – nie om goed te herstel nie (’n kar of ’n masjien waaraan ek karring sal nooit weer loop nie). Ek skilder graag, restoureer meubels, doen houtwerk, skep mosaïek in ons tuin, versamel kuns en luister musiek.

Het my stokperdjies ’n invloed op my skryfwerk? Nie direk nie, maar musiek en kunswerke het wel. Ek en my vrou versamel reeds jare lank kunswerke (klein en bekostigbaar). Buiten ongeveer 30 stukke wat ongeraam in ’n kas lê, hang en staan daar omtrent 120 in die huis se ses vertrekke. Ek sal nie kan skryf as ek in ’n vertrek met karig-geklede mure moet sit nie. Daar moet kuns om my wees en daar moet rakke vol boeke en agtergrondmusiek wees. Verkieslik rustige musiek met lirieke wat stories vertel – al raak ek heeltemal onbewus van die musiek na ’n rukkie.

Vir ontvlugting en alleentyd ry ek motorfiets. Ek het my eerste motorfiets in my eerste studentejaar gekoop. Dit was ’n 150 Vespa scooter wat R150 gekos het. Sedertdien het ek agt motorfietse gehad en ry nou ’n 1100 BMW wat 30 jaar oud is.

Mosaïek in Hannes se tuin. Foto is verskaf en verskyn met toestemming.

NB-M:

Vertel ons lesers asseblief ’n geheim omtrent jouself. Wel, na dese sal dit ’n oop geheim wees.

HV:

Ek eet die meeste van my kos afsonderlik. As ek ’n hamburger kry, dissekteer ek hom. Ek eet eers die tamatie en slaaiblare, dan die broodjie met kaas of eier as daar is, dan die vleis. Met spaghetti bolognaise het ek die kuns vervolmaak om al die spaghetti onder die maalvleis uit te eet en die maalvleis laaste. Kerrie en rys is ietwat van ’n uitdaging, maar ek kry dit tog reg om die rys eerste te eet. Ek is gek oor pap en sous saam met braaivleis. Ek eet die braaivleis eerste – vleissoort vir vleissoort – en dan die pap met sous vir poeding.

Met ’n bord gekookte kos is die volgorde gewoonlik groentes eerste – elkeen op sy eie, dan die rys en dan die vleis. Selfs in bredies bly die groente eerste in die slag en die vleis wag. Dit beteken natuurlik dat ek selde vuurwarm vleis eet, maar dis oukei. Met wegneemetes en Spur is dit altyd eerste die skyfies, dan die res. Die uitsondering is sop – dis nogal moeilik om daar die bestanddele te skei.

NB-M:

Wat maak jou kwaad?

HV:

Mense wat nie respek het vir ander nie en nie hul woord hou nie. As ek terugdink, was ons grootste terugslae waarskynlik as gevolg van my goedgelowigheid. Mense beskou iemand wat almal vertrou as swak en buit dit uit. Dit het my bykans 70 jaar geneem om op ’n punt te kom waar ek vir iemand sal sê: Jou moer, jy lieg en ek vertrou jou nie.

NB-M: 

Hierdie pragtige huldeblyk aan Gisela Ullyatt is werklik ontroerend. Vertel ons meer van die gedig – en jou verbintenis met Gisela en haar bundel Die waarheid oor duiwe (2020). 

Gisela Ullyatt (1977–2020)

anders as ander bundels wat na ’n week of twee op
’n rak beland, het jou waarheid oor duiwe op my bedkas
nesgemaak en val na maande se lees met elke optelslag
op bladsy agt en twintig oop by die onbekende siekte wat
jou in jóú woorde met skellende ramshorings omsingel

vanoggend het jou pyn gewyk en die geskal om jou is stil
maar op elke blad en in elke eulogie oor jou is jou duiwe
vry en oral in ons lewens kleef die reste van hul neste
as eerbetoon aan jou en ons kan elkeen bloot net hoop
dat ons net soos jy tot aan die einde vervuld kan bly

(57)

HV:

Ek het Gisela by die Prins Albert Leesfees ontmoet. Ek dink sy was toe reeds siek, maar het glad nie daaroor gepraat nie. Haar opregtheid en manier van omgaan met mense het my geraak. Sy was beskeie, maar uiters kundig. Ek het haar nie goed leer ken nie, maar soms ontmoet mens iemand wat onmiddellik ’n blywende indruk laat. Ek het haar mededelings oor haar gesondheidstryd en die ontwikkeling van haar bundel gevolg. Sy het haar lotsbestemming byna gelate aanvaar, nooit bitter of wanhopig geklink nie. Sy het my geluk gewens met my bundel (die eerste uitgawe by Naledi met die skooltassie op die voorblad) en gesê dit het haar aangeraak. Sy het vir my ’n eksemplaar van haar bundel gestuur met dié boodskap daarin: “Liewe Hannes, mag jou duiwe net aanhou vlieg & nuwes losgelaat word. Mag die skatte uit daardie skoolkoffertjie net aanhou verskyn. Seëninge & lig. Gisela 10/06/2020.”

Sy is twee maande later oorlede. Die bundel het vir maande op my bedkassie gelê en ek het dit gereeld gelees. Haar gedig op bladsy 28 waarna ek in my gedig verwys, is getiteld “jy omsingel my”.

Daar praat sy met die siekte, wat op daardie stadium nog nie presies gediagnoseer was nie, maar vermoedelik leukemie was. Sy baklei nie met die siekte nie; sy vertel hom net hoe sy hom ervaar en dan sluit sy af met ’n eenreëlvers: “jy het my by my naam geroep” en ek wonder dikwels of sy in daardie reël steeds met die siekte praat of dalk met God.

(Ek het die gedig aanvanklik vir die Avbob-poësiekompetisie voorgelê, maar dit is afgekeur. Dit is vir my ’n herinnering daaraan dat alle gedigte nie by almal byval vind nie.) 

NB-M:

Met watter gedig(te) in tussen asem het jy die meeste kleigetrap – en watter was die maklikste of lekkerste om te skryf?

HV: 

Dié waarmee ek die meeste geworstel het, was dié wat ek moes “uitdink”. Gedigte soos “Noodgeval”, “Inperking”, “Inventaris” en “Diefstal”. Ek het hulle herskryf en herskryf en elkeen het weke geneem voordat ek tevrede was.

Die “lekkerste” gedigte was die limerieke; ek het ’n hele spul geskryf en vier vir die bundel gekies. “Ontwaking I” was ook pret om te skryf, want ek kan nog steeds Koekie se kurwes onthou. Die maklikste gedig, wat ook emosioneel die moeilikste was, was “Laaste asem”. Toe Lourens my sy laaste boodskap gestuur het, het ek reeds geweet ek wil ons storie in ’n gedig skryf. Alles was reeds in my kop – ek moes dit net orden. 

NB-M:

Haal asseblief vir ons jóú gunstelinggedig in jou nuwe bundel aan. 

HV:

My gunstelinggedig is “Die buitekant”.* Nie omdat ek dink dit is ’n besonder goeie gedig nie, maar omdat ek dikwels wonder of ons werklik bestaan en of ons eintlik maar net deel is van een of ander kosmiese spel waar iemand ons nou en dan laat dink ons is in beheer, maar eintlik is ons leeg. 

Die buitekant

ek het ’n boek gelees oor die
buitekant van meneer Jules
wat dood op die rusbank sit waar
hy besig was om koerant te lees
sy vrou vertel niemand want sy het
nog te veel om hom mee te deel

soms om tienuur kom die buurvrou
se seun om ’n potjie skaak te speel
met die buitekant van meneer Jules
hy weet die binnekant is lankal weg
en net hy en die vrou weet daarvan
en soms laat hy die dooie man wen

snags skrik ek wakker en wonder of
ons almal dalk ook net buitekante is
met binnekante wat lankal weg is
en iemand kom elke dag vir ’n spel
en laat ons dan en wan ’n potjie wen
sodat ons kan aanhou met asemhaal

* Die buitekant van Meneer Jules deur Diane Broeckhoven. Vertaal deur Christine Barkhuizen le Roux (Naledi, 2015) 

NB-M:

Is jy tans besig met ’n nuwe bundel of verhaal? Waarna kan ons lesers volgende uitsien uit die pen van Hannes Visser?

HV: 

Ek is besig met drie skryfprojekte en my vrou dreig my daagliks dat ek moet klaarkry.

Die een is ’n opvolg op Voorblad, wat ontstaan het, omdat lesers gevra het hulle wil meer van die interessante karakters in Voorblad lees. Ek is ongeveer halfpad daarmee. Die voorlopige titel is Engel van die sagte dood. Die een karakter in die boek is die mitiese (of werklike) Akkabadora, wat in vorige eeue genadedood in Sardinië toegepas het. Ek verwys na haar in die gedig “Versoek” in my bundel.

Die ander boek waaraan ek eintlik lank voor Engel van die sagte dood begin werk het, is iets heel anders. Alhoewel die voorlopige titel Die man oorkant die vrou wat haar man vermoor het na misdaadfiksie klink, is dit alles behalwe ’n misdaadroman. Hy is nog in die beplanningstadium.

Dan is ek besig om te kou aan ’n konsep vir ’n derde digbundel. My eerste bundel was outobiografies; die tweede een was semi-outobiografies. In hierdie een wil ek graag die toeskouer wees wat ander se stories vertel. Die aanvanklike idee is dat ek dit rondom bestaande foto’s wil doen, waar ek vir elke foto ’n storie en karakter skep. Maar hier maak ek geen beloftes nie. 

Baie dankie vir ’n prikkelende onderhoud, Hannes!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top