
- Nini Bennett-Moll skryf gereelde boekrubrieke vir LitNet.
Daar het die afgelope tyd heelwat lekker boeke verskyn, en dit was moeilik om ’n keuse vir Heil die Leser! te maak. Tog het ek besluit op ’n boekpaljas van die volgende drie, uiteenlopende boeke.
1
Titel: ’n Skatkis vol drome
Outeur: Corné van Rooyen
Uitgewer: LAPA, 2026
Corné van Rooyen is in Pretoria gebore en het later grootgeword in Paulpietersburg. Sy was nog altyd baie lief vir lees en het van jongs af stories geskryf wat sy haar susters máák lees het. Corné wou ook graag ’n skrywer wees en het gedroom van die dag wanneer sy haar naam op boeke in boekwinkels sou sien. Sedert 2020 het daar reeds nege romanses uit haar pen verskyn, insluitend Vryval na die liefde, As die sterre kon praat en As die lentebloeisels bot.
Mensehandel as misdryf is so oud soos die mensdom self. In ’n Skatkis vol drome ontgin Van Rooyen hierdie tema as hooftema.
Alhoewel sy min historiese inkleding aan haar verhaal verskaf en die teks die leser selfs as “modern” mag tref, lei mens uit die omslagontwerp, “Romanza histories”, woorde soos “Mijnheer” en koetse af dat die storie uitspeel tydens die Nederlandse bewind aan die Kaap.
Die dronklap en dobbelaar Thom van der Vliet het dobbelskuld en probeer sy dogter in ’n taverne verkoop aan die misdadiger Joran Snijder. Harriët se droom om kleremaakster te word en haarself te onderhou, lê aan skerwe. Haar eie ma het die geld, waarvoor sy so hard gewerk het, gesteel om vir haar man Thom te gee. Thom glo kennelik dat sy dogters vir hom moet sorg. Sy vrou, Anna, kies sy kant en Harriët is magteloos.
Die aand in die taverne toe Thom vir Harriët wou verkoop, tree die ryk alleenloper Jurgens Hendrikssen vir haar in die bresse en betaal Thom se dobbelskuld. Met dié daad is Harriët vry, dog nou onder Jurgens se beskerming. Maar Thom se skelm meelopers bly op Harriët se spoor en sy stem in tot ’n huwelik met Jurgens om haar veiligheid te waarborg.
Die verhaal is bevolk met goedgeaarde karakters soos tant Anna en oom Hans, en die hawelose en gebroke kinders wat hierdie egpaar onder hul vlerk neem – Harriët was immers ook een.
Jurgens help haar om haar droom as keremaakster op die been te kry, maar Thom is nog lank nie klaar met sy streke nie. Gerugte doen die ronde dat Eenoog-Lars, die seerower, op pad is. Om dinge te vererger begin Jurgens (en nou ook Harriët) se gemene huishoudster, Merel, om Harriët dop te hou. Wat sou hulle in die mou voer? En Imke van der Horst, Jurgens se vorige meisie ...? Watse rol speel sy nog in sy lewe? Ná hul huwelik slaap Harriët en Jurgens in een bed met ’n kussingversperring tussen hulle. Wanneer gaan hulle uiteindelik hul liefde aan mekaar verklaar – indien ooit?
Harriët raak verveeld met die rykmanslewe en teepartytjies (al is haar skoonma ook hóé goed vir haar); sy droom om haar eie ding te doen – die rykes dra immers haar ontwerpe. ’n Kleremaakster met haar eie besigheid in die 17de of 18de eeu was nie ’n algemene gesig nie – vroue het aan mans “behoort” – óf hulle vaders, óf hulle gades – wat hulle ook finansieel versorg het. Maar daar wag ’n paar intriges voordat … Nee wag, laat ek nie die storie verklap nie.
Hierdie romanse is heerlike ontvlugting, tog raak dit belangrike temas oor die bemagtiging van vroue aan, soos dit die geval met hedendaagse romanses is.
Tydens die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie se bewind aan die Kaap was mensehandel en seksuele uitbuiting ingebed in die koloniale ekonomie en sosiale struktuur.
Prostitusie in die Kaap was endemies van vroeg af, deels gedryf deur die vlootverkeer, die invoer van slawe, en die tekort aan Europese vroue.
Vaders wat hul dogters verkoop het vir dobbelskuld is nooit vervolg nie, en sulke transaksies was ’n algemene rede waarom slawe of selfs vry mense in koloniale samelewings verkoop is. Die VOC se beleid het hierdie uitbuiting moontlik gemaak deur vroue as eiendom te behandel en min beskerming aan hulle te bied. Mensehandel was kenmerkend van ’n hiërargiese, manlike, koloniale orde. Dan is daar natuurlik die uitsonderings: mans soos Jurgens wat in alle opsigte ’n gentleman is en Harriët “vrygekoop” het van haar vader se dobbelskuld.
Van Rooyen verswaar egter nie die verhaal met die onderliggende historiese gruwels van daardie tyd nie – sy bied bloot die verhaalgegewens aan soos dit in daardie dae was. Die verhaal lees lig en voer die leser mee – pure leesplesier vir ’n paar uur.
2
Titel: Spienekelientjies. Taalmusiek vir kleintjies
Samesteller: Antjie Krog
Uitgewer: LAPA, 2026
Antjie Krog, een van ons mees geliefde en bekroonde digters en skrywers, het met Spienekelientjies weer ’n verrassende en heerlike sprong na die wêreld van die kinderverse gemaak. Hierdie kleurvolle versie- en rymboek is duidelik met groot liefde en ’n fyn oor vir ritme saamgestel. Krog se vorige versiebundels sluit in: Mankepank en ander monsters (1989), Voëls van anderste vere (1992), Fynbosfeetjies (2007) en Vetplantfeetjies (2022).
Spienekelientjies bevat ou rympies van vroeëre kleuterboeke, veral die gedigte en ryme wat klassiek geword het in W Versfeld se verwerking van Engelse kleuterverse. ’n Paar van Annie MG Schmidt se kinderverse is uit Nederlands vertaal, en twee kinderryme uit die bekende Duitse Struwwelpeter is verwerk. Daarby is nuwe inheemse ryme uit tesisse en ou bronne aangevul met ’n hele paar van Mankepank asook die fynbos- en vetplantfeetjierympies.
Die bundeltjie bestaan uit vyf afdelings, onderskeidelik met kort en lang ryme en versies wat wissel van speels en lighartig tot sag en vertroostend.
Krog slaag daarin om subtiele temas soos nuuskierigheid, vriendskap, die natuur, en selfs ’n titseltjie vrees (en hoe om dit te oorkom) in te weef sonder om ooit prekerig of swaartillend oor te kom.
Ryme en ritme speel ’n besonder belangrike rol in die intellektuele en verbeeldingsontwikkeling van jong kinders. Deur die herhalende klankpatrone en ritmiese vloei van rympies leer kinders natuurlik klanke, sillabes en die struktuur van taal herken, wat hul fonologiese bewussyn versterk en die grondslag lê vir latere lees- en skryfvaardighede. Die voorspelbaarheid van ryme stimuleer kognitiewe prosesse soos geheue, aandag en patroonherkenning, terwyl die ritme kinders help om woorde en sinne makliker te memoriseer en te internaliseer. Op die verbeeldingsvlak wek ryme en ritme ’n gevoel van vreugde en spel, wat kinders aanmoedig om kreatief te dink, nuwe wêrelde te skep en emosies uit te druk deur stories, liedjies en bewegings. Dit bevorder nie net taalontwikkeling nie, maar ook emosionele intelligensie en sosiale vaardighede wanneer kinders saam rym en sing. Kortom, ryme en ritme is kragtige, natuurlike instrumente wat die brein van jong kinders op ’n holistiese wyse stimuleer en hulle help om met vreugde en selfvertroue die wêreld van taal en verbeelding te ontdek.
Die illustrasies deur Roelien Immelman, Willem Samuel en Diek Grobler is helder, warm en vol klein besonderhede wat kinders ure lank besig sal hou. Die kombinasie van Krog se woorde en hierdie pragtige grafika maak van Spienekelientjies ’n ware fees vir die oog en oor.
Hierdie is nie net ’n boek nie – dit is ’n kleinood wat ouers en kinders saam kan koester. Spienekelientjies sal beslis lei tot herhaaldelike nagsoentjies, lagbuie en “nog net een keer, asseblief!”-versoeke in Afrikaanse huishoudings. Afgesien van die opvoedkundige waarde en genot van dié boek is dit een van daardie bêreboeke – as daar ooit koffietafelboeke vir kinders was, was Spienekelientjies beslis een.
3
Titel: Voor dit te laat is
Outeur: Quintus van der Merwe
Uitgewer: Naledi, 2026
Quintus van der Merwe is ’n voormalige diplomaat en verdeel tans sy tyd tussen Suid-Afrika en Europa. Voor dit te laat is is sy vierde roman. Sy vorige boeke is Die blou van ons hemel (2007), In landsbelang (2010) en Om te lewe, om te sterwe (2022).
Ná ’n geheimsinnige operasie in Simonstad word ’n Suid-Afrikaanse akademikus in België opdrag gegee om betrokke te raak by ’n joernalis uit Belarus. Sy is beeldskoon, briljant en waarskynlik ’n spioen. Haar naam is Tatiana Shapovalova en Lex se opdrag is om haar beter te leer ken … verleiding is immers een van die oudste spioenasietruuks in die boek wanneer minnaars tydens kopkussinggesprekke geheime uitlap. Maar wat weet Tatiana alles – en wat is haar ware motiewe?
By die Europese parlement kruis Lex de Lange se pad ook met dié van Alina, ’n tolk uit Oekraïne. Hulle raak verstrengel in ’n dodelike spel van geheime, verraad en begeerte. Met oorlogswolke wat saampak en die toenemende konflik tussen Rusland en Navo is die wêreldorde op ’n mespunt gebalanseer. Moeilike keuses oor lojaliteit, liefde en die lewe moet gemaak word. Voor dit te laat is. Dit is Lex se begeerte om die wêreld ’n beter plek vir sy dogter te maak.
Die voormalige diplomaat, Johan Castelyn, wat lesers sal onthou as ’n karakter in Om te lewe, om te sterwe, maak weer ’n kameeverskyning in Voor dit te laat is.
Die ruimtes waarin die boeiende intriges afspeel, is onder meer Pretoria, Brussel, Italië, Oostende, Gent, Oekraïne, Navo, die Europese Unie, die Europese parlement en die Suid-Afrikaanse ambassade in Brussel.
Voor dit te laat is ’n spanningsvolle spioenasieverhaal wat ’n mens van bladsy 1 af boei. Dit is ’n skerp, hedendaagse riller wat die Oekraïense oorlog as bloedige agtergrond gebruik om ’n web van geopolitieke spel en verraad te spin.
Van der Merwe is ’n vaardige verteller en weet hoe om die vrees vir kernwapens tasbaar te maak. Die bedreiging van taktiese kernwapens hang soos ’n swaard oor elke hoofstuk, en die skrywer hanteer dit met ’n ongemaklike realisme wat ’n mens laat wonder hoe fyn die grens tussen konvensionele oorlogvoering en die apokalips wérklik is.
Die karakterontwikkeling is oortuigend. Die skrywer slaag uitmuntend daarin om die morele grys areas van spioenasie uit te beeld – niemand is skoon nie, en selfs diegene met goeie bedoelings het bloed aan hulle hande.
Tegnies is die boek uitstekend nagevors. Die beskrywings van hoe moderne spioenasie werk, insluitend kuberspioenasie – en die stadige, verstikkende spanning van intelligensiewerke – die wag, die wantroue, die klein besluite wat duisende lewens kan kos – word werklikheidsgetrou geskets.
Voor dit te laat is is nie net vermaak nie; dit is ’n tydige waarskuwing. In ’n wêreld waar “proksie”-oorloë, energiepolitiek en wedywering tussen die groot moondhede al hoe meer verstrengel raak, herinner Van der Merwe ons dat Suid-Afrika, ten spyte van sy afstand, nooit werklik neutraal kan bly nie. Die laaste hoofstukke laat ’n mens met ’n onrustige gevoel: Is dit nie dalk reeds te laat nie?
Die spioenasieroman, of spy thriller, is een van die opwindendste genres in die moderne literatuur. Dit kombineer elemente van intrige, politieke spanning, morele ambivalensie en aksie in verhale wat dikwels in die skadu’s van internasionale konflik afspeel. In wese handel die spioenasieroman oor die voorkoming van ’n ramp, of die verkryging van geheime in die hede en toekoms.
Die wortels van die genre lê in die vroeë 20ste eeu, veral tydens en ná die Eerste Wêreldoorlog. Skrywers soos John Buchan en Erskine Childers het die voortou geneem met verhale van Britse helde wat Duitse bedreigings konfronteer. Ian Fleming se James Bond-reeks het dié spioen as ’n glansryke, onoorwinlike figuur voorgestel – ’n fantasie van Westerse superioriteit, tegnologie en seksuele aantrekkingskrag. Bond was die perfekte teenvoeter vir die angs van die atoombom-era: ’n man wat manalleen die wêreld kon red.
Terselfdertyd het meer realistiese en literêre stemme soos John le Carré verdieping in die genre gebring. Hier is die spioene doodgewone mense wat in burokrasie, verraad en persoonlike verlies vasgevang is. Die genre het sodoende van blote vermaak na ernstige literêre kommentaar op mag, identiteit en ideologie ontwikkel. In die post-9/11 era het die genre weer aangepas by die tydsgees, wat terrorisme, kuberspioenasie en die onbeholpenheid van moderne intelligensiedienste ondersoek.
Kenmerkend van die spioenasieroman – en ook van Voor dit te laat is – is temas soos dubbelsinnigheid (wie is die ware vyand?), die spanning tussen plig en persoonlike lojaliteit, en die illusie van waarheid in ’n wêreld van disinformasie.
Van der Merwe se jongste is uiters relevant, omdat dit die komplekse werklikheid van ’n globale magstryd weerspieël. Dit bied nie net ontvlugting aan die leser nie, maar ook ’n lens waardeur ons ons eie samelewing se geheime en vrese kan beskou.
Met die roman skep Van der Merwe ’n literêre ruimte waar die karakters se menslike kondisie onder uiterste druk geplaas en ondersoek word: die prys van lojaliteit, die vaagheid van morele keuses, en die eensaamheid van iemand wat in die skadu’s moet leef.
Die onheilspellende agtergrondinkleding is Rusland, die Weste (Navo), België/Europa en Suid-Afrika se intelligensiedienste wat almal hul eie agendas dryf terwyl die kernbedreigings in die lug bly hang. Die skrywer is goed ingelig oor die gevaar van “proksie”-oorloë, oftewel die manier waarop groot moondhede mekaar se invloed beveg sonder om self die volle prys van oorlog te betaal, terwyl die mense in die betrokke lande met hul lewens daarvoor betaal.
In die donker en paranoïede wêreld van agtervolging, skaduontmoetings en doodsdreigemente bly mens wonder: Wie gaan bly leef en wie nié?
Voor dit te laat is is ’n spioenasieverhaal wat vermaak, maar op ’n onthutsend realistiese wyse – en die leser lank laat nadink oor die wêreld ágter die nuusberigte. Die verhaal voel in vele opsigte meer profeties as fiktief.


Kommentaar
Soos altyd baie insiggewende en prikkelende besprekings van hierdie boeke - in so 'n mate dat mens graag die boeke wil lees!