Spienekelientjies, saamgestel deur Antjie Krog: ’n resensie

  • 0

Titel: Spienekelientjies: Taalmusiek vir kleintjies
Saamgestel deur: Antjie Krog
ISBN: 9780637007573
Uitgewer: LAPA

’n Nuwe versbundel deur Antjie Krog saamgestel sou altyd dadelik my belangstelling prikkel. Die titel en kleurvolle en holderstebolder buiteblad het my wel laat kopkrap. Die woord spienekelientjies is dadelik opgesoek. Wat sou dit beteken? Van die buiteblad en subtitel, “Taalmusiek vir kleintjies”, was dit duidelik wie die teikenmark is. My woordeboeksoektogte het egter niks opgelewer nie. My antwoord sou ek kry eers ná ek die LitNet-onderhoud met Antjie Krog gelees het. Die woord spienekelientjies kom uit ’n PhD-proefskrif oor volksliedjies in 1991, en het “tot die skrywer se onderbewussyn gespreek”. En daar hoor ek dit toe ook en maak dit vir my sin. Dis asof daar ritme en ’n tipe musikaliteit in die woord is. Asof jy dit sou kon sing. Dit herinner my toe selfs aan ’n towerspreuk. “Spienekelientjies!” Amper soos “Wingardium Leviosa”.

In die voorwoord sit Krog haar inspirasie vir die saamstel van hierdie bundel baie duidelik en insiggewend uiteen, naamlik die waarde van ritme of metrum en rym in die aanleer van taal. Agterin verskaf sy ’n volledige bronnelys van die gedigte wat in die bundel van sowat 100 bladsye opgeneem is.

Die bundel is in vyf afdelings ingedeel en strek van eenvoudige, klassieke kinderrympies soos die opskrif van die eerste afdeling, “Trippe trappe trone”, aandui, tot die laaste afdeling, “Help my!”, wat bang- en skrikmaakstories vertel en materiaal van skrywers soos Jaco Jacobs, Annie MG Schmidt en Ingrid Jonker bevat. “S staan vir superslim” is die tweede afdeling en dit fokus met ’n ligte aanslag op temas wat by vroeë kinderontwikkelingsprogramme of -leerplanne kan aansluit. Eenvoudige gesondheidsleer, tel, die alfabet en die natuur speel veral hier ’n rol. Verskeie ryme uit Krog se Fynbosfeetjies en Vetplantfeetjies is ook hier ingedeel.

Die inhoud van die derde afdeling, “Spienekelientjies”, kan, soos die opskrif, nie verduidelik word nie. Krog noem dit in haar voorwoord “waansinnig-obskure” ryme. Hierdie ryme behoort met ’n waarskuwing te kom dat hulle jou gaan bybly. Baie lesers sal weet waar Willem Wouter woon, maar wie ken vir Kristoffel Pantoffel en Ouma Filijouma en Beertjie Pippeloentjie? Of Boerneef se bloedrooi kapokhaan van Vandaan? Die drie juffroue op die swik-swak bruggie het my betower.

… Vrou Boeba neem ’n steen
En gooi dit teen
Vrou Bieba de Bibber de Binka se been …

Die vierde afdeling is “Ons eie”, en soos die opskrif aandui, vertel hierdie ryme inheemse stories, soos Antjie Somers, of bring hulde aan dit wat eie aan ons land is. ’n Rympie oor ’n haasjagstorie met name soos Gert Dippenaar en oupa Vermaak staan hier gemaklik tussen twee ryme oor ’n haas en twee voëls in Sotho, elk met ’n Afrikaanse weergawe daarby.  

Spienekelientjies is deur drie uiteenlopende kunstenaars geïllustreer, naamlik Diek Grobler, Willem Samuel en Roelien Immelman. Grobler is ’n bekende illustreerder, en deesdae meer in die nuus as briljante animasiekunstenaar. Hy het ’n paar jaar gelede sy poësierolprent, Transparant van die tongvis, op Krog se gedig “Tongvis” gebaseer. Krog se seun, Willem Samuel, is bekend as ’n strokiesprentkunstenaar en Roelien Immelman het onlangs Krog en Vickie de Beer se kinderresepteboek, Kombuistaal, geïllustreer. Dié drie gerekende kunstenaars se verskillende style word slim geïntegreer om die veelsydige inhoud van die bundel deurgaans te komplementeer.

Vir diegene wat ’n hupstootjie nodig het met die voorlees van hierdie bundel, is daar ’n QR-kode by die voorwoord ingesluit wat lesers sal neem na ’n indeks van 32 ryme, lieflik voorgelees deur Krog. Ek raai almal aan om hierna te luister. Dis ’n ervaring, ’n vreugde!   

Miskien is “Spienekelientjies” tog ’n towerspreuk, en kan rym … of hierdie bundel … toor. Miskien maak dit woorddeure of taaldeure oop en laat dit woorde vlieg. In die voorwoord noem Krog ontstellende statistiek. In 1945 het die gemiddelde laerskoolkind se woordeskat op 10 000 gestaan. Vandag is dit 2 500. Dalk het ons nie ’n keuse nie. Gee ryme ’n kans.

Drie eendjies

onder die brug sit drie eendjies,
die eerste se naam is Drie-drimmel-beentjies
die tweede se naam is Suikerbek,
en die derde sê net: “Ek, ek, ek!”
En Ek-ek-ek
en Suikerbek
en Drie-drimmel-beentjies
is my drie eendjies.

Lees ook:

In gesprek met Antjie Krog oor Spienekelientjies (vir Wêreldboekdag)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top